Die “hiphopera” Afrikaaps het pas ’n Nederlandse speelvak beleef, met optredes in stede soos Amersfoort, Den Haag, Amsterdam, Rotterdam, Haarlem en Utrecht.
Menán van Heerden was daar.
AFRIKAAPS: “Afrikaans, Afrika, met alles wat dit beteken, en dan het jy natuurlik Kaaps, as ’n uitdrukking” (Jitsvinger, een van die Argitekbekke, en die kunstenaar wat die term gemunt het).
Nederlandse toer: 22 September – 15 Oktober 2011
Afrikaaps is die breinkind van Catherine Henegan (van The Glasshouse NL, ook aangebied deur die Baxter-teater ZA) (met Aryan Kaganof as dramaturg). Hierdie teaterproduksie/“hiphopera” neem jou op ’n “edutainment”-reis. Die storie van die ontwikkeling van Afrikaans en Afrikaaps word deur ’n mix van hip-hop, breakdancing, jazz, reggae, ghoema, storievertelling, “spoken word”, rymkletsery, poësie, sang, energie en passie verweef in ’n historiese en kontemporêre narratief oor die onteiening van ’n taalidentiteit en die herwinning daarvan.
Wat hierdie produksie vir my uniek maak, is onder meer die multimedia-aard daarvan: op die agtergrond van die verhoog word dokumentêre video’s (van byvoorbeeld Afrikaans wat foneties in Arabiese letters getranskribeer is in die madrasahs van die Kaap gedurende die laat 1800’s en vroeë 1900’s) en onderhoude, met byvoorbeeld Neville Alexander, geprojekteer, wat ’n waardevolle dimensie aan die narratief gee.
Temas wat aangeraak word, is breedweg dat Afrikaans ’n kreoolse taal is wat in die Kaap ontstaan het as gevolg van kontak tussen die Khoi, die San, die slawe wat na die Kaap toe gebring is, en die Nederlandse setlaars; dit is dus nie die taal van die wit onderdrukker wat die taal geëien het nie. Ghoema, Arabiese Afrikaans, Kaapse Klopse en Afrikaaps van die Cape Flats word onder andere gevier. In die produksie word die negatiewe stigma van “Kaapse” Afrikaans / Afrikaaps aangespreek en herkonseptualiseer as ’n taal om te vier en om op trots te wees.
Afrikaaps bestaan uit die talentvolle Argitekbekke:
- Emile Jansen (van Black Noise, hip-hop-aktivis [sien een van sy projekte by www.healthehood.org.za])
- Jitsvinger (Quintin Goliath) (rymkletser / “spoken word”-kunstenaar / MC)
- Blaq Pearl (Janine Van Rooy) (“spoken word”-kunstenaar, sangeres, sosiale aktivis en jeugontwikkelingswerker)
- Bliksemstraal (Charl Van Der Westhuizen) (b-boy)
- Moenier Adams (Monox) (sanger, danser, “entertainer” en “producer”)
- Jethro Louw (Tanneman !Xam) (Khoi-San-storieverteller en aktivis, van Khoi Khonnexion)
Musiek
Kyle Shepherd (musiekregisseur en tradisionele Kaapse jazz-musikant). Sy album fineART (2009), en A Portrait of Home (2010) is onderskeidelik vir ’n SAMA (South African Music Awards) vir Beste Tradisionele Jazz-album, Beste Nuweling en Beste Tradisionele Jazz-Album genomineer.
Shane Cooper (baskitaarspeler). Hy maak die beats.
Afrikaaps is aanvanklik opgevoer by die Baxter-teater en die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in 2010, waar dit uitstekend ontvang is. Afrikaaps het ’n kykNET Fiësta-prys vir Beste Musiekgedrewe Produksie verower. Moenier Adams (Monox) het twee pryse vir Beste Opkomende Professionele Kunstenaar verower. Dylan Valley se bekroonde dokumentêr oor Afrikaaps, Afrikaaps (Plexus Films, 2010), het Beste Suid-Afrikaanse Dokumentêr by die Cape Winelands Festival (CWFF) (2011) gewen. Hierdie dokumentêr is die afgelope naweek by die Africa in the Picture-filmfees in Amsterdam, Nederland vertoon.
Terug na die Nederlandse toer. Catherine Henegan het Afrikaaps vir die eerste keer oorsee geneem na Nederland, aangesien Suid-Afrika en Nederland koloniale en taal-bande het. Om hierdie kontak in die produksie te smee is Nederhoppers Akwasi Owusu Ansah (Zwart Licht) en Def P (Osdorp Posse, Beatbusters) gevra om hul unieke bydrae te lewer; daar was ook ’n onderhoud met die skrywer Adriaan van Dis. Afrikaaps het staande ovasies en encores in Amsterdam, Amersfoort, Den Haag, Rotterdam, Utrecht en Haarlem gekry. Daar is nog net twee opvoerings: 13 Oktober by die Bijlmerparktheater teater in Amsterdam en 15 Oktober in Nijmegen by LUX.
As ’n MA-student in sosiale antropologie aan die Universiteit Stellenbosch was ek bevoorreg om vir twee weke saam met die Argitekbekke te toer as deel van my navorsing.
So, wat doen ’n wit Afrikaanse chick van klippies-en-coke-land (histories wit Afrikaanse universiteit en die sogenaamde “cradle of apartheid”) in Amsterdam saam met die Argitekbekke? Nie om Afrikaaps as die “ander”, “eksotiese” Afrikaans te bestudeer nie. Ek is geraak deur hierdie produksie, want ek is ’n Afrikaanssprekende, ek praat elke dag Afrikaans, en die ontwikkeling van my taal en al sy verskillende, komplekse dimensies fassineer my. Maar wat nog meer cool is, is die ongelooflike talente van elkeen van die Argitekbekke; elkeen het iets uniek om te bring, en saam is hulle ’n ervaring om oor huis toe te skryf.
Wat ek onder andere interessant gevind het, is dat daar ’n neiging by die Nederlandse media is om te vra wat die verskil tussen “standaard”-Afrikaans en Afrikaaps is. Fair question, maar waarom moet Afrikaaps in terme van Standaardafrikaans gedefinieer word?
Wat Afrikaaps laat uitstaan, is dat dit handel oor Afrikaaps, ’n taal van die mense, die Cape Flats, die Kaap, ’n gemeenskap, ’n taal wat mense práát, wat lewend is.
Wat het ek in Amsterdam geleer? Ek het geleer bier drink (en as jy die rand as jou geldeenheid het, moet jy regkom met die goedkoopste drink), maar ek het veral geleer Afrikaaps is ’n produksie met hart, eerlikheid, en passie. Ja, dit is corny, but it’s true. STIEK UIT!
Sien die volgende fotogalery van my tyd in Amsterdam: