
Foto: Tien Vu Ngoc op Unsplash
Ek ry vinnig, al vinniger om deur die hartjie van die stad te kom. Die pad is besig. Almal is op pad huis toe – platteland toe – vir die Tet-vakansie wat binnekort begin. Hulle motorfietse is hoog gelaai met tasse, bome met pienk bloeisels, bokse bier en geskenke vir die mense by die huis.
Volgens my GPS het ek 437 km om te ry. Eers deur die stad, dan met smal plattelandse paadjies tot diep in die berge. My bestemming: Sin Suoi Ho, 130 km noordwes van die Chinese grens, in die Lai Chau-provinsie. Die dorp se naam, wat beteken “Goue fontein”, spreek van ’n nimmereindigende stroom water, en in my gedagtes beelde van ’n paradys.
Ek is lief vir avontuur. Lief vir nuwe plekke en verre reise. Niemand in my vriendekring in Viëtnam deel hierdie passie nie, so ek pak die pad alleen aan, soos altyd, op Rooi Hings, my getroue motorfiets.
Ons kronkel deur die bergpaaie, ek en Rooi Hings. Kort-kort stop ek om foto's te neem, my bene te rek, of ’n bier te drink. Vir petrol ook, natuurlik. Omdat ek eers na 12 uit Hanoi vertrek het, vang die donker my vinnig. Saam met die duisternis kom ’n klam koue wat deur alles sny.
Ure gaan verby. Tien en ’n half, om presies te wees. Ek jaag van een dorpie na die volgende, op grondpaaie en in teerstrate; soms is daar glad nie ’n pad nie. Skuins ná ses trek ek af langs ’n dam. Regs van my is die helfte van die pad toe met sand. Daar was ’n bergstorting. Ek moet blyplek kry.
Op Booking.com bespreek ek by Ta Van Homestay, drie uur verder.
“I will be arriving just after 10 pm. I'm about 130 km away. Is it okay?” tik ek vir die gasvrou via Zalo.
In Suid-Afrika kan 130 km vinnig afgelê word. Hier in Viëtnam, tussen bergpassse, is dit ’n heel ander storie. Ek ry aan, al hoër teen die berg op, terwyl “Sister Bethina” van Mgarimbe speel. Dis nie iets vir die langpad nie, maar iets aan die ritme hou my warm.
Sowat 80 km verder, iewers langs die pad, hou ek stil om water af te slaan. Die stilte van die nag word gevul deur geluide wat ek nie kan uitmaak nie. ’n Beer? ’n Nagluiperd? My verbeelding? Ek probeer dit ignoreer. En net toe sien ek Rooi Hings se petrolliggie – die naald lê diep in die rooi.
“Fok, Zalman!” sê ek vir myself en beur voort. Kort-kort vryf ek oor die speedometer en stuur ’n skietgebed op in die heelal in. Net daar sien ek die liggies van ’n dorp – Ta Van! Hoe ek hier aangekom het, weet ek nie. Genade, dalk. Of net pure geluk.
........
My gasvrou se naam is Gam. ’n Kort, middeljarige vrou, deel van die H'mong-stam. Ek kon nie baie na aan haar staan toe sy my groet nie. Sy het erger as ’n kantien geruik van te veel ryswyn drink. Ek neem haar nie kwalik nie. Hier is dit vrek koud.
........
My gasvrou se naam is Gam. ’n Kort, middeljarige vrou, deel van die H'mong-stam. Ek kon nie baie na aan haar staan toe sy my groet nie. Sy het erger as ’n kantien geruik van te veel ryswyn drink. Ek neem haar nie kwalik nie. Hier is dit vrek koud.
Sy neem my na my kamer. Op die houtvloer lê ’n enkelbedmatras met ’n hoop kleurvolle komberse bo-op gepak. Sy skakel die elektriese kombers vir my aan.
“Make warm. Body,” sê sy en vryf oor haar arms.
Ek sê vir haar dankie en maak die deur agter haar toe.
Ek vou drie komberse dubbel sodat ek nie deur die nag verkluim nie. Verstel die elektriese kombers af van 3 na 2.
Uit nuuskierigheid loer ek op my selfoon om te sien hoe koud dit is. Nul grade Celsius. Maar dit voel kouer.
Die nag sal ek moet oorleef, want daar lê nog drie ure se ry voor die son sy verskyning maak.
*
Gam, of Chi soos ek haar noem, wat “ouer suster” in Viëtnamees beteken, maak pannekoek vir brekfis.
Skuins na 9 gaan sit ek aan tafel langs die klein dammetjie met sy swart makoue. Voor my staan ’n bord met vier pannekoeke vol luggaatjies. Daar is heuning, sjokoladesous, koffie en tee.
“Traditional breakfa’,” sê Gam. Die laaste twee klanke van die woord ontbreek. Die Viëtnamese rond nooit ’n woord af nie.
Ek skink ’n koppie koffie, gooi heuning oor my pannekoeke.
Haastig verorber ek die lot wat smaak soos dié wat ek in Kenia geëet het – na suurdeeg.
Ek betaal en groet. En vat die pad – eers op soek na petrol!
’n Bejaarde vrou verkoop ’n liter petrol aan my teen ’n belaglike prys. Wat kan ek doen? Ek is ’n toeris. Ek en Rooi Hings mik na Sa Pa, verby toeriste en landskappe wat jou asem wegslaan.
........
In Sa Pa les ek Rooi Hing se dors – maak sy tenk vol – en swenk links, die dorp uit. Ons ry weer verder die berg op tot letterlik bo die wolke. ’n Wit kombers lê dig bo Sa Pa van bo die Pu Ta Leng-berg.
........
In Sa Pa les ek Rooi Hing se dors – maak sy tenk vol – en swenk links, die dorp uit. Ons ry weer verder die berg op tot letterlik bo die wolke. ’n Wit kombers lê dig bo Sa Pa van bo die Pu Ta Leng-berg. Dit word gesien as die “dak van Indochina”.
40 km buite die stad Lai Chau – nog steeds in die berge – kom ons tot stilstand. ’n Vragmotor vol gelaai met sakke rys het in ’n draai beheer verloor. Sy ysterliggaam versper die hele pad. In die verte hoor ek die geloei van sirenes.
Regs van die vragmotor – teen die berg – sien ek ’n plek waar ek en Rooi Hings kan deurgaan tot aan die ander kant. En daar gaat ons. Sin Suoi Ho toe.
*
In Sin Suoi Ho groet ’n vrou my in hulle tradisionele wit, pink en swart klere. Op haar rug huil ’n baba. Om hier in te ry moet ek ’n ingangsfooi betaal. Die mense van Sin Suoi Ho maak deesdae ’n bestaan uit toerisme. Ek betaal 20 000 Viëtnamese dong – sowat R12 – en gaan daar in. En weer met die berg op, tot by A Hoa Homestay.
Hier word ek gegroet met ’n kaneeldrankie wat uit ’n stuk bamboes bedien word. Jy drink dit ook uit ’n bamboesglas.
My gasheer probeer om te kommunikeer. Met gebare wys hy waar ek slaap. Ek is al toeris hier. Die hele dormitory – van 12 beddens – is myne vir die volgende paar dae.
Ek probeer om in Viëtnamees te kommunikeer. Maar die man se taalvaardigheid is min. Hier praat hulle die Mong-taal en min tot geen Viëtnamees nie.
Ek vra in Engels of hy bier of ryswyn drink.
“No, I don’t drink beer or rice wine. I no like,” sê hy.
Later sou Google my inlig dat Sin Suoi Ho ’n paar jaar gelede ’n baie arm plekkie was. Die H’mong-mense het net met rys en buffels geboer. Die jong klomp het opioïed begin gebruik en die dag en nag besope deurgegaan.
Nou is daardie dae iets van die verlede. Niemand drink of rook nie. Is dit goed vir my wat ’n bierdrinker is? Seker nie.
*
........
Laatmiddag stap ek deur die smal strate. Oral loop buffels, hoenders met kuikens, kinders en makoue rond. Die vallei is toe onder die mis. By elke huisie trek daar rook uit tot bo die berg. Dit reën saggies.
........
Laatmiddag stap ek deur die smal strate. Oral loop buffels, hoenders met kuikens, kinders en makoue rond. Die vallei is toe onder die mis. By elke huisie trek daar rook uit tot bo die berg. Dit reën saggies.
Ek stap ’n steil opdraand uit. Bo-op die berg is ’n koffiewinkel. Soos ek verby houthuisies op stellasies stap, neem ek hulle hekke af. Elke huis se hek lyk anders. Een is versier met heel mieliestronke, ander het lanterns, vlae, mandjies en stompe. Twee kinders gooi tol op ’n lappie grond langs my. Ek neem hulle af.
Die een kind skree iets. Ek stap nader.
“Hello! My name is Minh. I'm eleven ...” (dan bly hy stil) “... years old.”
Halfpad tot by die koffiewinkel las ek die trippie af. My heupe en knieë is nie vir sulke steiltes gemaak nie. Bergaf stop ek by ’n kafeetjie. Op die vloer staan ’n paar geel bokse wat vir my bekend lyk. Bia Hanoi-bier. Ek koop ’n blikkie en stap weer terug A Hoa toe. Drinkend, want mens moet beloon word.
Teen skemer gaan sit ek buite by ’n klein tafeltjie. Aan weerskante is klein stompe wat as stoele dien. Twee kinders in blou baadjies hardloop in die reën rond.
Toe ek opstaan om ’n foto van die mooi wolke te neem, kom die een seuntjie en gryp die stomp waarop ek gesit het. Dan hardloop hy na sy vriend toe. Ek gee lang treë agterna vir ’n video.
Die mannetjie sit die stomp voor sy vriend se voete neer. Dié hou ’n pienk plakkie omhoog en kyk na my.
Ek dink in kleutertaal sou hy sê: "Hei, ek moer jou met my pienk plakkie. Gaan sit die oom se stoel terug!"
En toe maak die stoeldief presies so.
Die oom moes maar dankie sê.
Kommentaar
Uitstekend! Great piece of travel writing. Up there with Jan Morris. Anything that can waft me back fifty years to my own prille jeug ticks the box.