...
Suid-Afrika kon in die apartheidsjare sanksies op baie vernuwende maniere omseil, maar toe ons bankrekenings in 1985–86 in New York en Londen gesluit is na die Rubicon-toespraak, was die skrif aan die muur. Dit sou my kort en bondige boodskap aan president Wladimir Poetin gewees het.
...
“Everything takes a different shape when we pass from abstractions to reality.” (Carl von Clausewitz)
“No one starts a war – or rather, no one in his sense ought to do so – without first being clear in his mind what he intends to achieve by the war and how he intends to conduct it.” (Carl von Clausewitz)
...
Donald Trump het met sy presidentskap baie spanning tussen Europese lede van Navo veroorsaak en Poetin het geoordeel dat hy sal moet optree voordat die Biden-presidentskap daardie bande herstel. Duitsland het pas ’n nuwe kanselier aangewys in die plek van Angela Merkel wat die sterk politieke figuur in Europa was. President Macron van Frankryk word as ’n liggewig beskou, en Boris Johnson het homself vasgeknoop in interne politieke intriges.
...
Die wêreld het vir meer as drie weke in afwagting geleef voor die dramatiese ontknoping van die politieke spanning tussen Rusland en Oekraïne dié week plaasgevind het. Rusland het uiteindelik op 24 Februarie 2022 Oekraïne met militêre geweld binnegeval, met sy geweldige militêre oormag teenoor Oekraïne, kwesbaar en amper onbeholpe. Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) en sy groot Amerikaanse vennoot het konstante kritiek en dreigemente gelewer en met verdere ingrypende sankies teen Wladimir Poetin se Rusland gedreig. Hoe skerp die kritiek egter ook al, daar bestaan min politieke aptyt vir direkte militêre konfrontasie in die meeste van die 30 Navo-lande. In reaksie op die inval het beide internasionale sokker en internasionale motorsport reeds hulle sporttoernooie in Rusland vir 2022 gekanselleer. Het ons hier ’n herhaling van wat Stalin in 1945 gedoen het toe hy die verswakte Oosblok onder Russiese beheer gedwing het? Sien ons iets van die Koue Oorlog wat hom onder Poetin herhaal? Of is daar ander polities-strategiese redes vir die Russiese optrede, ten spyte van die ekonomiese prys wat Rusland gaan betaal? Daar moet egter aanvaar word dat Rusland ook nie sonder strategiese hefbome is nie – hulle weermag is geografies aangrensend, en hulle is ’n groot olieverskaffer en ’n dominante aardgasverskaffer aan die energiehonger Wes-Europa.
Hierdie artikel gaan die konflik in Oekraïne van verskillende hoeke bekyk en kortliks wie die rolspelers is. Die artikel gaan eindig met ’n aantal moontlike uitkomste vir die politieke drama wat hom tans op die wêreldtoneel afspeel.
Oekraïne is ’n streek wat oor honderde jare baie konflik beleef het en in dié verband ’n geskiedenis met Pole deel. Groot militêre konflikte het dikwels in die twee lande afgespeel sonder dat hulle direk daarby betrokke was. Napoleontiese oorloë en die Tweede Wêreldoorlog is paslike voorbeelde. Die oorspronklike woord Oekraïne beteken selfs “grensgebied”. Die huidige konflik kan ver gehaal word, maar ons hoef nie veel verder terug te gaan as 2013–2014 om die militêre konflik beter te verstaan nie. Oekraïne verteenwoordig die tweede grootste grondgebied in Europa naas Rusland en was buiten sy uitstekende landboupotensiaal ook ’n hoogs geïndustrialiseerde deel van die voormalige Sowjetunie. Oekraïne voer ongeveer 40% van die wêreld se sonneblom uit en is ook ’n groot uitvoerder van koring (oa aan Suid-Afrika) en mielies.
In ’n kronologie van gebeure is ’n paar punte van belang. In 2003 word Viktor Janukowitsj op omstrede wyse wenner van die presidentsverkiesing verklaar, maar sy opponent, Viktor Joesjtsjenko word na die vreedsame Oranje Revolusie as leier aangewys. Dit het later bekend geword dat Joesjtsjenko vergiftig is, maar hy het dit oorleef. Hierdie politieke ommeswaai het met sterk Westerse steun gepaard gegaan en is baie negatief deur Rusland beleef. Op 17 Januarie 2010 word Janukowitsj egter wel as president aangewys, en hy verwerp toenadering deur die Europese Unie en versterk sy verhouding met Wladimir Poetin in Rusland. Teen 2013 ontwikkel daar egter groot weerstand binne Oekraïne teen Janukowitsj se leierskap en hy word verplig om in Februarie 2014 uit die land te vlug. Die konflik in die ooste van die Oekraïne bly egter voortduur, met gereelde skermutselinge tussen regeringsoldate en pro-Russiese groepe.
Hierdie onstabiele grenskonflik sou tot die eskalasie in 2021 voortduur. In hierdie onstabiele periode annekseer Rusland die Krim-skiereiland en word ’n Maleisiese passasiersvliegtuig met ’n Russiese geleide missiel afgeskiet. Terwyl daar onstabiliteit in die Donbas-streek van Oekraïne heers, val Rusland die Krim-skiereiland gedurende Februarie 2014 in en beset die hele gebied. Daar is wêreldwye teenkanting oor die saak en ekonomiese sanksies word teen Rusland ingestel. Die hoofrede vir die anneksasie deur Rusland was om beheer oor die hawestad Sebastopol te kry, waar die Russiese Swartseevloot gehuisves word. Wat sake verder vererger het, was die afskiet van ’n Maleisiese passasiersvliegtuig (Vlug MH17) op 17 Julie 2014 in ’n gebied van Oos-Oekraïne waar pro-Russiese rebelle in beheer was.
Rusland bly egter aandring daarop dat hy aan die etniese Russe wat in die Donbas-streek woon, beskerming moet bied, en die grens tussen Rusland en Oekraïne bly ’n gebied van onstabiliteit. In die Donetsk- en Luhansk-streke is selfs referenda gehou en het Russiese separatiste hulle onafhanklikheid van Oekraïne verklaar. Met die verkiesing van president Wolodymir Zelenski op 21 April 2019 beweeg die intensiteit van die spanning tussen Rusland en Oekraïne na ’n hoër vlak, omdat Zelenski openlik groter samewerking met die Europese Unie voorstaan en gesprekke met Navo begin plaasvind. Dit is ook in hierdie tyd dat Donald Trump in die prentjie kom met sy omstrede telefoongesprek met Zelenski en sy dreigement oor die voorwaardes vir lewering van Amerikaanse wapenhulp.
Na 2014 se gewapende konflik ontstaan ’n soort skaakmatsituasie, met kleiner skermutselinge op die grens, maar in Oktober 2021 begin Rusland met ’n berekende strategiese ontplooiing van soldate en toerusting, en teen Desember 2021 word bereken dat daar meer as 100 000 Russiese soldate aan die oosgrens van Oekraïne ontplooi is. Van die magte is ook in Belarus, buurland en bondgenoot van Rusland, ontplooi. Oorlog met Oekraïne begin onafwendbaar lyk.
In Februarie 2015 het Frankryk, Duitsland, Rusland en Oekraïne probeer om die konflik te besleg deur middel van die Minsk-ooreenkoms. Hierdie ooreenkoms sou lei tot skietstakings en onttrekking van swaar militêre toerusting; die Oekraïne sou ook volle beheer oor sy grondgebied kry. Hierdie ooreenkoms was egter nooit baie suksesvol nie en is in Februarie 2022 deur Wladimir Poetin finaal verwerp.
Gedurende Januarie en Februarie 2022 is daar intense diplomatieke pogings aan die gang om die Russiese aggressie te probeer ontlont en dreigemente word oor en weer gevoer. Uiteindelik val die Russiese weermag Oekraïne op 24 Februarie 2022 in uit drie rigtings; vanuit die Krim-skiereiland, vanuit Rusland en vanuit Belarus.
Waarom sou Rusland en sy lewenslange president, Wladimir Poetin, hierdie ongewone stap doen? Daar blyk vyf redes te wees. Die eerste rede is om strategiese toegang te kry tot die Krim-skiereiland wat reeds in 2014 geannekseer is, maar geen direkte verbinding met Rusland het nie. Beheer oor Oekraïne sal aan Rusland onbelemmerde toegang tot sy Swartseevloot in Sobastopol gee, wat ’n groot strategiese voordeel sal wees. ’n Tweede regverdigingsgrond wat deur Poetin aangevoer word, is Russiese besorgdheid oor die 17% van die bevolking in Oekraïne wat etniese Russe is. ’n Derde rede is om beheer oor die industriële en landboupotensiaal en industrieë in Oekraïne te verkry. Voor 1990 was Oekraïne een van die welvarendste dele van die USSR. Waarskynlik die belangrikste rede is die ambisie van Wladimir Poetin om die grense van die ou Sowjetunie te herstel, of ten minste politieke en strategiese beheer oor voormalige Oosbloklande te herstel. In die geval van Oekraïne het die politieke trajek en toenadering tot die Europese Unie en Navo die vyfde rede geword waarom Oekraïne ingeval moes word om die regering van Zelenski te vervang.
Omstandighede het dit ook vir Poetin in 2021/22 baie meer geleë gemaak om die inval in Oekraïne uit te voer. Donald Trump het met sy presidentskap baie spanning tussen Europese lede van Navo veroorsaak en Poetin het geoordeel dat hy sal moet optree voordat die Biden-presidentskap daardie bande herstel. Duitsland het pas ’n nuwe kanselier aangewys in die plek van Angela Merkel wat die sterk politieke figuur in Europa was. President Macron van Frankryk word as ’n liggewig beskou, en Boris Johnson het homself vasgeknoop in interne politieke intriges. Verder het Rusland sy ekonomiese en finansiële posisie oor die laaste paar jaar sterk gekonsolideer en teen 2021 meer as $600 miljard se reserwes opgebou uit kommoditeite soos olie en gas. Dit wil voorkom asof Poetin ’n berekende stap gedoen het om Oekraïne oor te neem wat reeds ’n jaar of vier gelede vorm begin aanneem het.
Hoe gaan die Russiese inval in Oekraïne verder ontvou? Ons weet na die eerste paar dae na die inval reeds die volgende:
- Enige oorlog, wat ook al die ideologiese of strategiese regverdiging, het slagoffers, mense wat getraumatiseer word, mense wat in die kruisvuur sterf, mense wat onmenslike en bomenslike keuses moet maak in die aansig van tenks en pantserkarre en gepaardgaande omvangryke onsekerheid.
- Ons weet dat Poetin Oekraïne as ’n verlengstuk van Rusland beskou. Uit baie oorde word dit reeds Poetin se oorlog genoem.
- Ons weet dat Westerse moondhede alles in hulle vermoë sal doen om druk op Rusland te plaas, maar nie soldate tot die stryd sal voeg nie – daar is net nie genoeg politieke aptyt daarvoor nie.
- Ons kan reeds sien dat daar wêreldwyd ekonomiese reaksie op die inval was, maar dit wil voorkom asof internasionale finansiële markte reeds besluit het dat Oekraïne ’n slagoffer van Russiese ekspansionisme geword het.
- Europa leef in vrees dat die inval dalk verdere militêre aksies elders tog gevolg kan hê, veral in lande soos Estland, Letland, Litaue, Georgië en selfs Pole. Dit is veral die vrees dat ’n kernoorlog kan ontwikkel uit die eskalering van die konflik. Russiese skimpe dat hulle hul kernmissiele op gereedheidsgrondslag geplaas het, word baie ernstig in die Europese Unie ervaar.
- Swede en Finland besin daaroor of hulle nie dalk tot Navo moet toetree nie. Dit is sedert 1949 hulle keuse om buite Navo te staan, soos Switserland en Oostenryk.
- Daar is wêreldwyd kritiek op die Russiese optrede behalwe van die state wat Rusland begrens, soos Belarus. Dan is daar die lande wat afsydig staan, soos China, maar wat nie aan globale sanksies gaan deelneem nie. En dan is daar natuurlik Suid-Afrika wat sy morele kompas in die saak byster geraak het en vra vir onderlinge onderhandelinge en mediasie.
Daar is verder minstens vier verskillende uitkomste wat blyk uit die dinamies-ontwikkelende situasie in Oekraïne. Dit gee aan Poetin op kort termyn wat hy graag wou bereik, maar op langer termyn gaan dit betekenisvolle nadele vir Rusland inhou.
- Die grootpad na Sobaspotol. Die blitsoorlog is die eerste opsie wat ontvou het in die eerste paar dae van die inval. Met ’n totale oormag op die grond, ter see en in die lug is dit moontlik vir Poetin om die hele Oekraïne in te palm. Die vraag is of dit werklik sy plan is. In hierdie scenario sal Rusland alles doen om ’n totale oormag te bewerkstellig, maar nie die Navo-lande die geleentheid bied om in oorlog betrokke te raak nie. Die Zelenski-regering sal selfs toegelaat word om voort te gaan, en in ’n blyk van toegewing sal Poetin onderhandelinge toelaat en die oostelike deel van Oekraïne opeis op grond van die beskerming van etniese Russe in die gebied. Dit gaan aan hom onbelemmerde toegang tot die Krim-skiereiland bied. Na die onderhandelinge sal die Russe terugtrek met onder meer die onderneming dat Oekraïne nooit by Navo sal aansluit as bondgenoot nie.
- Die blitzkrieg. Die tweede opsie wat kan ontvou, is dat Poetin die hele Oekraïne wil inpalm, die huidige regering wil ontsetel en ’n nuwe lojale interimregering in die plek daarvan wil instel. Soos enige suksesvolle blitzkrieg het dit ’n groot skokeffek op die land en sy mense en stort die stelsel gevolglik in duie. Na die instelling van ’n lojale interimregering onttrek Russiese magte en word daar in internasionale forums gesoek na normaliteit. Hierdie opsie word tot ’n groot mate reeds deur finansiële markte verdiskonteer. Uit hierdie optrede kry Rusland sy strategiese toegang tot die Krim-skiereiland, maar ook al die ander bronne in Oekraïne. Oekraïnse weerstandsbewegings sal beslis kop uitsteek, veral onder die nie-etniese Russe, teen Russiese oorheersing. Die Russiese militêre oormag sal dit egter kan beperk, maar nie die negatiewe beeld van Russiese ekspansionisme nie. Voormalige Oosbloklande sal onder hierdie omstandighede hulle verhoudinge met Rusland baie versigtiger beoordeel, omdat Poetin die een kritieke aspek van strategie gedemonstreer het, naamlik om dreigemente met doelgerigte en berekende optrede op te volg.
- Tot by die afgrond. Hierdie derde opsie is ’n scenario waar die Russiese magte Oekraïne totaal oorneem en waar onderhandelinge telkens misluk. Die uiteindelike gesprek gaan oor totale oorgawe en nie ’n skikking van een of ander aard nie. Poetin het in duidelike terme sy oogmerke uitgestippel, naamlik om die voormalige Oosblok te herstel in sy vorige glorie, en dit sluit Navo en deelname aan die Europese Unie uit. Deur Oekraïne met berekende optrede in te val het Poetin gewys dat hy die vermoë het om konflik tot op die randjie van die afgrond te neem en nie af te wyk nie. Dit kom wel teen groot sosiale en ekonomiese koste, maar na hierdie inval sal dreigemente deur Poetin baie ernstiger opgeneem word. Met hierdie opsie neem Poetin die wêreld tot by die rand van ’n militêr-politieke afgrond, maar trek dan terug.
- Aggressiewe eskalasie. Dit is die begin van die reïnkarnasie van die ou Oosblok en die onwaarskynlikste opsie. Hierdie scenario is egter die groot vrees van mense in Europa, naamlik dat Oekraïne net die begin van ’n lang proses gaan wees waar Poetin as lewenslange outoritêre staatshoof van Rusland sy invloed wil uitbrei, baie verder as om net goedgesinde bure te hê, maar om daardie bure ook polities, ekonomies en militêr te beheer en te domineer. Hierdie vrese is veral teenwoordig by lande soos Estland, Georgië, Letland en Litaue. In dié scenario word die politieke situasie in Europa total gepolariseer en word daar teruggekeer na die denkwyse van die Koue Oorlog. Om hierdie scenario nog meer te kompliseer moet die rol van China oor hierin oorweeg word. Tans staan China eenkant, maar is ’n betekenisvolle handelsvennoot van Rusland. Met omvangryke sanksies teen Rusland sal China beslis die vakuum in wêreldhandel en in handel met Rusland vul. In die Koue Oorlog-era het ons in ’n bipolêre wêreld geleef en na die val van die Berlynse Muur was ons basies in ’n unipolêre wêreld met die VSA as die enigste wêreldmoondheid. China het egter oor die laaste 25 jaar ’n betekenisvolle rol in die wêreldekonomie en -politiek begin speel en ’n multipolêre orde is aan die ontwikkel. In ’n gepolariseerde konteks tussen Navo-lande aan die een kant en Rusland met sy ondergeskikte en goedgesinde bure aan die ander kant het dit skrikwekkende moontlike gevolge vir die huidige stand van internasionale politiek. Dit sal onder andere die wêreld “veiliger” maak vir kleiner konflikte. Die Midde-Ooste en dele van Afrika kom dadelik hier ter sprake.
Ten slotte: Die Russiese inval in Oekraïne, “Poetin se oorlog”, het ’n dramatiese effek op wêreldgebeure gehad so vroeg in 2022. Dit het die wêreld se beheptheid met die koronapandemie heeltemal op die agtergrond geskuif en ’n besinning gebring ten opsigte van politieke, ekonomiese en strategiese risiko’s. Selfs die gesaghebbende Wêreld- Ekonomiese Forum het in hulle globale-risiko-assessering vir 2022 die grensgeskil tussen Rusland en die Oekraïne aangedui, maar tiende geplaas na ’n reeks klimaatsverwante en maatskaplike globale risiko’s. Op kort termyn wil dit voorkom asof Poetin sy strategiese anneksering van die Krim-skiereiland in 2014 nou opgevolg het met ’n oostelike toegang tot die hawestad Sebastopol, tuiste van die Russiese Swartseevloot. In die proses het hy Oekraïne ingeval met ’n soort blitzkrieg en ’n ongelooflike menslike drama van sterftes, vlugtelinge en dakloosheid tot gevolg gehad. ’n Golf van onsekerheid spoel tans oor Europa en politieke polarisering wat herinner aan die Koue Oorlog, het posgevat. Die verwagting is dat die oorlog van korte duur gaan wees, maar langtermyngevolge vir Oekraïne en vir Rusland gaan meebring. Dit was waarskynlik een van Wladimir Poetin se berekende strategiese optredes wat hom in die wêreld buite Rusland gaan vervreem en uiteindelik in Rusland ook, as ingrypende finansiële sanksies die Russe gaan begin knyp. Suid-Afrika kon in die apartheidsjare sanksies op baie vernuwende maniere omseil, maar toe ons bankrekenings in 1985–86 in New York en Londen gesluit is na die Rubicon-toespraak, was die skrif aan die muur. Dit sou my kort en bondige boodskap aan president Wladimir Poetin gewees het.
Luister ook:
Lees ook:
Die Rusland-Oekraïne-konflik: die geskiedenis en Poetin se wêreldbeskouing
Kommentaar
Dankie vir hierdie uitstekende en insiggewende artikel. n Historiese agtergrond van die Krim-skiereiland sou in orde gewees het aangesien die huidige konflik sy oorsprong daar vind. Voor 1783 het hierdie skiereiland in die Swart See deel gevorm van die Ottomaanse Ryk wat dan aan Rusland oorgedra is in n vredesverdrag, en in 1954 het Nikita Khruschev, leier van die Sovjet-Unie, the Krim oorgedra aan die Oekraïne. Dit is by Sevastopol waar die Russe hulle enigste warmwaterhawe het en waar ook die vloot geleë is.
Na die val van die Sovjet-Unie moes die Russe een na die ander voormalige kommunistiese Oos-Europese land en bondgenoot aanskou om lid te word van die Europese Unie, en dan ook lid van NAVO. Met die onlangse toenadering van die Oekraïne met die Weste en NAVO het dit begin voel of die strop stywer om die nek van die Russe trek met die gevolg wat mens nou sien vandag. Mens hoef geen apologis vir Putin te wees om te verstaan dat die Weste eenvoudig Russiese vrese vir hulle sekuriteit totaal geïgnoreer het nie.
Theo, weermal dankie vir jou uitstekende artikel. Graag sou ek wou noem dat jou gelykstelling tussen die huidige situasie in Rusland en die destydse apartheid-era in Suid Afrika betreffende ekonomiese sanksies en die sluit van bankrekeninge in London en New York in 1985-86, heelwat simplisties blyk. In die huidige situasie het Rusland 'n magtige bondgenoot in China, en Putin het waarskynlik vroeg gesorg vir die verspreiding van Russiese bankrekeninge wyd en syd in Switzerland, Singapore, Hong Kong en diesmeer, dus buite die bereik van die VSA en Brittanje.
Net een vraag, waarom Russiese name verbuig na wat regklink in Afrikaans? Bv Vladimir bly tog Vladimir. Volodymr Zelensky kan nie sommer Vladimir Zelenski word nie.
Regtig, dis vertraag verby.
As mens die Russiese taal effens verstaan, asook uitsprake van hul alfabet, sal mens ook verstaan dat die manier hoe 'n naam gesê word nie SO eenvoudig is nie. As mens sou kyk na die naam Volodymr, moet mens besef dat die “o” waarop die klem val, uitgespreek sal word as 'n “a”. Hulle gaan mens lank kan besig hou met die verduideliking van hul taal. Vladimir is dus heel aanvaarbaar en korrek.
Geensins vertraag verby nie. Russiese name, sowel as Ukraïniese name, is 'n heel interessante studie. Die fonetiese uitspraak van hul alfabet kan jou jare besig hou. Daar is bv. glad nie 'n “i” in Russies nie, maar wel in Ukraïnies.