Ons sit by ’n vuurherd. Ek en drie H’mong-vroue. Voor ons prut ’n groot pot sous met verskillende groente vir later se hotpot-ete. Agter, in die kombuis, staan twee mans met groot messe. Hope varkvleis lê in blokkies opgekap. Buite is dit onmenslik koud, maar die perskebome bot.
“Can you come help me?” vra my gasheer en lei my na ’n vertrek langsaan.
Ons pak verskillende vleise, tofu, groente, sampioene en blikkies Tropicana Twister op elke tafel. Vanaand word daar groot feesgevier. Elke jaar – net voor die nuwe jaar aanbreek – word die hele gemeenskap genooi om saam te kom eet en drink.
Neffens my, by ’n buitekraan, is vroue besig om nog groente te was. Twee hoenders word skoongemaak. Kinders steel halfgekookte vleis in die kombuis en verorber dit by die vuur.
Hier praat niemand Engels nie. Nie eers die kinders nie. Die ouer mense het nooit skoolopvoeding gekry nie. So Viëtnamees is ook van die tafel af. Hulle praat Mong, ’n taal wat in suidelike China ontstaan het.
Mense stroom die vertrek – ons noem dit maar die eetplek – binne. Vroue en mans in kleurvolle rompe en broeke. Kinders hardloop tussen hulle deur met krale wat aan hulle klere klingel.
Ek gaan sit by die vuur op ’n riempiestoel om my voete warm te maak. ’n Kort vrou kom sit langs my met ’n baba op haar skoot.
“Where are you from?” vra sy.
“South Africa.”
“Oh, that's nice. Are you travelling?”
Sy praat suiwer Engels.
“I live in Hanoi. This is my third year.”
Sy glimlag.
“Amazing. I'm studying in Hanoi, but came back to my village for the holidays. I’m from the next village.”
Ek vra haar uit oor die mense wat in Sin Suoi Ho woon. Oor hoekom hulle nie drink nie en oor hul kleredrag.
“The people who stay here are the H’mong. Mostly the flower H’mong; that’s why their clothes are so colourful. You get many different types of H’mong.
Many years ago, Sin Suoi Ho was a very poor village. People depended on rice farming. Poverty led them to plant opium. Do you know opium?”
Ek knik.
“Some kind of drug, right?”
“Yes, correct.” Sy trek die baba se sokkies uit en hou sy voete voor die vuur.
“They used the opium so much, and they also drank local brewed wine made from fruits, rice or corn. This was about 20 years ago. But now it’s different. No one drinks or smokes.”
Sy vertel my van die Chinese mans wat na bewering opium as ’n lokmiddel gebruik het om wit vroue vir prostitusie en slawerny te gebruik.
“Chinese men used this drug to misuse white women. China is not far from here. The opium trade was big. Everywhere, outside here,” wys sy met ’n hand na buite, “were opium fields. Purple flowers everywhere. It was so beautiful, but so dangerous.”
My gasheer kom roep my. Ons moet almal na die eetplek toe.
Om nege tafels sit die plaaslike inwoners. Meer as 50. Ses by ’n tafel. ’n Man – ek skat hom in sy vyftigs – sê iets in Mong.
Ek gaan sit by ’n tafel langs ’n jong man. Hy is van hier. Tuan, sê hy, is sy naam.
Met gebare wys hy dat ons gaan bid. Teen die einde van die gebed sê almal saam “Amen”.
Hier is Christene in die berge. Iets wat skaars is. Boeddhisme is die grootste geloof – of is dit leefwyse? – in Viëtnam.
........
Ná ete vaar ek die donkerte in. Bergaf terug na my slaapplek, A Hoa, toe. Uit nuuskierigheid gaan ek op Google om meer uit te vind oor die Chinese en die wit vroue.
........
Ná ete vaar ek die donkerte in. Bergaf terug na my slaapplek, A Hoa, toe. Uit nuuskierigheid gaan ek op Google om meer uit te vind oor die Chinese en die wit vroue.
Die storie dat Chinese mans opium gebruik het om wit vroue tot prostitusie en slawerny te verlei, was glo ’n stereotipe in rassistiese propaganda in die laat 19de en vroeë 20ste eeu. Dit was deel van die sogenaamde “Yellow Peril”-vertelling.
My foon lui. Dis my gasheer.
“Where are you?” vra hy.
Ek sê vir hom ek lê al in die bed. Dis koud.
Minute later klop hy aan die deur. In sy hand is ’n pakkie koekies.
“My friend wanted to give you.”
Hy stop ’n wit boksie in my hand met “Marie” in blou skrif.
“Ah, Marie biscuits,” sê ek. “At home, we have these biscuits.”
Hy glimlag.
“Yes, yes.”
Môre val ek weer in die pad. Deur die kronkelpaaie van die berge.
“Tomorrow, you go right?”
Ek knik.
My gasheer – wie se naam ek om die lewe nie kan onthou nie – haal sy selfoon uit. Hy sê iets vir Google-vertaal.
’n Blikstem praat.
“I just want to say thank you for visiting my home. You are more than welcome. Day and night. Have a safe journey in the morning. May God bless you, and have a wonderful new year. Hope to see you soon.”
Ek skud die man se hand.
“Chuc mung nam moi,” wens ek hom geluk vir die nuwe jaar.
Die jaar van die slang is op ons.


