Die gryslys en De Ruyter – is daar ’n gemeenskaplikheid?

  • 0

..........

Die De Ruyter-onderhoud sal in die geskiedenis onthou word as ’n politieke spelbreker in die persepsie oor die rol wat die ANC speel in korrupsie van staatsondernemings en mag dalk net dieselfde impak hê as die belangrike boeke wat Jacques Pauw en Pieter-Louis Myburgh in die verlede geskryf het.

..........

Die konsep polikrisis het onlangs vastrapplek gekry in die ontleding van globale krisisse wat gelyktydig manifesteer. Ons het dit duidelik gesien met die Covid-19-pandemie, die globale ekonomiese krisis daarna, die uitbreek van die konflik in Oekraïne en die energiekrisis wat daarop gevolg het. Meervoudige krisisse wat gelyktydig bestaan, of dan ’n polikrisis, bring stelsels onder geweldige druk. Die politiek is so ’n stelsel wat onder druk kom as die verskillende insette wat gelyktydig manifesteer, nie vinnig genoeg verwerk kan word nie en dan verhoog die konflik en frustrasie in so ’n stelsel. Dit is vergelykbaar met ’n enjin wat oorverhit. Suid-Afrika beleef tans ’n era waarin ons van een polikrisis na ’n ander voortstrompel. In die verlede is daar dikwels gesê dat ons rondval, maar minstens koers hou, maar ek is van mening dat ons in 2023 met die rondvallery beide ons kompas en ons giroskoop beskadig het.

Die gewraakte onderhoud wat André de Ruyter, uitgaande groepshoof van Eskom op 22 Februarie 2023 met Annika Larsen op televisie gehad het, verteenwoordig een so ’n krisis.

En op 24 Februarie 2023 is ons op die sogenaamde gryslys van die Internasionale Finansiële Aksietaakmag (FATF) geplaas, wat nog ’n krisis verteenwoordig, terwyl ons soewereine kredietgradering reeds onder investeringsgraad is (“junk status”). Wat het die twee sake met mekaar te doen? Is daar enigsins ’n verband? Daar is beslis ’n verband en dit kan soos volg verduidelik word. De Ruyter en die gryslys deel ’n konteks en is deel van die politieke palet wat ons politieke panorama uitmaak. Nie een van die twee vraagstukke is nuut nie, in die geval van die gryslys waarsku mense al vir meer as vier jaar dat ons nie genoeg doen nie om ons bankstelsel te vrywaar van geldwassery, moontlike onwettige ondersteuning via banke van terreurorganisasies en misdadige elemente. Onwillekeurig word daar gedink aan hoe die Guptas in die nege verlore jare onder Zuma valuta uit Suid-Afrika geskuif het. Dit was egter die Amerikaners wat ons banke gewaarsku het van hulle bedrywighede.

..........

De Ruyter en die gryslys deel ’n konteks en is deel van die politieke palet wat ons politieke panorama uitmaak.

..........

Wat Eskom betref, het André de Ruyter geen illusies gehad oor die uitdagings by Eskom nie, maar by nabaat is dit duidelik dat hardnekkige voortsetting van institusionele korrupsie voortgegaan het ten spyte van pogings om dit te stop. Wanneer so ’n situasie bereik word, moet daar beslis gesoek word na ’n vorm van politieke ondersteuning en beskerming teen halfhartige pogings van die polisie en ander agentskappe om hulle opdragte uit te voer. André de Ruyter is egter nog ’n voorbeeld van die mite dat een mens ’n organisasie kan verander. Ramaphosa demonstreer dit ook in die ANC. Daar word dikwels gehoor dat iemand sy betrokkenheid by ’n organisasie regverdig op grond daarvan dat hy die energie, wil en waagmoed het om ’n organisasie van binne te verander. Daar is wel enkele voorbeelde van leiers met diktatoriale of outoritêre leierseienskappe wat dit kon regkry (Hitler in Nazi-Duitsland, Mussolini in Italië en Museveni in Uganda), maar as ’n leier bloot op aanmoediging en etiese leierskapwaardes funksioneer, word dit ’n saak van onmoontlikheid. Dit is waarmee De Ruyter ook gekonfronteer is. Sy optrede om ’n televisie-opname te laat maak, was egter ’n meesterstuk, in die sin dat dit meer effektief was as al sy waarskuwings en formele gesprekke met sy politieke hoofde. In hierdie verband kan die gryslys ook aangehaal word, want om die regstellings aan Suid-Afrikaanse wetgewing te maak binne die konteks van die ANC se komplekse netwerke van onderlinge belange, was amper onmoontlik. Die afwesige element was die politieke wil om dit met mening deur te voer. De Ruyter gee ’n intieme blik op die botsende belange binne die ANC – aan die een kant die standpunt dat daar dringend aan elektrisiteitsvoorsiening aandag gegee moet word, maar aan die ander kant die gevestigde belange van prominente politici by steenkoolkartelle.

Die reaksie van die ANC was ’n verwagte, arrogante verbasing oor dit wat hulle reeds geweet het en hulle doen toe die mees voor die hand liggende ding om die man te speel en nie die bal nie. Alhoewel André de Ruyter ’n wydlopende onderhoud gehad het, was die suggestie dat senior lede van die regerende party voortgesette betrokkenheid het by korrupsie deur middel van die steenkoolkartelle in Mpumalanga, die groot nuus.

André de Ruyter (Foto: YouTube-skermgreep)

Of was dit? Tydens die Zondo-ondersoek was dit duidelik dat dit eintlik ’n ondersoek na institusionele korrupsie midde-in die ANC was. Die ondersoek na die Guptas het onder andere die betrokkenheid by Eskom en steenkool na vore gebring. Die vraag wat nou ontstaan, is hoe het dit dan gebeur dat die steenkoolkartelle nie ook ondersoek is nie, veral met senior politici se beweerde betrokkenheid? Binne die ANC was en is daar menings dat die Zondo-kommissie uiteindelik ’n instrument geword het van een faksie om ’n ander uit te skakel. Die plasing op die gryslys wys ons ook daarop dat politieke speletjies ons nie ver gaan bring nie, maar dat daar duidelike gevolge moet wees vir die oortreding van wetgewing met betrekking tot korrupsie en soortgelyke finansiële oortredings.

Suid-Afrika is ’n de jure, ontwikkelende, moderne, liberale demokrasie, maar as daar na De Ruyter geluister word, dan is ons ’n de facto mafiastaat en hiervoor is daar vele voorbeelde en boeke geskryf. Dit bring die gryslys weer in die spel. Eintlik sê die globale wêreld (Rusland en China uitgesluit) vir ons dat ons politieke verbintenis aan teen-korrupsie maatreëls geen gevolge het nie. Watter senior politici, behalwe John Block in die Noord-Kaap, is al in ons howe skuldig bevind? Die gryslys wys ook vir ons dat ons ernstiger teen korrupsie sal moet optree, veral op vlakke soos die plaaslike regering en provinsiale regerings. André de Ruyter het vir ons die pot van die Eskom-deksel so effens gelig en gewys watter rol politici speel in korrupte praktyke, maar nog belangriker, die rol wat hulle nie speel om dit te beperk nie. Die De Ruyter-onderhoud sal in die geskiedenis onthou word as ’n politieke spelbreker in die persepsie oor die rol wat die ANC speel in korrupsie van staatsondernemings en mag dalk net dieselfde impak hê as die belangrike boeke wat Jacques Pauw en Pieter-Louis Myburgh in die verlede geskryf het. Die plasing op die gryslys is ’n belangrike waarskuwing aan Suid-Afrika om sy beheer en kontrole oor finansiële sake te versterk, net soos De Ruyter se gesprek ’n oproep was op die ANC om te besin oor hulle sagte aanslag op korrupte kamerade en kollegas.

Theo Venter, UJ

Lees ook:

The demise of Eskom | Iingxaki zikaEskom zikubaphathi

Eskom: Waarom word so baie herstelwerk benodig?

Dare to read this? A review of Sabotage by Kyle Cowan

Power crisis: Will Cape Town go completely off the Eskom grid?

Our poisoned land: living in the shadows of Zuma’s keepers deur Jacques Pauw – ’n resensie

Video: Launch of Gangster State by Pieter-Louis Myburgh

Sensuur: The President's Keepers deur Jacques Pauw

The President’s keepers: Kaapstad-bekendstelling

Die strategiese rol van die sakesektor in die bekamping van korrupsie

Kabeldiefstal en SA se haglike infrastruktuur

Deliktuele aanspreeklikheid van plaaslike owerhede vir die versuim om infrastruktuur te onderhou 

Staatskaping maak korrupsiemodder nóg taaier

Suid-Afrika by ’n kantelpunt – ’n slegte-saak-scenario? 

André Duvenhage: Dís die ergste wat met SA kan gebeur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top