In Le Rideau (2005, bl 131; Engelse vertaling The curtain, 2007) skryf Milan Kundera oor die Duitse filosoof Hegel (1770–1831) se opvatting van tragedie:
Sofokles se antieke Griekse tragedie] Antigone het aanleiding gegee tot Hegel se meesterlike oorpeinsing van die tragiese: Twee antagoniste kom in botsing, elkeen onlosmaaklik verbind tot ’n waarheid wat betreklik en slegs deels waar is, maar in sigself beskou volkome geregverdig. Albei is bereid om hul lewens daarvoor op te offer, maar kan sy waarheid slegs ten koste van die totale ruïnering van sy teenstander laat seëvier. So is albei tegelyk reg en skuldig. Dit is part en deel van die eerbaarheid van die groot tragiese karakters om ook skuldig te wees, sê Hegel. ’n Diepgaande bewustheid van hierdie skuld bemoontlik ’n toekomstige versoening.”
*
In ons skoolgroep was ek en Heero die twee wat van jongs af ’n roeping had om die bediening te betree. Dit het ’n sekere band tussen ons gesmee, soos wat ’n gedeelde roepingsbewustheid nou ten ene male doen.
Miskien was my eerste bewuswording daarvan dat vriendskap ook met verlies gepaard kan gaan, toe Heero se ouers, uit vrees vir die politieke toekoms van Suid-Afrika, Verwoerdburg (nou Centurion) in ons standerd 8-jaar (nou graad 10) in 1986 vir die VSA verruil het.
Ons het albei na skool ons gereformeerde teologiese opleiding aangepak. Hy het deurgedruk en die bediening betree, op ’n unieke wyse. Na die ontdekking van Nietzsche en die skok oor die teologiese regverdiging van apartheid het ek opgeskop en eers baie jare later die bediening betree, miskien ook op ’n betreklik besonderse wyse.
Heero se pad het gelei tot dié van voltydse gereformeerde sendeling in Lwif, Oekraïne; myne tot Ortodokse priesterskap in Bloemfontein vanaf 2018.
*
Daar is ’n baie mooi verhaal oor hoe die tsaar van die 10de-eeuse Koninkryk van Kiëf Rus’, die Heilige Wladimir, en sy mense hulle tot die Ortodoksie bekeer het. Wladimir sou naamlik gesante uitgestuur het om ander religieë te ondersoek. Twee van hulle het een oggend tydens die viering van die goddelike liturgie van die Heilige Johannes Chrusostomos die manjifiekste van alle Christelike kerkgeboue, die Kerk van die Hagia Sofia (Heilige Wysheid) in die Bisantynse hoofstad, Konstantinopel (nou Istanboel), betree en later berig: “Ons het nie langer geweet of ons ons in die hemel of op die aarde bevind nie, en ook nie geweet van sulke skoonheid en hoe om daaroor te praat nie.”
*
Af en toe wanneer ek en Heero mekaar te siene kry, het ek sy been liggies getrek oor die wysheid daarvan om as gereformeerde sendeling in een van die oudste Ortodokse lande ter wêreld te werk.
Woensdagaand 23 Februarie het ons per WhatsApp gesels oor die gespanne situasie in Oekraïne. Ons het saamgestem dat die kans dat Poetin Oekraïne sal inval, gering is.
Teen Donderdagoggend is ons albei verkeerd bewys, en teen Donderdagaand was Heero en sy Russiessprekende Oekraïnse vrou, Anja, reeds besig om vlugtelinge in hulle huis en in hulle kerk te huisves. Teen Sondagoggend het hulle bladsy 4 van Rapport gehaal vir hulle beginselvaste uitlewing van die Evangelie. “Vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My,” sê Christus volgens Matthéüs 25, “het julle dit aan My gedoen” (2020-vertaling).
*
Die Russiese weergawe van die naam Wladimir is Vladimir, soos in Vladimir Poetin, die naam van die Russiese president. Die Oekraïnse weergawe van die naam is Volodymyr, in Afrikaans Wolodomir, soos in Wolodomir Zelenski, president van Oekraïne. Die Russiese weergawe het uit die Oekraïnse weergawe ontwikkel.
Die naam het verskillende betekenisse: heerser van die wêreld; heerser van vrede; beroemde mag; helder en beroemd.
*
Op 4 Maart 1947 onderteken Frankryk en die Verenigde Koninkryk die Duinkerken-verdrag om saam te staan in die geval van ’n aanval deur Duitsland of die Sowjetunie. In 1948 word hierdie bondgenootskap uitgebrei na België, Nederland en Luxemburg in die sogenaamde Westerse Unie. Hierdie bondgenootskap word op sy beurt uitgebrei om die VSA, Kanada, Portugal, Italië, Noorweë, Denemarke en Ysland in te sluit, en hierdie lande onderteken op 4 April 1949 die Noord-Atlantiese Verdrag en vorm die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie, oftewel Navo.
Die Sowjetunie, wat enorme lewensverliese in die geveg teen Nazi-Duitsland in die Tweede Wêreldoorlog (1939–1945) gely het, vrees in 1954 ’n militêre heropbou in die destydse Wes-Duitsland en versoek om by Navo aan te sluit. Die versoek word deur die Verenigde Koninkryk en die VSA verwerp.
Kort daarna, in Oktober 1954, sluit Wes-Duitsland (amptelik die Federale Republiek van Duitsland) by Navo aan.
Die voortslepende Sowjet-vrees vir die militêre heropbou van Wes-Duitsland speel vermoedelik ’n groot rol in die stigting van die Sowjet-geleide teenvoeter vir Navo, die Warskou-Verdragsorganisasie, of WVO, wat aanvanklik bestaan uit die Sowjetunie, Pole, Albanië, Bulgarye, Tsjeggo-Slowakye, Oos-Duitsland (amptelik die Demokratiese Duitse Republiek), Hongarye en Roemenië.
***
Vanaf omtrent 1989 begin wat beskryf kan word as die laaste drie jaar van die bestaan van die Sowjetunie. Teen hierdie agtergrond ontbind die WVO op 25 Februarie 1991. Op 27 Desember 1991 word die laaste president van die Sowjetunie, Mikhail Gorbatsjof, se kantoor deur die eerste demokraties verkose Russiese president, Boris Jeltsin, betrek.
In sy laaste toespraak as president waarsku Gorbatsjof: “Die ou stelsel het in duie gestort voor ’n nuwe een genoeg tyd had om te begin werk.”
*
Aangesien Wes-Duitse militêre heropbou nooit tot met die einde van die Sowjetunie geskied het nie, was die enigste ander bestaansrede vir die Sowjetblok se WVO die bedreiging wat Navo uit hulle gesigspunt vir hulle ingehou het.
Met die ontbinding van die WVO en die einde van die Sowjetunie het Navo sy enigste bestaansrede verloor. Die Koue Oorlog was verby. Toenadering tussen die Amerikaansgeleide Weste enersyds en Rusland andersyds, ander lande van die voormalige Sowjetunie en lande van Middel- en Oos-Europa wat satellietstate van die Sowjetunie was, was aan die orde van die dag.
Westerse lande en firmas het Rusland binnegestroom en ’n reeds dramaties ontwrigte land onderwerp aan sogenaamde ekonomiese skokterapie ten einde so gou moontlik die oorgang van die kommunistiese sentraalbeheerde ekonomiese stelsel na ’n vryemarkstelsel te verseker.
Intussen het Navo nietemin bly voortbestaan, en toenemend sou dit duidelik word dat opeenvolgende Amerikaanse regerings, sowel Demokraties as Republikeins, Navo wou gebruik as ’n meganisme om meer lande in die tradisionele Russiese invloedsfeer onder hulle invloed te kry. Dit ondanks mondelinge beloftes aan Gorbatsjof dat Navo nie ooswaarts en nader aan Rusland sou uitbrei nie. Voorstelle deur sowel Jeltsin as sy opvolger in 1998/99, Poetin, dat Rusland by Navo aansluit, is deur die VSA verwerp.
Die grootste Russiese wenners in die blitsige, chaotiese oorgang na ’n markekonomie was ’n handjievol bedrewe ondernemers wat later as oligarge bekend sou staan, almal dollarmiljardêrs geword het, en teen die laat 1990s feitlik die hele Russiese ekonomie besit het.
Die grootste Russiese verloorders van die ekonomiese oorgang was die breë Russiese bevolking, wat ellende moes verduur toe die roebel in Augustus 1998 in duie stort.
Was dit ’n wonder dat die pro-Westerse sentiment wat na die einde van die Sowjetunie geheers het, teen die laat 1990’s sou verdamp, en dat ’n politikus wat beloof het om die korrupsie uit te roei en die mag van die oligarge te breek, Wladimir Poetin, Jeltsin in 1998/99 met wye steun opgevolg het?
*
Soos David Teurtrie van die Franse Nasionale Instituut vir Oosterse Beskawings en Tale in Februarie se Le Monde diplomatique uitwys, was Poetin aanvanklik die Weste steeds ter wille.
Na die terreuraanvalle op die VSA op 11 September 2001 het Poetin ingestem dat tydelike Amerikaanse basisse in Sentraal-Asië opgerig word, Russiese militêre basisse uit die Sowjet-era in Kuba gesluit, en Russiese soldate uit Kosowo onttrek. Amerikaanse erkenning van die tradisionele Russiese invloedsfeer het egter uitgebly.
Toe die bedenklike Amerikaansgeleide inval van Irak in Maart 2003 in oortreding van die internasionale reg en sonder steun van die Verenigde Nasies gesamentlik deur Frankryk, Duitsland en Rusland veroordeel is, het dit Amerikaanse vrese vir ’n Russies-Frans-Duitse bondgenootskap in beheer van Europa aangewakker. Hierna het die Amerikaners in stryd met die Navo-Rusland-verdrag van 1997 antimissielstelsels in Oos-Europa aangebring en in 2001 uitgestap uit die Antiballistiesemissielverdrag, wat in 1972 met die Sowjetunie gesluit is.
Terwyl Poetin in die eerste jare na sy bewindsoorname die Russiese oligarge onder sy duim gekry het, was geluide uit Georgië en Oekraïne in 2008 om by Navo aan te sluit, vir Poetin soos ’n rooi doek voor ’n bul. Dit is teen dié tyd welbekend dat hy militêr tot Georgië toegetree en die klein wegbreekstate, Suid-Ossetië en Abkazië, se onafhanklikheid erken het.
In 2014 het hy die Krim, wat in 1958 deur die Sowjet-president, Nikita Chroesjtsjof aan Oekraïne gegee is, geannekseer en steun begin verleen aan die twee suid-oostelike Oekraïnse wegbreekstate Loehansk en Donetsk.
*
’n Gangbare definisie van religieuse fundamentalisme is om ’n religie in te span vir doeleindes van politieke mobilisasie, om ’n religie te verander in ’n ideologie.
Karen Armstrong wys in haar boek oor religieuse fundamentalisme, The battle for God (2001), dat religieuse fundamentalisme vir alle praktiese doeleindes ’n 20ste-eeuse verskynsel is wat in erg ontwrigte samelewings voorkom.
Die Ortodokse Christendom is geen uitsondering hierop nie. Om die waarheid te sê, om redes wat buite die bestek van hierdie opstel val, het die Ortodokse Christendom feitlik nooit in sy geskiedenis mense op die brandstapel verbrand of in die tronk gegooi nie.
Ek kon die bewering nie kontroleer nie, maar dit as al aan my gesê dat meer Christelike (Ortodokse) martelaars onder die Sowjetunie om die lewe gebring is as in die ganse voorafgaande geskiedenis.
Wat wel geen twyfel ly nie, is dat Rusland na 60 jaar van kommunisme en nog tien jaar se roofkapitalisme teen die laat 1990’s ’n ontsettend ontwrigte samelewing was. Dieselfde het die diep getraumatiseerde Ortodokse Kerk in Rusland gegeld.
Wladimir Poetin het sterk bande met die Ortodokse Kerk in Rusland en in besonder met die huidige patriarg van Moskou en die Ganse Rus, sy Saligheid Kirill. Patriarg Kirill se titel is in hierdie konteks belangrik, want dit verwys na onder meer die historiese gebied, Rus, te wete Rusland, Oekraïne en Belarus. Laasgenoemde staan onder leiding van die diktator Loekasjenko, wat ’n groot bondgenoot van Poetin is.
*
Patriarg Kirill het sedert sy bestyging van die patriargale troon in 2009 toenemend aansluiting gevind by ’n ou tema in die Russiese Ortodoksie, naamlik dat Moskou die sogenaamde Derde Rome is. Dit is ’n verwysing na die belangrike rol wat Moskou as setel van die Ortodoksie begin speel het nadat die Ottomaanse Moslems die tradisionele setel van die Ortodoksie, ook bekend as die Tweede Rome, naamlik Konstantinopel, op 29 Mei 1453 verower het.
Omdat die Ortodokse Kerk Christus as die hoof van Sy Kerk beskou, was die Ortodoksie nog altyd gekant teen een aardse hoof van die Kerk, oftewel die pous van Rome, soos dit mettertyd in die Katolieke Kerk ontwikkel het. Die Ortodokse Christene van die wêreld is, daarteenoor, opgedeel in streke wat elk onder ’n eie patriarg staan, en waarvan die sogenaamde ekumeniese patriarg van Konstantinopel tradisioneel beskou word as die “eerste onder gelykes”, en by gebrek aan ’n beter vergelyking byna soos ’n seremoniële president met min uitvoerende magte is.
Die Kerk is deel van die wêreld, en spring daarom ook nie verskuiwende magsverhoudinge vry nie. Die Val van Rome in 476 nC het die invloed van die pous vir eeue daarna verwater, en rofweg sedert keiser Theodosius in 380 die Christendom as staatsgodsdiens van die Romeinse Ryk erken het, was Konstantinopel tot in 1453 die vernaamste setel van die Christendom.
*
As Ortodokse Christen kan ek verstaan waarom patriarg Kirill toenemend die afgelope jare ná die traumatiese 20ste eeu en Amerikaanse magspeletjies sedert die einde van die Sowjetunie die herstel van die “Heilige Rus” bepleit het, en dit inderwaarheid selfs as ’n heilige taak beskou. Solank dit bloot ’n kerklike versugting bly. Maar wanneer dié versugting gekoppel word aan staatspolitiek, is ons op die gevaarlikste van terreine. Dan word afgewyk van die Chrusostomos se beroemde uitspraak dat as oortuiging deur dwang vervang word, die saak nie meer Christelik is nie.
Wat die patriargaat van Moskou en die Ganse Rus betref, is sake rofweg tussen 2014 en 2018 op die spits gedryf.
Dit is bekend dat met die verkiesing van ’n nuwe regering in 2014 die Oekraïnse politieke klas in ’n nuwe vlaag nasionalisme toenemend anti-Russies en pro-Westers geword het. Lidmaatskap van Navo, waarin Oekraïne nog in die vroeë 2000’s nie belanggestel het nie, het nou ’n ernstige versoek van Oekraïne geword. Die hernude Oekraïnse nasionalisme het sy religieuse teenhanger ook gevind in ’n wegbreekfaksie van die Ortodokse Kerk in Oekraïne wat selfregering (amptelik bekend as outokefalie) van Moskou geëis het.
In hierdie selfde tyd was die Ortodokse Kerk onder leiding van die huidige ekumeniese patriarg van Konstantinopel, sy Saligheid Bartolomeus, besig om vir die eerste keer sedert die laaste Ekumeniese Konsilie van 787 weer ’n konsilie van al die verskillende Ortodokse jurisdiksies te reël, oftewel die Pan-Ortodokse Konsilie te Kreta in Junie 2016.
Die broeiende spanning wat veroorsaak is deur die wegbreekfaksie van die Ortodokse Kerk in Oekraïne, wat toenemend toenadering tot die ekumeniese patriarg gesoek het, het uiteindelik daartoe bygedra dat die patriargaat van Moskou en ander patriargate in die Slawiese wêreld die Pan-Ortodokse Konsilie geboikot het. Dit het op sy beurt waarskynlik daartoe bygedra dat die ekumeniese patriarg oplaas selfregering aan die nasionalistiese Oekraïnse wegbreekfaksie toegestaan het – tot groot konsternasie van Moskou. Luidens berigte is na afloop van die seremonie vir selfregering in Konstantinopel/Istanboel uitroepe van “Lank lewe Oekraïne!” gehoor; Ortodokse Christene wat aan Moskou lojaal gebly het, is uit hulle kerke verjaag en dié is deur die wegbreekfaksie oorgeneem; en die wegbreekfaksie staan onder leiding van ’n hoogs omstrede figuur wat voorheen deur Moskou op goeie gronde uit die Kerk verban is.

St Volodymyr-katedraal in Kiëf, Oekraïne (Foto: Pixabay.com, Maslov_Slava)
Poetin het spesifiek na hierdie gebeure verwys in van sy mees onlangse uitsprake, en die rimpeleffek daarvan word dwarsoor die Ortodokse wêreld gevoel. Ou historiese spanninge tussen Griekstalige en Russiestalige Ortodokse Christene dra waarskynlik ook tot die dieper wordende krisis by.
*
Dit is ten minste sedert Machiavelli se meesterwerk oor die moderne staatspolitiek, Die prins (1532), ’n stelreël van die staatspolitiek dat die dreigement om geweld te gebruik die doeltreffendste van alle hefbome in onderhandelinge is.
Poetin verstaan dit baie goed. Terwyl hy al hoe meer sentralisties en onderdrukkend in Rusland begin optree het sedert die laat 2000’s, het sy frustrasie met die Weste se ignorering van wat hy as geldige Russiese veiligheidskwessies beskou, duidelik breekpunt begin nader met die publikasie van ’n lang opstel uit sy pen in Junie 2021 oor Rusland en Oekraïne. Ofskoon sy lament oor Westerse – en veral Amerikaanse – minagting die laaste 30 jaar te verstane is, gaan hy dan oor om deur hierdie bril gesien die aparte bestaansreg van Oekraïne te misken. Kort hierna begin die reuse-opbou van tot soveel as 190 000 Russiese soldate op die Oekraïnse grens, en in Desember 2021 eis hy onderhandelinge waarin onder meer Oekraïne se neutraliteit vasgestel moet word.
Poetin is ’n meesterstrateeg, en dit is moeilik om te oordeel of hy reeds in Desember 2021 besluit het om Oekraïne in te val. Dat hy Oekraïne wel op 24 Februarie ingeval het (en die meeste waarnemers daardeur verstom het), mag daarop dui dat hy ’n man is wat vasgekeer en verraai voel.
*
Nadat ek en Heero op Woensdagaand 23 Februarie saamgestem het ons dink nie Poetin sal Oekraïne inval nie – en ek self gedink het hy gebruik die dreigement van geweld om te onderhandel – het die skynbaar ondenkbare om vyfuur die oggend in Oekraïne wel gebeur.
*
Ek kon nie anders as om te dink aan parallelle met die Anglo-Boereoorlog (1899–1902), toe een van die magtigste militêre moondhede van sy tyd ’n geïsoleerde volk aangeval en gedink het die oorlog sal oornag verby wees nie. Bykans twee en ’n halfjaar later het Brittanje die oorlog vir praktiese doeleindes militêr en polities gewen, maar moreel verloor. Die Boere het in die oë van die wêreld as helde uit die stryd getree, en na die historiese tragedie van die verlies van die Boererepublieke hulle republikanisme vir nasionalisme verruil. Die res is (nog ’n tragiese) geskiedenis.
Soos sake nou staan, geniet Oekraïne en sy dapper president wêreldwye simpatie. Rusland is meer geïsoleerd as ooit, en wat miskien die gevaarlikste man ter wêreld is – by wie religie en politiek ineenvloei – kom te staan teen iemand wat miskien die dapperste man ter wêreld is.
*
In die Ortodokse Kerk was Sondag 27 Februarie die laaste Sondag voor ons met die Groot Vas (Lent) in aanloop tot Heilige Week en die Pase begin. Dit staan bekend as die Sondag van die Laaste Oordeel. Die Evangelielesing is uit Matthéüs 25:31–46, waar Christus dit het oor die Laaste Oordeel, waar die skape en die bokke van mekaar geskei sal word.
Die verstommende van hierdie perikoop is dat Christus nie baie te sê het oor die hemel of die hel nie, maar dat hy uitvoerig uitwei oor die norme waarvolgens geoordeel sal word:
Kom, julle geseëndes van my Vader, beërf die koninkryk wat vir julle berei is van die grondlegging van die wêreld af. Want Ek het honger gehad, en julle het My te ete gegee; Ek het dors gehad, en julle het My te drinke gegee; Ek was 'n vreemdeling, en julle het My herberg gegee; Ek was naak, en julle het My geklee; Ek was siek, en julle het My besoek; in die gevangenis was Ek, en julle het na My gekom. Dan sal die regverdiges Hom antwoord en sê: Here, wanneer het ons U honger gesien en gevoed; of dors, en te drinke gegee? En wanneer het ons U 'n vreemdeling gesien, en herberg gegee; of naak, en geklee? En wanneer het ons U siek gesien of in die gevangenis, en na U gekom? En die Koning sal antwoord en vir hulle sê: Voorwaar, Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen.
Toe ek die perikoop aan die gemeente begin voorlees, het ek gebreek, want waar het ons beland as die land wat die Ortodoksie van sy ouer buurland ontvang het, daardie land binneval?
En vir die eerste keer in meer as 11 jaar dat ek Sondag na Sondag die goddelike liturgie van die Heilige Johannes Chrusostomos meemaak of lei – dieselfde liturgie waarvan die skoonheid daartoe gelei het dat Kiëf Rus, Oekraïne en Rusland Ortodoks geword het – het dit my getref dat die enkele woord wat die meeste in die liturgie voorkom, die woord “vrede” is.
Al wat my oplaas te binnegeskiet het om wenend aan die einde van die liturgie vir my gemeente te sê, is: “Bid vir die vredemakers, maar bid ook vir die oorlogmakers.”
*
Mag God Hom oor ons almal ontferm.
- Afgesien van reeds vermelde bronne is ook staatgemaak op tersaaklike Wikipedia- en Orthodoxwiki-lemmas om die betrokke historiese en ander feite te kontroleer.
Lees en luister ook:
Die Rusland-Oekraïne-konflik: die geskiedenis en Poetin se wêreldbeskouing
Kommentaar
Inderdaad: "Toe ek die perikoop aan die gemeente begin voorlees, het ek gebreek, want waar het ons beland as die land wat die Ortodoksie van sy ouer buurland ontvang het, daardie land binneval? " Met 'n reis in 1991 deur Rusland tot in die Oekraïne, telkemale onder die indruk van die komplekse geskiedenis. Hier matrioska-poppies gekoop met die verskillende presidente ... van klein na groot.
Dis 'n verskrikking wat ons nou beleef. Veral soos die skrywer uitwys as die Ortodoksie so negeer word.
Ek wil nie graag hierdie mooi skrywe bevuil met politiek nie. Ek kon saamvoel" soos ek lees.
Een van die redes vir Poetin se aksies is juis oor godsdiens. Sy ma was 'n Jodin, maar hy is Russies Ortodoks, en nie skaam daaroor nie. In Oekraïne is daar regse groepe soos die Azof-bataljon (hul embleem is die nazi-wolfsangel), Swoboda, en Regse Sektor. Hulle verf die woorde Smiert Dzjuden (dood aan die Jode) op sinagoges, en is skynbaar nie skaam om menselewens te neem nie.
Zelenski en sy mede-oligarge is Joods, maar in Rusland en Oekraïne is dit nie noodwendig 'n bepalende faktor in godsdiens nie. Baie Russiese Jode spot juis, dat hulle hul 'n Kersboom opsit in Desember en die sinagoge nie so gereeld besoek as wat hulle moet nie. (In ander lande gebeur dit ook, 'n baie bekende SA-sportman sal, as sy vrou nie by is nie, hom verlustig aan spek, en aan hamtoebroodjies.)
Soos sovele kere in die geskiedenis van die Christelike godsdiens bewys ook hierdie tragiese gebeure dat godsdiens en politiek 'n dodelike brousel is.