Wit terroriste: Afrikaner-saboteurs in die Ossewabrandwag deur Albert Blake: ’n Lesersindruk

  • 2

Lesersindrukke is bydraes van lesers wat uit eie beweging hul indrukke van boeke aan die LitNet-redaksie gestuur het.

Titel: Wit terroriste
Skrywer:
Albert Blake
ISBN:
9780624081586
Uitgewer:
NB-Uitgewers

Die beste boeke is daardie boeke wat mense se idees uitdaag. Geskiedenisboeke doen dit gans te min. Maar Albert Blake het met sy boek Boereverraaier presies dit reggekry. Ek onthou nog die dag toe ek by die werk sit en daar stap ’n man in, en soos dit gaan praat hy oor die geskiedenis. En later begin hy praat oor die filmweergawe van Blake se boek, Verraaiers. Ja, verklaar hy bitter die dag, daardie film maak die Afrikaner se naam gat. Dit is nie ’n sentiment wat ek gedeel het nie. Maar Blake het tog iewers ’n aar raakgeboor en ’n broodnodige saadjie geplant onder die te veel mense wat die Suid-Afrikaanse Oorlog van 1899 – 1902 nog so verromantiseer. Daar was weinig romanties daaraan …

Dan was daar ook ander boeke deur Blake, soos die boek Broedertwis wat gefokus het op generaal Christiaan De Wet en sy joiner-broer Piet de Wet. Ook ’n uitstekende boek, en daar is nog ’n aantal ander boeke oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis, waarvan ek, tot my spyt, nie almal gelees het nie.

Met Wit terroriste ondersoek Blake ’n onderwerp wat hy tereg beskryf as heelwat afgeskeep deur historici. Dit is die onderwerp van die Ossewabrandwag (OB), maar meer spesifiek die sabotasieveldtogte wat deur die OB en hulle verwante groepe uitgevoer is. Dit is ook waar dat hierdie aspek van die geskiedenis van die OB afgeskeep is omdat die geskiedenis dikwels deur Afrikanernasionalistiese historici geskryf was, en omdat die onderwerp van blanke saboteurs dalk nie so lekker ingepas het by die groter prentjie wat sommiges wou skets nie. Maar het die OB en die Stormjaers ooit waarlik die staat van Suid-Afrika bedreig? Blake voel hulle het, en in hierdie boek probeer hy aandui hoekom hy so sê.

Blake haal historici soos DW Krüger en Andre Wessels aan wat in die verlede geargumenteer het dat die OB nie waarlik ’n noemenswaardige invloed gehad het op die politiek van Suid-Afrika nie. Van DW Krüger se skryfwerk weet ek min om my uit te laat, maar mens sou nie van Andre Wessels kon sê dat sy gevolgtrekking beïnvloed was deur Afrikanernasionalistiese motiewe nie. Die veiligste wat mens moontlik oor die saak met sekerheid kan sê, is dat historici dus verdeeld is. En self bly ek skepties oor die omvang van die OB en die Stormjaers se invloed. Hoewel die OB moontlik ’n bedreiging vir die staat kon inhou, het die OB eintlik polities min steun gehad. Die politiek van nasionale sosialisme is nie iets wat wit Afrikaanssprekende (oftewel Afrikaner) mense op groot skaal gelok het nie. Dit was waarskynlik veel eerder die nasionalisme as die sosialisme, en die weersin teen generaal Jan Smuts en Engeland, wat waarskynlik die belangstelling in die OB en die Stormjaers onder jongmense gevoed het.

Sommige van Blake se bronne is vir my ook maar bietjie vreemd. Op bladsy 8 verwys hy byvoorbeeld na die webwerf van die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, waar hy ’n argument voer oor trauma wat van een geslag na die volgende oorgedra word. Daar is eintlik wonderlike akademiese artikels en ander materiaal oor trauma wat deur die einste historikus Andre Wessels geskryf was, wat veel beter as verwysings sou deug. Miskien is dit maar Blake se poging om uiteenlopende stemme te laat hoor.

Soos wat ek deur die boek gewerk het, is ek steeds nie oortuig dat die OB en die Stormjaers werklik ’n gevaar vir die staat van Suid-Afrika ingehou het nie. Selfs die beplande moord op die regeringshoof sou nie die staat verwoes het nie. Menigte state het al die moord op hulle regeringshoof oorleef, insluitend Suid-Afrika met die dood van Hendrik Verwoerd, om van sabotasieveldtogte nie te praat nie.

Maar daarmee wil ek geensins afbreuk doen aan hierdie boek nie. Inteendeel, Albert Blake se boeke lees lekker, en soos gewoonlik is sy navorsing baie deeglik en omvattend, en propvol fassinerende inligting. Dit is nie ’n volledige verhaal van die OB en die Stormjaers nie, maar deur die loop van die sowat 300 bladsye word ’n fassinerende verhaal vertel van die sabotasieveldtogte waarby so baie jong Afrikaners betrokke geraak het. Die leiers van hierdie bewegings word ondersoek, en Blake trek ooreenkomste tussen die gefrustreerde jeug van vandag en die jeug van daardie jare. Daar is ’n interessante hoofstuk oor vroueleiers se rol, wat belangrik is omdat vroue gewoonlik afgeskeep word in geskiedenisboeke. Die regering het skynbaar nooit die OB en die Stormjaers onderskat nie, en was gedurig besig om hulle leiers te vervolg. Verskeie van die OB se leiers het later self prominente leiers geword, onder meer die Vorster broers, Koot en BJ, onderskeidelik moderator van die NG Kerk en die eerste minister van Suid-Afrika. Dan was daar ook die Terreurgroep, wat spesialiste was van sabotasie en wat ook baie aandag in die boek geniet.

Albert Blake argumenteer tereg dat organisasies soos die OB, die Stormjaers en die Terreurgroep verkeerdelik in die verlede met Nazi’s vergelyk was. Dit was weer die ander ekstreem van die geskiedskrywing – om Afrikaners met Nazi’s te vergelyk. Trouens, daar was diep verdeeldheid oor die Nazi’s onder hierdie groepe. Sommiges het die Nazi’s verafgod, maar die meeste was slegs simpatiek teenoor Duitsland, en het gevoel die Duitsers moet wegbly uit Suid-Afrika. Soos wat die wreedhede van die Tweede Wêreldoorlog egter bekend geword het, het die weersin in Nazisme egter waarskynlik toegeneem, ook onder groepe soos die OB, die Stormjaers en die Terreurgroep.

Omdat hierdie boek soos al Blake se boeke in sulke keurige Afrikaans geskryf is, lees dit vinnig. Mens wil eintlik nie die boek neersit nie. Die karakters in die boek word lewendig deur middel van Blake se vernuftige pen, en mens se perspektief word aangenaam verruim. Dit bly egter vir my ’n ope vraag of die staat van Suid-Afrika ooit waarlik in groot moeilikheid verkeer het weens die aktiwiteite van die OB, die Stormjaers en die Terreurgroep. Die sabotasieveldtogte wat gevoer was, was dikwels suksesvol, maar dit het nooit werklik die staat bedreig nie. Die boek is egter meer as die lees werd, en behalwe vir die keurige taalgebruik en die wonderlike inligting daarin vervat, word dit ook voorsien van foto’s wat die teks aangenaam verryk. Bo alles het die boek my opnuut onder die indruk gebring van die geweldige skade wat geskiedskrywing oor die jare aangerig het, waar die verlede as wapen tussen verskillende groepe gebruik was. Dit is geen wonder dat daar so baie mense is met so ’n groot weersin in die geskiedenis nie.

  • 2

Kommentaar

  • Die "Suid-Afrikaanse Oorlog" van 1899 tot 1902 ? Jy bedoel seker die Anglo-Boereoorlog van 1899 tot 1902.

    SEKERLIK is "geskiedkundige revisionisme" Libtards se HEEL GUNSTELING [EN MEES WALGLIKE] tydverdryf! (dank die Here ek het vroegtydig padgegee uit Christiana en nie aldaar gematrikuleer nie!)

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Vertel bietjie van jou dorp JC. Is die mense daar beter as die mense van Christiana?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top