Barakat – ’n film review van ’n Cape-Malay perspective

  • 0
“Die grootse highlight vannie film was om te hoo die selection of Malay-infused Kaaps wat deurie dialogue vannie characters uitgekom’t.”

Nowadays is ek soe obsessed met karamonk. Ek sirrit in alles, including in rys en tea. Daa’s omtrent iets special oo daai spice – dit gie normal meals en beverages ’n leqqa ruik en smaak. Nou kan djy gloe hoe leqqa het ek gekry wanner Aisha Davids (Vinette Ebrahim) haa karamonkkoekies uit die oond gehaal’t innie opening scenes van Barakat. Ôs kan heeltemal vestaan hoekom Fadiela (June van Merch) heeltyd in Aisha se kombuis vi haa biesag hou, en hoekom Albertus (Leslie Fong) oo Aisha se koekies propose’t! 

Dit was ’n stil dag byrie Labia Theatre, net ’n paa dae na Labarang innie Kaap, wanner ek die film ge’watch’t. Die film het gevoel soes ’n end-of-Ramadaan geskenk, want ôs het lank gewag, nie net deur Ramadaan 2021 nie, maa oek vanaf 2020 virrie release vannie film. Ek’t die hele movie theatre vi myself gehad ennit was leqqa want ek kan in trane gebas’t (’n ee’ste vi my, want ek huil nooit nie vir films nie, nie ee’s Titanic nie!) en oek my ugly laugh gewys’t – die film het beslis albei reactions van ’n viewer inspire ennit was net mooi.

Die wêreld vannie Davids-familie was soe mashallah uitgesit – die main Davids-huis in Lansdowne mettie rakams (Aunty Aisha het soema dieselfde golden rakams in haa huis soes ôs s’n!) en die Gatesville Square (die famous Top Boutique Aunty was oek daar!). En since ôs van spices praat – Boeta Maan was net ’n comic of note. Dis sieke hoe hy sy clientèle by sy spice stalletjie maintain – die clients moet mos oo en wee t’rug kô ommie res vannie skinnerstories van hom te hoor!

Ek het completely in love geval met hoe die element of Islam innie film gewys was, en ek het baie met die Davids-broe’s se struggle met Islam resonate nadat die pa innie familie manangal’t – die pa was clearly die glue wat vi hulle bymekaar hou as ’n family en sy dood het ’n groot void in hulle liewens geskep. Al hoe was Aisha Davids die film se main protagonist, wassie existential crisis vannie Davids-broe’s – Zaid (Mortimer Williams), Zunaid (Joey Rasdien), Nur (Danny Ross) en Yaseen (Keeno Lee Hector) – die crux vannie hele narrative. Ôs kon ve’staan Aisha se predicament en hoekom syrit soe moeilik vind om simply net ja te sê virrie marriage proposal.

Pat vannie film het vi my baie remind oo Miela’s Box, my ee’ste play wat by Suidoosterfees in 2020 gedebut het – die Hendericks-familie in daai storie het baie met mekaar, en met inheritance issues, gesukkel nadat die Boeya innie familie maningal’t. When it comes to issues of the tribe kan ôs ôse self ve’loo as ôs disconnected van mekaa is. Dit is hoekom ek gehuil’t innie climax vannie film wanner Aisha en haa siens saam’t mekaa sit en deur die photo album kyk – die knowledge dat al wat norag is, is ’n space om te sit met ôse differences en ôse pyn – go back to what is important en make your way from there.   

Ek voel die wêreld innie storie – my wêreld – was handled met appreciation en die Barakat crew het clearly baie diep deur alles gedink om hierie storie vi ôs te deliver.

Die twie imams innie movie, gespeel deur Farouk Valley-Omar en Loukmaan Adams, was met liefde gewys, hoe die imams innie Kaap personalities en idiosyncrasies van hulle eie het. Die scene op Labarang innie masiet hettie concept van die Arabic woord “barakat” in ’n spiritual sense mooi uitgepak. Die scene was ’n belangrike reminder dat mimbars waarop imams praat moet altyd gebruik wôd om ôse connection met Allah en mekaar stê’ke te maak – daa was elements innie Labarang sermon wat relevant was virrie Davids-familie. Ek het met warmte in my hart die scene mettie maankykers gekyk. Loukmaan Adams was een van my favourite entertainers wanner ek klein was, en ek is happy om te sien hoe hy sy status as ’n celebrity gebruik om awareness te skep oo ôse Muslim-stories innie film industry.  

Die grootse highlight vannie film was om te hoo die selection of Malay-infused Kaaps wat deurie dialogue vannie characters uitgekom’t – Tamat, Haafies, Kifayt, Labarang en die boys wat “agter’ie bak” iet innie pwaasa. Ek het literally my hanne innie lug gesit wanner Zunaid’t gesê: “Nie Moulood nie, Mawlid.” Zunaid ennie broe’s het glattie dit maklik gemaak vi arme Albertus, wat soe hard try ommie boys se approval te wen – sy vrou Ra-eesah (Quanita Adams) het baie vi hom oo daai stubbornness vasgevat! Maa Zunaid se punt was important vi twie redes binne en buite die storie. Zunaid het gewys, nie net vi Albertus maa virrie film se audience, dat daa ’n Kaapse way is – wat oek die Davids way is – om hulle Islam te express. Well done, Zunaid!

Dan was daa oek tye wanner daa niks subtitles whatsoever oppie screen ge’appear nie, soes wanner Yaseen dua gemaak innie storie byrie Labarang-tafel, en wanner Zunaid oek ’n dua maak byrie pa se kaberstaan (graf) – ’n belangrike moment virrie viewer om die essence van die scene in te vat, as it is. Daai was ’n groot political statement met die message dat majority voices moet vi minority voices uitluister, and not the other way around.

All in all was Barakat die ee’ste real win virrie Muslim-Afrikaans community on screen – ’n authentic representation of story by the people for the people. Daa was soveel effort ommie klein dinge die groot dinge te maak – die as vannie myeong-stokkies wat afval, die rooi henna op Aisha se naels, die scene location choices. Ek voel die wêreld innie storie – my wêreld – was handled met appreciation en die Barakat crew het clearly baie diep deur alles gedink om hierie storie vi ôs te deliver. ’n Groot tramakassie aan die film se main director en producer, Amy Jephta en Ephraim Gordon – julle is role models innie industry! My laaste Labarang-koekies was nog altyd innie fridge, en vandag sal ek definitely die Cape Malay Cookbook deur Faldela Williams, of miskien Fatima en Gadija Sydow se Kaap, Kerrie & Koesisters consult vi ’n recipe vi karamonkoekies om ’n leqqa laat Labarang Barakat – pun intended – te enjoy!

Lees verder: https://klyntji.com/joernaal/2021/5/20/barakat-amy-jephta.

Lees ook:

Barakat: ’n filmresensie deur Leon van Nierop

’n Behind-the-scenes dialoog met die produksiespan van Barakat – family is a mouthful

Barakat, die film: ’n onderhoud met Amy Jephta

Miela’s Box – ’n onderhoud met Tasneem Daniels

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top