Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder deur Albert Blake

  • 0

Titel: Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder
Skrywer: Albert Blake
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624057581

 

Koop Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder by Kalahari.com.

Dat dit nodig is vir ’n land om geskiedkundig rekord te hou van en te besin oor sy verlede is iets wat ons as Suid-Afrikaners as vanselfsprekend kan aanvaar. So ook die feit dat die voorheen bevoordeelde meerderheid van die wit minderheidsbevolking, wat die ommekeer van mag sedert 1994 op verskeie wyses ervaar, dalk meer toegeeflik sal wees vir die aksies van sekere mense wat gedurende apartheid deel van die staat se geweldsmasjinerie was, soos die baasspeurder Charles Miller. Sommige sou selfs noem dat daar weinig keuses was vir geregsdienaars onder die apartheidsregime.

Dit vir eers daar gelaat.

Met Albert Blake se Moord en roof: In die kop van ’n baasspeurder word die leser met ’n interessante tameletjie gekonfronteer: Hoe kan (of eerder, moet) daar postapartheid, sowat 20 jaar na die katalogus van allerlei burokratiese misdrywe en siviele gruwels van apartheid, oor die realiteite van polisiëring geskryf word? Dalk nog meer indringend: As daar eweneens konsensus is oor die feit dat ons land se uiters gewelddadige onlangse geskiedenis tot 1994 en daarna in die literatuur bestudeer en beoordeel moet word, hoe dan gemaak met figure soos Charles Miller, wat deel was van ’n gespesialiseerde eenheid (Brixton Moord en Roof) wat die skeidslyn tussen goed en kwaad, reg en verkeerd tot breekpunt uitgedaag het?

Vir ’n skrywer soos Albert Blake, wat ook Boereverraaier gepen het en heelwat navorsing vir hierdie publikasie gedoen het (die bronnelys is redelik uiteenlopend en indrukwekkend), is die grootste uitdaging een van styl en aanslag eerder as inhoud. Weens die feit dat die meeste van die teikengehoor vir hierdie boek heel waarskynlik gedurende die hoogty van apartheid grootgeword het en daarvan bewus sou wees dat die polisie in baie gevalle buite die perke van die wet opgetree het om hul take te verrig, word dit vir die skrywer ’n kwessie van watter persoonlikheid of persona die fokus van die teks moet wees, en op watter manier oor die persoon geskryf moet word. Die blote feit dat dit ’n wit en nie ’n swart speurder is nie oor wie geskryf word, vorm reeds die ruggraat van die aanslag en die teikengehoor, en so ook die oorwegende diskoersmoontlikhede wat vir die skrywer oopgevlek word.

In ’n konteks van verskeie televisiereekse en die misdaadriller/spanningsroman deur onder andere Deon Meyer en Karin Brynard in Afrikaans wat onder lesers hoogty vier, is die figuur van die baasspeurder eenvoudig glad nie en al lankal nie meer vir Afrikaanse lesers ’n nuutjie nie: TV en fiksie het bepaalde verwagtinge oor die uitbeelding van die speurder geskep, en die niefiksieskrywer moet nou sy onderwerp op so ’n wyse oordra dat die speurfiguur aanklank vind by die leser sowel as dat die skrywer so nou moontlik by die storie se “feite” hou.

Wat Albert Blake inhoudelik skryf oor sy onderwerp, Miller die polisieman wat sy pligte onder die moeilike omstandighede van apartheid uitvoer, is deeglik nagevors, duidelik uiteengesit in chronologiese volgorde, en deurgaans boeiend. Alhoewel ek moet bieg dat daar bitter min kompleksiteit aan die teks se “speur”-elemente gekoppel kan word, is deeglikheid hier die wagwoord.

Die boek se inhoud, wat op allerlei misdade fokus (teen die agtergrond van politieke onrus en onluste), bied ’n oënskynlik nimmereindigende blik wat strek van diefstal en gewapende roof tot verkragting en moord, en alles wat geregtelik tussenin val. Dit is te verwagte dat die leser se geduld uiteindelik getoets sal word, soos wat ’n bloedbevlekte tapisserie van misdaad oopgevlek word, met geen besonderhede wat die leser ontsien word nie. Daar is tye wanneer die misdade eenvoudig net te veel word vir die leser om as afsonderlike aksies te assimileer. Dit is dalk juis een van die punte wat Blake by die leser wou tuisbring: dat geweld die nimmereindigende vermoë het om die mens se fisieke, maar veral psigiese, weerstand af te breek, dat dit altyd op sekere vlakke die geregsdiener se lewe “eis”, of die persoon nou deur geweld in die oomblik sterf of eers baie jare later.

Hierdie insig bring ons by die volgende besprekingspunt: die uitwerking van geweld, beide instrumenteel en gevolglik, op die subjek, in dié geval Charles Miller. Hier is die vernaamste opmerking dat Blake ’n groot mate van sukses behaal in sy poging om die destruktiewe aard en omvang van geweld op die individu te illustreer, deur verskeie van Miller se fisieke beserings weer te gee en sy sielkundige letsels bloot te lê. Dit is beslis die geval dat Miller se verhaal as verteenwoordigend van ander wetstoepassers onder die vorige bedeling voorgehou word, en ’n mens kan vir lief daarmee neem: Blake draai nie doekies om wanneer daar oor die polisie se eie misdrywe verslag gegee word nie. Hier sal elkeen wat die boek lees, se reaksie tiperend van sy eie siening oor die institusionele geweld van daardie tyd wees, en sekeres sal meer bereidwillig wees om vir die polisie te skerm as ander. Daar is egter tye wanneer Blake se propolisie-onderrok net so effens uithang, ten koste van ewewigtigheid.

Die moeilikheid met die teks kom wanneer daar oor die vertelstyl en leeservaring besin word. Oor eersgenoemde sou ’n mens lang draaie kon gooi om die uiters nugtere, by tye futlose, vertelling van gebeure. Weer eens sal die leser wat op inhoud eerder as styl gefokus is, wal gooi teen aanklagte van amper siellose, gestroopte vertellings. Dit is egter ’n resensent se taak om die styl van ’n teks in ag te neem en krities te beskou.

Sonder om vitterig te wees: dit is net nie goed genoeg om ’n narratief oorwegend te anker aan ’n “dit gebeur, en toe gebeur dit, en toe gebeur dit, en toe vang ons hulle”-vorm van anekdote-gedrewe vertelling nie. Dit word gou saai en eentonig, al erken die resensent die poging tot ’n neutrale en by tye pseudoakademiese aanslag, met voetnotas en verwysings na ander tekste. So ’n poging strook egter ook nie met die teks se omslag nie: ’n grinterige beeld van ’n man in wat lyk soos die tagtigerjare met die titel oorhoofs in oorgroot oranje letters wat die indruk van ’n kompromis tussen sensasie en realisme skyn weer te gee. Vreemd, om die minste te sê.

Die ander probleem, ’n filosofiese sowel as stilistiese uitdaging, is die uitbeelding van die “hoofkarakter” Miller self. Alhoewel Blake die indruk van Miller as ’n uiteraard “goeie” man in ’n uiters moeilike tyd skep, en daar ’n poging is om die oorweldigende verwonding van geregsdieners soos Miller met deernis uit te beeld, is dit net een te veel vir my dat daar tog ’n mate van heldeverering hier plaasvind, veral reg aan die einde van die teks. In plaas daarvan dat die narratief met dié van Miller eindig, is daar ’n polemiese nawoord wat dinge vir die leser mooi uitstippel: almal is slagoffers, selfs dié wat hulle aan ekstreme geweld skuldig gemaak het; en ons kry ’n paar sinne oor die “geskende” karakter van ons samelewing. Jammer, maar ’n nawoord van net oor die twee bladsye is allermins die plek om hierdie argument te ontwikkel, al is die bedoelings ook hoe goed. Dit laat ’n wrang smaak in die mond.

Soos die geval met Hanlie Retief se teks oor die baasspeurder Piet Byleveld, waar iets soortgelyks tot ’n mindere mate plaasgevind het, is die versoeking om die herstel van orde en die speurder te verheerlik (ten koste van die (v)erkenning van die aard van die bose aan beide kante van die gereg) vir Blake te groot. Ook, andersyds, word ’n hoofvereiste van enige narratief oor dieners of donners, dat die gehoor deurgaans vermaak sal word, oor die hoof gesien, in die strewe na die skrywer se “onbetrokkenheid” of ideologiese “neutraliteit”. In hierdie land, in enige (skryf)konteks, is dit eenvoudig nie moontlik nie.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top