
Hierdie lesing (sien die video) is op Sondag 26 Julie 2026 te Nxuba (Cradock) gelewer tydens die jaarlikse Etienne van Heerden Veldsoirée as deel van die LitNet Afrikaanse Skrywersberaad. Die teks verskyn hier onder.
Van al die gedigte in Afrikaans, al die duisende gedigte wat subliem mooi is en van voortreflike literêre vakmanskap getuig, is daar een wat my nog al die jare lank bybly – om al die verkeerde redes.
Ek is in Natal gebore en het daar grootgeword, lank voordat dit KwaZulu-Natal geword het. My swart ouma, ugogo Juba, het vir my Afrika-sprokies vertel. My oupa Lewies het my van die “Boereoorlog” (die Anglo-Boereoorlog) vertel, van die Engelse soldate wat op ons plaas doodgeskiet is, en hul spoke wat snags rondloop, immer soekend na die pad terug Engeland toe.
My ma het nooit vir my stories vertel nie, maar dit was nie nodig nie, ek het gelees. Die eerste digbundel wat ek vir myself gekoop het, was Eugène Marais se Versamelde gedigte. Maar die gedig waarmee ek lank vóór Eugène Marais kennis gemaak het, was “Die Durbanse poepwedstryd”.
Op een of ander manier het almal in my omgewing dié gedig geken, sonder dat ek ooit ’n papierweergawe daarvan gesien het.
Natuurlik was dit ’n taboe gedig – niemand het gewaag om dit openlik op te sê nie – ons was ordentlike mense. Maar taks en tyd het jy dit gehoor – wanneer Bennie Pretorius dit op die speelgrond uitgebulder het, of as een of ander oom met te veel soetwyn in sy lyf gedink het dis nodig om weer almal se geheues te verfris.
In al my fatsoenlike Afrikaans-Nederlands-kursusse het ek nóóit met hierdie onding van ’n gedig te doene gekry nie, maar elke nou en dan was daar ’n student wat dit vlot opgesê het. Ek het die gedig gehoor met geringe variasies, maar nooit met drastiese afwykings nie. Die orale verteltradisie was dodelik effektief.
Soos wat die jare aangestap het, het ek al hoe minder van die gedig gehoor, eintlik daarvan vergeet – dit is immers nié in die Groot Afrikaanse kanon opgeneem nie.
Tot op ’n dag. Toe Gerrit Komrij sy verskyning in Suid-Afrika maak.
Kort na die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika, was ons die liefling van die wêreld – die Groot Wonderwerk het gebeur. Ook wat die letterkunde betref, was Suid-Afrika in die kollig. Nadine Gordimer en JM Coetzee kry beide die Nobelprys vir Letterkunde. Nederland en België herstel die bande wat tydens die kultuurboikot verbreek is. Afrikaans, met sy wortels in Nederlands, word weer interessant en uitdagend. Afrikaanse studente is weer welkom in ’n Nederlandse biblioteek en mag daar studeer. Die Antwerpse Boekebeurs van 1997 het Suid-Afrikaanse letterkunde as sentrale tema. ’n Groot aantal Afrikaanse boeke word in Nederlands vertaal, en oor en weer besoek skrywers Nederland en Suid-Afrika.
Gerrit Komrij, die bekendste digter en bloemleser van die Nederlandse letterkunde, wat Nederlandse lesers weer van vooraf poësielesers gemaak het – en versot op hul eie literatuurskatte – kom in Suid-Afrika aan.
Binne ’n paar maande lees en bestudeer Komrij seker bykans alle poësie wat ooit in Afrikaans geskryf is. Ek is eerstehandse getuie van sy werksvernuf – hy het die hele dag lank in sy kamerjas gewerk, en net saans sy kop van die boeke opgelig.
In 1999 verskyn ’n verbluffende bloemlesing: De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. Verbluffend, want hier is dit ’n skerp en deurdringende blik van buite wat na die Afrikaanse poësie kyk.
Komrij, die gedugte bloemleser, se twee voorskrifte aan homself om sy keuses te bepaal is:
- Om, ongehinderd, deur enige belangegroep sy keuse van gedigte maak
- Om kwaliteit en vakmanskap voorop te plaas: “Naar de kwaliteit van de poëzie en naar wat poëzie met ons vermag. Poëzie is kunst, en kunst is kunstigheid en kunstigheid is vakmanskap, dat voorop” (Voorwoord, bl 8).
Duideliker kan dit nie uitgespel word nie: kwaliteit en vakmanskap.
Daar is ’n hele paar verrassings in hierdie unieke bundel. Maar geen verrassing kan groter wees as die gedig wat op bl 524 verskyn nie: “Die Durbanse poepwedstryd”. Die vieslikste gedig in Afrikaans kry sy staanplek tussen ’n duisend en enige ander gedigte. Die afgryslikste gedig in Afrikaans word gekanoniseer – as voortreflike gedig wat van kunstigheid en vakmanskap getuig.
My ouma en my ma draai in hul grafte om.
Maar hoe klink die mees banale gedig in Afrikaans? (Die voorleser is Hannes Muller.)
Die Durbanse poepwedstryd
Iets wat gestaak is in die oorlogstyd
Is die Durbanse jaarlikse poepwedstryd.
Dit is nou egter weer ’n saak van bespreking,
Nou eers populêr na die lang onderbreking.
Deelnemers kom van heinde en ver,
En die gunsteling vanjaar is nig Sannie Joubert.
’n Berig in vandag se Vaderland lui
dat sy die hardste kan poep in die hele kontrei.
Anna Petoors het ’n gat soos ’n beer
Met ’n vrat in die middel om die poep te beheer,
En rondom die gat in ’n bolla gedraai
Is die mooiste klein haartjies wat ’n hol kan verfraai.
Sannie van Schoor loop rond vir die pret,
Wen kan sy nie, maar sowaar as die vet
Die poephol wat sy het, dit kan ek jou sweer,
Is die mooiste wat enige man kan begeer.
Die skeidsregter staan voor die bord
En verduidelik die reëls van die wedstryd in kort:
Die wenner vanjaar kry behalwe ’n hoender
Boonop ook ’n pragtige pienk “bloomer”.
Lettie Verwey, nommer een op die lys,
Loop rond om die mense haar poephol te wys.
Die applous word al harder hoe verder sy gaan,
Dis seker dat sy haar man sal kan staan.
Sy tree toe na vore, die wedstryd is aan,
Sy begin toe deur eers op haar kop te gaan staan,
En dink toe sy’s reg om haar deeltjie te doen,
En daar waai die dak van die hoofpawiljoen.
Anna Petoors sê dis bogtery daai,
Kyk vir my as julle wind wil sien waai.
Sy buk en sy druk so hard as sy kan,
Maar kak en word uit die wedstryd verban.
Sannie van Schoor stryk haar hare gelyk
En bloos toe sy voel hoe die mans na haar kyk.
Sy stap toe na vore en antwoord haar naam,
En toe poep sy harder as die hele spul saam.
Die skare deins terug vir die vreeslike stank,
Maar staan tog verbaas vir die lieflike klank.
Die beoordelaar staan op en sê vir haar
“Trek op jou broek, jy’s die wenner vanjaar!”
Sy draai toe om en erken die applous,
En om almal te wys sy’t niemand geflous
Poep sy hard en suiwer “Trieng Trieng Trieng”
Die eerste paar note van “God save the King”.
Dit is nie my doel om in hierdie lesing te wys op die streng vakmanskap, die noukeurige strofebou en die opwindende rymvondste in die gedig nie – dit is alles daar. Wat my laat dink: Is die digter nie dalk reeds ’n gesoute vakman, ’n digter, nie?
Ek sou graag uitgebreid wou wys op Mikhail Bakhtin se uitgangspunte oor taal, letterkunde en kultuur en hoe dit skitterend op hierdie gedig van toepassing is: dialoog, polifonie, die karnavaleske, chronotopie, taal en gedig as sosiale gesprek en in konteks met die geskiedenis.
Ek wil egter fokus op die ander aspek van poësie wat Komrij uitwys, naamlik na dit wat poësie met ons kan vermag.
*
Vir baie jare draai die nare vermoede in my rond dat hierdie gedig méér is as net vieslik, dat hier meer ter sprake is as die uitbundige uitbeelding van skatologiese banaliteite.
Dat die anonieme digter (of dalk digters?) van die gedig die gesprek met die Afrikaanse leesgemeenskap begin deur middel van ’n gedig, is betekenisvol. Die mens het mos immer die behoefte om sy diepste emosies uit te stort deur middel van die verhewe genre van die digkuns. Hierdie dialoog is nie ’n brief nie, nie ’n private dagboekinskrywing nie, nie ’n debat nie – dit word aangebied in die sublieme vorm van die digkuns. Kuns, laat ons dit nooit vergeet nie, gaan nooit oor flou emosies nie. Die windblasery in hierdie gedig dra meer gewig as net wind.
Die gedig self gee vir ons ’n paar belangrike leidrade.
Die digter
Die digter is “Anoniem”. Natuurlik is die digter, of digters, nie ’n spook sonder ’n siel nie; die digter is ’n mens. (Of meer as een mens.) Meneer of mevrou Anoniem het ’n boodskap wat hy of sy wou uitdra. Onder die dekmantel van anonimiteit kán daardie boodskap oorgedra word sonder om die verantwoordelikheid van die gedagte te dra – baie soos van vandag se sosiale media: Jy kan jou mond uitspoel soos jy wil. Hoe sou die konserwatiewe Afrikaanse gemeenskap van die vroeg-20ste eeu reageer het as hierdie gedig gekoppel was aan, sê nou maar, die bonkige Zoeloelander DJ Opperman? Ek dink dit sou literêre kamikaze gewees het.
Die titel
Die titel is “Die Durbanse poepwedstryd”. Die naam Durban, die Engelssprekende hoofstad van Natal, roep oombliklik ’n uitsonderlike gebied op. Om hierdie gedig na behore te interpreteer, moet Bakhtin se chronotopie, die belang van plek en tyd, tyd en plek en politiek verstaan word. Natal was nog altyd, maar veral met die vorige eeu se eeuwenteling, ’n sosiopolitieke kookpot met ’n bittere verdeling tussen die Engelse, koloniale Durban in die suide en die Afrikaanse boeregemeenskappe van Noord-Natal, die landskap van die Nuwe Republiek. Natal was ’n Britse kolonie, maar die Noord-Natalse distrikte soos Utrecht en Vryheid (my tuisdorp) was voor en tydens die Anglo-Boereoorlog deel van die Transvaal. Dit is eers met die Vrede van Vereeniging dat dié streke deel van Natal geword het.
Wanneer?
Wanneer is hierdie gedig geskryf? Komrij plaas die gedig in sy bloemlesing chronologies saam met die digters wat gebore is in 1917, maar gee in die bibliografie die datum aan as 1940–1945. Niks hiervan kan egter bewys word nie. (Komrij is in 2012 oorlede, en ek is bitterlik spyt dat ek hom nooit gevra het waar hy die gedig in die hande gekry het nie. En hoe hy op hierdie datum gekom het nie.)
Die eerste strofe van die gedig gee verdere leidrade:
Iets wat gestaak is in die oorlogstyd
Is die Durbanse jaarlikse poepwedstryd.
Dit is nou egter weer ’n saak van bespreking,
Nou eers populêr na die lang onderbreking.
Na watter oorlog word hier verwys? Komrij se plasing van 1917 en die datering van 1940–1945 is van belang. Die Eerste en Tweede Wêreldoorloë was nooit primêr Suid-Afrikaanse oorloë nie. Wat wel in die Afrikaner-psige vasgebrand is, is die Tweede Anglo-Boereoorlog van 1899–1902, die “Engelse Oorlog” soos dit in die volksmond bekendgestaan het. “Dis mos die Engelse wat kom oorlog maak het,” soos my oupa gesê het.
Die Afrikaanse koerant die Vaderland (met sy betekenisvolle patriotiese naam) waarna verwys word, is in 1915 gestig en dra by tot my afleiding dat daar na die Tweede Anglo-Boereoorlog verwys word.
Natal het sy eie, unieke plek ingeneem in die tragiese gebeure van die Anglo-Boereoorlog. Ek self is direkte getuie van die trauma wat my voorsate deurgemaak het. Onthou, ek is ’n Scheepers, en die teregstelling van my voorsaat, Gideon Scheepers, in 1902, sit steeds nie in my koue klere nie. En onthou, die Engelse spoke loop steeds op die plaas Langfontein rond. Die feit dat Natal amptelik ’n Engelse kolonie is, maak nie dat alle inwoners lojaal is aan die Britse ideologie en beleid nie. Veral in die Afrikaanse noorde is ’n daar akute en diepgewortelde anti-Engelse gesindheid.
Die chronotopie van die gedig is: Natal in die vroeg 20ste eeu.
Die sosiopolitieke konteks van hierdie tydperk is die intense politieke en ideologiese verdeling tussen Boer en Brit en oorlogstrauma wat steeds nie verwerk is nie. Oorlogstrauma wat vererger is deur die Britte se ongenaakbare Verskroeide Aarde-beleid wat die Boeregemeenskap tot op die been verarm en verneder het.
En dan, in die gedig: triomfantelik, die karnavaleske binnekoms van die vroue!
Die vroue
Die hoofkarakters van “Die Durbanse poepwedstryd” is vier formidabele vroue met onmiskenbaar Afrikaanse name:
- Nig Sannie Joubert wat volgens die koerant die hardste kan poep.
- Anna Petoors, sy met die vrat en die bollatjie in haar alie.
- Sannie van Schoor, die een met ’n alie wat alle mans laat swymel – en nog ’n ander uitsonderlike talent het.
- Lettie Verwey wat die dak van die pawiljoen kan laat waai.
Tydens die wedstryd, wat in ’n skou-area mét ’n hoofpawiljoen voltrek word, vertoon en gebruik die vroue sonder enige skroom die intiemste gedeeltes van hul vroulike anatomie. Die proses word toenemend kru en grafies uitgebeeld. In enige taal ter wêreld is dit walglik en platvloers: Die proses word beskryf met pejoratiewe woorde wat in geen beskaafde geselskap aanvaarbaar is nie. Dit ís die vieslikste gedig in Afrikaans.
’n Paar vrae ontstaan:
- Hoekom is dit juis vroue, gewoonlik die mees gerespekteerde en geëerde mense in ’n samelewing, maar juis Afrikaanse vroue, wat hier so walglik en onmenslik uitgebeeld word?
- Wat wil Anoniem bereik; wat wil hy (sy?) met hierdie gedig sê?
- Waarom het die gedig nie lank voor amptelike publikasie ’n stille dood gesterf nie?
Die antwoord, of altans my antwoord, word deur die gedig self gegee, in die slotstrofe.
Sannie van Schoor, is die wenner. Sy kry as eerste prys ’n hoender en (ironies) ‘n alles-bedekkende) pienk bloomer. Maar dan gaan sy verder as poep en wys haar ware kleure, waar haar lojaliteit lê, en dit nogal deur haar alie:
Sy draai toe om en erken die applous,
En om almal te wys sy’t niemand geflous
Poep sy hard en suiwer “Trieng Trieng Trieng”
Die eerste paar note van “God save the King”.
In die naoorlogse jare het die Boeregemeenskappe niemand méér gehaat as die joiners, die hanskakies, die Boereverraaiers nie. Vir die Britte was die joiners waardevol; hulle was die National Scouts wat spoorsnyers, koeriers, spioene was, wat die teenwoordigheid van die kommando’s aan die Engelse uitgewys het, wat meegedoen het aan die afbrand van plaashuise en die doodmaak van elke lewende dier op ’n plaas.
Aan die einde van die oorlog was daar, volgens Pakenham (bl 282), 5 464 “handsuppers”. Oftewel hensoppers, joiners, hanskakies. Verraaiers.
Ná die oorlog is die National Scouts deur die Britte vergoed vir hul dienste. Sommige het ook nuwe poste in die Britse regering gekry.
Die Boerekrygers het alles verloor, sommige ook hul lewens. Hulle was ekonomies en emosioneel op hul knieë.
Sosiale vergelding het nie uitgebly nie. Die joiners is onder kerklike tug geplaas, die Nagmaal is hulle geweier. Die hanskakies het hul eie kerk gestig, die Kruiskerk. Vir jare lank was daar ’n ekonomiese boikot teen die besighede van die hanskakies; hulle, en hul vrouens en kinders, is die rug toegekeer. Op skool is die kinders óf geïgnoreer, of geboelie.
In ons gemeenskap was daar ’n ouer dame wat noukeurig in ’n swart boekie die name van al die distrik se hanskakies opgeteken het, saam met die name van hul vrouens en kinders en famielielede – om vir ewig verdoem te word.
Wie was hierdie hanskakies – wat vandag net so anoniem is as die skrywer van die gedig? Amptelik is daar nie ’n lys van name nie. Maar ek het gaan kyk, in die rekords wat my broer het, wat aangegee is van my oupa Lewies Scheepers na my pa Adriaan, na my broer Louis. En ja, hulle is almal daar: Joubert, Pretorius, Van Schoor, Verwey.
My mening is dat daar ook letterkundig wraak geneem is, dat die hanskakies ook deur middel van die digkuns bygekom is. Want die ergste vorm van wraak en vernedering is nié om die man, die hanskakie, by te kom nie, maar sy edele, voorheen gerespekteerde vrou, sy ma of suster. Sy word gereduseer tot niks anders as, ja … kak en poep nie.
Die vieslikste gedig in Afrikaans? Sonder twyfel. Maar dalk meer as net vieslikheid – ook wraak. Literêre, gekanoniseerde wraak.
Bibliografie
Komrij, Gerrit. 1999. De Afrikaanse poëzie in 1000 en enige gedichten. Uitgeverij Bert Bakker, Amsterdam.
Pakenham, Thomas. 1993. The Boer War: Illustrated edition. Jonathan Ball Publishers, Johannesburg.
Gesprekke met Louis Scheepers, Fransjohan Pretorius.
*
Die Boere was natuurlik nie die enigstes wat skatologiese satire as wapen gebruik het nie. Kyk gerus na die Franse spotprent: die gesig van die nuwe koning Edward V11, afgebeeld op die kaal agterstewe van Brittania (Pakenham bl 251).
Lees en kyk ook:
- Riana Scheepers: Ek wat vuur bemin en altyd waaghalsig was
- Albert Grundlingh: Frederik van Zyl Slabbert (1940–2010) en die kwessie van Afrikaneridentiteit
- Heindrich Wyngaard: “Wie (se fout) is ek?” Mymeringe (nee, stukkies) oor identiteit
- Jana Luther: Bolmakiesie van woke
- Charl-Pierre Naudé: Die tragiese as miskende verstaanskategorie: ’n naby blik op twee politieke denkmodusse
- Heinrich B Zaayman: Joiners, Hensoppers en Draadsitters I
Lees die ander bydraes hier:
Veldsoirée-borge/Veldsoirée sponsors


Die Tuishuise & Victoria Manor




Carel van der Merwe
Trinette Rudman Kirkwood
Ton Vosloo


