Van Rusland, met liefde?

  • 2

Bettina Wyngaard (foto: Izak de Vries)

........
Nee, ek praat nie van Ram vir ’n Rus nie. As dit maar die grootste Russiese probleem was waarmee ons gesit het.
.........

Nee, ek praat nie van Ram vir ’n Rus nie. As dit maar die grootste Russiese probleem was waarmee ons gesit het.

Die verhouding tussen Rusland en Oekraïne is ten beste maar gespanne. Poetin se kragtoere die afgelope paar weke het die spanning net vererger. Tussen die politici. Die meeste gewone mense gaan aan met hul lewens. Die meeste wil nie weer Russiese onderdrukking beleef nie, maar natuurlik is daar sommiges wat vuriglik hoop dat die goeie ou dae onder die Kremlin se beheer sal terugkom.

’n Vriendin van my sou in Desember by vriende van haar in Kiëf gaan kuier. Poetin het toe alreeds vuiste gebal. Haar vriende – kom ons noem hulle Olaf en Olga – was nie juis bekommerd nie. As daar skermutselinge uitbreek, sal dit net by die grens wees. Dit kom nooit tot by die hoofstad nie, was hulle mening. Ek was minder optimisties, want diktators is en bly nou maar eenmaal diktators. En Poetin is ’n diktator.

My grootste kommer was oor wat gaan gebeur as ander lande betrokke raak. China het vroeg reeds aangedui dat hulle bankvas agter Rusland staan. Die VSA is uiteraard gekant teen enigiets wat Russies is. Hulle hou menseregtevergrype voor as die rede vir hul teenstand, maar deesdae word dit ook maar met ’n goeie skoot sout geneem.

.........
Maar waar staan ons in Suid-Afrika? Ons ontvang hulp van die VSA, en ons het stewige ekonomiese verhoudinge met Rusland en China. Dit voel inderdaad soms asof ons in die proses is om deur China gekoloniseer te word, stilweg en sonder dat daar veel teenstand is.
..........

Maar waar staan ons in Suid-Afrika? Ons ontvang hulp van die VSA, en ons het stewige ekonomiese verhoudinge met Rusland en China. Dit voel inderdaad soms asof ons in die proses is om deur China gekoloniseer te word, stilweg en sonder dat daar veel teenstand is.

Maar my kommer is dat as volskaalse oorlog tussen Rusland en Oekraïne uitbreek, dit nie ekonomiese oorwegings sal wees wat ons buitelandse beleid sal bestuur nie.

Gedurende apartheid was Rusland die ANC se vriend. Rusland het militêre opleiding aan vryheidsvegters verskaf. Russiese AK-47’s het verskrikking in die harte van apartheidsondersteuners gesaai. Hoef ons te praat oor die gewildheid van Molotov cocktails in Suid-Afrika? Molotov is die Russiese woord vir ’n hamer.

En dan is daar Naledi Pandor se nuuskonferensie verlede week. Suid-Afrika vra vir kalmte, want oorlog gaan niemand help nie. Oekraïne gaan die ergste daaronder ly as oorlog uitbreek. Heeltemal waar, en presies wat enigeen sou verwag dat die minister van buitelandse sake sal sê. Maar enige skyn van neutraliteit is laat vaar, vir my in elk geval, toe sy die volgende kwytraak: “We are calling for the same approach in the Ukraine-Russia tension that is clearly being exploited by those hostile to Russia for purposes of once again unjustifiably extending spheres of influence ...” Ons gooi dus ons lot aan Poetin se kant as oorlog uitbreek?

.........
Die kanse dat daar nie oorlog gaan wees nie, raak by die dag skraler. Poetin droom van ’n herenigde Sowjetunie, of die voormalige lidlande dit wil hê of nie. En Oekraïne is die toetsgrond wat gaan wys of die VN-lede die aptyt het om die Derde Wêreldoorlog te veg of nie.
...........

Die kanse dat daar nie oorlog gaan wees nie, raak by die dag skraler. Poetin droom van ’n herenigde Sowjetunie, of die voormalige lidlande dit wil hê of nie. En Oekraïne is die toetsgrond wat gaan wys of die VN-lede die aptyt het om die Derde Wêreldoorlog te veg of nie.

Poetin het hom die afgelope klompie jare deur ja-broers omring. Daar is dus niemand in sy binnekring wat die moed of die invloed het om hom te stuit in sy planne nie. Die diplomatieke gesprekke met die VSA en Frankryk, die dreigemente van sanksies indien hy voortgaan met sy planne om Oekraïne binne te val, het tot dusver niks gehelp nie. Elke keer gaan Poetin net ’n entjie verder: Hy vermeerder troepe op die grens, hy stuur troepe in Donetsk en Luhansk, twee gebiede in Oekraïne wat Rusland goedgesind is, hy ontken Oekraïense soewereiniteit. En elke keer word dit net begroet deur histeriese nuusverklarings in die Weste, en niks meer nie.

Niemand het die aptyt vir oorlog nie, en Poetin weet dit.

Maar iewers sal hy te ver gaan, en ’n gevegsrespons forseer.

Crocodile Harris het gesing: “You can’t use guns to build a nation, a bullet never was creation. Give, give me the good news; war’s the one game where we all lose ...”

Behalwe dat oorlog nie ’n speletjie is nie, en Poetin vere voel vir die bou van ’n nasie. Hy wil net homself oor die grootste moontlike grondgebied as diktator vestig, en as dit beteken hy dompel die wêreld in oorlog, is dit ’n aanvaarbare uitkoms.

 

  • 2

Kommentaar

  • Nou maar dis mos wat ons al van die 70's en 80's al weet. Ma en pa en ouma-hulle het gepraat oor sekere lande wat die ANC destyds so gehelp het om die plaaslike regering uit te druk. Hulle het altyd gesê 'n kommunistiese land doen nooit iets verniet vir jou nie, hulle het altyd 'n plan daar agter en payback time sal kom, al vat dit jare.
    Verwoerd is vermoor. Party mense glo die tas wat by hom was, wat hulle glo verdwyn het kort na sy moord, was glo vol planne wat hy gemaak het om die Westerse vingers uit SA te haal en uit te hou. O nee, hulle het nie daarvan gehou nie.
    Nou moet die dinge maar hulle loop neem dat ons kan sien waar eindig. Alles, want die ANC skuld die kommuniste nogals baie, soos dit wil voorkom.

  • Hans Richardt

    Lizma. Dis juis die "weste" wat die ANC grootskaals geakommodeer het, in Londen, Parys, Den Haag en New York.
    Dit was ook die westerse boikotte en sanksies wat die SA ekonomie gesink het, na grootskaalse disinvestering deur westerse lande.
    Die ANC se hoofkantoor was geteiken met 'n bom in London...
    Jy verdraai die feitlike geskiedenis so dat jyself dit glo? Stop jou voorstedelike legendes en samesweringsteorieë. Ons het proksie-oorlog in Angola vir die Reagan-regime, oa, gedryf namens die CIA.
    So, die Sowjet-unie het wapens verkoop aan die ANC, met geskenkte geld vanuit die westerse lande. Die Sowjet-unie was meer as die hedendaagse Russiese Federasie. Meeste voormalige Sowjet-unie lande is nou deel van die weste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top