Breyten se gedig en die skoolklok

  • 2

Breyten Breytenbach is oorlede op Saterdag 23 November 2024. Dis die dag wat mens vrees, maar nie dink kan gebeur nie. Vandag sit ek in my eie groen trui.

Ek dink ek het die groen trui gehad lank voordat ek die essens van Breyten Breytenbach geken het. Wanneer het ek dan besef hoe ’n reus “die man met die groen trui” was? Dis die tragiek van oudword voordat jy alles neergepen het wat jy wou. Want jy vergeet van helder onthou. My brein is egter dalk nou meer gereed vir ’n volwasse bestekopname van Breytenbach. Sodat ek die vraag kan vra: Hoe moes hy onreg verduur en verdra? Hoe moes die geniale woordsmid omgaan met die alledaagse?

Met sowat van ’n naam moes hy iets spesiaals wees. Weet ouers wat hulle vir hul kinders berei as hulle aan die kind ’n naam gee? Joel Stransky. Lee Barnard. Naas. As Breyten so geniaal abstraksies en prentjies en sintuie en beelde en kleure en teksture in dimensies kon bymekaargooi; konstrukte om die leser se totale wese te verruk met die besef dat jy nie weet wat jy lees, voordat jy dit nie voel en proe en beleef nie. Hoeveel te meer moes hy nie die juk van onreg ervaar en verwerp het nie om as tragiese spioen ontmasker te word en sewe jaar in ’n tronk te sit.

Sy broer Jan het wapens opgeneem. Op die hoogste vlak. Cloete, die ander broer, het weer mooi en lelik in swart en wit verewig. Deur ’n lens.

Het hulle maar geweet hoe elkeen se produk by Jan Alleman sou aanklank vind, en hoeveel hulle drie broers inderwaarheid ooreenstem, het hulle dalk meer harmonie gehad. Het hulle dalk lekker ’n glasie geklink op hul eenselwigheid en gegrinnik oor hoe die mensdom dan enigsins anders as hulle drie kon dink.

Die eerste keer toe ek bewus geword het dat ek op universiteit ’n groen trui gedra het, was toe iemand uit my verre verlede seker ’n dekade na universiteit dit vir my gesê het. “Jy het altyd daai groen trui aangehad.” Daai dag eers het my gedagtes ook eers begin vra hoekom ek my groen trui so gereeld gedra het? Okay, behalwe omdat my ma dit vir my gebrei het.

Vandag stoei ek weer met: Het ek skoletoneelwerk gedoen voordat ek universiteit toe was? Hoekom voel dit dan vir my of ek ’n arm kind was toe ek vir Truk en Kruik skoletoneelwerk gedoen het? Ek het tog nie vóór universiteit van Breyten Breytenbach te hore gekom nie? Of was dit gedurende universiteit?

Tydens skoletoneelprojekte by Kruik was ek definitief reeds bewus van hom. Dit weet ek. Want ek onthou hoe ons by Wellington se Hugenote-hoërskool opgedaag het, en hoe ek, terwyl die toerleier, Edward Turner, na die hoof toe is met sy stapel admin, reguit saal toe is om te kyk waar Breyten Breytenbach se naam as hoofseun teen die mure pryk. Oftewel, ek het excitedly gaan kyk óf sy naam daar pryk. Want in die vorige bedeling was hy nie die flavour van die eng regering nie. En hulle sin vir humor was nie baie gevorderd nie. Dis waar brandewyn in die prentjie kom. Dit sou my min verbaas as Breyten se naam nie op sy ereplek was nie.

Ongeag of hy hoofseun was – die apartheidsregering het hom tronk toe gestuur. “Die man met die groen trui” was sewe jaar in die tronk!

Eers jare later het ek ’n boek gelees oor sy spioenasiepoging. Ek moet sê: Die boek was nogal skadelik vir die jong denke. Die feite het nogal skade aangerig aan my agting vir Breyten. Darem net tydelik. Hy was oënskynlik ’n verspotte spioen en sy projek was lomp en wankelrig van die begin af. Die man sonder die groen trui was nie spioenasiemateriaal nie. Hy is verspot maklik met sy snor en pruik, of wat ook al, deur die veiligheidspolisie gemonitor en in hegtenis geneem.

Die doel heilig toe nie die middele nie. Die ou bietjie potsierlike gemeenskapsspioenasiediens namens die ANC was regtig nie die jare in die tronk werd nie. Sy volksheldbroer Jan was duidelik ook nie beïndruk nie. Maar dit was die attitude wat saak maak. En Breyten het Breytenbach-bloed. En my respek vir hom was nie lank ingeduik nie.

Sy naam wás toe daar teen die vereringsmuur by die skool.

Dalk was ek so nuuskierig met ’n dubbele motivering. In een of ander van vele skoleproduksies waarin ek was, is ’n Breyten-gedig opgeneem. Vandag lyk die woorde dalk onskuldig. Maar in 1988 nie so onskuldig nie. En dalk was dit net hier waar my heldeverering van Breyten posgevat het. En die dag speel ons, Breyten- gewaagde gedig ingesluit, by die skool waar hy hoofseun was.

As ek reg onthou, was die samesteller/regisseur van die Kruik-program Sandra Temmingh.

En het die gedig impak gemaak, hoor!

Op toer met Kruik

Skoletoneel was ’n instelling in die 70’s en 80’s. Dis waar ek as skoolkind Marthinus Basson die eerste keer sien speel het. Ons groepie het moontlik ook Gretha Brazelle en Illse Roos ingesluit. Optredes was byvoorbeeld 09:00 by ’n skool, daar is tyd ingeruim vir vrae, dan eet ons ’n paar tertjies en drink koffie en ry na die volgende skool toe. Ons sou daar optree teen 12:00 se kant. Soms was die reis verder en die optreetyd later. Maar moenie mors met skoolkinders se huistoegaantyd nie. Twee-uur lui die skoolklok en dan wag motors en middagetes en sportoefeninge en klavier. En die leerders is lankal naaf vir die skooldag.

Eendag speel ons die tweede show by ’n dorp soos Riviersonderend. Ons kom agter ons sal net-net klaarmaak, dan gaan die skoolklok lui en dan is dit chaos.

Die dag se vraetyd word opgeneem deur ’n weerbarstige leerder wat vra: “Hoekom moet ons na so ’n show kyk as ek nie eens Afrikaans of digkuns gaan studeer nie?” Edward reageer baie slim deur te verduidelik hoe leerders nog in die toekoms sal besef wat dit werd is. Jy gaan leer om taal te interpreteer, jou kitsbank te verstaan as jy geld trek, en dies meer. Ek was regtig beïndruk met Edward se hantering hiervan. Die klok gaan nou-nou lui. En skielik neem die sessie ’n wending. Asof in respons op sinnelose antagonisme, skiet ’n leerlingraadtipe-meisie se hand op: “Kan julle asseblief daai gedig weer opsê?”

“Gedig weer opsê?” eggo Edward. Dis ’n volksvreemde versoek. Die tyd is verstreke. Wat’s die kanse? Watter gedig? Sy kan nie lekker haar vinger op die inhoud lê nie. Almal vis rond vir watter van die armsvol gedigte sy na verwys. Sy gee ’n sleutelwoord en ons besef dis die Breytenbach.

“Maar die klok gaan nou-nou lui,” stuur Edward die gebeure in ’n verstandige rigting.

“Ons gee nie om nie. Ons wil dit graag hoor,” sê ’n ander dogter.

Edward moet die ding nou bestuur. “Julle gaan wil opspring en hardloop die oomblik as die klok lui.”

“Ons sal nie,” antwoord nog leerders.

“Julle sal moet stem,” stribbel Edward teë.

Hulle maak so. ’n Oorgrote meerderheid stem vir bly sit wanneer die skool uitkom.

Edward knik vir my.

“Swart stad?” vra ek onseker.

Bevestiging.

Ons haal gedweë en in ongeloof skouers op. Breytenbach is dit dan.

Die swart stad
Breyten Breytenbach

weer jou veral teen die bitterheid, swart kind,
dit, en dat jy nie mag droom nie;
sorg dat jy nie verstik in rooi oë – gevis in slopemmer,
dat jou liggaam nie dik en galsterig word van die gal
wat pal deur jou fosfor-are gaan stoot
(tussen lyf en lyk dryf maar net twee letters sonder o);
knip en kam liewer gereeld jou papajaboom
en onthou die wolke tree op ook vir jou
en rotte eet vullis

ek wil onthou van ’n swart stad, swart kind
waar ook jy aan die somber lig swel;
seemeeue dans soos rooi ballonne bo die strand,
jy kan ook lag en ook uitbundig,
ook die water streel en dorpe sand bou
ook op en af hardloop langs honderde grappe

waak veral teen die slymerige swart papaja
van bitterheid, swart kind –
hy wat daarvan eet sterf op bajonette
en in biblioteke,
sterf alleen in die mond

kyk, oor die see gaan die son gebore word
en die son het ’n regterhand en ’n linkerhand
en hy sal bruin wees,
so warm en so bruin soos die kieliekele van hane

(Lourenço Marques)

Iewers tussenin lui die skoolklok. Niemand roer nie. Breyten rules.

Sedertdien het ek altyd hierdie gedig gekies as iemand my gevra het om my gunsteling-gedig(te) te lees.

Gedurende die jare begin Breytenbach accessible raak. Waar hy sedert sy tronkdae ’n oorsese enigma was, staan hy die regte aan ’n ou skooltjom van my, Hoffie Scholtz, toe om ’n onderhoud met hom op te neem. Ek werk in televisie. Hulle wys vir ons by die kanaal die program. Die idee is dat ons dit soort van as “kanaal” moet goedkeur. Sommige gesoute televisiemense protesteer. Om te protesteer teen sy “kommunisme” sou toe al outyds wees. So protes is kwansuis op tegniese terrein. “Jy sien die ander kamera. Jy sien die kabels. Jy sien die ligte,” gaan ’n paar stemme op. Die oorgrote meerderheid het dalk die grootsheid van die oomblik gesnap. Die program is aanvaar en uitgesaai.

Ek was nog op die brandtrappe besig om een van die protesteerders te woord te staan – met ’n passievolle lofsang aan Hoffie se eie genialiteit, natuurlik teenoor haar eie behoudendheid, maar sonder om dit te sê, toe Hoffie, vir wie ek eeue laas gesien het, op die vurige gesprek afkom. Dit was sekerlik komies hoe ek en sy skielik die onderwerp op sy kop draai.

Maar dit wil my al voorkom of my eerste ontmoeting met Breyten se materiaal gedurende die Sandra Temmingh-skoleprogram was.

*

Terwyl ek in Johannesburg werk, ontstaan die KKNK. Marthinus Basson voer Breyten Breytenbach-stukke op wat ek nooit sien nie. Iewers het iemand ’n veer in die hol. In my poging om nie meer as akteur te werk nie, gee ek pad uit Johannesburg uit en beland in die Kaap. My graad is daai dae nie ’n vrypas na ’n onderwyspos of ’n pos by die dierebeskermingsvereniging nie. Gelukkig vra Marthinus Basson of ek in sy volgende Breyten Breytenbach-stuk, Die toneelstuk, sal speel. Ek aanvaar en ons werk. Daar is honderde stories te vertelle – wat Chris Baatjies insluit. Byvoorbeeld met die pop. Daar sou ’n pop – die grootte van ’n mens – in die produksie wees. Toe die regisseur daarteen besluit, swerf die pop in die agtergrond rond vir dae. Toe ons speelvak by die ou Nico Malan-teater aanbreek, vind Chris Baatjies, legendariese teatertegnikus, ’n gebruik vir haar. Hy het haar saans roteer en in almal se kleedkamers neergeplonk; om jou so vrek skrik te maak as jy die lig aansit na afloop van die optrede – mens hoor elke aand bloedstollende gille van orals af kom. Dan weet jy waar Chris se pop is.

’n Afgetrede onderwyser – wat soos Breyten sy eie lewe moeilik gemaak het omdat hy menslikheid verstaan het en teen apartheid was – ene Nic Deetlefs, is aangetroude familie en woon die openingsaand by. Sy grootste droom is om Breyten te ontmoet. Ek het Nic gevra om saam te stap, reguit op Breyten, wat alleen was, afgepyl en hulle voorgestel. Dit was my grootste voorreg om hulle beide in die pekel te los, omdat ek geweet het hulle sou hulself uit die warm water kon swem. Ek het geweet hulle sal die wêreld aan die brand praat. Nic was Breyten-geletterd.

Ek het myself net genoeg tyd gegee om vir Breyten te vertel dat hy Nic se grootste held is, voordat ek my uit die voete gemaak het om elders kattekwaad aan te vang. Wat ek loop aanvang het, is ’n ander geheim.

Onlangs lees ek ’n paar boeke oor ons land se recces. Dit stem my in vervoering. Jan Breytenbach is die soort mens wat die wêreld behoort te vereer. Sulke mense verdien die Nobelprys. Hordes flieks en dokumentêre moes al oor hom gemaak geword het. Hoe een mens so ’n visionêr en ’n held kan wees, gaan my verstand te bowe en vervul my met heldeaanbidding. Die een storie in een van die boeke is hoe ’n paar recces op die battlefield gestrand geraak het – in lewensgevaar – en die volgende oomblik kom Jan met ’n Jeep-karretjie op die slagveld aangejaag en raas en soek sy manne. Dis soos om kaalvoet maan toe te stap. En dit reg te kry. Dis soos om skoleteater te doen en ryk te word.

Presidentsverering is te min vir Jan Breytenbach. Enige verering is te min. Woorde skiet tekort. Verering skiet tekort. Internasionale verering is hartverskeurend nergens.

Om van Cloete nie te praat nie. Ek het al gesê ek is net effe in die verkeerde tyd gebore. As ek bietjie ouer was, was ek dalk tjomme met Merwe Scholtz en Cloete, en Martie Meiring. Eendag ontmoet ek toevallig John Miles op Lutzville oor wyn en kos. Ons het sy werk op universiteit behandel. Nou die dag nog het ek sy Op ’n dag ’n hond gelees. Hy vertel die dag, oor wyn, hy skuld Cloete ’n kuier en hy dink ek sal Cloete selfs meer geniet as hyself. Hy seg die dag hy dink Cloete en ek sal ook een van Cloete se mikpunte deel, wat hyself nie soveel erg aan het nie – meer wyn. Maar, soos baie dinge waaroor mens later spyt is – die kuier het nie gebeur nie.

En op ’n dag ... is Cloete weg. En toe Jan. En nou Breyten. Iewers langs die pad Nic.

Ten minste het ons die Breytenbachsentrum. Applous vir die visionêr wat dít dekades gelede bewerkstellig het. Sodat ons darem ’n effense gevoel kan kry vir die “bokser dokter boer ’n kaptein en ’n held ’n indoena tussen grysaards ...” – en Breyten se ma.

Iewers is ’n Breytenbach-broer en -suster wat die media vryspring. Julle verteenwoordig nou grootsheid; weet dit net.

*

O, en ek dink ek weet hoekom ek onseker was of ek eers op universiteit was of eers skolewerk vir die streeksrade gedoen het. Omdat ek na my studie eers moes leer hoe om myself arm te werk. Dis ook hoekom ek vandag nog my ma se groen truitjie het – en dra. Maar dis onbelangrik. Wat saak maak, is die plattelandse leerder wat deur die skoolklok bly sit om te luister na Breyten se gedig oor mense en hul regte. Deur al sy beelde en parallelle en droombeelde en abstraksies het Breyten seker eintlik net een einddoel in die visier gehad: ’n wêreld waarin ons almal leer om nice te wees met die mense saam met ons, en die mense na ons – hier.

Lees ook:

Om Breyten te begrawe

Herinneringe aan my oom Breyten

My kennismaking met Breyten Breytenbach, die maer man met die groen trui

Breyten Breytenbach: die buitelyn van verlies

Breyten Breytenbach – aanhou beweeg en geraas maak ...

Altyd Breyten, die man met die groen trui

Gesprekskuns: Breytenbach se blywende, lewende nalatenskap

  • 2

Kommentaar

  • En ook Hoffie leef nie meer nie. Ons was almal saam per geleentheid in Kleinmond, ek dink in 1979, toe ek matriek in Hugenote Hoërskool Wellington was. Hoop ek kan jou nog eendag weer sien, Albert.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top