'n Vrugtekoek by die huweliksherdenking

  • 2

Foto: bbcgoodfood.org

Twee jaar voor hul 50ste huweliksherdenking het my ma al haar koek beplan. Daar sou twee feesgeleenthede wees: een in die Strand waar hulle bly en ‘n ander in die noorde waar hulle nog baie vriende gehad het. Die viering in Pretoria sou op hul troudag, 9 September, val en die een in die suide ‘n week later. Op daardie stadium het ons in Pretoria gebly.

Die koek, ‘n tradisionele vrugtekoek, is gebak deur Meraaitjie, die bobaasbakster van Pretoria. Groot en vierkantig, relatief eenvoudig versier met ‘n groot 50 bo-op. Net een laag.

*

Ons het met die laat vlug na Kaapstad gevlieg. Air Phoenix. Met die wag op die aanloopbaan spot ons nog oor die naam Phoenix, wat verwys na ‘n voël wat in vlamme verbrand en sterf – en weer uit die asse hergebore word. Met die opstyg by OR Tambo is ons gewaarsku dat dit ‘n rowwe vlug gaan wees. ‘n Kaap van storms wag ons in. Klaarblyklik het SAL se vlug reeds omgedraai. Ons sou egter die noodlot aan sy baard gaan trek.

My ma se koek is saam. Veilig verpak in die ruimte bo ons koppe.

Van so 15 minute af voor die beplande landing in Kaapstad het dit gevoel of Air Phoenix gaan val of uitbrand. Buite was daar reën, mis en wind en binne ‘n abnormale geraas en paniek. Die voël gaan heen in vlamme en ons word as, het ons almal gedink. En óns asse gaan nie weer opstaan nie.

Na wat soos ure gevoel het, kondig die bemanning aan ons gaan land. Af, af, meer geraas, meer skud, meer gille. Die gevoel van dat die wiele die grond soek, word sterk, maar nee, skielik versnel die Phoenix met ‘n helse geraas en bewerasie en ons gaan weer op, met moeite teen die prikkels in. Die wind se rigting het glo verander. Ons kom nou in van Valsbaai se kant af. Toe Phoenix uiteindelik sy enjins afskakel en ons natgesweet en lam begin beweeg, kyk ek in die ruimte bo my. Die koek is nog reg.

My broer sou ons op die lughawe kom haal en ons sou by sy huis in Clifton oorslaap. Selfs al het Phoenix se asembenemende manewales baie tyd in die lug opgesluk, is daar geen broer te siene nie. Dit was tipies van hom om nooit betyds te wees nie. Op daardie oomblik is hierdie karaktertrek nie juis waardeer nie.

Nadat ons – ek, vrou, oudste seun en jongste seun – vir ‘n ruk op die lughawe rondgekarring en byna al in ‘n taxi geklim het, daag my broer daar op, nonchalant met Elmarie aan sy arm. ‘n Boeremeisie, lenig en mooi, met ‘n gawe persoonlikheid. Hulle het glo ‘n bietjie ingedut, daarom so laat.

Met die inklim in sy BMW het ons geweet hier is nog ‘n Phoenix-ervaring op pad. Daar was sekerlik ‘n verband tussen sy verbruik van alkohol en die beweerde “indut”. Nodeloos om te sê, die rit Clifton toe was ook ‘n nagmerrie. Jongste seun het voor by Elmarie gesit en dit het gevoel of my broer teen elke boom in die gebied van Kloofnek skuur in sy waansinnige jaagtog teen die heuwel op en af.

Toe ons uitklim by die huis, bied my broer aan om vir ons styk te braai. Hy wou saam met ons die sukses van sy hartoperasie vier: “Ek is weer my ou self!” Ons het vriendelik nee gesê en gaan slaap.

*

My pa was ‘n dominee en baie bang vir slegte sedes. My broer was nuuskierig en ‘n rebel. My pa het my broer in die hoofstraat in die gesig geklap toe hy in standerd 9 was omdat hy ‘n Mark Condor-boekie gekoop het en gesê het hy sien niks verkeerd daarmee nie.

Later sou my broer baie uitrafel en my pa verpes. Eintlik het hulle mekaar verpes. Tog was die band baie sterk tussen hulle. Die binding het dalk op ‘n ander vlak as liefde gelê.

Dinge het baie erg geword. My broer het al meer begin drink en by al meer ander vrouens betrokke geword. Sy vrou en drie dogters het baie swaargekry. My pa het nie ‘n geleentheid ontsien om te preek en te pleit nie, maar tevergeefs. Dit was ‘n stryd van die wil, die een koppiger as die ander. My pa moes my broer talle kere uit geldelike moeilikheid help, met die onderskeidelike voorwaarde en belofte tot “bekering uit die sondes”. Uiteindelik het my broer geskei, weer getrou, en na ses maande was die tweede huwelik ook op die rotse. ‘n Derde poging tot ‘n verbintenis sou later volg. My ma se bitter kommentaar hierop was: “Ek moes nooit kinders gehad het nie. Hulle bring net pyn en verwyt.”

Toe kom die groot operasie, vyf dubbele hartomleidings. En daarmee saam die viering van die 50ste huweliksherdenking in Pretoria. Die koek was al reg en het in ons huis gewag. My pa besluit toe dat hy my broer moet bystaan. Hierdie operasie is die dramatiese keerpunt. My broer sal net moet verander. Hy sal weer in die weg van sy voorvaders volg en hom begin gedra. My pa sal net langs die bed wees en sy kwesbare wil korrek buig.

*

My ma se koek is toe nie in Pretoria opgesny nie. Alle reëlings vir die fees is gekanselleer. Ons sit toe met die koek en besluit om dit saam te bring Kaap toe en vir my ma te kom gee. Dit was nou al in die Desembervakansie, byna vier maande na die herdenkingsdatum. Die feestelikheid wat toe wel in die Strand plaasgevind het, was glo ‘n mislukking. My ma het blykbaar min gepraat. Glo soms gemompel: “Alles sy skuld.”

Toe ons in Clifton opstaan, is daar ene Katja aan my broer se sy. Geen spoor van Elmarie nie. Na ‘n reuse-ontbyt leen ons my broer se ander motor en ry Strand toe om die koek te oorhandig. My ma het geen notisie van die koek geneem nie. Toe ons ‘n stukkie koek afsny en vir haar gee, het sy die bordjie net langs haar stoel neergesit. Later, en dwarsdeur die res van ons vakansie, het my pa probeer om haar van die koek te voer. Op 16 Desember protesteer sy: “Jy het my droom weggevat. Ek sal nie daarvan eet nie.” Sy vat toe die stuk koek wat hy vir haar gegee het en druk dit stukkend in haar hande, sodat die korrels koek deur haar hande sprei en op die mat val. Die wit versiering was soos vuil sneeu op die mat.

Later die dag het ek die res van my ma se koek gevat en op my eie in die see gaan verfrommel. Die stukkies koek het ‘n ruk bo gedryf en toe weggespoel.

Lees ook 

Moord hier naby

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top