Dis groter as net Djokovic

  • 15

Head-raket (foto: Unsplash)

My belangstelling in tennis het getaan omtrent saam met Björn Borg se uittrede uit die sport. Dus raak Novak Djokovic se Australiese probleempie my glad nie op sportgronde nie.

Waar dit my wel interesseer, is hoe gepolariseerd mense skynbaar is omdat hy in kwarantyn gehou word. Dis heeltemal in orde vir ander mense om op dieselfde gronde nie toegang tot ’n land te verkry nie, maar o wee, wanneer dit ’n sportlegende is, dan is dit ’n ander saak. Uitsonderings moet vir sportsterre gemaak word, alhoewel hulle geen belangstelling daarin toon om die reëls te eerbiedig nie.

Djokovic het nog nooit ’n geheim gemaak daarvan dat hy antivaks en antimasker is nie. Hy het al vantevore ’n geleentheid gereël wat uiteindelik ’n superverspreider geword het. Oor die naweek het sy prokureurs gesê hy het op 16 Desember 2021 weer positief getoets vir Covid. Op 17 Desember het hy sonder ’n masker by ’n openbare geleentheid verskyn en saam met tallose kinders foto’s geneem. Natuurlik is daar nie nou enige inligting bekend oor hoeveel mense na daardie geleentheid positief getoets het vir Covid nie.

Maar Djokovic gee net om vir Djokovic.

Dit maak nie saak of sy ongemaskerde aansteeklike liggaam in aanraking kom met mense wat dalk ernstig siek kan raak of selfs sterf as hulle die virus opdoen nie. Dit maak nie saak of al die ander atlete wat deelneem en toegelaat is om die land binne te kom, die spesifieke reëls van die land eerbiedig nie. Dit maak nie eens saak of Australië alreeds geweldige verliese gely het as gevolg van Covid-sterftes en ernstige siekte nie.

Gee Djokovic om dat Australië ernstige arbeidstekorte in die landbousektor in die gesig staar as hulle weer deur ’n superverspreider bedreig word? Ek dink nie so nie. Maak dit vir hom saak dat enige arbeidstekorte nou tot langertermyntekorte in die voedselmark in Australië kan lei? Glad nie. Verstaan hy dat die globale ekonomie afhanklik is van die ekonomiese gesondheid van individuele lande? Ek twyfel. Maar dan is ek ook nie seker dat hy omgee, selfs indien hy verstaan, dat ’n krisis in Australië kan lei tot voedseltekorte in die res van die wêreld nie.

Djokovic gee immers net om vir Djokovic, en hy sleep sy aanhangers wat hom klakkeloos napraat, saam. Hy word uitgemaak as ’n Serbiese martelaar, as ’n tipe Jesus-figuur wat gekruisig word aan die hand van onredelike Australiese burokrasie. Hy word geteken as ’n politieke speelbal wat gebruik word om Australiese politici meer relevant te laat lyk.

Maar wie is regtig besig om hierdie hele situasie in ’n teater van die absurde te omskep? Die antivakstennisspeler.

Die Australiese owerhede se eerste verpligting is immers teenoor hul landsburgers, nie teenoor skatryk toeriste wat nie omgee watse effek hul dade op die plaaslike bevolking het nie.

En soos Andy Murray tereg opgemerk het, net omdat ’n gesonde, fikse atleet nie erg affekteer word deur die virus nie, beteken dit nie hulle hoef nie met sorg op te tree teenoor ander wat dit minder gelukkig tref nie.

Djokovic se appèl was suksesvol. ’n Regter het beslis dat die Australiese owerhede hom toegang tot die land moet gee en dat hy mag deelneem. Dis ’n jammerte, want dit skep die indruk dat sekere persone op grond van sosiale status beter behandeling mag eis as ander.

Dit skep presedente, nie net binne die land self nie, maar ook vir sportbyeenkomste elders. Ons kan net hoop dat dit nie tot nuwe uitbrekings lei nie.

Dalk is dit kleinlik van my, maar ek hoop hy verloor elke enkele wedstryd wat hy daar speel.

  • 15

Kommentaar

  • Wat 'n eensydige oningeligte persoonlike opinie is die nie net nie! "Aansteeklike liggaam"...? Een van die eerste punte wat uitgewys is n.a.v. die vaksienes is dat dit nie aansteeklikheid beperk tot ongevaksineerdes nie .... Dus elke liewe persoon op aarde kan 'n ander een aansteek en dit het niks met vaksienes te doene nie.

  • Beste Bettina
    Ek lees gewoonlik wat jy skryf met aandag.
    Effektiewelik het ek feitlik alles dusver verrykend gevind en ervaar.
    Maar, myns insiens, het jy 'n onrusbstende aantal dubbelfoute hierin "geslaan", wat vir my betreurenswaardig is, komende van jou af.
    Maar ek wil vriende met jou wees en bly.
    Kom ons laat my reaksie net hier?
    Asseblief.
    Groete
    Dirk
    PS
    Ek kan 'n magnum opus skryf om dié rubriek van jou tot in die fynste besonderhede tot op die been uitmekaar uit te trek, maar ek wil en sal nie.
    Ek volstaan deur te skryf dat ek ad idem is met Pieter Roux se antwoord.

  • Naas Ferreira

    Dankie vir hierdie kommentaar op Djokovic se selfverheerlikig. Hy heg geen waarde aan die eerste beginsels en waardes soos liefde, integriteit, eerlikheid/opregtheid of die waarheid nie. Die antivaksers is selfsugtig, op 'n dwaalspoor en dink nie aan die toekoms nie.

  • Clinton Mckenzie

    Bettina nog 'n mislukte skrywe deur jou. Jy ondersteun natuurlik die dom idee dat regerings vir mense moet voorskryf wat hulle moet doen en nie doen nie. Hoekom die spasie kry om sulke twak te skryf.

  • AGH van Der Walt

    En nou erken hy dat hy nie die waarheid vertel het en sy vorms verkeerd ingevul het. Geen wonder hy is nie so gewild is soos 'n Nadal of Federer nie. Ek het ook van Borg gehou maar nie van McEnroe nie. Sampras was ook 'n gunsteling.

  • Sy agent het die vorm ingevul en die verkeerde blokkie gemerk. Djokovic het reeds volledige verklarings gedoen oor vele aangeleenthede deur die skrywer aangehaal. Die les is dus dat, voordat jy op jou perdjie klim, wag eers op kommentaar voordat jy opklim.

  • Gustaf Claassens

    Kishoue, Bettina. Jy 'wen' in skoon stelle. Niemand sal betwyfel dat Djokovic 'n goeie tennisspeler is nie. Sy 20 'Grand Slam'-titels staan as bewys daarvan. Hy's soos 'n robot van die agterbaan vanwaar hy teestanders tot oorgawe dwing. En dis waar dit ophou. Alles ophou.
    As mens laat sy optrede en uitlatings veel te wense oor. Alles gaan oor homself. Wat hom betref, verloor hy nie. Hy was net nie op sy beste nie. Wanneer dinge op die baan skeefloop, 'ontwikkel' hy skielik skete. Hy skel op baljoggies, slaan sy raket aan skerwe en skree soos 'n besetene na wedstryde wanneer hy gewen het. Hy slaan op sy bors soos 'n gorilla om te 'sê' ek's die beste. Wat 'n spektakel. O, en dan kom die skynheilige uitstorting van sy hartsgebare om 'dankie' aan sy ondersteuners te sê. So asof hy nie besef dat mense deur hom sien nie. Mens voel dikwels verleë vir sy onthalwe ...
    Hy is telkens in die een of ander soort polemiek betrokke. Of dit nou 'n baanbeampte is wat hy raakslaan, en of dit lang ’n 'badkamer'-breek is om teenstanders te irriteer en uit hulle ritme te dwing, dis alles deel van die mens Djokovic. En dan verstaan hy en sy familie nie hoekom so baie mense nie van hom hou nie. Sy eenoog-ondersteuners natuurlik uitgesluit.
    Oor sy uitlatings en optrede oor Covid hoef mens nie veel te sê nie. Hy het in Junie verlede jaar 'n toernooi gereël en alle maatreëls verbreek deur partytjies te hou na die tyd, wat daartoe gelei het dat talle spelers Covid opgedoen het. Na kritiek het hy 'verskoning' gevra, wat hy natuurlik geensins bedoel het nie. En nou die debakel in Australië. Hy sê hy het Covid opgedoen in Desember, en daarmee kry hy, wat hom betref, 'n skuiwergat om nie gevaksineer te word nie. Hy kondig vol bravade aan hy's op pad na Melbourne en onderskat geheel en al die reaksie van briesende Australiërs wat lank gebuk gegaan het onder die strengste maatreēls denkbaar.
    Die hofuitspraak van die betrokke deelstaat was wel 'n ja in sy guns vir deelname, wat natuurlik verskil van die regulasies van die Australiese Federale Regering. En dit is wat al die verwarring veroorsaak (het.) Intussen kom die nuus deur dat Djokovic na sy positiewe Covid-uitslag hom weereens aan geen maatreëls gesteur het nie. Hy verskyn die volgende dag sonder 'n masker by 'n toernooi en neem ook deel aan fotosessie-afsprake. Sy selfsugtige optrede weereens sigbaar vir almal om te sien. Hy voel 'n veer of hy mense aansteek. Al wat belangrik is, is hyself. En ten einde laaste word bekend gemaak dat Djokovic selfs na Spanje gereis het. Toe hy uitgevang word, plaas hy die blaam op sy agent en beskryf die fout op sy visumaansoek as 'n administratiewe fout. So tipies Djokovic. Niks is ooit sy skuld nie. En dan kom sy ouers met die mees absurde uitsprake denkbaar van hoe die wêreld teen hulle seun is en alles en nog wat. Selfs dat hy soos Jesus moet ly ... skokkend maar eintlik geen verrassing nie. Die tenniswêreld ken hulle so.
    Ten slotte: Djokovic mag 'n goeie speler wees, maar hy kan en sal nooit in dieselfde asem as 'n Federer en 'n Nadal genoem kan word nie, juis vanweë al die redes hierbo genoem. Hy is doodeenvoudig net nie in hulle klas as 'n mens nie.

  • Mnr. Claassens, ek kan nie genoeg saamstem nie. D het beslis nie die statuur van 'n Federer óf 'n Nadal nie. Hy is net nog 'n voorbeeld van 'n bevoorregte sportman met geen maniere en beslis geen selfbeheersing.

  • Mnr. Claassens, jou kommentaar is identies aan my mening oor Djokovic. Ek het op ’n ander forum ’n soortgelyke mening as joune gelig en is behoorlik daaroor aangevat. My mening is dat antivaksers almal op dieselfde wa spring en saam skree, maar dat hulle in werklikheid nie weet waarom hulle saamskree nie. Dit gaan my verstand te bowe. Ek is bly dat Australië voet by stuk gehou het en Djokovic huis toe gestuur het, want hy dink hy het gearriveer. Reëls bly reëls en dit geld ook vir die heer Djokovic; hy het nog baie om te leer oor die lewe: dat tennis nie die Alfa en Omega is nie.

  • Die volgende inligting is uit: https://www.health.gov.au/resources/publications/coronavirus-covid-19-at-a-glance-17-january-2022
    As at 3pm on 17 January 2022, a total of 1,425,501 cases of COVID-19 have been reported in Australia, including 2,698 deaths, and approximately 708,180 active cases.
    Uit 'n ander bron blyk dit dat 78% van die bevolking ten volle ingeent was en 81% 1dosis ontvang het. Dit is van die hoogste in die wëreld. Ek is nie teen die vaksiene nie en is self ten volle ingeënt.
    My vraag, die statistieke in ag genome, is hoe doeltreffend is die vaksiene en steek ingeëntes nie ander net so maklik ander aan as dié wat nie is nie?
    Dit lyk my op die stadium dat die vaksiene keer dat jy nie ernstig siek word maar dat ten volle ingeëntes nogtans in hospitale beland en sterf.

  • Ek kan nie verstaan waarom mense nou juis so tekere gaan dat Djokovic hom nie wil laat inent nie. Sy naam is dan mos Novak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top