“Solomon gaan Parys toe” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Solomon gaan Parys toe
Dit was ’n laatmiddag toe ek besluit om Potchefstroom toe te gaan. Nogal om iemand te ontmoet met wie ek op Tinder gevibe het.
Net ná 17:00 bevind ek my op die N12. Drinkend, reeds met twee Black Labels agter die blad. My vriendin bestuur haar klein Picanto. Iewers tussen Carletonville en Randfontein staan die verkeer buffer teen buffer.
“Stop net vir my by die bottelstoor,” sê ek ná my laaste slukkie Zamalek. Die maan verlig die mooi Noordwes-vlaktes soos ons op die ritme van Elandré se “Meer” aanstoot. Ietwat op my senuwees, laat weet ek die Potch-klong dat ek vyftig kilometer buite die dorp is. Dit het vreemd begin voel om in dié omgewing te wees. Ek was laas in ’n gekompliseerde verhouding hier.
Ons ry die dorp binne. Binne enkele minute swenk my vriendin haar tjor na links. ’n Rooi bord skyn neonhelder hier neffens my. Tops!
Ek en my vriendin, wat ek sommer die geelkopkanarie noem, stap binne. Ek mik onmiddellik vir die instapyskas, gryp twee sixpacks Zamalek. Sy vat ’n groen ambulans vir die volgende dag se potensiële pyne. Die crème soda is al ’n gegewe as ons saamkuier. By die betaalpunt knoop ek ’n gesprek aan met die vriendelike kassier.
“My sister, eish, what are these things?” vra ek en beduie na ’n klein, geel bottel.
“Jy vat hom vir die babelas. Hy fix jou sommer gou-gou.” Dit val my op dat die swart mense op dié dorp nog gemaklik Afrikaans praat.
Dis mos befok, dink ek, en koop een. “Babelas Rescue” staan in vetdruk al om die geel ronding van die klein 250 mℓ-bottel.
“Ek moet dit drink, want môre gaan ek Parys toe. Ek kan nie met ’n kopseer rondloop nie.”
Teen die gesonde, ronde vrou se bors is ’n name tag wat Happiness heet. Sy glimlag breed.
“Meneer,” sê sy, “Solomon gaan ook Parys toe. Sy vrou sit daar. Hy wag hom.”
Solomon, ’n sekuriteitswag, staan by die deur. Sy hardwerkende vingers rus op die toonbank.
“Vir wat wil jy soontoe, Solomon?” vra ek.
Hy lag.
“Ai, meneer, hoe moet ek maak? Die vrouens hier is moeilik. Jôh, eish. Hulle wil nie die baby gee nie.”
Ek gryp my twee sixpacks – een in elke hand. “Jirre, Solomon,” sê ek, “jy kan saamry, maar ek gaan eers drink. Ek wag vir jou buite.”
Ek en Kanarie stap na buite en wag in die kar. Dis nie lank nie of ou Solomon is met ons. Waar hy vanaand gaan slaap, weet ek nie. Dié plan is nie mooi deurdink of deurdrínk nie. Hy lyk na ’n goedige siel. Ons vertrou hom om so plotseling saam op reis te gaan.
“My klong sê ek moet hom by River Café kry,” sê ek vir my vriendin.
Die GPS se vrouestem verduidelik hoe om te ry. Hier ’n regs, daar ’n links en ’n wyle reguit aan.
“Jy en Solomon moet iewers gaan wegkruip terwyl ek en die klong praat. Bestel iets om te drink en verduidelik aan die waiter ons deel ’n rekening – myne.”
By die restaurant gekom, wat aan die Potchefstroomse dam grens, gaan sit ek buite. Kanarie en Solomon maak hulle tuis in ’n donker hoekie op die stoep. Terwyl ek vir die klong wag, wat ek vir eers net C noem, bestel ek ’n Belgiese De Poes-bier vir R63.
Op my polshorlosie flikker die digitale nommers 20:49. C gaan enige oomblik sy opwagting maak. My hart wil nie bedaar nie. Dis seker normaal as jy vir twee jaar enkellopend was. ’n Mens weet mos dan nie meer hoe smaak die liefde nie – dis net ’n gelusblussery.
’n Aantreklike jong man kom sit by my tafel, blou jeans styf om die kuite. Maar fok, hy is kort. Hy pas onder my ken wat amper 170 cm hoog sit. Nietemin, hy is cute. Hy is draagbaar, wat perfek sal werk in ander situasies.
Ons praat oor dit en dat, wat ons in die ideale man soek. Tussen ons bestel ons vier lang De Poese om die senuwees te tem. Ek hou van hom. Hy is ’n mannetjie wat weet wat hy wil hê. Daarvoor het ek moerse waardering.
“Ek hou van seks,” verklaar hy prontuit, “ek hou baie daarvan, maar ek gaan nie ’n one night stand doen nie.” Net daar en dan is ek sold. Bingo-bingo! Ek het die jackpot geslaan.
Teen 22:00 moet ons mekaar groet. Die plek maak toe en hy moet gaan slaap. Blykbaar dop hoërskoolonderwysers vroeg om.
“Ons gaan nou kar toe. Gaan kruip in die badkamer weg!” whatsapp ek vinnig en benoud aan Kanarie, terwyl ek vir die rekening wag.
“’Skuus, ek moes net my vriendin laat weet dat ek amper op pad is,” sê ek aan C. ’n Mens wil tog ordentlik wees, veral op die eerste date.
Ek betaal. Ons stap uit en gaan staan teen die Picanto se kattebak. Ek gee hom ’n drukkie. Styf. Lank. Dan kyk ons mekaar in die oë. Fuck this, dink ek, en begin hom vry. Teen my been voel ek ’n opwindende opwelling.
Ons groet. Hy ry waaiend weg. Sekondes later kom my twee badkamerbekruipers uit en stap laggend kar toe.
“Jirre, ons het dit afgepull, man,” bulder my vriendin se stem oor die parkeerterrein.
Ná die tyd is ons drie musketiers na een of ander kroeg in die middedorp. Met die intrapslag het ek sommer geweet dis ’n kak kommin plek. Maar ek en my vriendin hou nogal van kak en kommin. Twee ou mans sit by die kroeg en gesels oor wie weet wat, ’n draft in elk se hand.
“Solly, jy kan maar sit, jong,” sê ek aan ’n bedeesde Solomon.
“Broers en suster, wat wil julle drink?” vra ’n deftige, middeljarige swart man.
“Bring vir ons sommer drie Zamaleks. Ons is dors,” sê Kanarie. Sy steek ’n Camel aan. Die dampe dwarrel om ons koppe.
Die kelner kom terug met drie biere op ’n skinkbord. “Gaan julle sommer nou betaal?” vra hy.
Ek krap in my beursie, gee vir hom veertig Egiptiese Pond – sowat ses note. As jy vinnig kyk, kan dit vir ’n paar Suid-Afrikaanse bokke deurgaan.
Hy vat die geld. Toe, skielik: “Nee, poes, o jirre, watter kak is hierdie?” Hy lag en smyt die geld op die tafel.
“Hoe nou?” vra ek. Ons al drie is dik van die lag oor dié meneer se ryk Afrikaanse taalgebruik.
“Nee, jirre, dis Suid-Afrika, waar kry meneer dié kak?”
Solomon se ge-eish is duidelik hoorbaar in my regteroor.
“Ek was Egypt toe. Ek het dit daar gekry,” vertel ek.
“Hierdie is net ’n souvenir,” sê die kelner.
Ek betaal met my Sống khỏe-kaart van Viëtnam.
“Solly, jy moet vanaand op die bank slaap. Ons ry môreoggend vroeg Parys toe. Jou vrou gaan jou mos vasvat wanneer jy daar kom,” sê ek.
Solomon lag uit sy maag. Kanarie suig nog aan haar sigaret wat styf tussen haar vingers vasgeknyp is.
“Sy soek pa se kos en ek soek ma se kos. Ek gaan eet,” sê Solomon.
Seks kan ook maar bar wees. But admit dit, hoe wilder, hoe lekkerder.
By ’n gastehuis in Bailliepark maak ek vir Solomon ’n bed op die swart faux leerbank.
“Ek maak vir jou ’n bed, nè, maar ons gaan nog drink,” kondig ek aan.
Solomon knik, maar Kanarie is moeg. Sy gaan lê in die enigste bed in ons kamer. Vanaand sal ek ’n kooi met ’n lesbiër moet deel. Oh, well. Dis veilig.
“Ek wil nie nou drink nie,” sê sy, “ek het genoeg gehad.”
Ek maak ’n Zamalek oop en gaan staan bo-op die bed. “Maak oop jou bek. Maak oop. Die heiligheid wil in.” Met die linkerhand forseer ek haar mond oop. Ek gooi die bier tot oorlopens toe vol in haar mond. Die skuim borrel oor haar lippe. Noodgedwonge sluk sy elke druppel nektar af. Ons lag.
Daar is ’n lawaai op die bank. Solomon mompel iets.
“Hoe sê, Solly?” vra ek.
“Dis two o’ clock. Ons moet slaap.” Kanarie beaam en sit die lig af.
Ongeskikte poese. My wingmen wil slaap. Ek sit my bier op die bedkassie en klim in die bed, klere en al. All Star-tekkies in die lug.
In Parys eet ons ontbyt by die Plumtree-restaurant. Op ’n paal voor die deur lees ek dat “Parys sy gat gesien het”. Daar is glo ’n begrafnis vir die Ngwathe-munisipaliteit gehou. Hulle het aan ’n gebrek aan dienslewering gesterf. “Suid-Afrika darem,” dink ek.
Ek bestel ’n klein ontbyt vir die drie van ons: ’n halwe wors, een eier, ’n paar eetlepels baked beans met ’n sny roosterbrood, gekomplementeer met ’n blikbeker moerkoffie en stuk anysbeskuit.
Solomon eet dit asof dit sy laaste maal is. Ek aanvaar hy moet sy kragte opbou. Ek sluk my bitter babelas-mix af. Om te drink kom mos met ’n prys – soms groot.
“Jy sal maar sien hoe kom jy by jou vrou, nè, Solomon?”
“Ek loop sommer met die voet tot by die huis, dis nie ver nie,” sê hy en beduie oor hoe hy sal loop.
“Oukei, Solly, ons gaan nou die pad vat na Jo’burg. Ek moet dinge doen voor ek môre airport toe,” sê ek.
Kanarie klim in die kar en sit links. Ek sal moet bestuur, sy’s moeg.
“Waar gaat jy? Cape Town toe of hoe?”
“Nee, Solly. Jy lóóp met die voet huis toe, maar ek vliég in my moer Viëtnam toe.”
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie