
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging geskryf en aan LitNet gestuur.
Afrikaner-sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier
Albert Blake
Jonathan Ball
ISBN: 9781776190867
........
Albert Blake se jongste boek, Afrikaner-sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier, bied baie om oor na te dink. Dit is nie bloot ’n biografie oor Hans van Rensburg nie, maar ’n verslag oor een van die mees uitdagende tye in die Afrikaner se geskiedenis.
..........
Albert Blake se jongste boek, Afrikaner-sondebok? Die lewe van Hans van Rensburg, Ossewabrandwag-leier, bied baie om oor na te dink. Dit is nie bloot ’n biografie oor Hans van Rensburg nie, maar ’n verslag oor een van die mees uitdagende tye in die Afrikaner se geskiedenis. As leier van die Ossewabrandwag in Suid-Afrika gedurende die Tweede Wêreldoorlog het Van Rensburg meer as 300 000 volgelinge gehad en het hy dikwels duisende toegespreek. Dit is ongekend in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis. Vrae soos of hy bloot ’n Nazi-meeloper was, of hy hoogverraad gepleeg het, of hy moord goedgekeur het, en of hy in die geheim met Smuts geheul het, word steeds gevra. Hierdie biografie, die eerste oor Van Rensburg, is dus tydig.
Historiese navorsing moet aan sekere vereistes voldoen:
- Deeglike navorsing is noodsaaklik. Daar mag nie bloot gevolgtrekkings gemaak word wat nie op die navorsing berus nie. Eie persoonlike gevoelens mag nie die skrywer se insig vertroebel nie. Die navorsing moet ten alle tye die beoordeling ondersteun. Van groot belang is dat Blake hom deurgaans deur sy navorsing laat lei. Eie persoonlike voorkeure skemer nie deur nie. Die navorsing is deeglik en verantwoord.
- Die gebruik van primêre bronne is ononderhandelbaar. Daar kan nie maar op hoorsê staatgemaak word nie. Blake het inderdaad kwistig gebruik gemaak van die primêre bronne in die argiewe oor die Ossewabrandwag, veral dié by die NWU in Potchefstroom, en hy het dan ook geluister na die verskeie bandopnames van oudlede wat nog bestaan. Die navorsing berus op die deeglike oorweging van primêre bronne. Waar nodig word dit goed aangevul deur sekondêre bronne.
- Die navorser moet ewewigtig in sy oordeel wees. Hans van Rensburg is inderdaad ’n persoon oor wie daar sterk standpunt ingeneem word. Nie alleen word hy skerp gekritiseer vanuit die kamp van sy teenstanders nie, maar selfs van sy vroeë volgelinge vra of hy nie hulle saak misken het nie. Blake beeld hom nie as held of skurk uit nie, maar gee ’n verantwoordbare historiese beeld wat berus op die bronne. Veral van belang is die wyse waarop sy Duitse simpatieë uitgebeeld word. Van Rensburg steun die Duitse oorlogspoging, maar word nooit ’n volledige Nazi nie. Blake hanteer daardie deel van sy geskiedenis billik.
- Die navorsing moet die historiese lyn volg. Dit help nie om spronge in die ontwikkeling van die karakter te maak wat die tyd waartydens hy optree nie ag neem nie. Dit beteken ook dat hy nie beoordeel moet word aan huidige maatstawwe nie. Wanneer historiese persone vanuit die huidige kennis en nie vanuit hulle eie tyd beoordeel word nie, word sake vermeng, wat nie gedoen moet word nie. Dit beteken nie dat daar kritiekloos oor historiese persone gehandel moet word nie, maar dat hulle altyd as kinders van hulle tyd beoordeel moet word. Skerp kritiek kan uitgespreek word, maar steeds in die lig van die omstandighede waartydens die persoon opgetree het. Blake slaag daarin om Van Rensburg teen die agtergrond van die stormagtige jare van die Tweede Wêreldoorlog te skilder. Daar was onder baie Afrikaners nog herinneringe aan die Anglo-Boereoorlog en onwilligheid om aan Engelse kant “vir Smuts” te veg; daar was groot armoede onder veral die jeug; daar was ook onsekerheid oor die uitkoms van die oorlog. Dit alles het daartoe meegewerk dat talle Afrikaners die Duitse oorlogspoging gesteun het. Met nabetragting en in die lig van onnoemlike Nazi-wreedhede was dit geheel verkeerd, maar dit volg uit latere kennis. Blake skets Van Rensburg teen die agtergrond van sy tyd. Hy doen dit egter nie kritiekloos nie en skeld Van Rensburg nie vry van sy verkeerde optrede en denke nie.
- Reg moet aan die persoon geskied word in historiese navorsing. Van Rensburg was ’n intellektuele en ontwikkelde persoon wat oor ’n doktorsgraad beskik het. Hy was verder uiters charismaties. Dit was duidelik in sy vroeë lewe dat hy vir groot dinge geoormerk is. Daar is selfs gemeen dat hy Goewerneur-generaal sou kon word. Die Tweede Wêreldoorlog en Suid-Afrika se betrokkenheid by Brittanje het ’n stokkie daarvoor gesteek. Alhoewel daar hensoppers onder sy voorouers was en hy ook aan regeringskant in die Rebellie geveg het, het hy tog radikaal nasionaal geword. Hy was ’n kleurryke, unieke persoon met verskeie talente. Daaraan laat Blake reg geskied. Hy skets Van Rensburg as besonderse persoon met al sy vermoëns, maar toon ook die tragiese elemente in sy lewe aan. Die mens Van Rensburg tree na vore.
- Ten slotte moet die navorser nie buite-historiese beginsels op die persoon toepas nie. Wanneer die navorser verskil oor die persoon se afkoms en sy persoonlikheidstipe, mag hy hom nie om daardie rede negatief beoordeel nie. Die navorser mag nie beïnvloed word deur sy eie afkoms en persoonlikheid nie. Weer eens bly radikale ewewigtigheid van die grootste belang. In die Afrikaner-geskiedenis was daar soms werke wat óf ’n persoon verheerlik het óf die persoon radikaal afgewys het om buite-historiese redes. Blake bly by die historiese. Hy beoordeel Van Rensburg deurgaans billik. Nêrens laat hy deurskemer dat hy hom as Afrikaner positiewer beoordeel as wanneer hy nie een sou wees nie. Die geheelbeeld is dus besonder aanvaarbaar. Hy druk geen vooropgestelde standpunt op die leser af nie.
........
Dit is inderdaad lesenswaardig. Na die lees van die biografie het mens meer insig in Van Rensburg se lewe, maar ook in die Afrikaner se moeilike tye.
..........
Samevattend kan daar gesê word dat Blake se biografie van Van Rensburg billik en ewewigtig is, met ’n besonderse blik op die buitengewone tye in die Afrikaner se geskiedenis. Dit is inderdaad lesenswaardig. Na die lees van die biografie het mens meer insig in Van Rensburg se lewe, maar ook in die Afrikaner se moeilike tye. Onder die huidige omstandighede is dit juis ’n boek wat gelees moet word om meer begrip vir die Afrikaner en sy geskiedenis te vorm en ook te verstaan waarom sekere optredes gevolg het.



Kommentaar
Waar kan die boek van die rak af gekoop word?
Verskeie boekwinkels dra voorraad.