Die aanloop tot die val van die Berlynse Muur

  • 1

Aan die begin van Mei 1989 het die geskiedenis sy loop geneem wat binne maande ’n nuwe wêreldorde ingelui het. Die Hongaarse kommunistiese regering het opdrag gegee dat die elektriese heining van 240 km tussen dié land en Oostenryk afgeknip en verwyder moes word. Dit het ’n beroering in Oos-Europa tot gevolg gehad. Die ander lande wat deel was van Rusland se Sowjetunie, soos Oos-Duitsland, Tsjeggo-Slowakye en Pole was bevrees dat hulle burgers sou dros om die juk van kommunisme te ontsnap.

Ek was in daardie stadium in Londen gebaseer as Europese korrespondent van die SAUK. Die Suid-Afrikaanse ambassade in Wene, Oostenryk, het my gebel en gesê daar is groot dinge aan die gebeur en ek en my kameraman moet ons soontoe haas. Toe ons in Wene kom, het ’n amptenaar van die ambassade reeds vir ons permitte gereël om in Hongarye te gaan verfilm. Ons is sonder moeite saam met hom deur die grenspos. So ver soos ons gery het na die hoofstad Boedapest was daar verkeer grens se kant toe. Dit was meestal Oos-Duitsers wat in hulle klein skedonkies op pad was na die “Weste” en vryheid.

Ons eerste stop was die Departement van Inligting. Daar het hulle ons geregistreer en ’n tolk aan ons toegewys. Die tolk was ’n beeldskone vrou van seker so 30 jaar. Sy kon benewens Hongaars ook Russies, Duits, Italiaans, Frans en Engels praat. Sy het vertel dat Hongaars een van die heel moeilikste tale is om te bemeester. Daar is geen ander taal soos dit in die wêreld nie – dis net so verlangs familie van Fins en Estlands. En in die geheel was daar maar net sowat 13 miljoen Hongaarssprekendes.

Omdat die taal uniek en so ontoeganklik is, kan Hongaarse kunstenaars nie die land se internasionale kultuurprofiel met letterkunde inhoud gee nie. Daarom gee kunstenaars uitdrukking aan hulle talente deur musiek of skilderkuns. Dis die kunsvorme waar woorde en taal nie van belang is nie.

’n Goeie voorbeeld is die Hongaarse komponis Fransz Liszt.

Liszt word gereken as een van die beste pianiste ooit. Hy het ook van die moeilikste stukke gekomponeer. In die Romantiese era, in die volle 19de eeu, staan hy uit as ’n innoveerder wat ’n groot invloed gehad het op vele ander komponiste in Hongarye en internasionaal. Een van sy bekendste werke is die Hongaarse Rapsodie nommer 2 in C-kruis mineur. Luister gerus daarna in ’n opname deur die begaafde Chinese pianis Lang Lang. Ewe indrukwekkend is sy “La campanella” (“Die klein klokkie”). As ’n mens na die opnames kyk, kan jy skaars glo dis menslik moontlik om die vingers so vinnig te beweeg.

Hongarye se geskiedenis kan teruggevoer word na omtrent die 9de eeu. As ’n klein volkie is hulle voortbestaan dikwels bedreig. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Hongarye deur die Russe beset. In die onderhandelings ná die oorlog het Rusland geweier om verowerde gebiede vry te stel. So het Hongarye deel geword van die Oosblok van 15 Sowjet-republieke. Die Hongare het in Oktober 1956 in opstand gekom. Die Sowjetunie het in November tenks ingestuur en die revolusie gestuit. By die 20 000 mense is dood. Maar Hongarye is groter grasie in selfbestuur gegee as die ander lande.

Die land het reeds voor 1989 begin toenadering soek tot die Weste. Al hoe meer handel is met veral Oostenryk gedryf. Dit het sin gemaak om die grensbeheer te verslap. Hongare het gebruik gemaak van die nuwe benadering en inkopies gaan doen in Oostenryk. Maar toe sien andere, soos die Oos-Duitsers, die geleentheid om te vlug deur al die pad af te ry tot by die Hongaarse grenspos, daar deur te gaan en dan weer op te ry tot in Wes-Duitsland. Die stroom motors het meer geword. In Moskou het die meer liberale Russiese leier Mikhail Gorbatsjof anderpad gekyk.

’n Besonderse ervaring was ons besoek aan die kardinaal van die Rooms-Katolieke Kerk by sy groot katedraal suid van Boedapest. Hy was al 75, maar nog fiks en gesond. Hoewel dit net nege-uur in die môre was, het hy ons elk ’n plaaslik-vervaardigde snaps aangebied. Hy het dit sommer in een teug weggeslaan, maar ek het gesukkel. Dit was vir my eens so erg as ons mampoer van die Groot Marico. Die kardinaal het vertel dat die Hongare regdeur die onderdrukkerstyd van die Sowjetunie getrou aan die kerk en hulle Christelike godsdiens gebly het. Hy het ons na ’n groot kamer aan die sykant van die katedraal geneem. Daar het hy aan ons die pragtigste tapisseriewerke gewys. Dit het van die plafon tot amper op die vloer gehang en het uit die 13de eeu gedateer. Die kardinaal het ons gewys waar Russe gate in die kunswerke gebrand het met sigarette.

In 1989 het ’n opwindende gees in die land geheers. Almal het besef dat ons ’n wêreldverskuiwende stukkie geskiedenis beleef. Die Hongaarse regering het uiteindelik op 10 September die grens heeltemal oop verklaar. Duisende vlugtelinge, meestal van Oos-Duitsland, het dadelik na die Hongaarse grens toe gery. Die land se leier, Erich Honecker, was woedend en het by die Russe gekla. Daar was ’n ooreenkoms dat al die lande van die Sowjetunie sou keer dat burgers van een staat in die blok van 15 deur die grens van ’n ander sou probeer ontsnap. Hongarye het dit blatant geïgnoreer. En die Russe het niks gedoen nie.

Tydens ons besoek was daar darem ook tyd vir plesier.

Boedapest is ’n besonder mooi stad. Ons was gelukkig om kamers in die Gellert Spa Hotel te kry. Dis ’n ou geskiedkundige hotel met natuurlik ’n groot warmwaterswembad. ’n Mens kon sien dat die hotel en van die ander besienswaardighede getuig van ’n roemryke verlede, maar dat daar ’n bietjie instandhouding nodig was. Die kos was ’n ervaring, met hulle ghoelasj onverbeterlik. Van die worse was ’n bietjie ryk na my smaak.

Ons het ook ’n draai gemaak by die Balatonmeer, die grootste varswatermeer in Sentraal-Europa. Op die aand toe ons daar was, was daar by ons hotel ’n groot gedans by ’n nagklub. Die jongklomp het gedans dat dit klap – op die maat van dieselfde musiek wat jy in Londen sou aantref.

Op 23 Oktober het Hongarye ’n onafhanklike republiek geword. Ander lande het nie aan die gety van die geskiedenis ontsnap nie.

Op 28 Oktober het burgers van Tsjeggo-Slowakye op die sentrale plein van Praag byeengekom en teen hulle kommunistiese regering betoog. Die onluspolisie het toegeslaan en hulle gewelddadig verwilder. Maar die regering is enkele weke later verwyder.

Op 9 November 1989 het die Berlynse Muur geval. ’n Nuwe wêreldorde is gevestig. Die Koue Oorlog was verby. Die Ystergordyn het van bo tot onder geskeur.

  • 1

Kommentaar

  • Baie interessant! Dié wat te jonk is om die Koue Oorlog te onthou, sukkel om te verstaan hoe die wêreld voor die val van die muur gelyk het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top