
Boonste twee foto’s: Toyota US Woordfees; onderste foto: Alexa op Pixabay.
Jeani Heyns praat met Naomi Meyer oor Die dag toe Guppie sweef by vanjaar se Toyota US Woordfees.
Jeani, vertel asseblief vir ons lesers van julle kinderproduksie by die fees. Waaroor handel dit? Wie is Guppie?
..........
Die dag toe Guppie sweef is in wese ’n narrespel. Die narre skets vir ons die storie van Guppie.
............
Die dag toe Guppie sweef is in wese ’n narrespel. Die narre skets vir ons die storie van Guppie. Guppie, vertel hulle vir ons, bly in ’n snaakse ou plek: die Republiek van die Kapok Boere Vereniging (RKBV), ’n afgesonderde boeregemeenskap wat ontstaan het nadat ’n aardbewing ’n skeur rondom die area getrek het. Hulle is almal olv André, die storie se antagonis. Hy is ’n fascistiese leier wat almal verbied om kontak te hê met die mense van "Die Anderkant". Maar moenie bekommerd wees nie. Daar is ’n mooi vriendskap wat blom in hierdie apokaliptiese milieu. Maar die lesers sal moet kom kyk om meer daaroor uit te vind. Soos Guppie, ’n jong grensposbewaarder, daagliks langs die grense van die RKBV wandel, wonder hy: Is daar lewe aan die ander kant? Lyk hulle soos die mense in Grease? Is hulle soos die monsters uit een van sy ergste nagmerries? Die antwoord lê dalk net in ... ’n blikkie.
Wie is die karakters in die storie en op watter ouderdom gehoorlede is dit toegespits?
Ons twee narre speel die karakters van Guppie (Kersha Titus) en André (Robert Hindley). Ons Xhosa-stemwerkkunstenaar en medeskrywer is Onela Metuso. (Sy vertolk die rol van Nkululeko, maar die karaktertjie is so bietjie van ’n verrassing, so jy sal sien ek noem nie veel van haar in die beskrywing nie.)
Kinders van so om en by ses jaar en ouer sal die storie geniet! En natuurlik nooi ons graag Afrikaans- en Xhosasprekende kinders en grootmense uit na die produksie!
As ek hoor “sweef” ... dink ek hier is ’n karakter wat gaan móét sweef. Hoe doen hy dit? Of wil julle nie julle teatergeheime verklap nie?
Teater het die vermoë om kinders (en volwassenes) se verbeelding aan te raak – ’n eenvoudige blikkie kan voor jou oë verander in ’n ruimtetuig, ’n teleskoop en ’n telefoontjie. So "sweef" Guppie deur die kinders se verbeelding. Dit is deur ons verbeelding dat nuwe wêrelde vir ons oopmaak.
Wat is die belang van kinderteater by ’n fees? Is dit om te vermaak? Is dit om op te voed? Om ’n teatergehoor vir die toekoms te kweek? Hoe verskil die elemente van kinderteater van volwasse teater – en kan kinderteater ook goed wees? (Wat beteken dit vir julle – “goeie teater”?)
Kinderteater is van kardinale belang in ’n feesprogram. Kinders moet van jongs af blootgestel word aan kuns van alle vorme sodat hulle kan lief raak vir die kunste en hulle wêreld kan verbreed. Ouers moet ook hulself afvra: Sal jy eerder wil hê jou kind moet ’n uur op die selfoon spandeer of hulle na ’n onvergeetlike teaterervaring neem? Die dag toe Guppie sweef leer kinders oor medemenslikheid, vriendskap en versoening.
Dit is belangrik dat kinderteater toegangklik is vir almal, volwassenes inkluis. Ons aanslag was om beide vermaak te bied en dieper konsepte te ondersoek. Ons bereik dit deur narwerk met ’n pittige en aangrypende teks te kombineer.
Wat is die lekkerte van die produksie en wat is die uitdagendste?
Die lekkerste: Ons laat ruimte vir gehoorinteraksie, so dit is wonderlik om te sien hoe die "magic" tussen die narre en die gehoor gebeur.
Dit was uitdagend om twee tale naas mekaar te sit, veral in die skryfproses. Maar dit is juis ’n uitdaging wat ons wou ondersoek met die skep van die stuk. Ons sien ook dat dit ons gehoor uitdaag! Alhoewel die storie maklik verstaanbaar is, kan daar natuurlik van die besonderhede verlore raak indien ’n gehoorlid dalk nie een van die tale magtig is nie. Maar dit is juis hierdie spanning wat ons wil ondersoek. Want soos die karakters ook leer: Ten spyte van ons verskille, siyafana ngaphezu’kobucinga (is ons meer eenders as wat ons dink).
Lees ook:
Windroos by die Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met komponis Kristi Boonzaaier
Toyota US Woordfees 2023: Stars – Iinkwenkwezi – Sterre-kinderteater, ’n onderhoud met Amelda Brand
Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud oor Spierwit blues en Hennie Aucamp se dagboeke
Die EasyEquities-skrywersfees by Toyota US Woordfees 2023: ’n onderhoud met Elmari Rautenbach