Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Versfeld, Degenaar en die herwinning van die Logos in die eietydse Afrikaanse teologie en filosofie

  • 8

Hierdie opstel is oorspronklik as lesing gehou op Maandag 22 Julie 2024 tydens Akademia se jaarlikse konferensie oor filosofie en teologie in Centurion.

Oor die afgelope 25 jaar en meer het dit male sonder tal gebeur dat ’n Protestantse teoloog of predikant my iets sou vra soos watter nuwe filosowe se werk ek dalk vir hulle kon aanbeveel om aan hulle nuwe idees vir hul teologiese werk te gee. Terselfdertyd kan ek my oor dieselfde tydperk weinig gevalle in Afrikaanse filosofiese werksaamhede of byeenkomste herinner waar filosowe die omgekeerde gedoen het, naamlik om inspirasie te put uit die werk van teoloë van enige era, nuut of ouer. Hier word voorgestel dat dié toedrag van sake aanduidend van drie dinge in die eietydse Afrikaanse filosofie en teologie is, naamlik:

    1. Die betreklik strenge skeiding wat vanaf die laat-Middeleeue in die Westerse Christendom tussen die teologie en die filosofie plaasvind, word tot vandag toe oorwegend in die Afrikaanse wêreld gehandhaaf.

    2. Die geïnternaliseerde sekulêre aanname by vele eietydse Afrikaanse filosowe, teoloë en predikante dat pleks daarvan dat die teologie die Koningin van die Wetenskappe is, soos dit eens in die Westerse Middeleeuse Christendom beskryf is, die filosofie vandag die arbiter van die teologie is.

    3. Die versugting van Afrikaanse Protestantse teoloë en predikante na die werk van nuwe filosowe as deel van ’n durende modernistiese voorkeur vir die nuwe bo die oue.

Daar is al boeke vol geskryf oor hoe wedersyds skadelik die streng skeiding tussen die Westerse filosofie en teologie vir albei is – dit is ’n standpunt wat in hierdie opstel heelhartig ondersteun word, sonder dat dit hier verder beredeneer word. Die beskrywing van die teologie as die Koningin van die Wetenskappe dagteken eweneens uit ’n era in die Weste waartydens die teologie en die filosofie as keerkante van dieselfde munt gesien is, en waarin daar nog begrip bestaan het vir die feit dat goeie nadenke oor die fisiese in al sy geledinge, oftewel die wetenskap, berus op die goeie nadenke oor die metafisiese wat ons in staat moet stel om die samehang tussen die geheel van die werklikheid en sy verskillende geledinge te begryp. In Afrikaans het Danie Goosen homself die afgelope 20 jaar of wat as die voorste eksponent van hierdie standpunt gevestig, terwyl iets soos Giambattista Vico se 1710-boek, De antiquissima Italorum sapientia, in Engels bekend as On the most ancient wisdom of the Italians, miskien die laaste bekende groot Westerse poging was om nog iets van hierdie standpunt te bepleit.

........
Die beskrywing van die teologie as die Koningin van die Wetenskappe dagteken eweneens uit ’n era in die Weste waartydens die teologie en die filosofie as keerkante van dieselfde munt gesien is, en waarin daar nog begrip bestaan het vir die feit dat goeie nadenke oor die fisiese in al sy geledinge, oftewel die wetenskap, berus op die goeie nadenke oor die metafisiese wat ons in staat moet stel om die samehang tussen die geheel van die werklikheid en sy verskillende geledinge te begryp.
........

Wat betref die modernistiese voorkeur vir die nuwe bo die oue, en die skade wat dit aan die denke en die eietydse wêreld aangerig het, is eweneens al boeke vol geskryf – hier sluit ek bloot aan by een van die bekendste en invloedrykste eietydse kritici van hierdie voorkeur, Alasdair MacIntyre, in navolging van wie se werk in veral sy Whose justice? Which rationality? ons die modernisme soos wat dit vanaf die sestiende eeu in die Westerse filosofie beslag kry, kan beskryf as die tradisie wat ontstaan uit die verwerping van tradisie. Soos Danie Goosen byvoorbeeld uitgewys het, kondig invloedryke draers van die filosofiese modernisme soos Machiavelli, Hobbes, Descartes, Kant en Marx telkens die verwerping van die tradisie se opvattings van die politiek, kennis of die ekonomie as voorwaarde vir hulle eie nadenke oor hierdie sake aan, met die gepaardgaande belofte van ’n nuwe en beter filosofie daaroor.

Die Afrikaanse wêreld soos dit die afgelope vier eeue en meer beslag kry, neem grootliks vorm aan teen die agtergrond van en wisselwerking met die Westerse modernisme, waarvan die Protestantse beweging by verre die invloedrykste plaaslike draer was. Dit is vandag algemene kennis – of dit behoort minstens algemene kennis te wees by mense wat hieroor nadink – dat terme soos Ortodoks, Katoliek en Protestant hulle ontstaan vind in bewegings en kragte van eeue gelede wat die Kerkskeurings van onderskeidelik 1054 en 1519 veroorsaak het. Sodanige bewegings en kragte is lankal deur ander bewegings en kragte vervang, waaronder sekularisasie in verskillende vorme vandag miskien die grootste uitdaging aan die ganse Christendom bied. Die eietydse Afrikaanse Christendom is geen uitsondering hierop nie, en dus sal in die res van hierdie opstel in ’n ekumeniese gees vanuit ’n Ortodokse gesigspunt gevra word na hoe ’n eietydse herwaardering van die Logos die Afrikaanse Christendom sowel in die filosofie as in die teologie kan baat. Dit sal met die volgende stappe gedoen word.

In stap een sal ’n kort taksering van die welstand van die eietydse Afrikaanse wêreld met spesifieke verwysing na die Afrikaners gemaak word, aan die hand van die boek wat Emmanuel Todd vroeër vanjaar in Frankryk oor die ontbinding van die Weste gepubliseer het. In stap twee sal verwys word na hoe die neerslag van die fenomenologie asook die werk van Marthinus Versfeld en Johan Degenaar ’n vrugbare aanknopingspunt vir die herwinning van die Logos in die Afrikaanse filosofie en teologie bied. In die derde en laaste stap sal kortliks stilgestaan word by die noëtiese tradisie van die filosofie en die teologie in die Ortodokse Christendom, en hoe dit met verwysing na die eerste 14 verse van die eerste hoofstuk van die Heilige Evangelie volgens Johannes, oftewel Johannes 1:1–14, toegepas kan word.

1. ’n Taksering van die eietydse Afrikaanse wêreld met spesifieke verwysing na die Afrikaners

In sy mees onlangse boek, La défaite de l’Occident, oftewel Die ontbinding van die Weste (Parys: Gallimard, 2024), voer die Franse antropoloog en demograaf, Emmanuel Todd, aan dat die meeste Westerse nasies die afgelope twee dekades begin ontbind het en dat die feit dat hulle steeds as state met kragtige ekonomiese en tegnologiese middele bestaan, ons nie vir hierdie ontbinding moet blind maak nie. Van die duidelikste tekens van hierdie ontbinding in state soos Frankryk, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State van Amerika sluit in die groeiende gaping tussen die politieke klas en die burgery, die verdiepende krisis van verteenwoordigende parlementêre demokrasie, die verdiepende verdeeldheid en fragmentering in splintergroepe onder die burgery, die verdwyning of onherkenbare verandering van die tradisionele politieke partye, kultuuroorloë en ’n terugkeer van politieke stamgedrag (in Engels tribalism).

In aansluiting by Max Weber se beroemde 1905-boek oor die rol wat die Protestantse beweging in die opkoms van Westerse wêreldoorheersing gespeel het, naamlik Die Protestantse etiek en die gees van die kapitalisme, voer Todd aan dat die afgang van die Protestantisme in die Weste vandag onder meer lei tot die ontbinding van nasionale identiteite; ’n afname in die verbintenis tot naskoolse opleiding en die ekonomiese, wetenskaplike en tegnologiese winste wat dit vir die Weste gebring het; en uiteindelike maatskaplike atomisme, nihilisme en ’n irrasionale Westerse benadering tot die geo-politiek, waarvan die maak van Oekraïne tot offerlam en van Rusland tot sondebok ’n sprekende voorbeeld is.

Todd takseer die fase van ontbinding waarin ’n Westerse nasie sigself bevind met ’n onderskeiding wat hy tref tussen wat hy omskryf as die laaste drie fases van afgang van ’n eens florerende Protestantse kultuur. Die derde laaste fase is wanneer die meerderheid van ’n nasie nog die Protestantisme beoefen; die tweede laaste of, aldus Todd, zombiefase is wanneer die meerderheid nie meer die Protestantisme aktief beoefen nie, maar steeds draers van die etiek daarvan is; en die laaste of, aldus Todd, zerofase is wanneer ook die etiek van die Protestantisme verlore gaan en daardie nasies en hulle individuele lede kortsigtige besluite volgens blote materiële belange neem, wat ook nie noodwendig daardie belange dien nie. Vir Todd is die aanduidings van in watter fase ’n spesifieke samelewing sigself bevind dié van gereelde kerkbywoning, sowel as kerklike dope, troues en teraardebestellings op begrafnisse. Hoe minder hierdie dinge voorkom, hoe nader is ’n samelewing aan die zerofase. Sonder dat hy ’n morele oordeel daaroor uitspreek, beskou Todd die wettiging van selfdegeslaghuwelike as aanduidend van die betreding van die zerofase, vir die eenvoudige rede dat so iets in geen florerende Protestantse kultuur sal gebeur nie. In ’n rubriek gepubliseer op 16 Junie 2024 in Rapport Weekliks poog ek soos volg om Todd se ontleding op die Afrikaners toe te pas:

Maar in watter fase is die Afrikaners vandag? En gaan ons as Westerse Afrika-kultuurgemeenskap buite die Weste dieselfde trajek vertoon?

Ek sou baie graag navorsing hieroor wou sien, maar wat ek in gesprek met ’n goed ingeligte senior NG predikant kon vasstel, is die volgende – en vir die doeleindes van my hipotese aanvaar ek dat die NG Kerk as die grootste instelling van die Protestantse kultuur onder Afrikaners as maatstaf gebruik kan word.

Op sy hoogbloei in die 1980’s bereik die NGK tot soveel as 1,6 miljoen lidmate. Vandag het die NGK ongeveer 800 000 lidmate, waarvan sowat ’n derde “aktiewe lidmate” is – gegewe dat daar na raming 2,5 miljoen Afrikaners in die land is, kan ons sê dat rofweg 250 000 plus (as ons ander Afrikaanse Protestantse kerkverbande byreken), oftewel iets meer as 10% van die Afrikaners vandag in Todd se derde laaste fase verkeer.

Die groep NG en ander Protestantse Afrikaners wat kerklos geraak het (nagenoeg 600 000 plus) is dus ongeveer 40% van alle Afrikaners. Van die ander 1,7 miljoen Afrikaners is dit enigiemand se raaiskoot hoeveel van hulle vandag in die sogenaamde charismatiese beweging is, en hoeveel kerklos, ateïsties of in ander gelowe. Dit lyk nietemin veilig om te raai dat die meeste van hulle vandag breedweg in die zombiefase is. Volgens my predikantvriend is sy waarneming dat jong Afrikaners onder 25 nou toenemend in die zerofase is – die kerk en geloof speel min of geen rol by hulle nie.

Daar is egter twee faktore wat die prentjie dalk anders as in die Weste maak. Eerstens is daar ’n waarneembare tendens dat jong Afrikaners wat kerklos geraak het hul kinders laat doop, en ’n beduidende deel van hulle dan weer by die kerk betrokke raak.

Nietemin wys my vriend uit dat nominaal kerklike huwelike vandag toenemend pleks van ’n heilige sakrament wat in die kerkgebou plaasvind, verander in ’n “sprokiestroue” by een of ander “trouvenue”.

Voorts weet ons almal dat verassings en die alomteenwoordige “lewensvierings” vandag astronomies toeneem – in so ’n mate dat daar vandag by die sekulêre Afrikanerheiligdom, die Voortrekkermonument, deur die Erfenisstigting ’n “gedenkmuur” bedryf word waar die askissies gestoor kan word.

Verassings is beslis nie net weens die haglike toestand van munisipale begraafplase nie, want lank gelede was daar immers familiebegraafplase.

Dit is eerder tekens van ’n huiwering tussen die zombiefase en die zerofase – en dat predikante hoegenaamd bereid is om troues by “venues” asook verassings en “lewensvierings” te lei, spreek boekdele van hulle en hul lidmate se sekularisering en verlies aan liturgiese en teologiese geletterdheid.

Die tweede faktor wat dinge anders as in die Weste maak, is die groot druk waaronder die Afrikaners vandag (saam met die res van die land) verkeer, en waarop Afrikaners toenemend reageer met “selfdoen”.

Terwyl die Westerse Protestantse wêreld vanaf die zombiefase sy produktiewe vermoë aan onderbetaalde Oosterse werkers uitkontrakteer het (soos die Afrikaners dit met goedkoop swart arbeid tussen rofweg 1930 en 1994 gedoen het), lyk dit of “selfdoen” die Protestantse kultuur onder Afrikaners ’n tweede asem gee.

Vermoedelik sal dit egter nie genoeg wees as die liturgiese en teologiese verarming onder Afrikaanse geestelike lui en gelowiges voortduur nie.

Kortom, hier word aangevoer dat die krisis waarin die Protestantse kultuur vandag in die Weste maar ook toenemend onder Afrikaners verkeer, ons ook in die eietydse Afrikaanse filosofie en teologie noop om te soek na bronne en middele waaruit ons kultuur kan put om die toekoms tegemoet te gaan en ontbinding te systap. Soos hier onder aangevoer sal word, is die eietydse herwinning van die Logos een so ’n moontlikheid, maar voor dit aan die orde gestel word, word eers stilgestaan by hoe die neerslag van die fenomenologie, asook die werk van Marthinus Versfeld en Johan Degenaar ’n vrugbare aanknopingspunt vir die herwinning van die Logos in die Afrikaanse filosofie en teologie bied.

........
Kortom, hier word aangevoer dat die krisis waarin die Protestantse kultuur vandag in die Weste maar ook toenemend onder Afrikaners verkeer, ons ook in die eietydse Afrikaanse filosofie en teologie noop om te soek na bronne en middele waaruit ons kultuur kan put om die toekoms tegemoet te gaan en ontbinding te systap.
........

Afrikaanse fenomenologie en die werk van Marthinus Versfeld en Johan Degenaar

Dit val buite die skopus van hierdie opstel om ’n omvattende oorsig oor Afrikaanse fenomenologie en die werk van Marthinus Versfeld en Johan Degenaar te bied. Nog minder kan hier stilgestaan word by ’n omvattende opgaaf of evaluering van die werk wat deur denkers soos Versfeld en Degenaar in die fenomenologie gelewer is. Die bedoeling is eerder om enkele kenmerke van hierdie denknalatenskap te lys wat ’n vrugbare aanknopingspunt vir die eietydse herwinning van die Logos in die Afrikaanse filosofie en teologie mag bied. En dit hoef seker nie gesê te word dat wat hier gedoen word, bloot voorlopige gedagtes hieroor is nie, wat waarskynlik op veel diepgaander wyse ondersoek sal moet word om die potensiaal daarvan te ontgin. Bowendien is hierdie gedagtes ook al in ander kontekste in die gesprek oor die eietydse Westerse filosofie en teologie uitgespreek, byvoorbeeld wanneer Hans Urs von Balthasar in sy klassieke boek oor die Heilige Maximus die Belyer, Cosmic liturgy, dit stel dat die fenomenologie met sy klem op die gegewendheid van die werklikheid en die dinge verder gevoer kan word, met ’n besinning oor die Gewer van die werklikheid en van die dinge. Bloot puntsgewys word die volgende dus aangestip oor die Afrikaanse fenomenologie en die werk van Versfeld en Degenaar as vrugbare aanknopingspunte vir die eietydse herwinning van die Logos in die Afrikaanse filosofie en teologie:

    1. By sowel Versfeld en Degenaar as die Afrikaanse fenomenologie is daar dikwels ’n sin van verwondering oor die werklikheid en die dinge, wat ’n neiging in die hand werk om te erken dat die werklikheid en die dinge altyd ons vertolkings daarvan oorskry, sodat dit by ons ’n luisterende, ontvanklike lewenshouding aanwakker.

    2. By sowel Versfeld en Degenaar as die Afrikaanse fenomenologie is daar ook dikwels ’n erkenning van die wesenlike belang van die ervaring van die werklikheid en van die dinge in ons besinning daaroor. As die werklikheid en die dinge nie in die eerste plek begripsmatig geken word nie, is dit omdat dit in die eerste plek ervarend geken word, waarop ons dan weer begripsmatig reageer, daaroor praat en dink deur begrippe daaroor te ontwikkel.

    3. By sowel Versfeld en Degenaar as die Afrikaanse fenomenologie is daar laastens ook dikwels ’n waarskuwing teen die gevare van abstraksie, wat veral in die gevalle van Versfeld en Degenaar ’n groot rol in hulle kritiek op die Afrikaners se grootste politieke abstraksie, naamlik apartheid, gespeel het. Soos die fenomenologie ons altyd terugroep na die dinge self, so het Versfeld en Degenaar ons altyd teruggeroep na die mens self en gewaarsku teen die verskraling van mense tot blote kategorieë, waarsonder apartheid natuurlik nie sou kon bestaan nie.

Met hierdie drie elemente in gedagte, naamlik die verwondering, die ervaring en die konkrete, word in die slotafdeling stilgestaan by die Logos en hoe hierdie drie dinge daarby aansluiting kan vind.

3. Die noëtiese tradisie van die Ortodokse Christendom en die Logos van die Heilige Johannes die Evangelis

Hierbo is verwys na die laat-Middeleeuse skeiding tussen die teologie en die filosofie. Dit is interessant om daarop te let dat die skeiding plaasvind wanneer die skolastiek met sy klem op logika en sy onderbeklemtoning of verdoeseling van ervaring en emosie gevestig is – dié stelling word met enige huiwering gemaak, want hoe kragtig bly die raaiselagtige mistiese ervaring van die grootste van alle skolastici, die Heilige Thomas van Aquinas, tydens ’n Mis kort voor sy dood en sy daaropvolgende verklaring dat alles wat hy geskryf het, soos strooi is en die feit dat hy toe ophou skryf het, nie steeds vandag nie? Dit is immers ook so dat haas elke Westerse Middeleeuse Christelike denker tegelyk ook ’n kloosterling was, waarin die mistieke en die persoonlike ervaring altyd ’n rol speel.

Die beste verklaring vir die skolastiese klem op die logika kom miskien van die Katolieke denker en priester, Walter Ong, wat in 1982 in sy klassieke boek Orality and literacy skryf:

It has been suggested that Learned Latin effects even greater objectivity by establishing knowledge in a medium insulated from the emotion-charged depths of one’s mother tongue, thus reducing interference from the human lifeworld and making possible the exquisitely abstract world of medieval scholasticism and of the new mathematical modern science which followed on the scholastic experience. Without Learned Latin, it appears that modern science would have got under way with greater difficulty, if it had got under way at all. Modern science grew in Latin soil, for philosophers and scientists through the time of Sir Isaac Newton commonly both wrote and did their abstract thinking in Latin. (Ong 1982:116)

Ong wys ook daarop dat in die Oosterse, Bisantynse Christendom die afstand tussen Bisantynse Grieks as geskrewe taal en as moedertaal nie so groot was nie. Hy spel dit nie uit nie, maar dit mag volgens die logika van sy argument oor Aangeleerde Latyn en die skolastiek ’n bydraende faktor wees waarom die Bisantynse Ryk en die Ortodokse Christendom se filosofie en teologie nooit in ’n skolastiese rigting ontwikkel het nie, maar eerder klem sou bly lê op die verwondering, die ervaring en die konkrete in wat beskryf kan word as die Logos-tradisie, met verwysing na die openingsvers van die Johannes-evangelie (“In die begin was die Woord [...]” – Woord synde die Afrikaanse vertaling vir die oorspronklike Griekse Logos). Voor die perikoop waarin daardie vers voorkom van nader beskou word, moet vir ’n leserspubliek wat dalk nie so bekend met die Ortodoksie is nie, net eers enkele aspekte daarvan uitgelig word.

Eerstens moet verwys word na die klem wat die Ortodoksie in sowel die geestelike lewe as in die filosofie en die teologie op die kultivering van die nous (uitgespreek “noes”) in mistiese gemeenskap met God plaas – die nous verwys na die hoogste vlak van die menslike gees waarop aanbidding en skepping byvoorbeeld plaasvind. Volgens die Ortodoksie is die hoogste einddoel van die menslike bestaan om die gemeenskap wat met die Sondeval tussen God en mens verlore gaan, te herstel in navolging van hoe Christus dit in Sy Vleeswording gedoen het, waardeur die goddelike en die menslike in Hom herenig is. Hierdie lewenslange proses staan in die Grieks bekend as theosis, in Afrikaans vergoddeliking, of heiligmaking soos dit tradisioneel in die Afrikaanse vertalings van die Bybel bekend staan. Dit wat God dan van nature doen, naamlik om vanaf die generering van die Seun en die Gees wat vanaf Hom voor alle tye uitgaan, sy vryheid as gemeenskap uit te druk, leer die mens om deur genade te doen sodat dit as’t ware ons tweede natuur word, wat algaande die ou gevalle natuur vervang. In die kern van die proses van vergoddeliking staan die deelname aan die heilige sakramente van die Kerk, waaronder die doop, die bieg en die gebruik van die Heilige Kommunie (Nagmaal) soos dit ten tye van elke volledige diens, oftewel goddelike liturgie, aangebied word. Samehangend hiermee is die intensiewe beoefening van stilgebed, waarin die gebed “Here Jesus Christus, Seun van God, ontferm U oor my, sondaar” met intense konsentrasie oor en oor gebid word, oftewel op die noëtiese vlak van die gees (noëties synde afgelei van nous). Hoe meer die gemeenskap tussen God en mens sodoende noëties verdiep word, hoe meer word die mens in staat gestel om die teologie en die filosofie te beoefen, oftewel om met insig oor God en die dinge te praat.

Dit sal enigiemand met ’n Protestantse agtergrond onmiddellik opval dat vir die Ortodoksie is die voorwaarde van die beoefening van die teologie en die filosofie nié in die eerste plek ’n bepaalde akademiese opleiding nie, maar om in gemeenskap met God te lewe, allereers vanuit die nous. Wat betref die teologie, beteken dit nie dat enigiemand wat daardie gemeenskap nastreef sommer enige teologiese uitsprake kan maak nie, aangesien sodanige uitsprake altyd belyn moet wees met die Heilige Skrif, die nalatenskap van Christus en die Apostels, die besluite van die eerste sewe ekumeniese konsilies van die verenigde Kerk voor die Kerkskeuring van 1054, en die liturgie waartydens die Heilige Kommunie bedien word – oftewel belyn met dit wat die Ortodoksie oorhoofs die Heilige Tradisie noem. Dit is ook belangrik om in ag te neem dat een van die grootste Ortodokse Kerkvaders en teoloë, die Heilige Gregorius die Teoloog, soms ook verkeerdelik bekend as Gregorius van Naziansus, verklaar het dat alle teologie die gestotter van vissermanne is, waarmee hy uiteraard gewys het op die ontoereikendheid van menslike taal en begrippe vir God, waarvan die Logos (in Christus) die wesenlike openbaring is.

Ons kan dus onmiddellik sien dat in die Ortodoksie staan verwondering, ervaring en die konkrete absoluut sentraal tot die denke, weliswaar nou met die klem nie in die eerste plek op die gegewe, soos in die fenomenologie nie, maar op die Gewer – namate gemeenskap met die Gewer verdiep, verwerf ons ook groter insig in die gegewe en kan ons tot meer verantwoorde denke en spreke daaroor kom.

In die hedendaagse kunste kan ons verwys na twee beroemde figure wat hul enorme prestasies as kunstenaars eksplisiet toedig aan die gemeenskap met God wat hulle in hul lewenswandel nastreef, naamlik die Ortodokse komponis, Arvo Pärt, en 2023 se wenner van die Nobelprys vir letterkunde, Jon Fosse. In Pärt se geval het die musiek waarvoor hy wêreldwye roem verwerf het sedert dit in 1976 op mistiese wyse tot hom gekom het, gevolg op sy Ortodokse bekering en om stilgebed te begin beoefen. Op sy beurt beskryf Fosse, wat ook diep beïnvloed is deur die 14de-eeuse Katolieke mistikus, Meister Eckhart, sy volwasse bekering tot die Katolisisme in 2012 toe aan die feit dat die enigste verklaring wat hy vir sy kuns kon vind, is dat dit van God af kom. (Fosse weef ook die beoefening van stilgebed eksplisiet in aan die einde van elk van die sewe boeke van sy meesterwerk, in Engels as Septology vertaal.)

.........
Dit is oorbekend dat die Logos aldus Plato van nature doel op die goeie, die ware en die skone; dat die meeste van die Ortodokse Kerkvaders deeglik in die denke van Plato onderlê was; en dat ’n manjifieke wending in die denkgeskiedenis teweeg gebring word, deur hoe die Heilige Johannes die Evangelis met die openingsverse van sy Evangelie die Platoniese begrip van die Logos verruim.
.........

Dit bring ons nou by die Logos. Dit is oorbekend dat die Logos aldus Plato van nature doel op die goeie, die ware en die skone; dat die meeste van die Ortodokse Kerkvaders deeglik in die denke van Plato onderlê was; en dat ’n manjifieke wending in die denkgeskiedenis teweeg gebring word, deur hoe die Heilige Johannes die Evangelis met die openingsverse van sy Evangelie die Platoniese begrip van die Logos verruim. Met hierdie verruiming stel die mees filosofiese van die vier evangeliste ons in staat om die intieme samehang tussen die filosofie en die teologie soos beliggaam in Christus te begryp, welke samehang geopenbaar word deur, enersyds, die gemeenskap tussen die Vader en die Seun en, andersyds, die herstel van die eenheid van die goddelike en die menslike wat met die Sondeval verlore gegaan het. Die begeerte na die wysheid en die spreke oor die goddelike verander onherroeplik met hierdie openbaring, en uit die hoek van die Ortodoksie gesien is hierdie openbaring ikonies van die gemeenskap met God en herstel van die eenheid tussen die goddelike en die menslike, wat die begerende na die wysheid en die sprekende oor die goddelike moet nastreef ten einde dít te ontvang wat daardie begeerte bevredig en daardie spreke bemoontlik. Hierdie siening word verder toegelig nadat die betrokke verse nou saam herlees word:

[1] In die begin was die Woord [Logos], en die Woord was by God, en die Woord was God.

[2] Hy was in die begin by God.

[3] Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

[4] In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

[5] En die lig skyn in die duisternis, en die duisternis het dit nie oorweldig nie.

[6] Daar was ’n man van God gestuur, wie se naam Johannes was.

[7] Hy het tot ’n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo.

[8] Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig.

[9] Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.

[10] Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.

[11] Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

[12] Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo;

[13] wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ’n man nie, maar uit God gebore is.

[14] En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid. (Aangehaal uit die 1953-vertaling van die Bybel)

Aan die hand van hierdie 14 verse, word die volgende kortliks uitgelig:

    1. Aangesien tyd en ruimte soos ons dit ken, nie voor of buite die skepping bestaan nie, en God die skepper dus vóór, buite en ná tyd en ruimte bestaan, oftewel ewig, is die Logos nie slegs die bron van die skepping nie, maar ook dit waardeur die ganse skepping ontstaan (vers 1 tot 3).

    2. Aldus vers 4 tot 5 is die Logos die draer van die lewe, wat die lig van die mense is. Vir die Ortodoksie is dit presies hierdie lig waarmee gemeenskap noëties opgesoek word, wat die nous verlig, waaruit dan weer liggewende, oftewel insiggewende wysheid sowel as woorde oor die goddelike voortvloei.

    3. Aldus vers 6 tot 8 was die Heilige Profeet en Voorloper Johannes, ook bekend as Johannes die Doper, ’n getuienis van hierdie lig. Aangesien die opening van die Lukas-evangelie aan ons vertel dat Johannes se vader, die priester Zacharia, weens sy ongeloof oor die openbaring van die seun wat hy sou hê, met stilte geslaan is tot met die geboorte van sy seun, en dat die seun, Johannes, hom asketies in die woestyn teruggetrek het tot die tyd vir sy openbare getuienis aangebreek het, lei die Ortodoksie hieruit af dat Johannes as spreker oor God slegs tot hierdie spreke kon oorgaan omdat hy in noëtiese stilte in die woestyn gemeenskap met God opgesoek het en tot die nodige verligting gebring is om te getuig. Daarmee word Johannes ook vir die begerende na die wysheid ’n ikoniese voorbeeld om na te volg.

    4. Aldus vers 9 kan enige mens per definisie die ikoniese voorbeelde van Christus en Johannes navolg en tot goddelike verligting kom, daardie verligting wat die voorwaarde van die filosofie en die teologie is, wat dan getuienisse van die goddelike verligting is.

    5. Aldus verse 11 tot 12 begin die navolging van die ikoniese voorbeelde van Christus en Johannes vir die mens daarby om die Logos aan te neem, dit wil sê om in gemeenskap met God te tree, wat in die eerste plek sakramenteel en noëties geskied.

    6. Aldus die bykans jubelende getuienis van die slotvers van hierdie perikoop, vers 14, verkry die Logos in Sy vleeswording ’n konkreetheid en ’n gemeenskaplikheid met die mensdom wat dit nog nie by Plato het nie, en wat ons ten slotte as heerlikheid kan aanskou. Vir die Ortodoksie word hierdie aanskoue sakramenteel en noëties voortgesit, sodat die begeerte na die wysheid vervul kan word, en die een wat dit deur vergoddeliking beleef vervolgens daarvan kan getuig, filosofies sowel as teologies.

Dit is inderdaad so dat ook vele Westerse filosowe van die moderne era die waarde van die noëtiese as voorwaarde van die filosofie erken het. Hier kan onder andere verwys word na die mistiese ervaring van René Descartes een Sondagnag in die winter van 1623, waaruit sy ganse filosofiese projek ontstaan het; Immanuel Kant wat die betragting van die sterre met die ontdekking van die sedewet in homself verbind het; Martin Heidegger se voorspraak vir die vernemende lewenshouding as voorwaarde vir die filosofie; of meer onlangs Bernard Stiegler se pleidooi vir die herkultivering van die nous in ’n nuwe otium van die volk.

Dog, elk van hierdie filosowe het op een of ander manier ’n filosofie as variasie op temas van die Christelike teologie gekomponeer, oftewel filosofieë geskep wat gebaseer is op noëtiese getuienisse deur die groot Christelike filosoof-teoloë, vanaf die Heilige Johannes die Teoloog en Evangelis en die Heilige Apostel Paulus tot met die Kerkvaders. Sou diegene van ons wat tot die filosofie en die teologie verbind is, dan nie liewer kies om oorspronklik te wees nie, dit wil sê om terug te keer tot die oorspronklikes deur hulle ikoniese voorbeelde na te volg in die soeke na noëtiese gemeenskap met God ten einde dan self hopelik getuies van die goddelike verligting te word – ook ter wille van die hernuwing van die gemeenskap tussen die Afrikaanse woord en die Logos nie?

Lees ook:

Die Johann Rossouw-gespreksreeks | Die ontbinding van die Weste: ’n oorsig oor Emmanuel Todd se La défaite de l’Occident

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: En die Woord het onder ons kom woon – Afrikaanse aanbidding en die toekoms van die Afrikaanse wêreld

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Oor die Afrikaner Verklaring

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Die sonderlinge lewe en werk van René Girard – oor Benoît Chantre se René Girard – Biographie

Die Johann Rossouw-gespreksreeks: "Die hede en die toekoms volgens Michel Houellebecq"

  • 8

Kommentaar

  • Ek kan sien jy is goed onderle in die abstraksies waarmee filosowe hulleself mos maar besighou. Maar oorweeg ook hierdie klompie practicalities:

    1. Die rol van die 1997 wet op hogere onderwys. Die kweekskole staan sedert die 'nuwe Suid-Afrika' onder die gesag van die sekulêre staat. Die Minister van Onderwys besluit nou wie is God, in oorleg met die President en onderhewig aan die oorsig van howe en die nasionale lekgotla. Soos wat die NG kerk voor 1994 die Nasionale Party gedienstig was, so is dit vandag die ANC gedienstig. En as die EFF more oorneem, sal die moderator seker ook nog onteiening sonder vergoeding uit die Skrifte begin beredeneer. Dit is hoe kerk werk. Dis 'n besigheid. En besigheid pas vinnig aan by veranderinge in politiek. Dis skynbaar hoekom die Doppers hulle goeitjies gevat het en laat spaander het by die NWU. Die teoloë by die kweekskole aanvaar nie meer vandag die Bybel as die 'Woord van God' nie. Dis net maar 'n boek van mense se idees oor God, en die uiteinde daarvan is leë kerke en volslae ateïsme. Die NG kerk het ook nie die 'Voortrekkers' se trek ondersteun nie, omdat hulle daai jare onder Britse bewind gestaan het. Sela.

    2. Die rol van globalisasie, die wetenskap en die inligtingsontploffing. Jy skryf asof die Bybelse sondeval 'n historiese realiteit is. Dit is nie. Almal weet dit vandag. Of ten minste, al meer mense besef dit. Weens globalisasie en die internet, word kennis vrylik bekom. Al wat 'n wetenskap is, bewys die Bybel met die drievlak-kosmologie en die jong-aarde-idees, wat alles uitgediende antieke idees is, verkeerd. Van die argeologie, die sterrekunde, die biologie, die mediese wetenskap, genetika, die geologie ens ens haas elke akademiese dissipline jaar na jaar om hordes akademiese artikels te publiseer, waarvan die wyer implikasies dikwels behels dat die Bybel alles maar net mitiese volksverhale is.

    3. Soos ek verstaan, was Degenaar juis een van die groot redes agter hoekom menige Stellenbosch-student desjare uiteindelik in volslae ateïsme verval het. Die storie is mos dat die owerstes hom toe geskuif het na die politieke filosofie toe, in 'n desperate poging om tog net iets van die teologie se verbrokkeling te verhoed. Ek sal nie weet nie want ek was nog net 'n eiertjie op daai stadium.

    4. Ek is geen filosoof nie en het ongelukkig nog nooit Weber se boek gelees nie. Maar ek sukkel om hierdie wonderlike 'etiek' van die Protestantisme te verstaan. Is dit dieselfde 'etiek' wat vir ons die misdaad teen die mensdom genaamd apartheid gegee het? Suid-Afrika voor 1994 was 'n siek samelewing. Dit het nie net swartmense vertontreg nie, maar ook wit Afrikaners se lewens was gereël en beheer en dikteer is deur die skool en die kerk, wat hulle met 'n kleinwêreldse wit meerderwaardige mentaliteit bombardeer het. Dit was 'n samelewing van vrees; die skade wat dit aangerig het aan geslagte van mense, is onherstelbaar, en ons sit vandag nog met die gebakte pere van 'n hele infrastruktuur en ekonomie wat ontwikkel het op die fondasies van kolonialisme, rassisme, apartheid, uitbuiting, uitsluiting, slawerny en kapitalistiese gierigheid. Is dit die sogenaamde God van liefde se nalatenskap?

    5. Neem homoseksualiteit as 'n case in point. Die wetenskap van psigologie het gevorder. Voor 1973 is homoseksualiteit as 'n afwyking beskou deur die Amerikaanse Psigologievereniging. Vandag weet ons homoseksualiteit is doodnormaal. En dat die kerk vir eeue deur eeue verkeerd was, en by implikasie, God self ook. God het dit met ander woorde toegelaat. Tesame met slawerny en al die ander verskiklikhede.

    6. Die realiteit is natuurlik egter dat daar geen wese soos God is nie. Al daardie vrot keuses is deur mense gemaak. Apartheid. Slawerny. Kolonialisme. Onderdrukking van vroue, ens ens. Daar was geen God betrokke nie. En dit is hoekom filosofie en teologie onversoenbaar is. Die filosofie werk ook dikwels met wollerige en abstrakte konsepte, maar ons kan vandag met sekerheid weet daar bestaan nie iets soos enige God nie.

    7. My vermoede is dat die teologie as dissipline dan ook eventueel sal verdwyn by universiteite, soos wat dit in Europa verdwyn.

  • Pieter de Jager

    Johann Roussouw se hele opstel is Rooms-getint en is geskryf onder invloed van die Afrikaanse skrywer en voormalige katolieke monnik, Karel Schoeman. Rousseau se poging om teologie en filosofie tot 'n sintese te kristaliseer, is oppervlakkig en tydgebonde. Die begrip filosofie wat in terme van 'n aardse werklikheid as vertrekpunt vir die teologie of hoogstens 'n aanklank daarvan suggereer, misken die werlike aard van die teologie wat ontspring vanuit 'n bo-aardse werklikheid wat ons OPENBARING noem. God het die vleeswording van die Woord nié vanuit die stof van die aarde formeer wat in wese verganklik is en 'n vloek uispreek op die mens wat in die sweet van sy aansyn sy brood sal verdien en weer terug sal keer tot stof nie. Teologie en filosofie staan verdeeld en geskei teenoor mekaar. Wie dit nie insien nie, verstaan die begrip LOGOS bloot as 'n verganklike woord wat deur sterwenslippe kom en êrens vandaan God en mens as 'n versoenbare eenheid binne 'n sakramentele liturgie wil idealiseer.
    Ewe onaanvaarbaar van Roussouw, is sy ideaal om 'n ORTODOKSE ervaring van die waarheid voor te stoot. Hy toon min waardering (indien enige) vir die nugtere GEREFORMEERDE teologie. God is in die Woord, in Christus, dáárdie LOGOS wat klaar gespreek het sonder om die filosofie by te bring as 'n soort prelude vir die teologie om die teologie dan net in hoër moontlikhede te laat voortgaan.

  • Snotjan, te wyte aan 'n oormaat habanero het ek vanoggend 'n NDE op Witbank beleef. En net-net oorleef. Wanneer ek met doodsangs gekonfronteer word, wend ek my uit gewoonte tot die skrif en in Beeld skryf dominee Stephan (dis vir my so mooi): "Henry Thoreau het gesê jy moet vir jouself dink, anders dink ander vir jou sonder om ooit aan jou te dink."

    Jô.

    Ek beplan 'n eie gespreksreeks en sal dit waardeer as jy hierna kan kyk en sal deelneem. Dankie.

    https://youtu.be/GEOSsAFCxfM?si=Z41ATc7iuQ7TmC0U

  • Die kritiese liberale teologie aan die universiteite, is self besig om hulle eie kerke te verwoes en hulle customers te vervreem. Vir wie gaan hulle eendag nog predikante oplei wanneer al die Gereformeerde kerke doodgeloop het weens hulle eie toedoen? By die grootdoop huiskerkie kort jy net matriek en 'n drie week orientasie kursus. Jy moet juis al die slim redenasies van al die professore en doktore met hulle baie grade vermy en eenvoudig net GLO.

  • Jacobus Swart

    Dan is daar natuurlik die stil, sterk ds Andre Muller, leraar van die Reformerende
    gemeente, Muckleneuk, Pretoria, wat al jare lank 'n volwasse, sinvolle dialoog
    met die NGK handhaaf.

    Snotjan; dit is ook nie moontlik om te bewys
    dat God nie bestaan nie.

  • Jacobus Swart, in Hitchens 1 vers 1 staan daar "What can be asserted without evidence can also be dismissed without evidence." Dog ek herinner jou maar net weer.

  • Ook het hy. What were Christopher Hitchens' last words? His dying words were: "Oh my, oh my, what have I done, there is something very wrong".

  • Jacobus Swart

    Paul Tillich, "The Courage to Be", 183-184: Theism can have another meaning, quite contrary to the first one: it can be the name of what we have called the divine-human encounter. In this case it points to those elements in the Jewish-Christian tradition which emphasize the person-to-person relationship with God. Theism in this sense emphasizes the personalistic passages in the Bible and the Protestant creeds, the personalistic image of God, the word as the tool of creation and revelation, the ethical and social character of the kingdom of God, the personal nature of human faith and divine forgiveness, the historical vision of the universe, the idea of a divine purpose, the infinite distance between creator and creature, the absolute separation between God and the world, the conflict between holy God and sinful man, the person-to-person character of prayer and practical devotion. Theism in this sense is the nonmystical side of biblical religion and historical Christianity. Atheism from the point of view of this theism is the human attempt to escape the divine-human encounter. It is an existential - not a theoretical problem.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top