Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Wit terroriste deur Albert Blake

  • 0

LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.


Albert Blake

Albert Blake (Foto: Naomi Bruwer)

Albert Blake is die skrywer van die topverkoper, Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog (2010) wat ook in ’n rolprent, Verraaiers, omskep is. In 2014 ontvang hy die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Louis Hiemstra-prys vir niefiksie vir Boerekryger:’n Seun se hoogste offer (2012).

Blake het twee ander boeke op sy kerfstok: Moord en Roof: In die kop van ’n baasspeurder (2013) en Ontsnap! Boerekrygsgevangenes se strewe na vryheid (2015). Broedertwis: Christiaan en Piet de Wet (2016) is sy vyfde boek.

Hy is in Johannesburg gebore, maar hy matrikuleer aan Grey-kollege in Bloemfontein waarna hy militêre opleiding aan die Valskermbataljon ondergaan. Blake het twee meestersgrade in geskiedenis aan die destydse RAU verwerf (al twee cum laude). Tussendeur sy skryfwerk is hy ’n praktiserende prokureur in Roodepoort.


Opsomming

Wit terroriste
Albert Blake
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081586

Bomplanters, sluipmoordenaars, saboteurs. Almal Afrikaners.

Kragstasies is opgeblaas en politieke moorde uitgevoer. Dié terreurveldtog van militante Afrikaners, wat die land in die 1940’s naby aan die afgrond van anargie gebring het, is vandag grootliks vergete.

Daar was spioenasie-intriges, opspraakwekkende hoogverraadsake en gewaagde ontsnappingspogings. Maar om politieke redes is hierdie hoofstuk in ons geskiedenis dekades lank diep begrawe.

In Wit terroriste vlek Albert Blake dit wawyd oop. Hy vertel die dramatiese ware verhale van Afrikaners wat hulle tot terreur gewend het. Onder hulle tel die sanger Steve Hofmeyr se oupa en die latere eerste minister John Vorster, asook die wêreldbekende stoeier Johannes van der Walt.

Wat het hulle gedryf? Waarvoor het hulle baklei? Was hulle verraaiers of was hulle ware patriotte?

Wit terroriste bied ’n fassinerende blik op ’n versweë, hoogs aangrypende deel van die Afrikaner-geskiedenis.


Uittreksel

Sondagaand 12 November 1942 onthaal die eiendomsagent “Dice” Lötter en sy vrou, Lille Lorraine, vriende by hul huis in Walterlaan, Waverley, wat in daardie tyd nog aan die buitewyke van Pretoria was. Ten tyde van die geselligheid hou twee vreemde mense, van wie een ’n militêre uniform aangehad het, met ’n voertuig voor die Lötters se rooidakhuis stil en klop aan die voordeur. ’n Soldaat wat as Lötter se lyfwag diens gedoen het, maak die deur oop. Die niksvermoedende lyfwag gaan roep Lötter op die besoekers se versoek. Toe hulle hom vra of hy die eiendomsagent is, sê Lötter ja. Daarop pluk die man in burgerlike drag ’n pistool uit en skiet Lötter twee keer trompop. Lötter val op die betonsypaadjie voor die stoep neer en sterf binne minute. Die moordenaars jaag in hul motor weg.

Lötter het geweet militante soek sy bloed. Hy was voorheen ’n lid van die Ossewabrandwag en is vroeër die jaar weens manteldraaiery só erg deur onbekendes aangerand dat hy ’n paar weke lank in die hospitaal was. Daarna is hy onder polisiebeskerming geplaas. Dit het hom nie daarvan afgeskrik om ’n sleutelgetuie vir die Kroon in die hoogverraadsaak teen Bertha Hennig te word nie. Daarmee het die 34-jarige Lötter sy lot verseël.

Hennig is van hoogverraad aangekla omdat sy dokumente met hoogs vertroulike militêre inligting aan Lötter oorhandig het wat na die Duitse konsul in Lourenço Marques gesmokkel moes word. Hennig is veral op sterkte van Lötter se getuienis skuldig bevind en tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Heel ironies is Hennig in November 1942 op ’n tegniese punt op appèl onskuldig bevind, maar Lötter was toe reeds dood. Hennig is daarna in Suid-Rhodesië geïnterneer. Volgens adv. F.F. Lutge, ’n latere prokureur-generaal van Transvaal, wat destyds as aanklaer insae gehad het in die moorddossier, het Lille Lorraine die moordenaar herken. Sy het egter botweg geweier om teen hom te getuig omdat sy vreesbevange was ná ’n mislukte poging om haar te ontvoer. Haar senutoestand het breekpunt bereik en nie eens voltydse polisiebeskerming kon haar sover kry om te getuig nie.

Die moord het op die hoogste vlak aandag geniet en die dossier is na Colin Steyn, die minister van justisie, gestuur. Tog het niks daarvan gekom nie. Die identiteit van die moordenaar het ná die oorlog in die Barrett-verslag (waarin die Smuts-regering ’n moontlike aanklag van hoogverraad teen die leiers van die OB ondersoek het) verskyn, maar weer was daar geen vervolging nie. D.F. Malan noem in sy herinneringe dat hy ná die NP-bewindsoorname in 1948 bewus geword het van die moordenaar se identiteit, maar verswyg ook sy naam. Dit het ’n opportunistiese politieke relletjie veroorsaak omdat die verdagte nie onder die Nasionale Party-bewind aangekla is nie. Malan se herinneringe is egter ná sy dood gepubliseer en die Smuts-regering was terdeë bewus van die moordenaar se identiteit. Frik Faurie, ’n onderleier van die Terreurgroep, noem in sy herinneringe: “Ek was sterk onder verdenking.” Tog ontken hy dat hy enigiets van die sluipmoord geweet het. Op ’n uitkenningsparade kon Lötter se vrou Faurie nie as ’n verdagte uitken nie.

Eers 27 jaar ná die moord het Lutge die sluier effens gelig in ’n onderhoud met die destydse Sondagkoerant Die Beeld. Hoewel hy óók nie sy naam noem nie, is dit uit die konteks duidelik dat die ander onderleier van die Terreurgroep, Ernst von Elling, die sneller getrek het. Die leier, Chris Coetsee, het in ’n onderhoud in 1973 gesê Von Elling het “trigger-happy” geword. Coetsee noem hy was ten tyde van die moord in aanhouding en kon nie meer gesag oor “onbeheerbare” lede van die Terreurgroep uitoefen nie. Dit bly vreemd dat Von Elling se identiteit nooit geopenbaar is nie aangesien hy in 1949 in ’n familietwis doodgeskiet is. Dalk lê die verduideliking daarin dat die tweede verdagte en ander betrokkenes nog geleef het, maar dat daar nie genoegsame getuienis was om hom of hulle in ’n hof met die moord te verbind nie.

Terwyl die vinger na Von Elling wys wat die sneller getrek het, word die fanatieke Stormjaerleier Barnie Basson ook by die sluipmoord betrek. Die historikus Christoph Marx maak die gevolgtrekking dat Basson Lötter in opdrag van Van Rensburg vermoor het. Marx baseer sy mening op die hoorsêgetuienis wat ’n Duitse geheime agent, Walter Kraizizek, in 1947 voor die Barrett-missie gelewer het. Lutge se betrokkenheid as aanklaer en sy insae in die moorddossier is uiteraard geloofwaardiger. Dit sluit Basson se medepligtigheid aan die moord egter nie uit nie.

Die 27-jarige Bloemfonteinse staatsamptenaar Louis Nel was ’n Stormjaer, maar ook ’n polisie-informant wat inligting oor veral sabotasieoptrede in die Vrystaat aan die speurders deurgegee het. Daarmee het hy letterlik met sy lewe gedobbel.

Nel het onder meer inligting verskaf oor gesteelde brandstof wat Stormjaers buite Bloemfontein op ’n perseel van die paaiedepartement versteek het. Die polisie het daarna ’n hinderlaag gestel waarin twee Stormjaers, Willie van Rensburg en Freddie Venter, hulle vasgeloop het toe hulle van die brandstof wou gaan haal. Dit het amper in ’n tragedie ontaard toe Venter, een van daardie kort, hardekwas manne wat nie sommer vir ’n oormag terugdeins nie, sy pistool bly rig het op ’n polisieman en gedreig het om te skiet, terwyl hy reeds onder skoot van die polisiemanne was. Eers nadat Van Rensburg hom herhaaldelik gemaan het oor hoe hulpeloos hulle is, het Venter sy pistool laat sak. Daarop is die twee in hegtenis geneem. Die Stormjaers het van Nel se aandeel bewus geword. Faurie het later opgemerk: “Hulle kon hom nie vergewe nie en ek blameer hulle ook nie.”

Woensdagaand 30 September 1942 het ’n man by die huis van Nel se ma in Bloemfontein opgedaag waar hy ná sy egskeiding gewoon het. Die man het hom as ’n speurder voorgestel en ’n visitekaartjie getoon met ’n versoek dat Nel hom dringend na die polisiestasie vergesel. Nel se ma was nie gediend daarmee nie omdat haar seun met griep in die bed was. Die “speurder” het belowe hulle sal net vir ’n kort rukkie weg wees. Nel het besluit om saam te gaan en net ’n japon oor sy nagklere aangetrek. Vroeër het sy ma hom ’n onpaar stel nagklere gegee. Ure het verloop sonder dat Nel teruggekeer het. Toe die bekommerde ma die speurders skakel, is sy meegedeel dat hulle niks van so ’n reëling weet nie.

Tien dae later het ’n veewagter op die oorblyfsels van ’n uitgebrande lyk in ’n ou delwersgat by Bakovenkrans by Waterberg, sowat 650 kilometer noord van Bloemfontein, afgekom. ’n Klein stukkie materiaal is onder die armholte van die uitgebrande lyk gevind wat met Nel se ander nagkledingstuk vergelyk kon word. Daarna is tandheelkundige rekords gebruik om die oorskot te identifiseer. Die lykskouingsverslag het getoon hy is deur die kop geskiet.

Die speurders het ’n goeie idee gehad wie die moord gepleeg het, maar weens ’n gebrek aan getuienis is niemand in hegtenis geneem nie. Die ondersoekbeampte, George Visser, wat kennis gedra het van die identiteit van die verdagtes, werp om een of ander rede ook nie lig daarop in sy boek wat in 1976 verskyn het nie. Dalk het van die verdagtes toe nog geleef. Die geheimsinnigheid bly nietemin ’n raaisel. ’n Informant van die Terreurgroep en Stormjaers, F.G.H. van der Veen, wat aan die Staatsdrukker verbonde was en geheime dokumente vir die polisie gedruk het, het Ernst von Elling in ’n onderhoud in 1977 ook by Nel se moord betrek, maar sonder om detail daarvan te verklap.

Hans van Rensburg het in 1944 ná die sluipmoorde op Lötter en Nel onderhoude met twee Amerikaanse amptenare gevoer waarin hy dié veelseggende opmerking gemaak het: “Lotter . . . and Nel – were both police informers and deserved the fate they received.” Daarmee het hy sluipmoord as vergelding vir verraad moreel geregverdig.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top