"Fassie" deur Louis Duvenage

  • 0

Fassie

Haar ma se kop was in die wolke
Reeds belemmer in die baarmoeder
Fassie was ’n mooi gedroggie
Die stelsel kon nie met haar spog nie

Met groot gewag by Groenberg pre-primêr geland
maar moeder se keuses het haar gekortwiek
die nuwe maatjies was glad nie te vinde
vir haar skel en skree en stoom-afblaas

Klein Hennie het haar hand gevat
Hul was beeldjies uit dieselfde hout gekerf
Koejawels eet en boomklim by die rivier
Kon hul alleen op hul manier  beleef

Droom verlore – fetale alkohol sindroom
Verlore droom – fetale alkohol sindroom
Ons oortjies sit te laag, ja
Maar ons neusies snot dieselfde
Dieselfde as klein Curtley of Piet of Koos of San

Op Onverwacht het die deure begin klap
Toe Fassie praat van ’n soen
Selfs die bestuurder was by met ’n bietjie raad
Maar steeds, ja steeds sonder daad

Klein Hennie is geroep en gevra om te noem
Elke daad deur hulle gedoen
Maar hy het bloot gelag en kon glad nie verstaan
Was dit nou die bye se gezoem?

Droom verlore – fetale alkohol sindroom
Verlore droom – fetale alkohol sindroom
Ons oortjies sit te laag, ja
Maar ons neusies snot dieselfde
Dieselfde as klein Curtley of Piet of Koos of San

Op 30 is Fassie dood, niere ingegee
Hennie was reeds jare lank soek
Op die veldjie daar anderkant die huisies
Speel steeds ’n Hennie en ’n Fassie

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top