Die aanslag op my brein 

  • 0

Ek was maar 17 jaar oud. Die jaar 1972 was ’n flop. Moes ’n hoogtepunt gewees het: matriek, lid van die leerlingraad, onderskeiding in ’n paar vakke, ’n belangrike haan onder die henne.

Maar toe die verskuiwing, die tragiese val – depressie, geestelike verlatenheid, onvermoë om te “cope”. Ek is uit die skool en na ’n inrigting toe vir die hele winter. Ek is so laat September ontslaan en my pa kon my toestand nie hanteer nie. So stuur hy my Port Elizabeth toe na my oom en tante toe. Daar kon ek darem lekker eet en slaap so lank ek wou (toe al 15 uur ’n dag).

My oom het aangegaan oor ’n wonderdokter, ’n neurochirurg wat homself mr Marius Jordaan noem. In Engeland word jy “mister” genoem, net as jy ’n uitsonderlike chirurg is. Hierdie dokter was bekend vir sy neurosnykunde – dit is om psigiese probleme met die mes reg te stel.

Ek moes opsluit die dokter gaan sien. My oom het ’n afspraak gemaak en my na mr Jordaan se spreekkamer geneem waar ons lank moes wag. Teen die mure was daar afbeeldings van die brein en selfs foto’s wat wys wat die dokter doen – altyd met ’n skalpel in die hande. Dit was afgryslik en ek het gegril.

Die dokter was ook afgryslik. Hy het nie belanggestel in my psigiese kondisie of simptome nie. Net vertel van sy wonderlike operasie wat emosies glo stabiliseer – net twee snytjies op die regter temporale lob. Altyd ’n sukses en hy het Vrydag ’n opening vir die operasie ...

Ek het gesê ons sal terugkom en so vinnig as moontlik die spreekkamer verlaat. My oom het ook begin skepties raak. Die hele storie was barbaars, makaber.

In 1941 skryf Waldemar Kaempffert in “Turning the Mind Inside Out”, Saturday Evening Post: “Psychosurgery is cutting into the brain to form new patterns and rid a patient of delusions, obsessions, nervous tensions and the like.” Mr Jordaan wou dit aan my temporale lob doen, die deel van die brein wat te doen het met geheue en emosie. Só ’n prosedure lei tot afstomping van ’n persoon se emosie, geen intensiteite of uiterstes word meer ervaar nie.

Wat as ek die operasie laat doen het? Sou ek JH Leopold se verlange kon verstaan:

Om mijn oud woonhuis peppels staan
  “mijn lief, mijn lief, o waar gebleven”
een smalle laan
van natte blaren, het vallen komt.

Er woont er een voorovergebogen
  “mijn lief, mijn lief, o waar gebleven”
met leege oogen
en die zijn vrede en rust niet vindt.

Of die koestering van A Roland Holst:

Laten wij zacht zijn voor elkander, kind –
want, o de maatlooze verlatenheden,
die over onze moegezworven leden
onder de sterren waaie’ in de oude wind.

Die nostalgie van NP Van Wyk Louw:

Jy't weggegaan en jy bewoon
’n silwer herberg in die sneeu
jou venster kyk nog elke nag
met drie blink oë na die plein
die plein is boom en wind en boom
en wind en wind
en wintermiddag voer daar iemand
die meeue krummels teen die wind.

“Every patient probably loses something by this operation, some spontaneity, some sparkle, some flavor of the personality” (Freeman and Watts).

Sou ek nog die woema gehad het om die passie in Hooglied te waardeer?

Hy:     Ek kom na my tuin,
               my suster, my bruid.
           Ek pluk my mirre met my speserye,
           ek eet my heuningkoek
               met my heuning
           ek drink my wyn met my melk.

Koor:  Eet, vriende!
            Drink, en word van liefde dronk!

Ek dink nie so nie. Ek is bly die aanslag op my brein was ’n mislukking.

Lees ook

Die groep

Katrien

Adéle

Alex

Die sonde van die kinders

Winter van 1972

Dit is nie paartyd nie

'n Vrugtekoek by die huweliksherdenking

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top