Die Johann Rossouw-gespreksreeks: En die Woord het onder ons kom woon – Afrikaanse aanbidding en die toekoms van die Afrikaanse wêreld

  • 4

Hierdie lesing is oorspronklik gelewer op Vrydag 10 Augustus 2023 tydens die Afrikaanse Taalraad se simposium oor geloof en taal, Andrew Murray-sentrum vir Spiritualiteit, Wellington

Oorspronklikheid, skryf die Griekse literator Zizimos Lorentzatos, beteken om terug te keer na die oorspronklikes. Kan dit oorspronkliker as die volgende? “In die begin was die Tao, en die Tao was by God, en die Tao was God” – aldus die Mandarynse vertaling van die oorspronklike weergawe van Johannes 1:1: “ἐν ἀρχῇ ἦν ὁ λόγος καὶ ὁ λόγος ἦν πρὸς τὸν θεόν καὶ θεὸς ἦν ὁ λόγος.” Oftewel “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God” (1953-vertaling; alle aanhalings uit die Bybel hier onder is uit hierdie vertaling).

Op die vraag of dit oorspronkliker kan, skyn die antwoord ’n klinkklare nee te wees. En tog haper iets aan hierdie klinkklaarheid – iets hieromtrent is nie so klaar as wat dit klink nie. Wat haper is dít: Dit is dat hierdie oeruitklaring omtrent die Woord van God, oftewel die Logos, oftewel Christus, eers 60 jaar of meer ná sy kruisiging, opstanding en hemelvaart opgeteken word, oftewel ten beste deur ’n hoogs bejaarde eerstehandse getuie van Christus se lewe en werk, indien nie deur ’n tweedehandse vertolker nie. Dit is reeds ’n vertolking van God se oervertaaldaad,i soos dit weergegee word in vers 14 van dieselfde hoofstuk van Johannes: “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon.” Waarop die volgende vertolking van God se vertaling van die transendente in die immanente, oftewel van sy vleeswording in sy Woord, die Logos, Christus, volg: “[E]n ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom.” Let wel, nie “die heerlikheid van die Eniggeborene wat van die Vader kom nie”, maar “’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom” (my klem). Daardie “soos” dui op segging by benadering, ’n poging om by benadering die Woord, die Logos, onder woord te bring, oftewel om dit tot taal te maak, om dit wat God met die Vleeswording van die Woord doen, om te skakel in taal, dit te ver-taal.

Hierdie poging tot ver-taling in die Nuwe Testament se oerverklaring aangaande die aard van die Woord, die Logos, bevat natuurlik ’n ander element van vertaling, naamlik dat dit in Grieks geboekstaaf word, oftewel nie die Aramese moedertaal van die Logos nie. Bowendien, afgesien van sy vleeswording as goddelike oervertaaldaad, het die Logos volgens die kenners van die saak self tussen tale gewissel in sy onderrig van en omgang met die mense deur ook van Hebreeus en waarskynlik Koine-Grieks gebruik te maak. Anders gestel, dit is nie net dat God in sy vleeswording God vanaf die transendente na die immanente, vanaf dit wat anderkant die syn is na die syn toe vertaal nie, maar ook dat die vleesgeworde Woord deur die gebruik van menslike tale van meet af self as vertaler werk.

........
Dit is nie net dat God in sy vleeswording God vanaf die transendente na die immanente, vanaf dit wat anderkant die syn is na die syn toe vertaal nie, maar ook dat die vleesgeworde Woord deur die gebruik van menslike tale van meet af self as vertaler werk.
........

Daar is ’n ander bekende teologiese motief as dit by die verstaanbaarmaking van die Logos vir die mense kom, naamlik die ikonografie – volgens die kerkvaders is Christus die Seun die ikoon van die Vader, in navolging van Christus se uitspraak: “Wie My gesien het, het die Vader gesien.” Die tradisie van die ikonografie begin met uitbeeldings van die lewe en werke van Christus, en brei geleidelik uit na uitbeeldings van diegene wie se lewe en werke daarvan getuig dat hulle ikone van Christus geword het, naamlik die heiliges. As die beeld van die Vader, die Vleesgeworde, aan ons die ikoon, oftewel die voorbeeld van die hoogste waartoe die mens in staat is, openbaar, naamlik om deur gemeenskap met God ons vryheid deurlopend as liefde uit te druk, en as die Seun as ikoon van die Vader die oervertaaldaad van God is en self van meet af ’n vertaler, dan impliseer dit dat ’n deel van om ikone van die Logos te word, is om sélf vertalers te wees – vertalers allereers van die goddelike in die menslike deur gemeenskap met God, maar ook om dit wat gedoen is en steeds gedoen word om die Logos onder woord te bring, dit wil sê deur die Bybel maar ook deur die lewens van die heiliges en van die liturgiese tekste van die Kerk tussen menslike tale te vertaal. Anders gestel, om ikone van Christus te word, beteken ook om die onuitputlike betekenis van die Vleesgeworde Woord te bly vertaal – dit onder woord te probeer bring, en daardie woorde van die oertale van die Logos – Aramees, Hebreeus, Grieks – na die ander tale van die mense te vertaal.

Die oervoorbeeld hiervan vind ons opgeteken in Handelinge 2, die gebeurtenis wat plaasvind ná die Hemelvaart van die Vleesgeworde Woord, en die gebeurtenis wat beskou kan word as die eerste beliggaming van die Heilige Liggaam van Christus, naamlik die Kerk. Waarom die eerste beliggaming van die Kerk? Omdat dit die eerste opgetekende beliggaming van die Logos se opdrag aan sy dissipels is om heen te gaan en dissipels van al die nasies te maak. In hierdie gebeurtenis, wanneer die opgevaarde Vleesgeworde op ’n ander manier onder ons kom woon, naamlik deur die uitstorting van die Heilige Gees, neem die Drie-enige die vertaaldade wat in en deur Christus begin, ’n stap verder deurdat die Galileërs wat op die dag van die Pinksterfees “almal eendragtig bymekaar [was]” (Handelinge 2:2) “almal vervul [is] met die Heilige Gees en ... begin spreek [het] in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek” (2:4). Volgens dieselfde hoofstuk van Handelinge volg die volgende hierop: Jode wat in Jerusalem gewoon het, “godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is”, het as “menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek”. Die Heilige Apostel Petrus kom hierdie verwardes tot hulp deur in ’n toespraak die betekenis van hierdie verdere vertaaldaad van God Drie-enig vir hulle uit te lê. So lui die vertelling (Handelinge 2:37–39): “Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders? En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, dié wat die Here onse God na Hom sal roep.”

........
Met die uitstorting van die Heilige Gees word deur middel van vertaling die Heilige Liggaam van Christus gestig: Op die kruisiging, opstanding en hemelvaart van die Vleesgeworde Woord volg die Heilige Liggaam van Christus deur die werking van die Heilige Gees as vertaling.
........

Anders gestel: Met die uitstorting van die Heilige Gees word deur middel van vertaling die Heilige Liggaam van Christus gestig: Op die kruisiging, opstanding en hemelvaart van die Vleesgeworde Woord volg die Heilige Liggaam van Christus deur die werking van die Heilige Gees as vertaling. Oftewel, die Kerk as die Heilige Liggaam van Christus is die Godgegewe menslike vertaling van die Logos, welke vertaling ondenkbaar is sonder vertaling na die tale van die mense toe. En hierdie belofte kom, aldus Petrus, ook tot ons hier en nou, tot vandag toe, na diegene wat hy beskryf as “almal wat daar ver is”.

Ons kan die nawerking van hierdie oorspronklike vertaaldade ook in die Afrikaanse geskiedenis naspoor. Die spoor word hier gevat met verwysing na ’n geniale insig wat die eietydse Ortodokse filosoof-teoloog David Bentley Hart ontwikkel in sy onlangse boek, Tradition and apocalypse: an essay on the future of Christian belief.

Hart open die boek met ’n oorsig van én verwoestende kritiek op die belangrikste Christelike beweging van die afgelope twee eeue, naamlik die beweging om ’n antwoord op die uitdagings van ons tyd te gee deur terug te keer na die verlede, na die oorspronklikes, deur ’n grootse poging om verlore en vergete elemente van die Christelike tradisie te herwin. Volgens Hart word hierdie beweging in die 19de eeu deur kardinaal John Henry Newman op tou gesit, en in die 20ste eeu deur die Ortodokse Neopatristiese beweging en hulle Katolieke teenhangers in die sogenaamde Ressourcement-beweging tot ’n hoogtepunt gevoer; ’n grootse poging om vanuit die bronne die toekoms tegemoet te gaan.

So manjifiek as wat hierdie ganse Christelike herwinningsbeweging was, kom Hart tot die slotsom dat dit om twee redes nie werklik kon slaag nie. Die eerste rede is dat daar inderwaarheid nie iets soos ’n enkele oorspronklike uitkristallisering van die Christelike tradisie in sy suiwerste vorm bestaan nie. Daar bestaan eerder opeenvolgende uitkristalliserings in die tradisie, dog hierdie uitkristalliserings moet telkens nie begryp word as teruggrype na die verlede nie, maar as antwoorde op die toekomende apokalips – selfs apokalipse – oftewel oomblikke van sowel verwoesting as openbaring.

Een so ’n oomblik wat Hart as voorbeeld van die uitkristallisering van die tradisie in antwoord op ’n apokaliptiese krisis ontleed, is hoe die Kappadosiese Vaders aan die einde van die vierde eeu die diep vertwyfelinge wat deur Arius en sy intellektuele erfgename gesaai is, besweer met hulle denkarbeid wat lei tot die teologiese kernbegrippe van die Drie-eenheid, die persoon en vergoddeliking, welke begrippe by die Tweede en Derde Ekumeniese Konsilies van onderskeidelik Konstantinopel in 381 en Chalcedon in 451 tot dogma vertaal is. Afgesien daarvan dat hierdie manjifieke filosofies-teologiese werk van die Kappadosiese Vaders en die betrokke Ekumeniese Konsilies self pogings tot vertalings van die betekenis van die Vleesgeworde Woord is, wys Hart ook daarop dat selfs sulke manjifieke formulerings voorlopig bly en om verdere vertaling vra namate nuwe apokaliptiese oomblikke aanbreek.

.........
In die res van hierdie betoog sal aangevoer word dat die Afrikaanse wêreld, spesifiek vanuit die NG Kerk van die 1850’s aangevoer as antwoord op ’n destydse apokaliptiese oomblik, aanbidding in en vertaling na die moedertaal meer bewustelik omarm het – met verreikende gevolge vir die Afrikaanse wêreld, gevolge wat meestal, maar nie uitsluitlik nie, positief was, en wat die Afrikaanse wêreld vandag weer voor ’n apokaliptiese oomblik te staan gebring het.
........

In die res van hierdie betoog sal aangevoer word dat die Afrikaanse wêreld, spesifiek vanuit die NG Kerk van die 1850’s aangevoer as antwoord op ’n destydse apokaliptiese oomblik, aanbidding in en vertaling na die moedertaal meer bewustelik omarm het – met verreikende gevolge vir die Afrikaanse wêreld, gevolge wat meestal, maar nie uitsluitlik nie, positief was, en wat die Afrikaanse wêreld vandag weer voor ’n apokaliptiese oomblik te staan gebring het. Die apokaliptiese oomblik van die 1850’s is die bedreiging wat die Britse koloniale verengelsingsbeleid vir die destydse Afrikaanse wêreld ingehou het, terwyl die apokaliptiese oomblik van vandag die flankering met selfgekose verengelsing is as reaksie op die noodlottige liturgiese mistasting waaruit apartheid uiteindelik sou volg, naamlik die berugte toegewing in 1857 dat wit en bruin “ter wille van die swakheid van sommiges” toegelaat mag word om die Heilige Kommunie nie meer saam te vier nie, oftewel nie meer uit dieselfde kelk te drink (soos dit destyds nog die gebruik was) nie.

Wat die apokaliptiese oomblik van die 1850’s betref, word die bekende feite hier bloot kortliks opgesom en vertolk. Teen die 1850’s het die NG Kerk naamlik besef dat die verengelsingsbeleid wat vroeër onder lord Charles Somerset ingestel is, ’n bedreiging vir die kerk self inhou, want as die jong lidmate van die kerk in geheel verengels sou word, sou dit noodlottig vir die kerk self wees. In reaksie hierop gaan die kerk vanaf die 1860’s oor tot die stigting van kerkskole waarin moedertaalonderrig pleks van onderrig in Engels gegee is. Hierdie kerkskole, waarvan daar teen 1900 etlike honderde was, lewer uiteindelik ’n reusebydrae tot massageletterdheid onder Afrikaanstaliges, wat op sy beurt ’n reusebydrae lewer tot die opkoms van Afrikaans as wetenskapstaal, en wat ook uiteindelik meewerk tot die voltooiing van die vertaling van die Bybel in Afrikaans, vanjaar 90 jaar gelede, wat op sy beurt ’n soortgelyke stuwing aan die Afrikaanse letterkunde en verbeeldingswêreld gee aan dié wat die King James-vertaling van die Bybel aan die Engelstalige letterkunde en verbeeldingswêreld gegee het, en waar Van Wyk Louw teenoor Shakespeare staan soos die 1933-vertaling teenoor die King James-vertaling.

En tog, soos reeds gemeld, vind die noodlottige liturgiese mistasting van die swakheid van sommiges óók in daardie middel-19de-eeuse apokaliptiese oomblik plaas, word die weg daarmee voorberei vir die sogenaamde teologiese regverdiging van apartheid, en word die beeld van God in die mense wat anders as die wit sprekers van die taal lyk en klink in so ’n mate geskend dat dit die Afrikaanse wêreld vandag voor ’n nuwe apokaliptiese oomblik te staan gebring het, en waarin verengelsing ter wille van sogenaamde inklusiwiteit as gewaande vorm van boetedoening wink. Bowendien vind dit alles plaas teen die agtergrond van ’n nog groter apokaliptiese bedreiging, naamlik dat veral Afrikaners die gewaande boetedoening nog verder voer deur saam met die res van die Westerse stamlande waaruit hulle ook en onder meer ontstaan, in gebroke Engels van die Christendom afskeid te neem. Vir Afrikaners in die besonder, en waarskynlik tot beduidende mate vir die Afrikaanse wêreld in die algemeen, sal so ’n winkende afskeid van sowel Afrikaans as die Christendom noodlottig wees, omdat Afrikaners daarmee afskeid sal neem van die bronne van die idealisme waaruit hulle geskiedenis geskryf is, sowel die hoogtepunte as die laagtepunte. Hoe die verskillende kerkverbande van die Afrikaanse wêreld op hierdie apokaliptiese uitdaging sal reageer, is nog ’n ope vraag, maar hier bied ek as Ortodokse priester een moontlike antwoord vanuit ons kort, dog boeiende en hoopgewende ervaring met die Ortodoksie in Afrikaans.

Hier word kortliks stilgestaan by die filosofies-teologiese keuse vir die Ortodoksie in Afrikaans in die huidige apokaliptiese oomblik, en wat dit vir die breër Afrikaanse wêreld oor aanbidding deur die moedertaal, vertaling en diversiteit te sê mag hê. Sewe punte word bondig gestel.

  1. Die keuse vir Ortodokse aanbidding in Afrikaans is nie net ’n antwoord op die huidige apokaliptiese oomblik nie, maar ook ’n antwoord op die apokaliptiese oomblik van die middel-19de eeu, waarmee gesê word dat pleks daarvan dat boetedoening vir die noodlottige liturgiese keuse van 1857 gedoen moet word deur verengelsing en selfs ’n afskeid van die Christendom, die herstel van die geskende beeld van God in die mens deur apartheid, rassisme en kolonialisme eerder geskied via die herwinning van die enorme teologiese, filosofiese en liturgiese skatte van die Heilige, Apostoliese, Katolieke Kerk in en deur Afrikaans. Dit is immers haas ondenkbaar dat die noodlottige liturgiese mistasting van 1857 sou geskied het as die Afrikaanse Christendom destyds dieper en stewiger in die lewende liturgiese tradisie van die Heilige, Apostoliese, Katolieke Kerk veranker was.
  2. Die keuse vir die tradisie as die keuse vir die Ortodoksie in Afrikaans is onvermydelik ’n keuse vir vertaling van die bronne van die eeue vanuit veral Grieks in Afrikaans. In aansluiting by die filosofies-teologiese begronding van vertaling as deel van die verwesenliking van die beeld van God in die mens, is die keuse vir die Ortodoksie in Afrikaans per definisie ’n keuse daarvoor om daarna te strewe om ikone van die Vleesgeworde Woord te word. Die vertaling hier is egter nie slegs talig van aard nie, maar ook liturgies van aard, oftewel om in en deur die Ortodoksie in Afrikaans die gelowiges te kultiveer in die asketiese en kontemplatiewe tradisies soos die vas en die stilgebed wat deur die Vleesgeworde Woord self beoefen is, en waardeur die gemeenskap met God en met mekaar verdiep word.

  3. Die keuse vir die vertaling van die Ortodoksie in Afrikaans beteken per definisie ook ’n keuse vir die kultivering van die hoogste en skoonste Afrikaans – eweseer as wat die Griekse en Latynse moeders en vaders van die Kerk daardie tale tot die hoogste en skoonste moes voer in hul pogings om die Vleesgeworde Woord te vertaal, het ons in Afrikaans op ons beurt die hoogste en die skoonste Afrikaans nodig om die biddende denkarbeid van die vaders en moeders van die Kerk gestand te doen.

  4. Die keuse vir die Ortodoksie in Afrikaans verteenwoordig in beginsel, al is dit ook op hoe ’n klein skaal, ’n enorme uitbreiding van die Afrikaanse wêreld deur aansluiting te vind by ander taalwêrelde wat nie tradisioneel vir die Afrikaanse wêreld oopstaan nie – taalwêrelde soos die Griekse, die Russiese, die Serwiese, die Georgiese en die Roemeense, wat almal om verskillende redes en op uiteenlopende wyses vandag antwoorde bied op die Westerse wêreld se selfvernietiging in die vorm van die mees gesekulariseerde weergawe van die Christendom tot nog toe, naamlik die hipermoralistiese woke sekte waar, in die woorde van die groot Katolieke filosoof René Girard, die slagoffers nou die vervolgers geword het.

  5. Omgekeerd verteenwoordig die keuse vir die Ortodoksie in Afrikaans terselfdertyd óók ’n verdere uitbreiding van die reeds bestaande enorme interne diversiteit van die Ortodokse Christendom danksy eeue der eeue se onvermoeide vertaalarbeid, welke tale ook dikwels en met vrug ook deur ons Afrikaanse Ortodokse priesters ingespan word wanneer ’n meertalige liturgie gevier word. Dit is dan ook ons ervaring dat die keuse vir Afrikaans as ankertaal van ons aanbidding geensins in die pad van diversiteit staan nie, hetsy in die vorm van ras, etnisiteit of kultuur, aangesien ons by sowel ons hoofsaaklik Afrikaanse as ons soms meertalige dienste gereeld gelowiges uit ander ras-, etniese of kultuurgroepe as ons eie ontvang. ’n Vername rede vir hierdie diversiteit is dat die goddelike liturgie van die Heilige Johannes Chrusostomos die basiese struktuur bied vir die aanbidding van Ortodokse gelowiges van alle tale en kulture die wêreld oor – dit is juis omdat ons Ortodokse gelowiges die oorkoepelende struktuur van die Chrusostomos-liturgie met mekaar deel dat ons ook as’t ware in dieselfde diens in en deur mekaar se tale saam kan aanbid.

  6. As gevolg van ’n enorme sendingpoging in die plaaslike Afrika-tale wat in die onlangse verlede met groot sukses deur die Moskouse Patriargaat in Afrika van stapel gestuur is, is die weg ook vir ons Afrikaanstalige Ortodokse gelowiges geopen om op ’n waarlik postkoloniale wyse aansluiting by die res van Afrika te begin vind – postkoloniaal omdat ons in en deur aanbidding in ons onderskeie moedertale op ons eie vasteland mekaar op ’n nuwe manier via die oudste bronne vind.

  7. Laastens, as ’n soort apokaliptiese ironie, sou die geslaagde vertaling van die Ortodoksie in Afrikaans nie moontlik wees as dit nie ook was vir die hoë ontwikkelingspeil wat die Afrikaanse taal bereik het danksy die NG Kerk se keuse in die 1850’s vir aanbidding en onderrig in, en vertaling na die moedertaal toe nie. Hiervoor staan ons Ortodokse Afrikaanse gelowiges skatpligtig teenoor die NG Kerk in die besonder, en die tradisionele Afrikaanse kerkverbande in die algemeen. Vanuit die Afrikaanse Ortodoksie kan ons net hoop dat ons en die tradisionele Afrikaanse kerkverbande as vriende saam vorentoe die pad in en deur Afrikaans aanpak. Sou die tradisionele Afrikaanse kerkverbande egter te midde van die huidige apokaliptiese oomblik afskeid van Afrikaans neem, sal die apokaliptiese ironie dubbeld wees. Mag ons dit gespaar bly.

Eindnota

Ek bedank vader Jacobus van der Riet vir sy vertolking van die Vleeswording as vertaaldaad, soos hy dit voorgehou het by ’n geleentheid in 2013 waartydens hy en vader Zacharias van Wyk deur die FAK vereer is vir hul Afrikaanse vertalings van die liturgiese tekste van die Ortodokse Kerk as deel van die 80-jarige viering van die eerste Afrikaanse vertaling van die Bybel.

  • 4

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Die begrippe "Afrikaner" en "Afrikaanse wêreld" word hier effektief as sinonieme ingespan. Wanneer mens praat van die begrip Afrikaner, dan verwys dit volgens my wete na 'n bepaalde etnisiteit of veral dan kultuurgroep. Daar bestaan relatiewe algemene konsensus oor die begrip. Die Afrikaners se godsdiens is Calvinisties. Natuurlik was daar altyd uitsonderinge, soos Afrikaners in die AGS en ander kredobaptistiese kerke ens, maar op hierdie mense was daar altyd gefrons, trouens, die NG kerk het die AGS vir baie jare amptelik as 'n 'sekte' omskryf. Calvinisme was die norm wat gestel was. Daarteenoor is die "Afrikaanse wereld" baie groter en wyer as die "Afrikaners" self. Die Afrikaanse wêreld sluit in, maar is nie beperk nie tot, Islam, ateïsme, humanisme (net 'n ander fancy vorm van ateisme), agnostici, en selfs fringe groepe soos Boeddhiste, Hindoeïste, Katolieke, Kredobaptise, Charismate, Israelvisie, nie-trinitariese groepe soos Jehovas, Mormone, en wie weet wat nog alles). Afrikanernasionalisme (Calvinisme) het in die 20ste eeu 'n kruin bereik en sedertdien het die wiele afgekom. Die historikus Hermann Giliomee merk in een video op die webwerf van die Afrikanerbond in 2021 as volg op: "Die Afrikaner het sy god verloor." 'n Mens kan ook nie na regte al die derduisende Christelike sektes werklik met mekaar vergelyk nie. Die veiligste is om te se dat dit verskillende godsdienste is. Dit is glad nie vir my so duidelik dat die Afrikaanse Calvinistiese kerke, die drie susterskerke, waarlik Christelike kerke is nie, benewens in naam. Dit is volkseie godsdienste wat gebou was op die idees van filosowe en teoloe, tydens 'n era wat toenemend in die vergetelheid verval, en totaal irrelevant geword het vir die nakomelinge van die Afrikaners. Vandaar die waarneming dat die Afrikaners hulle god verloor het.

    Die Christelike godsdiens was wel 'n kragtige en unieke idee wat in die antieke wereld beslag gekry het, en verskillende tradisies saamgeflans het, soos die van die Judese offerkultus (wat oor eeue van politeisme na monoteisme ontwikkel het), die Hellenistiese filosofie van die Grieke, en elemente van verskeie tradisies wat neerslag gevind het in die vroee kerk, onder meer die Zoroastrianisme. Die krag van die antieke kerk het juis gelê in die feit dat dit wyer as die self kon kyk, anderkant die parameters van ras, etnisiteit, kultuur, taal, nasionaliteit, gender, klas ens, met die messiaanse figuur Jesus wat as 'n god aanbid word en as die redder van die mensdom verkondig was. Dit is waarom vroue so sentrale aktiewe rol in die antieke kerk gespeel het. Teen die tyd wat die kerk toe 'n georganiseerde institusie geword het, het die patriargie oorgeneem, en moes die godsdiens meer dikwels met geweld verprei word, inteenstelling met die eerste eeue, toe dit met evangelisering versprei was.

    Die grootste historiese Calvinistiese Afrikaanse kerk, is die NG kerk, maar die NG kerk is stadig maar seker, stuk vir stuk, besig om te verbrokkel en te vergaan. Eintlik kan mens die NG kerk van vandag as volg opsom: Die NG kerk is klomp oumense wat baklei oor gay mense. Dis al wat dit is. Weens die nimmereindigende kerkpolitiek en byltjies wat geslyp word oor homoseksualitieit, het daar, benewens die groot getalle mense wat weg is na Charismatiese en grootdoopkerke (wat dikwels Engels as voertaal het), nou al ook afsonderlike behoudende sinodes ontstaan, soos die Koinonia sinode, ook bekend as die Kairos netwerk. Soos wat die kerk al meer en meer gematigde, beredeneerde en nugterdenkende lidmate verloor, so neem die godsdienstige dwepers, fundamentaliste en godsdiensekstremiste oor in die kerke. Ek sal nie verbaas wees as die ramshoring deesdae geblaas word by sommige eredienste nie, terwyl daar demone uitgedryf word uit skuim om die mond lidmate nie.

    Dan is daar ook nog migrasie, emigrasie, die ontvolking van die platteland sowel as die feit dat al meer en meer mense begin besef dat die aarde nie plat is, op pilare staan en 6000 jaar oud is nie.

    Dit skyn vir my 'n onafwendbare uitgemaakte saak te wees dat die drie Afrikaanse susterskerke eventueel sal verdwyn, ook gegewe die feit dat hulle hulself een vir een begin losmaak van die tradisionele universiteite se teologieskole, waar daar van wetenskaplike metodes gebruikgemaak word in die bestudering van godsdienste en die bybel, en die kerk se tradidionele aanprake en doktrine toenemend nie meer welkom is nie. Omdat hierdie kerke volkskerke is, wat nouer aan die Afrikanernasionalisme staan as aan die leerstellinge van Jesus, Paulus en die Christendom, is dit onafwendbaar dat die Calvinistiese kerke tesame met die Afrikaners self sal kwyn, of ten minste onherroepbaar van karakter sal verander, weliswaar uiters stelselmatig, maar in toenemende mates so. Die Boere wat in die Anglo Boereoorlog (1899 - 1902) geveg het, se nakomelinge was die Afrikaners, en so verander elke geslag stukkie vir stukkie. Uitsonderinge sal daar ook altyd wees, en miskien sal die Afrikaanse Protestantse kerk (Die 'APK' - nog een van die NG kerk se groot splintergroepe), nog mooi groei namate Orania van dorpie na dorp ontwikkel.

    Terwyl die Afrikaners redekawel oor kerktorings, onderdompeling en besprinkeling, of die duiwel 'n stert het of nie, groot of kleindoop, of saambly sonde is, en of gaymense hel toe gaan, beweeg die wereld aan, en is die kerk 'n anachronisme in 'n wereld waar niemand meer die dominee of die kerkraad se toestemming vra oor hoe hulle hul lewens wil leef nie. Nodeloos om te se, sal Afrikaans sterk deur die agteruitgang en verval van die Calvinistiese kerke benadeel word.

    Ook die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Calvinistiese kerk wat in 1994 ontstaan het uit die NG kerk se afsonderlike kerke vir swartmense, en wat nie daarin kon slaag om deur middel van die Belhar Belydenis 'n noemenswaardige duik in die NG kerk se volkskerkkarakter te kon maak nie, sal waarskynlik al meer en meer verengels, in lyn met die nasionale beleid van die owerstes (die goewerment) in Pretoria, wat hulleself besighou met 'n nasiebouprojek met Engels as uitsluitlike voertaal.

  • Mientie Kroukamp

    Ek waardeer en bewonder die talent wat mense het om onsigbare transisie so te verwoord dat dit verstaanbare inhoud en vorm gee. Soveel mense, soveel lewensverhale... my paterne oupa het oa. ook bygedra met die vertaling van die Bybel in Afrikaans, my pa was oa. 'n rebel uit die pastorie, het nie van Calvyn gehou nie. Hy het my op 'n jong ouderdom toestemming gegee om self my antwoorde te soek. Ek beleef die wonderwerk om te leef....

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top