Lost in translation

  • 0

’n Aandtoneel in ’n Vietnamese stad (foto: Hiep Duong on Unsplash)

Khaosan Road wemel. Straatverkopers wat spesiale aanbiedings op T-hemde aanbied. Gebraaide insekte word buite makeshift stalletjies verkoop. Toeriste neem selfies onder neonligte. ’n Groep Duitsers probeer om saam met ’n kitaarspeler te sing. Sy gesig ’n prent van misnoeë. By ’n straatrestauranttafeltjie sit ’n middeljarige man met ’n klein Thaise vroutjie, oënskynlik op ’n date.

Die man, met ’n kaalkop soos ’n biljartbal, maak ’n groot fout: Hy dink Google Translate kan romanse red. Sy selfoon lê op die tafel. Die skerm vol vetvlekke van sy vingers. Met die konsentrasie van iemand wat ’n bom probeer ontlont, begin hy tik. Hy weet hierdie oomblik is belangrik. Ná ’n paar sekondes is die volmaakte frase ingesleutel: “You look beautiful tonight.”

Hy druk die vertaalknoppie. En uit die selfoon kom ’n blikstem wat iets in Thai aframmel.

Die vrou kyk op. Haar eetstokkies in die lug vasgeklem soos in ’n sitkom wat op pause gesit is. Sy knik, amper asof sy oor iets belangriks dink, en maak dan haar mond oop. Wat volg, is diep. Aardskuddend.

“Uh,” sê sy.

........
Met presiesheid breek sy ’n krapklou oop. Die man kyk na sy bier. Groot. Koud. Die enigste ding aan tafel wat hom nie ignoreer nie.
........

Onmiddellik is haar aandag weer terug op haar bord gefokus. Met presiesheid breek sy ’n krapklou oop. Die man kyk na sy bier. Groot. Koud. Die enigste ding aan tafel wat hom nie ignoreer nie.

Hy neem nog ’n teug van sy Chang. Tik dan met sy dik wysvinger op die selfoon se skerm. Hierdie keer probeer hy ’n vraag. 

“Do you come here often?” Daarna praat die robotstem weer.

Die vrou vestig haar oë op hom. Net lank genoeg om te wys sy het iets gehoor. En toe weer: “Uh.” Dieselfde toon, dieselfde energie as voorheen.

Sy is dalk meer entoesiasties oor die krap.

Die stilte tussen hulle is nie ongemaklik nie. Eerder komies. Die man probeer om sy Thai-noedels te eet. Maar dit is meer soos ’n geveg. Met elke hap drup daar ’n string sous onder sy ken af. Hy kyk na sy date. Na haar mond. En sit sy arm om haar skouer. Sy reageer nie. Dit is – op daardie oomblik – net sy en die krap.

Die man vat weer ’n sluk van sy bier. Draai die bottel in die rondte asof hy die etiket lees. Bier verstaan mos alles.

Toe die vrou klaar geëet het, vee sy haar hande aan ’n servet af. Droog saggies haar lippe af. Versigtig om nie die lipstiffie te smudge nie. Dan skuif sy haar stoeltjie stadig agteruit.

Die man sit regop. Gereed, asof iets nou gaan gebeur. Maar toe staan sy date net op, slinger haar rooi handsak oor haar skouer en glimlag. Nie groot nie, net genoeg om vriendelik te wees.

“Number, no?” vra hy, sy hand gebak in die lug.

Sy skud haar kop. Nee. Gee ’n vinnige wuif en verdwyn stadig die chaos van Khaosan Road in.

Die man staar vir ’n paar sekondes na haar rug. En sink toe terug in sy stoel.

Met die wysheid van ’n man wat weet wanneer hy verloor het, steek hy sy hand in die lug om nog ’n Chang te bestel.

Rondom hom behou die straat sy lewe: toeriste wat lag, verkopers wat roep. En hy? Hy sit en staar na sy bier, asof hy wag dat dít hom moet troos.

Lees ook:

Solomon gaan Parys toe

Op helium

Die dag toe ek die Here en ’n hond ontmoet het

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top