
Regskundige Albert Blake en Evert Kleynhans onderhoudend aan die gesels op die verhoog van die ATKV-Bôrdinghuisteater by die Breytenbach Sentrum op Wellington. Hulle was gaste van die Breytenbach Boekklub. (Foto: Engela Duvenage)
Jopie Fourie: ’n besinning
Albert Blake
Protea Boekhuis
ISBN 978-1-4853-1531-5
Prokureur en geskiedkundige Albert Blake het met Evert Kleynhans van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Krygskunde gesels oor sy boek Jopie Fourie: ’n besinning by die Breytenbach Boekklub van die Breytenbach Sentrum op Wellington.
Hier volg ’n uittreksel uit die gesprek van meer as ’n uur. Die teks is deur Engela Duvenage geredigeer vir leesbaarheid.
EK: Hierdie is reeds jou 9de boek. Hoe het jy besluit om spesifiek oor Jopie Fourie te skryf?
AB: Ek het vir vier Afrikaanssprekendes van Pretoria, almal met spesialisgrade, gevra wie Jopie Fourie is. Hulle het nie geweet nie. Ek wou die boek skryf omdat hierdie tragiese geskiedkundige gebeurtenis verlore gegaan het vir wat nou eintlik die tweede geslag is.
Daarby het iemand op LitNet, as kommentaar op ’n resensie van die boek, geskryf die onderwerp is al “voos”, en ’n redelike bekende letterkundige het, ook op LitNet, gevra waarom nog ’n boek oor hom. Ek sien gevaartekens in daardie tipe antwoorde. Die gevolge van sy teregstelling in 1914 het ingrypende betekenis gehad vir die geskiedenis. As ons nie die verlede reg verstaan nie, gaan ons nie weet waar ons is vandag nie. Net so, as jy die ANC wil verstaan, moet jy sy geskiedenis ken. Jy moet meer as 100 jaar teruggaan.
Die meerderheid Suid-Afrikaners sal nie weet wie Jopie Fourie is nie. Daar is ook mense wat die omstrede gebeure onder die mat inskuif en vra waarom ons in 2024, in ’n land vol probleme, moet terug delf in die verlede. Ek wou verduidelik waarom, 11 dekades later, daar nog soveel emosionele wroegings, beskuldigings, vyandigheid en venyn tussen faksies is. Op sosiale media sien een groep hom as ’n verfoeilike landsverraaier en ’n ander hom as ’n Boereheld wat homself opgeoffer het vir Afrikanervryheid. Mense se menings oor hom bly gewoonlik by dit wat hulle by hul pa’s of oupas gehoor het, sonder dat hulle daadwerklik self die waarheid in die argiewe gaan probeer soek het.
Daar is nog nooit werklik wetenskaplike navorsing hieroor gedoen nie. Die enigste werklike boek wat mens ’n soort biografie kan noem, het in 1915 verskyn, deur drie outeurs wat die nag voor sy teregstelling saam met hom deurgebring het. Ek wil nie voorgee dat my boek die begin en einde is nie, maar ek wou die Jopie Fourie-geval oopskryf. Geskiedenis is daar om altyd deur elke geslag oor besin en weer herskryf te word.
EK: Die navorsingsproses kon nie maklik gewees het nie. Watter bronne moes jy raadpleeg?
AB: Ek het sekondêre bronne geraadpleeg en is daarna argiewe toe om dokumente af te neem en tuis te werk. In Pretoria was ek by die argiewe van onder meer die Hervormde Kerk en die weermag. Ek was by die Johannesburgse Museum s’n, by die Vrystaat-argief en die Ossewabrandwag s’n in Bloemfontein, om enkeles te noem.
’n Argief is vir my ’n beklemmende plek, maar het ook sy beloning. Ek het op ’n lêer met regeringsdokumente afgekom oor die teregstelling se nagevolge. Ek is doodseker dat ek die eerste was om ’n lêer en ’n koevert met geroeste spelde sedert 1914/1915 oop te maak. Ek is nie meer die fiksste man nie, maar wou flikvlakke maak van blydskap oor die vonds.
’n Ander geluk is die dagboek van Fourie se weduwee, wat ek by ’n kleinkind opgespoor het. Sy het haar lewensverhaal dag vir dag neergeskryf gedurende die Anglo-Boereoorlog en in die konsentrasiekamp. Mens lees daarin haar gevoel en rou smart na haar man tereggestel is. Daar is ’n brief wat sy, lyk my, vir die eerste minister, Louis Botha, geskryf het. In ’n bladsy en ’n half skryf sy haar smart uit in ’n baie klein vrouehandskrif sonder enige punktuasie, punte of kommas.
Ek het ook kontemporêre koerante deurgegaan om die gevoel van die tyd te probeer agterkom. Ek het beroepe gedoen op sy nageslag om elke stukkie van Jopie Fourie te kry, maar daar is steeds baie leemtes.

Esther Kotze, eienaar van The Book Traders-boekwinkel by die Breytenbach Sentrum op Wellington, was onder die gaste wat na Albert Blake (links) en Evert Kleynhans by die Breytenbach Boekklub geluister het. (Foto: Engela Duvenage)
EK: Wat uitstaan in die boek, is die wyse waarop die koerante destyds omtrent sekonde vir sekonde die hoogverraadsaak volg. Ek wil nou die gesprek in ’n ander rigting stuur. Vertel my meer oor hoe Fourie se omgewing en gene dalk hom help vorm het.
AB: Ek dink dikwels dat biografieë nie genoeg psigies-historiese konteks en navorsing gee wat mense se optrede kan help verklaar nie.
Fourie is in 1878 op ’n plaas so 26 km noord van Pretoria oorkant die Magaliesberge gebore waarop sy grootouers ook gebly het. Hy het veral met sy oupa ’n besonderse hegte verhouding gehad. Dié was ’n Bloedrivierveteraan as 16-jarige en het in die Beleg van Congella teen die Britte geveg. By Boomplaas is sy onderkakebeen as’t ware weggeskiet en sy broer sterf. Jopie ken die stories en hoor dat die Britte “die ewigdurende vyand” is. Tydens die eerste Anglo-Boereoorlog sien hy hoe sy pa op kommando gaan. Goud word ontdek en die Britte beset die diamantvelde.
Tydens die Jameson-inval in 1896 word die jonge Jopie twee keer met die wit vlag na Leander Starr Jameson gestuur met voorwaardes rondom onvoorwaardelike oorgawe. Dis eintlik half onverstaanbaar hoekom ’n 16-jarige skoolseun gestuur word, want dis gevaarlik, al kom jy met ’n wit vlag aan. Daar moes iets in hom gewees het om dit te gedoen het.
Ek kon geen bewyse vind dat enige van sy voorouers werklik rebels was nie. Hulle was gewone Afrikaners. Sy oupa was die enigste wat in die raad van president Burgers opgetree het. Fourie self het geen begeerte gehad om in die burgerlike lewe opgang te maak nie. Fourie, ’n vee-inspekteur met ’n karige salaris en boedel van nie meer as 50 pond nie, het ’n versoek in 1910 afgewys om as LPR te staan.
Die Anglo-Boereoorlog van 1899 het egter ’n ingrypende invloed op hom gehad. Sy deelname aan die oorlog was fragmentaries. Mens moet egter versigtig wees om hom net as dapper held voor te hou. Sommige boerekrygers se dagboeke verwys na sy aandeel en hoe hy ’n rapportryer en staatmaker in generaal Piet Joubert se staf was. Hoe hy beseer is na hy van sy perd afgeval het, maar kort daarna weer op kommando was. In een dagboek word hy ’n “redelike roekelose ou” genoem. Hy probeer amper man-alleen ’n hele kolonie Britte in die Oos-Rand terughou. Hy kry ’n naam onder sy medeburgers as vreesloos. My vraagteken is oor wat dapperheid werklik is. In die guerrillatydperk van die oorlog draai Fourie twee keer by die dood om.
Sy vrou, Sannie, was ook in die konsentrasiekamp. Sielkundiges sê dat daar onder baie van die mans ’n gevoel van magteloosheid en skuldgevoelens was oor wat met die vroue en kinders gebeur het. Dis al hierdie dele wat mens saamneem en ’n blywende invloed gehad het. Die oorlog het ongetwyfeld vir Fourie blywende trauma veroorsaak en ’n ernstige litteken op sy gemoed gelaat.
EK: Was verraad binne die Boererepublieke en hul magte tydens die oorlog ’n alombekende verskynsel?
AB: Dis belangrik om net eers te kyk na die verskil tussen hensoppers en joiners. Hensoppers is Boere wat oorgegee het en toe passief gebly het deur nie verder aan die oorlog deel te neem nie. Joiners het by die Britte aangesluit en die wapen teen hul eie mense opgeneem. In my eerste boek Boereverraaiers (2010) skryf ek hoedat dit ’n geweldige ding was by die Bittereinders wat voortgeveg het, en ook by bona fide krygsgevangenes as iemand hul rug gekeer het op hul eie volksgenote. Etlike is summier tereggestel.
Een van die onthullings wat ek maak, is dat die oupa aan wie Jopie baie geheg was as bejaarde die eed van getrouheid teenoor die Britte gedurende die oorlog afgelê het. Dit maak hom as’t ware ’n joiner. Sy pa het ’n eed van neutraliteit geneem, wat van hom ’n hensopper gemaak het. Fourie was baie geheg aan albei, maar ek kon nie agterkom of dit ’n effek op hom gehad het nie.
Hy was wel ’n baie oortuigde Afrikanernasionalis wat die republikeinse ideaal nagestreef het. Die Afrikaner was egter nog altyd verdeeld. So was die bevelvoerder van die regeringstroepe wat hom gevang het na die geveg van Nooitgedacht, sy bloedneef (sy ma se broer se seun).
EK: In die na-oorlogse jare, onderweg na Uniewording, was Fourie ’n staatsdiensklerk en eintlik ’n aanhanger van Louis Botha en sy Het Volk-party. Vertel ons hoe hy van bakboord na stuurboord gegaan het in terme van sy steun.
AB: Mens moet dit in konteks verstaan. Net na die Anglo-Boereoorlog wou hy emigreer Amerika toe, want hy kon nie die verengelsingsbeleid van veral die Milner-tydperk hanteer nie. Hy was ’n groot taalman. Afrikaans was nog nie ’n amptelike taal nie, maar dit is gepraat.
Ons moet onthou dat Jan Smuts en Louis Botha bittereinders was, en met die stigting van die Het Volk-party in die mid-1900’s het die oorgrote meerderheid Bittereinders hierdie twee ondersteun. ’n Onthulling wat min mense besef, is dat Jopie hoofkiesbeampte van Louis Botha was. Daar is egter algaande ’n duidelike draai met Louis Botha wat in die Britse gewaad verskyn. Die Cullinan-diamant, die grootste in die wêreld, word ontdek. Die Transvaal is nog verwoes na die verskroeide aarde-beleid en daar was nog baie armblankes. Dan word die diamant aan die Britse Ryk geskenk vir die koning om in sy kroon te sit – terwyl die mense swaarkry. Hierdie flankeerdery met die Britse regering begin op Fourie inwerk. Die Anglo-Boereoorlog en die trauma daarvan was net eenvoudig te diep gewortel. Fourie was een van die 100 aanwesiges met Hertzog se toespraak by De Wild, wat eintlik die ontstaan van die Nasionale Party was en sy strewe van “Suid-Afrika eerste”.
Daar gebeur dramatiese dinge in 1914 wat Fourie oor die drumpel stoot om ’n rebel te word. Dit begin eintlik in 1910 toe hy aangeval is tydens ’n kiesvergadering teen wat hy “Engelse Jingoes” genoem het. Percy Fitzpatrick, skrywer van Jock of the Bushveld, het teen Louis Botha gestaan. Op 10 Oktober 1914 was daar ’n herdenking van Paul Kruger se verjaarsdag in die Operahuis in Pretoria, op daardie stadium omtrent die enigste deftige plek om so iets te hou. Dit was ’n baie gewyde byeenkoms, met preke en gebede en dies meer. Die vergadering is deur Engelse lojaliste ontwrig. Jopie met sy kort humeur was voor in die koor om die mense uit te beweeg. Hy’t later die volgende gesê: “Dit het my oor die drumpel laat gaan en my laat besef dat ons kan nie een nasie word met mense wat so optree nie en mense so behandel nie.”
Mens moet onthou dat op daardie stadium daar nog baie mense was wat in die vierkleur toegewikkel was, net soos die Engelssprekendes in die Union Jack toegedraai is en van Engeland as “home” gepraat het. Daai gebeurtenis laat sy kop heeltemal draai en maak van hom ’n rebel.
Tog, 10 dae later het Louis Botha en Jan Smuts gevra om hom te kom sien. Nou, dis merkwaardig. Jopie, ’n gewone vee-inspekteur, word deur die eerste minister en die minister van verdediging gevra om hulle te woord te staan by die Pretoria Klub. Daar moes dus tog baie waarde in Jopie Fourie gewees het. Hierdie noue verbintenis met Botha en Smuts het ons reeds oor gepraat. Hy het reeds vir Smuts in sy staatsprokureursjare voor die Anglo-Boereoorlog in die laat 1890’s geken, toe Fourie by Piet Joubert en sy vrou geloseer het. Na die Uniewording was daar ’n keer wat Smuts van voor op Kerkplein gekom het, sy arm om Jopie geslaan het en hom genooi het vir koffie by die Pretoria Klub. Kan jy jou indink? Die twee wat altyd teenoor mekaar gestel word, hoe naby hulle aan mekaar was?
Jopie het daardie vergadering van 20 Oktober 1914 bygewoon met die premier en die minister van verdediging en hulle uitgeluister. Ek dink die probleem is dat hy nie te kenne gegee het wat sy sentimente was nie. Maar wat hom finaal laat besluit het om rebel te word is toe hulle hom vra om te spioeneer op Beyers. Hy het dit beskou as verraad om teen sy eie mense te draai. En die volgende dag het hy vir sy broer gesê om die perde op te saal en by die rebelle aan te sluit.
EK: Die probleem met Fourie se hoogverraadsaak was dat hy ’n offisier in die aktiewe Unie-verdedigingsmag was. Beyers, Maritz en Kemp het hul kommissies uit die weermag bedank, maar Fourie het nie na hy by die Rebellie aangesluit het nie. Hy was twee maande aktief besig terwyl hy baklei het. Ek het by die argief ’n dokument gekry wat wys dat hy geensins die enigste was wat nie sy kommissie uit die weermag bedank het nie. Hy was egter die een wat die gevolge gedra het.
AB: Dit het sy dood gekos om nie sy kapteinskap uit die Burgermag te bedank nie. Dit was ’n dwase ding. Dit bly vir my onverstaanbaar. Waarskynlik het hy dit nie belangrik geag nie. Ons het die weergawe van sy boesemvriend De Wet wat sê dat Jopie amper nonchalant gesê het dat “as hulle my vang, hulle my in elk geval sal skiet”. Hy gee nie om nie. Hy dra nog in die eerste geveg die Unie-verdedigingsmagte se uniform en haal eers later die kentekens af. Hy’s nooit daarvoor aangekla nie. Dit blyk dat teen die tyd dat hy gevang word, is dit so verslete dat hy in gewone drag geklee was. Die verslaggewers sou verseker in detail gesê het as hy in uniform was.
EK: Vertel meer oor die twee maande wat hy aan die Rebellie deelgeneem het, en hoe dit bymekaargekom het by Nooitgedacht waar hy gevang is?
AB: ’n Klein kommando van sowat 50 man het onder Fourie geveg in die Noord-Transvaal, noord van die Magaliesberg. Dis tans Rustenburg, Brits en Hammanskraal, en daardie dele. Hy het aan 11 gevegte deelgeneem. Die bewering is dat sy kommando die meeste ongevalle aan regeringskant veroorsaak het, maar ek kon dit nie bevestig nie. Hulle was ongetwyfeld die mees aktiewe kommando. Hulle is meestal gejag deur die regeringstroepe. Daar is glo gewaarsku dat frontaanvalle deur die polisie nie gaan werk nie. Ongevalle was baie hoog. Dit het gemoedere geweldig opgestoot en het baie bygedra by die groot gevoel by veral Engelssprekendes in Pretoria dat Fourie die hoogste offer moes maak.
EK: ’n Interessante punt van die Rebellie is dat die verskillende groepe (Beyers, De Wet, Maritz, Fourie) nie eintlik met mekaar gekommunikeer het nie. Dink jy Jopie Fourie en sy kommando het verskillende idees gehad oor hoe suksesvol die Rebellie was?
AB: Ongetwyfeld. Laat ek net dit sê: Die Rebellie was gedoem tot mislukking. As militêre optrede was daar geen koördinasie nie. Daar was geen bewapening van die rebelle nie. Dit was bitter swak. Dat hulle sukses kon behaal, is onmoontlik. Eintlik was dit ’n onverstandige optrede vanuit ’n militêre oogpunt. Daar was baie wat gesê het dit was ’n volksopstand, ’n emosionele uitbarsting wat nie gekeer kon word 12 jaar na die Anglo-Boereoorlog nie. Die inligting wat hulle veral in die Noord-Transvaal gekry het van die ander groepe was verkeerd. Die sensuurraad het dit weerhou en die koerante was so met propaganda gevul dat mens niks kon glo nie. Kort voor Jopie Fourie gevange geneem is by Nooitgedacht, het hulle nog geglo dat die Duitsers met honderde kanonne op pad was. Soos ek sê, dit was ’n volksopstand gedryf deur emosionele oordele wat deur die Anglo-Boereoorlog veroorsaak is.
EK: So kort na Jopie gevange geneem is, is sy broer Hannes, ook ’n offisier in die Burgermag, aangekla van verraad. Hul verhoor het voor ’n veldkrygshof plaasgevind. Kan jy ons ’n bietjie meer van die regsproses vertel en hoe dit afgespeel het?
Die hele vervolging van Jopie Fourie was woer-war. Hy is op Woensdag 16 Desember gevang by Nooitgedacht. Vrydag begin die verhoor. Saterdag word hy skuldig bevind. Sondagoggend tereggestel. Daar is geen werklike Stalingrad-strategie wat ons so goed ken met Zuma en soortgelykes wat sake uitrek nie. Hierdie kêrel is binne twee dae ter dood veroordeel.
’n Veldkrygshof is ’n militêre hofinstelling wat gebruik word as daar nie toegang is tot burgerlike howe nie. Byvoorbeeld, in die Eerste Wêreldoorlog in die loopgrawe was daar nie toegang tot gewone howe nie. Maar in Pretoria sou daar maklik toegang verkry kon word tot gewone howe, maar dis verhoed. ’n Veldkrygshof het drakoniese reëls gehad. Daar was nie ’n reg tot appèl nie. Die vonnis van doodstraf kon gevel word sonder dat iemand daarvan weet. Trouens, die prokureur van Fourie en sy broer het die Sondagoggend rondom 10:00 – wys jou hoe vinnig die inligting deurgesyfer het – in die Sunday Times eers gelees dat sy kliënt vroeër die oggend tereggestel is. Die hele gebruik van die veldkrygshof was die groot probleem gewees.
Nou moet jy weet dat Fourie en sy broer skuldig gepleit het en dis so aanvaar deur hul regspan. Dit word nie betwis dat hulle aan verraad skuldig is nie, maar die jurisdiksie van die veldkrygshof word ten sterkste aangeval.
In die hele emosionele verloop van die hofverrigtinge is dit baie duidelik dat veral Jopie Fourie gedoem is en dat daar versagting vir die broer is. Die Vrydagmiddag is die stoet van die 12 soldate wat gesterf het by Nooitgedacht voor die hof getrek met orkeste, met Smuts heel voor op sy skimmelperd. Dit verswelg alles met baie emosie.
EK: Fourie word skuldig bevind, ter dood veroordeel en vroeg die Sondagoggend voor ’n vuurpeleton uitgelê.
AB: Die feit dat hy nooit genade vra nie en eintlik hardekwas is, het natuurlik by die Engelse koerante ’n baie negatiewe gevoel gehad. En nou vra hulle vir die ergste straf. Onthou, hulle seuns en ook baie Afrikaanse mense s’n sterf op daardie stadium in die modder van Vlaandere op die front van België teen die Duitsers. Hulle kan nie verstaan hoe hierdie ou in hierdie tyd kan rebelleer terwyl dit gebeur nie. Mens moet altyd al twee kante probeer verstaan oor hoekom mense se gemoedere is soos dit is. Mens moet werklik daardie balans probeer kry.
EK: Vertel oor die briewe wat hy geskryf het die aand voor sy teregstelling?
AB: Hy skryf hartstogtelike briewe aan sy vrou, ouers en Louis Botha op papier wat die simpatieke Engelse hoofbewaarder vir hom gee. Dis briewe deur ’n beginselvaste mens wat oortuig is van sy saak, en daarin lê ook miskien die groot leemte van Jopie Fourie. As hy rigting ingeslaan het, was hy nie oortuigbaar of vatbaar vir ander idees nie. Met veranderende omstandighede moet jy vatbaar wees vir ander idees. Die omstandighede van 1914 was nie meer 1899 s’n nie. Dit is nie meer ’n republikeinse tydperk nie. Dis ’n vergange era.
Oor sy brief aan Louis Botha: Jopie het nie geweet dat die eerste minister reeds die Donderdagaand na sy plaas is nie. Ek kon geen bewyse kry dat hy dus van die verhoor geweet het nie. Volgens getuies het hy die Sondagaand in trane uitgebars toe hy van Jopie se dood gehoor het.
Die drie mense wat Fourie die aand voor sy teregstelling gesien het, sê almal dat hy herhaaldelik die volgende gesê het: “Ek hoop nie hulle skiet my in my gesig nie, maar in my Afrikanerhart, want dis groot genoeg om al die koeëls te vat.” Hy het dit ook kort voor sy teregstelling gesê.
Hierdie uitsprake, tesame met sy briewe en die hartsbetoog het later ’n geweldige impak gehad op Afrikanernasionalisme, om dit te stimuleer of daartoe by te dra. Dis herdruk en onmiddellik daardie Sondag versprei, sonder dat die sensors dit in die hande kon kry. Dis herskryf deur hoërskoolleerders, skoliere en ander mense. Dis seker die suksesvolste politieke kettingbrief ooit in Suid-Afrika. Dit het die uithoeke bereik. Ek kry nou nog mense wat sê: “Oe, ek het ’n oorspronklike Jopie Fourie-brief”, maar dan is dit nie in sy handskrif nie.
EK: 11 dekades later is daar steeds uiteenlopende menings oor sy nalatenskap.
AB: Ek het nagegaan watter herinneringe oor Jopie Fourie oor die afgelope 12 jaar op Facebook was. Sommiges noem sosiale media en Facebook “die Siekehuis-operette”. Dis werklik. Die venyn, en ek wil amper sê snert, oor hom is verstommend. Maar die vyandigheid tussen mense is merkwaardig en is nie eens gegrond op enige wetenskaplike navorsing nie. Dit help nie wat jou oupa gesê het nie. Mense moet gaan kyk wat het werklik gebeur.
Die vraag is hoe word mites geskep, veral met oorvertellings. In my boek skryf ek:
’n Ondersoek na mitevorming oor Jopie Fourie onder sekere Afrikaners help verklaar hoekom sekere Afrikaners ’n negatiewe historiese selfbeeld probeer vervang deur na helde van ouds soos Jopie Fourie te gryp. Om as ’n minderheidsgroep te oorleef, het Afrikaners juis ’n volksmitologie nodig gehad waarin historiese figure soos Fourie ’n rol speel. Mitevorming oor Jopie Fourie word onder sekere Afrikaners aangebied om ’n regverdigingsiening vir die verlede te handhaaf. Dit word ’n triomfantlike verhaal wat help om hoop en selfvertroue in die donker tye te bied.
Daar’s niks verkeerd om te kyk na sy beginselvastheid nie, want mens kan tog mos daardie element waardeer. Jy kan egter nie na die verlede en historiese figure net in die positiewe kyk nie, maar met al sy vratte. Ons het ’n groot geskiedenis om te skryf. Ons hoef nie helde of feilloses te skep nie. Ons het helde, mense wat as prototipes kan optree. Bekyk dit in hul menslike feilbaarheid.
Die haatpos en goed wat ek gekry het van die linker- én die regterkant, het my verbyster. Miskien doen ek iets reg omdat beide die ultra-regses en die ultra-linkse kant nie van my hou nie.
Daar is omtrent vyf groepe Afrikaners met sienings oor Jopie Fourie. Die verregse groep eis hom vir hulself as volksheld op. En as jy nie saamstem met hul verheerliking nie, is jy nie ’n Boer of ’n Afrikaner soos wat hulle dit noem nie. Die meer gematigde groep, soos die FAK, wat sy graf skoon gaan maak het, eer sy nagedagtenis. ’n Ander groep weet niks van hom af nie en stel nie belang in hom of die Afrikaner se verlede nie. Die anti-Jopie-groepe is gewoonlik die Bloedsappe of hul nasate. Daar is ook ’n groepie Engelssprekendes wat die selfbeskermende krag van mitevorming gebruik om Fourie as ’n booswig voor te stel en hulself verontskuldig van eie aandadigheid aan ’n verkeerde verlede, met die Afrikaner wat al die blaam moet dra.
Dis vir my teleurstellend dat 12 dekades later mens steeds sekere verdelings kry. Ek vermoed dis aan die kwyn. ’n Volgende geslag gaan nie eens daarvan weet nie. Dis stuiptrekkings hierdie, met mense wat geweldige emosionele verskille het oor Jopie Fourie.
Lees ook:
Jopie Fourie: ’n besinning deur Albert Blake: ’n lesersindruk
Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Wit terroriste deur Albert Blake
LitNet Akademies-resensie-essay: Broedertwis deur Albert Blake
Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag deur Albert Blake: ’n lesersindruk
Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder deur Albert Blake


Kommentaar
Aan die skrywer: wonderlike werk wat jy doen, hoop daar kom nog! Ek lees nou aan "Moord en roof" en vind dit uitstekend.