
........
Omdat die tradisionele etos van tennis so sentraal tot die moderne spel is, en omdat dit dié moderne sportsoort is waarin ons die blywende waarde van die tradisionele etos openlik mag erken en vier, takseer ons die spelers eweseer op hulle spel as op hulle gedrag.
........
Onder die groot kommersiële eietydse sportsoorte beklee tennis stellig ’n unieke plek: die fokus op die individuele speler eerder as die span; dat dit waarskynlik onder hierdie sportsoorte die grootste psigiese en liggaamlike eise oor die langste tyd aan die speler stel; en dat dit moontlik die sportsoort is waarin die tradisionele etos wat dit sedert die voormoderne era kenmerk, die beste in die moderniteit behoue gebly het. Dink maar aan hoe eie aan tennis dinge soos individuele styl, karakter, virtuositeit, die geveg tot die einde toe en, les bes, eer in die tweegeveg is. Oor laasgenoemde kan gesê word dat tennis die ou tweegeveg met pistole voortsit met rakette, omdat die eer van die speler ewe belangrik as die handhawing of herstel van eer in die tradisionele pistooltweegeveg was.
Dit bly een van die boeiende oënskynlike paradokse van eietydse kommersiële tennis dat terwyl dit ’n bemarkbare produk met enorme kapitaal in die spel vir speler sowel as borg en uitsaaier is, die kyker kommentators oor en oor sal hoor sê dat dit vir die spelers eintlik om die eervolle oorwinning gaan; of om ten minste met eer uit die stryd te tree. Wanneer rugbyspelers mekaar te lyf gaan, moedig ons ons span aan om ook dié faset van die spel te wen. Wanneer sokkerspelers oneerlik toneel speel om ’n vryskop of ’n strafskop te melk – of selfs ’n doel aan te teken, soos Maradona in 1986 met die hulp van “God se hand” – sien ons dit as deel van die slinksheid waarsonder geen sokkerspan kan klaarkom nie.
Maar as ’n tennisspeler die skeidsregter slegsê, sy humeur verloor, slaags raak met die skare, of ’n raket op die grond neersmyt of flenters slaan, sien ons dit as tekens dat hulle die spel oneer aandoen, dat hulle karakters nog krake vertoon. Miskien is dit hoekom Björn Borg, “die yskoue Sweed”, vir soveel tennisliefhebbers van die afgelope dekades ’n epigoon is – op die baan was hy altyd die toonbeeld van selfbeheersing; van die baan af is hy steeds die toonbeeld van ’n koele stylvolheid met sy effekleurige pakke en onderspeelde openbare persona.
Omdat die tradisionele etos van tennis so sentraal tot die moderne spel is, en omdat dit dié moderne sportsoort is waarin ons die blywende waarde van die tradisionele etos openlik mag erken en vier, takseer ons die spelers eweseer op hulle spel as op hulle gedrag. Ons kan die een oomblik ’n speler toejuig vir ’n trefsekere verbyhou vanaf die agterbaan of ’n gewaagde vlughoutjie uitgevoer op spoed vanaf die net – en minute later dieselfde speler uitjou omdat sy haar humeur verloor of selfbejammerend met die skeidsregter redekawel sonder die geringste hoop dat dit iets aan die verlore punt gaan verander. Kortom, omdat eietydse tennis die individuele speler so meedoënloos vir so lank in die kollig plaas, kan ons hierdie spelers se karakter minuut ná minuut in die tweegeveg om hul eer sit en takseer – en is ons verhouding met en emosionele belegging in die individuele speler groter as in enige van die kommersiële sportsoorte. En so het elkeen van ons sowel ons geliefkoosde spelers as daardie spelers wat ons irriteer – en die redes vir hierdie voorkeure en afkeer het ewe veel te make met hoe ons die spel van hierdie spelers takseer as met hoe ons hulle karakters takseer.
Geen ander speler demonstreer dít soveel as die Serwiër Novak Djokovic nie. Volgens elke moontlike statistiese maatstaf van die spel, en volgens sy eie grootste mededingers die afgelope 20 jaar (soos Rafael Nadal), is Djokovic die grootste manstennisspeler tot nog toe, die GOAT. Dog terselfdertyd is geen van die ander manspelers van die moderne spel so verdelend nie. Djokovic word óf fanaties bewonder óf ronduit verpes. Vir die een is hy die toonbeeld van volledige tennis en ’n vegterskarakter sonder weerga; vir die ander is hy arrogant, onvolwasse en kleinlik.
........
Dog terselfdertyd is geen van die ander manspelers van die moderne spel so verdelend nie. Djokovic word óf fanaties bewonder óf ronduit verpes. Vir die een is hy die toonbeeld van volledige tennis en ’n vegterskarakter sonder weerga; vir die ander is hy arrogant, onvolwasse en kleinlik.
........
Kan dit wees omdat Djokovic ons soos geen ander groot moderne manstennisspeler herinner aan die foutlyne van ons era nie? Die spanning tussen tradisie en moderniteit, die gelowige versus die sekulêre, die liberale Weste versus die nasionalistiese Ooste, klein volkies wat altyd onder verdenking van die groot volke staan – en omgekeerd. Dit is inderdaad wat in hierdie essay aangevoer sal word. En bowendien met ’n duidelike voorkeur vir die tradisionele.
Die betoog begin by die grondlegger van die konserwatiewe tradisie, die Iers-Engelse Edmund Burke (1729–1797).
Burke en die konserwatiewe tradisie
Afgesien daarvan dat hy een van die eerste Britse kritici van Britse imperialisme was, word Burke veral onthou vir sy briljante kritiek op die Franse Revolusie (1789–1791). Terwyl dié revolusie vir alle praktiese doeleindes nog aan die gang was, publiseer Burke ná ’n besoek aan revolusionêre Frankryk sy Reflections on the revolution in France (1790). As ’n mens terugdink aan die staaltjie waarvolgens ’n lid van president Richard Nixon se afvaardiging op ’n staatsbesoek aan China in 1972 aan een van sy Chinese ampsgenote gevra het wat dié van die Franse Revolusie dink, en beantwoord is met “Dis nog te gou om te sê”, bly Burke se eerstehandse taksering van wat nie slegs met daardie revolusie skeefgeloop het nie, maar ook met die moderniteit se uitgooi van die tradisionele kind met die badwater, eenvoudig verstommend.
Burke was allermins blind vir die foute van die prerevolusionêre monargistiese Franse regime, maar terselfdertyd het hy ingesien dat om te poog om die ganse ou bestel oornag te probeer uitwis en as’t ware vanuit niks ’n nuwe bestel op te rig, Frankryk ernstig sou destabiliseer, geweldpleging astronomies sou laat toeneem, die lofwaardige ideale van die revolusie van meet af ongedaan sou maak, en les bes kosbare aspekte van die Ou Wêreld so sou beskadig dat die verlies vir ons in die moderniteit bykans onherstelbaar sou wees.
Wat laasgenoemde betref, betreur Burke die skade wat aangerig is aan iets wat sentraal tot tennis van toeka tot nou is, naamlik die ridderlike ideaal (in tennis is die manspelers argetipiese galante ridders wat in die tweegeveg aantree met rakette pleks van lanse, en mekaar bestorm met afslane pleks van perde). Vir Burke is ’n belangrike aspek van die ridderlike ideaal hoe dit in die Europese prerevolusionêre aristokrasie met sy dekorum beliggaam is: Part en deel van die adellikheid is nie slegs die edele karakter van die aristokraat nie, maar ook hoe die aristokraat dit met elegansie beliggaam deur etiket, kleredrag, konvensies. Burke demonstreer dít met verwysing na die tragiese laaste koningin van Frankryk, Marié Antoinette:
It is now sixteen or seventeen years since I saw the queen of France, then the dauphiness, at Versailles; and surely never lighted on this orb, which she hardly seemed to touch, a more delightful vision. I saw her just above the horizon, decorating and cheering the elevated sphere she just began to move in – glittering like the morning-star, full of life, and splendour, and joy. Oh! What a revolution! and what an heart must I have, to contemplate without emotion that elevation and that fall! Little did I dream when she added titles of veneration to those of enthusiastic, distant, respectful love, that she should ever be obliged to carry the sharp antidote against disgrace concealed in that bosom; little did I dream that I should have lived to see such disasters fallen upon her in a nation of gallant men, in a nation of men of honour and of cavaliers. I thought ten thousand swords must have leaped from their scabbards to avenge even a look that threatened her with insult. – But the age of chivalry is gone. – That of sophisters, oeconomists, and calculators, has succeeded; and the glory of Europe is extinguished for ever. Never, never more, shall we behold that generous loyalty to rank and sex, that proud submission, that dignified obedience, that subordination of the heart, which kept alive, even in servitude itself, the spirit of an exalted freedom. The un-bought grace of life, the cheap defence of nations, the nurse of manly sentiment and heroic enterprise is gone! It is gone, that sensibility of principle, that chastity of honour, which felt a stain like a wound, which inspired courage whilst it mitigated ferocity, which ennobled whatever it touched, and under which vice itself lost half its evil, by losing all its grossness. (168–9)
........
Die ou Frankryk met sy ridderlike tradisie, aristokrasie en sin vir styl is die land waarin tennis ontstaan en ontwikkel het.
........
Die ou Frankryk met sy ridderlike tradisie, aristokrasie en sin vir styl is die land waarin tennis ontstaan en ontwikkel het. Terwyl dit in die romantiese oë van Burke ondenkbaar was dat Marié Antoinette as simbool van al hierdie dinge nie verdedig is deur “tien duisend ridderlike swaarde” nie, wys die wel en wee van moderne tennis – veral sedert die aanbreek van die Ope-era in 1968 – dat Burke nie heeltemal reg was toe hy geskryf het dat “that sensibility of principle, that chastity of honour, which felt a stain like a wound, which inspired courage whilst it mitigated ferocity, which ennobled whatever it touched” vir altyd weg is nie. Hy kon uiteraard ook nie voorsien watter ironiese kontras moderne tennis sou kenmerk nie, naamlik dié tussen die kommersiële belanghebbendes by tennis in die Ope-era (“sophisters, oeconomists, and calculators”) en die ridders op die baan – ewe min as wat hy sou kon voorsien het dat die gewildheid van tennis in die Ope-era waarskynlik ook te make het met die durende aantreklikheid van die tradisionele ridderlike etos vir selfs die vulgêrste moderne tennistoeskouer of -kyker nie. Wie van ons kry immers nie telkens hoendervleis of ’n knop in die keel wanneer ons hoor hoe die wenner van ’n titaniese stryd sy of haar toespraak begin deur die lof van die verslane teenstander te besing nie? En in watter ander sportsoort dra dit soveel gewig as ’n speler om een of ander rede weier om aan die einde van ’n wedstryd die teenstander se hand te skud nie? Of in watter ander sportsoort sou dit gebeur dat (soos een van my vriende onlangs vir my gesê het) tussen Nadal, Federer en Djokovic eersgenoemde sy gunsteling sal bly omdat Nadal van meet af die selfbeheersing op die baan getoon het wat die jong Federer en Djokovic eers mettertyd sou verwerf?
Eer
Wanneer dit by die tradisionele deug van eer kom, en hoe dit in moderne tennis figureer, is daar egter ’n bykomende faset wat kykers van die spel verdeel, naamlik wanneer die eer van die speler verder as net die speler self strek om ook iets groter te betrek waartoe die speler verbind is. Hier verwys ek na iets soos ’n moderne, liberale opvatting van eer as iets wat uitsluitlik met die individu te make het, en ’n meer tradisionele opvatting van eer wat nie net draai om die erkenning van die individu nie, maar ook die erkenning van die gemeenskap waarvan die individu ’n lid is. En dit is hierdie twee uiteenlopende opvattings van eer wat ten minste ook ten grondslag lê van die verdeeldheid oor Djokovic wat onder tennisliefhebbers heers – óf jy het die grootste heldeverering vir hom, óf jy verpes hom.
In aansluiting by wat Burke oor ’n kultuur van ridderlikheid en eer in Frankryk geskryf het, kan aangevoer word dat die tradisionele siening van eer as iets wat sowel die individu as sy of haar gemeenskap betrek, vandag nog voortleef in die suide en ooste van Europa, terwyl die moderne siening van eer as iets wat slegs die individu betrek, vandag eerder voorkom in die liberale weste en noorde van Europa, die VSA en Kanada.
Omdat die Serwiese Djokovic die seun is van ’n pa uit die Serwiese minderheid in Kosovo en van ’n Kroatiese ma, val die kollig hier op eer in Oos-Europa. Die Franse antropoloog, Emmanuel Todd, wat soveel gedoen het om ons bedag te maak op die samehang tussen samelewings se gesinstruktuur, ideologiese en staatkundige voorkeure, herinner ons daaraan dat met die uitsondering van die liberale Tsjegge, Middel- en Oos-Europa eenvoudig meer konserwatief en outoritêr as Wes- en Noord-Europa is. Die Tsjeggiese skrywer Milan Kundera voeg nog ’n belangrike element aan Todd se argument toe wanneer hy ons herinner aan wat die eksistensiële lot van klein volkies is, beginnende by die klein volkies van Middel-Europa, maar beslis nie tot hulle beperk nie:
But what is a small nation? I offer you my definition: The small nation is one whose very existence may be put in question at any moment; a small nation can disappear and it knows it. A French, a Russian, or an English man is not used to asking questions about the very survival of his nation. His anthems speak only of grandeur and eternity. The Polish anthem, however, starts with the verse: “Poland has not yet perished ...”
Wanneer Kundera skryf dat die mense van Sentraal-Europa nie veroweraars is nie, en aan die verkeerde kant van die Europese geskiedenis staan as die slagoffers en buitestanders daarvan, kon hy net sowel verwys het na Serwië, Kroasië, Kosovo en die ander klein volkies van die eertydse Joego-Slawië – Joego-Slawië wat in die loop van ’n reeks bloedige oorloë tussen 1991 en 2001 verbrokkel het, waartydens die Serwiërs ten regte of ten onregte die sondebokke gemaak is en die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) Serwië en ander Joego-Slawiese lande tussen 24 Maart 1999 en 10 Junie 1999 op “humanitêre” gronde bombardeer het om ’n einde aan die voortslepende konflik te probeer bring. Djokovic het al meermale verwys na hoe die oorloë in Joego-Slawië, wat hy tussen die ouderdomme van vier en 14 meegemaak het, bygedra het tot sy legendariese psigiese gehardheid, wat dikwels deur tenniskommentators uitgesonder word as die belangrikste aspek van sy mondering as speler.
Serwiese sentimente
Omdat die Suid-Afrikaanse media die liberale Westerse media so dikwels napraat as dit by belangrike buitelandse nuusgebeure kom, is dit miskien nie so maklik vir ’n Suid-Afrikaner om die perspektief van Serwiërs op die destydse oorloë in te sien nie. As voorbeeld hiervan verwys ek graag na ’n Serwiese vriendin in die akademie wat ek tussen 2009 en 2011 as doktorale student aan Monash-universiteit, Melbourne, leer ken het. Sy is ’n geswore kommunis wie se sienings oor Joego-Slawië en Serwië my dikwels herinner het aan Afrikaners van my geslag vir wie sowel hulle etniese as hul nasionale identiteit belangrik is – Afrikaners eweseer as Suid-Afrikaners.
Op ’n dag vra ek haar hoe sy oor haar historiese verliese voel. Haar antwoord was: “Ek is ’n kommunis wat my land verloor het” – waarmee sy in die eerste plek verwys het na die multi-etniese Joego-Slawië onder maarskalk Josef Tito. Terselfdertyd, net soos die onvervulde belofte van FW de Klerk se “nuwe Suid-Afrika” baie Afrikaners van my geslag méér geheg as voorheen aan hulle etniese identiteit gemaak het, het my Serwiese vriendin ook met groot bitterheid verwys na die Amerikaans geleide Navo-bombardemente – in so ’n mate dat dit beskou kan word as tipies van die anti-Westerse sentiment wat vandag onder die meeste Serwiërs vaardig is. En des te meer so onder die Serwiese minderheid van Kosovo, wat ten regte of ten onregte voel dat hulle vryheidstrewe en hulle historiese erfenis nie deur die Weste geag word nie. ’n Belangrike deel van hierdie historiese erfenis is eeue oue Ortodokse kloosters en kerke, en die Ortodokse geloof van hierdie mense in die algemeen, waarvan Djokovic natuurlik ook ’n beoefenaar is.
........
Djokovic se drie groot teenstanders onder die spelers van sy generasie – Andy Murray, Rafael Nadal en Roger Federer – is spelers wie se nasionale agtergrond eenvoudig nie in hulle eie oë die gewig dra wat Djokovic se nasionale agtergrond in sy oë dra nie.
........
Soos wat die klein volkies van Sentraal- en Oos-Europa “aan die verkeerde kant van die Europese geskiedenis” is, so is hulle tennisspelers ook dit in die vier groot toernooie van moderne tennis: die Australiese, Franse, Engelse (Wimbledon) en Amerikaanse Opes, wat al vier aangebied word deur Westerse lande waarin die moderne, liberale individualistiese opvatting van eer die botoon bo die tradisionele opvatting voer. Djokovic se drie groot teenstanders onder die spelers van sy generasie – Andy Murray, Rafael Nadal en Roger Federer – is spelers wie se nasionale agtergrond eenvoudig nie in hulle eie oë die gewig dra wat Djokovic se nasionale agtergrond in sy oë dra nie. Een van die voorbeelde van hoeveel gewig dit vir Djokovic dra, is die klem wat hy oor die jare toenemend nie net op sy ondersteuners in die algemeen plaas nie, maar op sy Serwiese ondersteuners in die besonder. En dit in so ’n mate dat hy by die pas afgelope Australiese Ope tydelik geweier het om ná wedstryde waar hy as oorwinnaar uit die stryd getree het, op die baan-TV-onderhoude toe te staan omdat ’n aanbieder van een van die Australiese TV-kanale in Djokovic se oë die eer van sy Serwiese ondersteuners beledig het.
Daar skuil iets baie ironies daarin dat die spanning tussen die moderne, liberale individualistiese opvatting van eer en die tradisionele een van Djokovic juis die afgelope jare op die spits gedryf is by die einste Australiese Ope, waar hy die meeste individuele titels onder die vier groot toernooie ingeoes het. Daar is ook iets tragies omtrent die omstandighede waarin hierdie spanning op die spits gedryf is, naamlik die omstredenheid waarin Djokovic gedompel is toe hy eers openlik geweier het om hom, op grond van sy streng beheer van wat hy inneem, teen die Covid-19-virus te laat inent, en toe die eerlose ding gedoen het om uit wanhoop om aan die 2022 Australiese Ope deel te neem, ’n oneerlike poging aangewend het om voor te gee dat hy wel ingeënt is. Dit was asof die eer wat vir hom op die spel met deelname aan die Australiese Ope was, so swaar geweeg het dat dit hom selfs tot lompe oneerlikheid gedryf het. Met sy gevolglike deportasie uit Australië het sy Serwiese ondersteuners wêreldwyd, asook natuurlik in Serwië en Kosovo, dit ervaar as ’n aantasting van sy eer, in so ’n mate dat selfs die Serwiese President Djokovic in die openbaar verdedig het.
Die toenemend gespanne verhouding tussen Djokovic en die skares by die Australiese Ope het ’n laagtepunt in vanjaar se toernooi bereik toe Djokovic ná slegs een moedige stel teen die Duitser van Russiese afkoms, Alexander Zverev, gedwing is om weens ’n besering te onttrek en daarvoor deur ’n beduidende deel van die skare uitgejou is. As jy ’n aanhanger van die tradisionele opvatting van eer is, sou jy Zverev se TV-onderhoud op die baan pas hierna as iets seldsaam beleef het, omdat Zverev as mede-Slaaf nie net Djokovic se tradisionele opvatting van eer verstaan nie, maar op grond daarvan die uitjouers in die skare tot orde geroep het omdat hulle Djokovic se eer aangetas het.
Novak Djokovic is natuurlik nie foutloos of sonder foute in sy mondering nie, waarvan sy neiging om hom te afhanklik te stel van die erkenning van vyandige skares ’n belangrike een is. Maar as lid van ’n klein volkie aan die verkeerde kant van die geskiedenis wat nog tot die tradisionele opvatting van eer verbind is, staan hy nóg meer uit in ’n wêreld waarin eerloosheid en die heengaan van aristokratiese ridderlikheid in die Weste al hoe meer aan die orde van die dag is.
Bibliografie
Burke, Edmund. 2004 [1790]. Reflections on the revolution in France. Londen: Penguin.
Kundera, Milan. 1984. The tragedy of Central Europe in New York Review of Books, volume 31, nommer 7. Uit die Frans vertaal deur Edmund White.
Lees ook:
Die Johann Rossouw-gespreksreeks: Donald Trump en ’n nuwe wêreldorde?


Kommentaar
Excellente, ton analyse sur Djokovic et ses origines.
Excellente, ton analyse sur Djokovic !
Ek erken dat en een van die Djokovic minagters was, maar hierdie wonderlike en insiggewende artikel het my daarvan genees.