Die Rusland-Oekraïne-konflik: die geskiedenis en Poetin se wêreldbeskouing

  • 1

Lenin se standbeeld op die hoofplein in Dnipro is tydens die 2014 rewolusie omgegooi.

...
Dat Rusland en Oekraïne ’n geskiedenis deel, is waar, maar dis ’n vertroebelde geskiedenis wat meer verdeeldheid toon as die gewaande, mitiese eenheid wat Poetin probeer verkondig.
...

Poetin se nostalgie na die USSR as militêre teenpool van die VSA tydens die Koue Oorlog het op ’n manier gestalte gekry in ’n soort selfaangewese sosiokulturele/morele teenvoeter vir alles wat by sommige in die Weste1 teleurstelling wek – Amerikaanse buitelandse beleid, die wispelturigheid van onbeheerste kapitalisme, “cancel culture”, “woke culture”, die aggressiewe bevordering van genderkwessies, die sogenaamde ontmanliking van die man, massamigrasie, die vermeende ondergang van die Westerse beskawing en kultuur, ens. Dis asof daar vir elke ongelukkigheid met een of meer aspekte van die teenswoordige Westerse wêreld ’n veilige kamer in die groot hart van Poetin se “nuwe” Slawiese utopie is.

Monument vir Sowjet-soldate wat gesneuwel het in Afghanistan

Vergelyk byvoorbeeld wat Amerikaanse buitelandse beleid betref die ordelikheid waarmee die Russiese magte destyds uit Afganistan onttrek het met die fiasko van die onlangse Amerikaanse onttrekking. Dit het wel nie tydens Poetin se leierskap gebeur nie, alhoewel dit voel of dit net sowel die geval sou kon gewees het. Die punt is juis dat dit daardie gevoel van kontinuïteit is wat Poetin by die Weste wil teweegbring; dat behalwe ’n kort periode van twee of drie dekades ná die “Westers-georkestreerde” val van die Sowjetunie,2 Rusland sy “regmatige plek” op die wêreldverhoog aan die herinneem is as ’n supermoondheid met geopolitiese, militêre en kultureel-morele invloed. In reële terme speel Poetin se sogenaamde behoud van ’n Russiese geopolitiese invloedsfeer dikwels uit as militêre hulpverlening om korrupte diktatorskappe teen openbare protes te beskerm, soos wat die onlangse ingryping in Kasakstan en die Russiese inmenging in Sirië toon. In hierdie verband is Oekraïne ’n stuk van Poetin se legkaart, die laaste een in die streek, wat weerbarstig weier om in te pas.

Dat Rusland en Oekraïne ’n geskiedenis deel, is waar, maar dis ’n vertroebelde geskiedenis wat meer verdeeldheid toon as die gewaande, mitiese eenheid wat Poetin probeer verkondig. In plaas daarvan om op sy geopolitiese aspirasies te fokus, wil hierdie artikel eerstens ’n blik gee op Poetin se beskouing van daardie geskiedenis en hoe dit die Kremlin se besluitneming beïnvloed, en, in deel twee, op sy filosofiese wêreldbeskouing en die rol wat dit speel om Rusland verder van die Weste te vervreem.

Geskiedenisles

Hierdie deel verwys na “On the historical unity of Russians and Ukrainians”, ’n artikel deur Poetin wat op 12 Julie 2021 op die Russiese president se webwerf verskyn het.

Filmteater Sputnik met Sowjet-mosaïek

Poetin se “beknopte geskiedenis van Rusland” moet gelees word in die lig van die oortuiging dat Russies-wees ’n antieke, ontologiese werklikheid is; ’n opvatting wat gedeel word deur miljoene Russe en waarvan Poetin slegs die moderne personifiëring en bevestiging is – ’n Godgegewe personifiëring nietemin, volgens die hoof van die Russies-Ortodokse Kerk, Patriarg Kirill van Moskou.

Gedenkteken vir die hongersnood 1932-33

Die opvatting van ’n geskiedkundig bepaalde, bonatuurlik ingegewe nasieskap is natuurlik nie eie aan die Russe nie. Daar is egter ’n verskil tussen die Russiese opvatting van nasionale identiteit en dié van Westerse en ander demokrasieë. Die verskil is nie geleë in die deursnee-aanvaarding van die werklikheid van so ’n verskynsel nie; dit lê eerder daarin dat in demokratiese lande geskiedenis, insluitend die geskiedenis van nasieskap, deur die beginsel van vryheid van spraak ook onderwerp word aan openbare en akademiese debat. Demografiese veranderinge in Westerse lande het in die laaste jare die werklikheid van demokratiese dialektiek pynlik duidelik gemaak, pynlik veral vir dié wat nie bewus was, of wou wees, van die immanente logika van daardie dialektiek nie. Die proteksionistiese teenreaksie wat hierdie verandering uitlok, word nie soseer doelbewus, soos die draers daarvan beweer, vanuit owerheidsweë onderdruk nie; dis eerder dat dit verdwyn deur die assimilerende aard van demokratiese dialektiek self – ’n verskynsel wat die Frankurtse Skool vir sosiale navorsing in die vorige eeu eindeloos gefassineer het en wat lywig neerslag gevind het in hulle Kritiese Teorie, en wat teenswoordig op ewe lywige wyse neerslag vind in ’n eksponensieel vermenigvuldigende aantal samesweringsteorieë.

Gedenkteken wat lees: "Hier, in 1941-42 het Duitse fasistiese besetters vreedsame Sowjetburgers doodgeskiet."

Hoe debatte oor nasieskap die inwoners van Westerse lande se selfbeeld beïnvloed, vereis eweneens goeie ondersoek. Maar tog is dit moeilik om te dink dat in die mediadeurweekte Westerse lande hierdie vraagstukke die grootste gros van burgers totaal kan verbygaan, om van beïnvloeding nie te praat nie. In teenstelling hiermee is die Russiese opvatting van nasieskap nie onderhandelbaar, of beskikbaar as die onderwerp van dialektiese debatvoering nie. Dit volg uit die feit dat die Russiese Federasie, ongeag wat sy grondwet weerspieël, op sosiokulturele gebied min raakpunte met Westerse demokrasieë vertoon; vryheid van spraak en uitdrukking bestaan daar alleen in soverre dit nie ’n kritiese toon aanneem nie. Indien wel, word dit dikwels, gerieflikheidshalwe, strafbaar verklaar as sou dit “ekstremistiese propaganda” wees. In die afwesigheid van demokratiese debat laat die omvattende spesifisering in die tweede punt van artikel 29 van die Russiese Federasie se grondwet die eerste punt in ’n wolk van impotensie verdwyn.3

Gedenkteken vir gesneuweldes in die Groot Patriotiese Oorlog, soos WW2 hier bekend staan

Dit hoef natuurlik nie so te wees nie. Grondwette is dikwels veralgemenend en onderworpe aan interpretasie – daarvan getuig die eindelose debatte (en hofsake!) in die Weste oor presies die soort sake wat slegs breedweg in ’n land se grondwet aangespreek word – wat is haatspraak byvoorbeeld, en is godsdienstige onverdraagsaamheid in hierdie of daardie geval aangeblaas, ens. Maar, soos dit blyk uit die tallose verslae van mense wat opgesluit word in Rusland vir oortreding van die tweede punt van die grondwet – sangers, komediante, joernaliste, politici – sonder of met ’n skyn van regsverteenwoordiging, en sonder nabetragtende mediadekking, bestaan daar in die Russiese Federasie geen twyfel oor die betekenis van hierdie begrippe nie. Die rol van ’n staatshoof in die afwesigheid van demokratiese debat is natuurlik deurslaggewend, en die effek wat Poetin se welluidende monologisering oor sosiokulturele sake het om enige onduidelikheid wat betref die interpretasie van artikel 29 punt 2 van die grondwet te swaai ten gunste van intensionele kwaadwilligheid teen die Russiese nasie, die Russies-Ortodokse geloof en teen alles wat Russies is, is onomwonde.

...
Geloof en taal is veranker in grondgebied – en die gevolgtrekking van hierdie elementêre redenasie is alte duidelik: Die behoud van taal, geloof en nasieskap is onlosmaaklik verbonde aan die behoud van grondgebied.
...

Maar terug na “On the historical unity of Russians and Ukrainians”. Drie hoofelemente, wat strook met statiese geskiedkundige opvattings rakende nasie en volksgebondenheid4 – taal, geloof en grondgebied – vorm deurlopende temas in Poetin se artikel. Sonder om die rol van hierdie elemente in volks- en nasionale identiteit te ontken, moet opgemerk word dat in Poetin se beknopte geskiedenis hierdie elemente geen histories gedrewe dinamiek vertoon nie; taalontwikkeling oor ’n periode van sowat 400 jaar word afgemaak as “onbeduidende verskille in dialek”. Die aanname dat die Oekraïniese taal uit Russies ontwikkel het en ’n dialek van Russies is, is hoogs betwisbaar, en in alle waarskynlikheid vals. Die Oekraïense taal se oorsprong strek terug tot die Middeleeuse staat van die Kiëfse Rus; die stad Kiëf is minstens 1 500 jaar ouer as Moskou, en was die setel van wat toe bekend was as die Russiese volke – nog ’n geskiedkundige feit waarmee veel moeite gedoen is om dit te verwring, vanaf die tyd van die Russiese Ryk tot teenswoordig.

Die gewaande verdraagsaamheid en broederlike insluiting van die Oekraïniese taal en kultuur is eweneens ’n skim in Poetin se weergawe van die geskiedenis. Vergelyk byvoorbeeld sy beskouing in sy artikel met wat daarna aangehaal word:

Many centuries of fragmentation and living within different states naturally brought about regional language peculiarities, resulting in the emergence of dialects. The vernacular enriched the literary language. Ivan Kotlyarevsky, Grigory Skovoroda, and Taras Shevchenko played a huge role here. Their works are our common literary and cultural heritage. Taras Shevchenko wrote poetry in the Ukrainian language, and prose mainly in Russian.

Die groot Oekraïniese nasionalistiese skrywer Taras Shewtsjenko het egter seker uit ondankbaarheid die uitgesteekte Russiese hand van broederskap weggeklap, en daarom het die volgende aaklighede hom oorgekom:

However, in the Russian Empire expressions of Ukrainian culture and especially language were repeatedly persecuted for fear that a self-aware Ukrainian nation would threaten the unity of the empire. In 1804 Ukrainian as a subject and language of instruction was banned from schools. In 1811 by the Order of the Russian government, the Kyiv-Mohyla Academy was closed. The Academy had been open since 1632 and was the first university in Eastern Europe. In 1847 the Brotherhood of Sts Cyril and Methodius was terminated. The same year Taras Shevchenko was arrested, exiled for ten years, and banned for political reasons from writing and painting. In 1862 Pavlo Chubynsky was exiled for seven years to Arkhangelsk. The Ukrainian magazine Osnova was discontinued. In 1863, the tsarist interior minister Pyotr Valuyev proclaimed in his decree that “there never has been, is not, and never can be a separate Little Russian language”. (Wikipedia, Ukrainian language)

Wat betref geïnstitusionaliseerde godsdiens is daar in Poetin se beknopte geskiedenis ook geen verskil van die tyd van die Russiese Ryk tot teenswoordig nie; vergeet die gewelddadige onderdrukking van godsdiens en vernietiging van kerke deur die Bolsjewiste in die vroeë jare en die volgehoue vervolging van godsdiens in die Sowjetunie (mens kry die indruk dat wanneer dit kom by ongemaklike aspekte van die Sowjetunie, Poetin geneig is om daardie periode as ’n oogknip te beskou, ’n bietjie ongemaklik dalk, maar definitief niks meer as ’n oogknip in sy lang en wye blik nie). Volgens die Russiese Federasie se grondwet is die federasie ’n sekulêre staat waar alle godsdienstige oortuigings gelykheid geniet voor die wet. Dit impliseer dat godsdiensvervolging, in die teorie, nie in die Russiese Federasie bestaan nie, maar in werklikheid affekteer die uitsluiting van vervolging slegs die Russies-Ortodokse godsdiens. Die Jehovasgetuies is byvoorbeeld ’n paar jaar gelede in Rusland verban, nadat die wet in 2007 verander is sodat ekstremistiese organisasies nie gewelddadig hoef te wees om vervolg te word nie. Die hoofaanklag teen dié organisasie is dat hulle godsdienstige haat en onverdraagsaamheid aanblaas deur eksklusiwiteit en godsdienstige oppergesag oor ander godsdienste te predik. Gereelde nuusberigte van oorblywende lede van hierdie organisasie wat gearresteer en lang gevangenisstraf opgelê word vir die bevordering van “ekstremistiese” doelwitte is algemeen bekend.

’n Kerkgebou

Inderwaarheid is die Russies-Ortodokse Kerk teenswoordig ’n belangrike handlanger van die regerende party in die voortsetting en uitdra van Poetin se opvatting van Russiese nasionalisme. Dit veroorsaak baie probleme in Oekraïne, aangesien ’n meerderheid kerke daar nog onder die Moskouse patriargaat staan. Hierdie kerke verkondig dikwels ’n Russies-verenigende beskouing, in teenstelling met post-2014 Oekraïnies-nasionalistiese aspirasies. Dit was die dryfveer agter die vorige president se poging om die Oekraïniese Ortodokse Kerk te ontkoppel van die Russiese patriargaat, waarvoor hy toestemming moes kry van die hoof van die Ortodokse Kerk in Turkye – gebeure wat natuurlik deur Poetin oor die boeg gegooi word van “magte wat verdeeldheid wil saai deur groepe wat tot dieselfde eenheid behoort teen mekaar op te steek”. Dis duidelik dat, tesame met sy beskouing van taal, sy beskouing van godsdiens vir Poetin as bewys dien dat enige aangewese dinamiek wat geskiedkundig tot streeks- en taalgebonde diversiteit sou lei, niks anders is as die resultaat van ’n verraderlike komplot, sonder twyfel met die hulp van die buitewêreld, om verdeeldheid teweeg te bring nie.

’n Oorlogsveteraan

Die derde element in Poetin se beskouing van nasieskap kry betekenis in die lig van die voorafgaande. Geloof en taal is veranker in grondgebied – en die gevolgtrekking van hierdie elementêre redenasie is alte duidelik: Die behoud van taal, geloof en nasieskap is onlosmaaklik verbonde aan die behoud van grondgebied. Die vraag is natuurlik waar grondgebied begin en waar dit eindig, na eeue van menslike verwildering en migrasie. In hierdie verband is die onderliggende beginsel van Poetin se wêreldbeskouing van belang. Dié beginsel se hoofelement is stasis – tot stilstand kom, stilstaan, vasstaan. In Wladimir se denkwêreld is dit asof hy die onkeerbare, onomkeerbare ont- en verwikkeling van tale, en die eweneens onomkeerbare verloop van Westerse geloofsekularisering deeglik aanvoel, en in ’n desperate poging tot behoud van nasieskap teruggryp na ’n geskiedkundige, grondgebiedgebaseerde verankering wat eweneens, gegewe die wisselvalligheid van grondbesit deur die loop van die geskiedenis, moeilik van dwaling te onderskei is.

...
Poetin wil ons laat verstaan hy is meer as vertroud met die geskiedenis, só vertroud daarmee, en só objektief, dat hy nie beskroomd is om die flaters en laagtepunte uit te wys en in die oë te staar nie. Maar watter hiervan word uitgewys?
...

Poetin wil ons laat verstaan hy is meer as vertroud met die geskiedenis, só vertroud daarmee, en só objektief, dat hy nie beskroomd is om die flaters en laagtepunte uit te wys en in die oë te staar nie. Maar watter hiervan word uitgewys? Stalinistiese repressie, die Stalin-georkestreerde hongerdood van sowat ses miljoen Oekraïners tydens 1932–33? Nee, in plaas daarvan kry ons die volgende in sy artikel:

When working on this article, I relied on open-source documents that contain well-known facts rather than on some secret records. The leaders of modern Ukraine and their external “patrons” prefer to overlook these facts. They do not miss a chance, however, both inside the country and abroad, to condemn “the crimes of the Soviet regime”, listing among them events with which neither the CPSU, nor the USSR, let alone modern Russia, have anything to do.

Maar wie wás dan verantwoordelik vir daardie misdade? Was Stalin nie hoofsekretaris van die Sowjetunie se Kommunistiese Party nie? Hoe dit ook al sy, die boodskap is duidelik: As iémand skuldig was, was dit nie “modern Russia” - die verlengstuk van die Russiese Ryk - nie. Dit moes gebeur het terwyl die Ewige Rus sy oog geknip het.

Vir ’n meer gebalanseerde blik op die Russies-Oekraïniese geskiedenis, lees gerus die volgende. Dit dui ook aan hoe die “een-nasie-geen-onafhanklike-Oekraïniese-staat”-narratief Russiese besluitneming op die hoogste vlak beïnvloed.

Die belangrikste gevolgtrekking van hierdie artikel is:

The frontlines of the frozen conflict between Ukrainian forces and Russian-backed separatists are criss-crossing the plains of the Donets Basin, but they are also running right through the region’s past. Russia’s incursions into Ukraine have enjoyed tremendous support at home and, in some quarters, abroad. Many have been slow to denounce them – or quick to embrace them – out of a conviction that the Kremlin has history on its side; that Ukraine has never been a ‘real’ country in its own right and that its south-eastern territories in particular are primordial Russian lands. Russia’s political top brass, including Vladimir Putin himself, appear to subscribe to this belief as well, and by all appearances it has directly informed their policy towards Ukraine. But as much as these assumptions may resonate with ordinary Russians, as well as some foreign leaders, a glance into Ukrainian history reveals that they are based on a dangerously distorted reading of the past. Ultimately, by redrawing borders and rewriting history the Kremlin is unlikely to have done itself a favour. Through its intervention in Ukraine it has galvanised most Ukrainians in their aversion to Russia and has thereby done a great deal to demarcate the perceived differences between Ukrainians and Russians more clearly than ever before.

Daar is nog veel meer om te ontgin in Poetin se wonderbaarlike “Beknopte geskiedenis van Russies-Oekraïniese broederskap en hoe ons as vredeliewende Russe deur vreemde agente in ’n onhoudbare situasie waarin ons geen ander keuse as militêre selfverdediging het nie, ingedwing is”. Maar gebrek aan ruimte laat my nie toe om verder te delf nie, alhoewel delf streng gesproke nie nodig is nie, aangesien uit bykans elke paragraaf ’n openbarende insig spring as voorbeeld van die unieke en legendariese Russiese omgang met feitelike werklikhede. Die volgende uittreksel uit sy artikel dien ten slotte as voorbeeld:

The anti-Russia project has been rejected by millions of Ukrainians. The people of Crimea and residents of Sevastopol made their historic choice. And people in the southeast peacefully tried to defend their stance …

Die mense van die Krim het beswaarlik ’n vrye keuse uitgeoefen in ’n “referendum” wat gekenmerk is deur intimidasie en dreigemente van deportasie en vervolging. En die mense in die suidooste ... “vreedsaam probeer”? ’n Persoon genaamd Strelkov het militante groepe5 daar georganiseer en met trots verklaar dat hy die eerste skoot in die “vryheidsoorlog” geskiet het – daar was geen vreedsame poging tot afstigting voor die tyd nie.

Met huiwering sluit ek die volgende skakel in vir meer oor dié man.

Straattoneel

Dis natuurlik tevergeefs om te dink Poetin sal kan toegee dat Rusland se militêre aggressie selfs maar gedeeltelik verantwoordelik is vir die huidige situasie – die militarisering van die Oekraïniese samelewing, die invloei van geldelike en militêre hulp uit die buiteland, die Oekraïniese sielkundige wegswaai van die Russiese invloedsfeer, ens. Daarvoor sou hy moes erken dat Oekraïne ’n soewereine staat is, ’n moontlikheid wat duidelik nie ter tafel gelê sal word nie. Daarom skryf hy in 2021 nog: “What Ukraine will be – it is up to its citizens to decide”, terwyl dieselfde “citizens” al in 1991 ’n besluit ten gunste van onafhanklikheid en soewereiniteit geneem het. Maar nou ja, so is die aard van stasis.

Die volgende dui egter op ’n groter moontlikheid dat die konflik, in welke vorm ook al, sal voortduur vir so lank as wat die “een-nasie-geen-onafhanklike-Oekraïniese-staat”-narratief die Kremlin se aanvaarde narratief bly, en vir so lank as wat die taal-geloof-grondgebied-triade dien as regverdiging vir flagrante militêre aggressie en anneksering van ’n soewereine staat se grondgebied:

We respect the Ukrainian language and traditions. We respect Ukrainians' desire to see their country free, safe and prosperous. I am confident that true sovereignty of Ukraine is possible only in partnership with Russia. (“On the historical unity of Russians and Ukrainians”)

Eindnotas

1 Ek gebruik die term “die Weste” vanuit die BRO- (Belarus, Rusland, Oekraïne-) wêreldperspektief – hierdie tradisionele, stereotipiese benaming (Západ in Russies vir “die Weste’) verwys na Amerika, Wes-Europa en die VK. Die steeds wydverspreide gebruik daarvan, met ’n gebruiklike negatiewe politieke konnotasie, is tekenend van die statiese wêreldbeeld wat grotendeels in Rusland en Belarus, en onder die ouer garde in Oekraïne, heers. Die feit dat debatte oor kwessies wat in hierdie skrywe genoem word, ook afspeel in ander wêrelddele waar demokrasieë bestaan, registreer nie in hierdie wêreldbeeld nie, anders sou verwag word dat ’n benaming sonder ’n geografiese verwysing daarin gebruiklik sou wees. Ander voorbeelde: “Negr” is in hierdie streke nog steeds die amptelike benaming vir swart mense, ook vir Afro-Amerikaners; die amptelike naam van Beijing is nog steeds Peking, ens.

2 Dit word hier sarkasties bedoel, maar dis nogtans onder die grootste gros van Russe, en onder die Oekraïniese ouer garde, die oorgelewerde waarheid.

3 Artikel 29 van die Russiese Federasie se grondwet:

  1. Everyone shall have the right to freedom of thought and speech.
  2. Propaganda or campaigning inciting social, racial, national or religious hatred and strife is impermissible. The propaganda of social, racial, national, religious or language superiority is forbidden.
  3. No one may be coerced into expressing one's views and convictions or into renouncing them.
  4. Everyone shall have the right to seek, get, transfer, produce and disseminate information by any lawful means. The list of information constituting the state secret shall be established by the federal law.
  5. The freedom of the mass media shall be guaranteed. Censorship shall be prohibited.

4 Belangrik om in ag te neem is die stand van geesteswetenskaplike navorsing en onderrig in Rusland, Oekraïne en Belarus. Twee faktore is hier bepalend van aard: politieke geskiedenis en taal. Terwyl die natuurwetenskappe min of meer kon voortgaan (met groot voorbehoud gesê – lees gerus Stalin and the scientists deur Simon Ings), het geesteswetenskappe grotendeels tot stilstand gekom met die 1917-revolusie. Dit beteken dat die Russe, of dan die Sowjetunie, vir ongeveer 100 jaar nie deel was van die sogenaamde discourse of humanity (soos Richard Rorty dit noem) nie. Neem in ag dat slegs ’n breukdeel van die hoofwerke uit die filosofiese en geesteswetenskaplike debatte wat in die Weste gewoed het die afgelope 100 jaar in Russies vertaal is, en dat slegs ’n klein persentasie van BRO-inwoners in elk geval genoegsaam Engels, Frans of Duits magtig is om hierdie debatte te volg. Postmodernisme en dekonstruksie word byvoorbeeld, sover ek weet, nie op universiteite gedoseer nie.

Ook belangrik om in aanmerking te neem: Poetin se wêreldbeskouing is nie a posteriori gekies of saamgeflans nie. Dit is nie gedistilleer uit gedebatteerde oorweging of die produk van slyping na inagneming van standpunte wat die denkwêreld van die kontemporêre wêreld weerspieël nie; dit is bloot ’n wêreldbeskouing, grootliks onaangeraak deur die denkwêreld van die Weste, waarmee miljoene Russe nog steeds grootword, en dis presies daardie vistenkgeslotenheid wat Poetin wil behou. Die oordadige en paranoïese militêre beskerming van sy grense kan in die lig hiervan gesien word as ’n Quichotterige fisiese reaksie teen ’n vermeende metafisiese bedreiging – die potensiële penetrering van die borrel deur volksvreemde denke vanuit die Weste.

5 Dis nie sonder betekenis dat die konflik op die oostelike grens van Oekraïne ’n potpourri van karakters aan beide kante gelok het nie – kriminele, werkloses, verregse ekstremiste en so meer. Aan Oekraïniese kant is daar moeite gedoen, ter wille van Westerse ondersteuning – moreel, finansieel, militêr – om diesulkes te rehabiliteer en in die formele weermag te inkorporeer. Aan die Russiese kant bestaan sulke motiveringsredes nie; gevolglik word die gemilitariseerde sones teenswoordig meestal bestuur, of wanbestuur, deur georganiseerde misdaadsindikate en krygshere. Van belang is die aantal Russiese karakters wat tot die geveg toegetree het ten einde ’n “heilige oorlog” te voer, ’n Ortodokse djihad, vir moedertjie Rusland, teen die verdorwe Weste.

  • 1

Kommentaar

  • In my artikel het ek verwys na die rol van taal, geloof en grondgebied in Poetin se wêreldbeeld, sonder om die grondgebied geografies te identifiseer. Die grondgebied wat Poetin glo histories aan Rusland behoort, is min of meer dié van die Russiese Ryk aan die einde van die 19de eeu. ’n Kaart sal wys dat dit ’n breë strook van bo na onder in die ooste van wat vandag Oekraïne is, insluit, en ook Oekraïne se hoofstad, Kiëf. Poetin is moontlik nie so vasberade om daardie hele gebied meteens te probeer terugkry nie. Wat wel vir hom strategies van belang is, is ’n landkorridor van die Donetsk-streek af deur Mariupol en Berdyansk, langs die Azov see af, tot in Krim. Teenswoordig is Rusland se enigste toegang tot Krim via die onlangs voltooide Kerch-brug. Die 18km-lange brug is nie stabiel nie, veral met die sterk winde daar. Boonop is ’n brug kwesbaar in tye van konflik.
    Die verwagting is dat dit daardie strook is, van Mariupol af ondertoe, wat geteiken gaan word, moontlik gekoppel met ’n geweer-teen-die-kop aksie vanuit Belarus op Kiëf. ’n Belangrike faktor is dat Krim arm is aan waterbronne. Sy watervoorsiening vir landbou is deur ’n pyplyn en kanaalstelsel, gebou tydens die bestaan die die Sowjetunie. Die stelsel loop deur die suidooste van Oekraïne, wat na 2014 die volume water begin afsny het, met ’n hewige negatiewe effek op landbou in Krim. In 2021 is die vloei afgeskaal na drie tot vyf ure per dag, wat sommige waarnemers laat opmerk het dat die Krim se watertoevoer ’n moontlike oogmerk kon wees vir ’n Russiese inval in Oekraïne.
    Laas week was daar ’n voortsetting van die ongeëwenaarde opbou van militêre magte – sowat 190 000 soldate tot dusver – plus militêre toerusting, ten spyte van die Kremlin se bewerings van onttrekking. Nuutgeboude basisse met barakke en veldhospitale het ook tydens die opbou langs die grens verskyn.
    Gepaardgaande hiermee was daar gesamentlike militêre oefeninge deur Rusland en Belarus, op ’n skaal wat alle voriges oortref en sou eindig op 20 Februarie, maar toe verleng is. Daar is sowat 30 000 Russiese soldate in Belarus. Die president van Belarus, Lukasjenko, wat beskryf word as Europa se ‘laaste diktator’, het Poetin vroeër in die week uitgenooi om Russiese kernwapens in Belarus te stasioneer.
    Die einde van verlede week het toe ook die hoogste aantal skietstilstand-verbrekings nog in 2022 gesien, in totaal sowat 1 500 op een dag, Saterdag; 591 in Donetsk en 975 in Lugansk, volgens berigte van die OSCE.
    Meer as tien mortiere het binne ’n paar honderd meter van die Oekraïniese minister van binnelandse sake geval, wat met joernaliste op ’n toer aan die front was.
    Die rebellefaksies in die sogenaamde onafhanlike streke word van wapens voorsien deur Rusland. Dié magte bestaan onder andere uit militia-groepe, huursoldate en ekstremistiese fanatici wat ’n ortodokse heilige ‘jihad’ teen die Weste voer. Dis hierdie magte wat in Julie 2014 ’n Maleisiese passasiersvliegtuig neergeskiet het met ’n gesofistikeerde BUK-missiellanseerder van die Russiese weermag.
    Die propaganda wat aan die Russiese publiek gevoer word, is dat Rusland deur ’n aanval uit Oekraïne bedreig word. Dit is nodig om die Russiese publiek, wat min sin het in ’n oorlog teen Oekraïne, en oor die algemeen min begrip het vir die redes daarvoor, te oortuig van die noodsaak daarvan. Verlede week is in die Russiese media berig dat Oekraïne chemiese en biologiese wapens van die Weste ontvang. In die Lugansk- en Donetsk-streke is afgekondig dat vrouens en kinders na Rusland geëvakueer gaan word. Sirenes en skuilprosedures word geoefen en dit word dan op Russiese TV vertoon om die illusie van ’n komende aanval te skep.
    Die intensifering van skietstilstandverbrekings dui daarop dat, volgens verwagting en soos in 2014 die geval was, die militia’s in die sogenaamde onafhanklike Donetsk- en Lugansk-republieke gebruik word om die Oekraïniese weermag te provokeer en ’n sogenaamde ‘false flag’ insident (soos die aanval op ’n kleuterskool laas week) te skep, wat tot volskaalse gevegte kan lei. Die Oekraïniese president, Zelenskyy, het daarom moeite gedoen om aan te kondig dat Oekraïne nie sal reageer op provokasie nie.
    Oekraïne geniet wêreldwye morele steun teen hierdie aggressie. President Zelenskyy se toespraak by die München-sekuriteitsberaad Saterdag het ’n staande ovasie ontvang. Die toespraak kan op YouTube gesien word.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top