Die groep

  • 0

My dokter (lees “psigiater”) het so rondom 1978 studente met probleme by die Universiteit se Gesondheidsdienste individueel begin sien. Hy het dan ook elke Donderdagaand ná die kliniek agtergebly en ʼn groepsessie by die Ou Sanatorium regoor Stellenbosch Boerewynmakery gelei. Dit het van 19:00 tot 21:00 geduur en nogal ʼn hap uit jou aand gevat.

ʼn “Groep” is die teenoorgestelde van wat ʼn “individu” is. Miskien is dit wanneer individue bymekaar kom en gesels. Dit laat my dink aan die woord “saalrondte” in ʼn psigiatriese hospitaal, waar die dokters en studente nie die pasiënt afsonderlik besoek nie, maar in ʼn groot saal sit en die pasiënte inroep om met hulle te praat. Dit was vir my wreed dat mense so kaal uitgetrek word voor voornemende dokters, sielkundiges, dieetkundiges, arbeidsterapeute en verpleegsters, soms tot 70 van hulle op een slag. Vir die een of ander rede is ek genadiglik nooit vir ʼn saalrondte ontbied nie.

Die Stellenbosch-groep het bestaan uit ʼn paar studente met emosionele probleme. Dit is so dat psigiese druk daartoe lei dat mense hulself onttrek en die groep was ʼn metode om hulle weer oop te maak en met ander te kan deel. Ek was die langste onder my dokter se behandeling en is daarom as die leier van die groep beskou. Ander lede van die groep wat ek nog kan onthou, was Henri, Alex, Elma en Marjon.

Henri was ʼn grapjas, hoewel hy al verskeie kere probeer het om homself te dood. Glo ʼn liefdesteleurstelling. ʼn Mens sou dit nie kon vermoed het nie. Hy het altyd pakke lekkergoed saamgebring vir die groeplede om te verslind. My oë was net gefokus op die pakkie gemengde drop en kort voor lank was dit op. Henri het amper nooit oor homself gepraat nie, maar tog het hy elke Donderdag gekom, altyd netjies met ʼn das en soms ʼn baadjie.

Alex het aan skisofrenie gely. Hy het baie gelag, maar nie juis sin gepraat nie. In dié tyd het hy van die vierde verdieping van Lavanda afgespring. Niks oorgekom nie, behalwe ʼn gebreekte arm. My dokter het eendag apart vir my gesê dat Alex nooit sal regkom nie – te erg beskadig. Ek het hom nogal kwalik geneem. Maar dalk was hy reg. Alex het nooit ʼn meisie gehad nie. Heelwat jare later het Alex, so word beweer, in die see by Hermanus ingeloop het en daar verdrink. Ek het nooit die storie geglo nie.

Elma het graag ʼn mus gedra. Sy het ʼn onskuldige jong gesig gehad met groot blou oë. Sy was skrikwekkend naïef en wêreldvreemd. Sy was vroeër saam met my in die hospitaal. Sy het baie aandag van ene Charles gekry en werklikwaar, hy het nogal baie na Charles Manson gelyk. Hy was ook baie godsdienstig. Hulle het baie saamgebid en dan het hy sommer haar klere uitgetrek en haar laat verstaan dat dit God se wil is dat hulle seks het. Hy het haar die bruid van Christus genoem. Sy het vir ʼn ruk saamgespeel totdat hy gewelddadig begin raak het. Hy het haar blykbaar geklap, gekneus en gebyt. Sy kon wegkom, maar haar psige het nog ʼn verdere knak gekry. Sy is nooit getroud nie. Charles is glo later toegang tot alle staatshospitale vir Psigiatrie in Suid-Afrika verbied.

Marjon was ʼn baie maer en lang Hollandse meisie wat in die Wetenskappe gestudeer het. Sy het ʼn ernstige dieetsiekte gehad. Sy het die massa van kos wat sy ingeneem het, vergelyk met die massa wat sy geëlimineer het. Die aftreksom was altyd negatief en dit het haar in so ʼn paniek gesit dat sy epileptiese aanvalle gekry het.

Ek het omgegee vir haar, miskien omdat sy Hollands was en ek ʼn paar jaar tevore op ʼn Hollandse meisie verlief was. Ek nooi haar toe vir fliek en sy willig in. Om uit te gaan eet, sou dalk ʼn katastrofe wees, het ek gedink. Die fliek was egter OK.

Toe ons by haar huis kom, het sy vir ons Milo gemaak. Terwyl ons dit drink, het sy styf langs my kom sit. Ek het begin warm word en toe haar sommer, sonder om na te dink, begin omhels en soen. Sy het versigtig reageer, in elk geval nie afkeurend nie. My hande het na haar borsies beweeg. Dit het gelyk of sy dit geniet het. Onverwags het sy my hand gevat en tussen haar bene gesit.  Ek het op daardie stadium nog nie veel van vrouedinge geweet nie, maar tog die voeg begin streel. Na ʼn minuut of so het sy al harder en vinniger begin asemhaal. Dit het later in kermgeluidjies oorgegaan. Die volgende oomblik het sy begin ruk. Kort daarna was sy uit soos ʼn kers.

Ek het groot geskrik: dalk het sy ʼn epileptiese aanval gehad!  Ek het die slapende meisie gemaklik op die bank gemaak en met ʼn kombers toegemaak. Tog het iets my laat vermoed: dit was sonder twyfel meer aangenaam as ʼn aanval. Maar ek het my karsleutel gegryp en huis toe gejaag.   

Later sou ek Marjon weer op die kampus raakloop. Ons het nooit oor die aand gepraat nie, maar elke keer as sy so skuinsweg na my kyk, was daar ʼn skalks glimlag in haar oë.

Lees ook:

Katrien

Adéle

Alex

Die sonde van die kinders

Winter van 1972

Dit is nie paartyd nie

'n Vrugtekoek by die huweliksherdenking

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top