Barakat, die film: ’n onderhoud met Amy Jephta

  • 0

Amy Jephta (foto-erkenning: Lindsey Appolis)

Die dramaturg Amy Jephta is elke jaar onlosmaaklik deel van die kykNET Silwerskermfees. Of sy skryf of regisseer of pryse op die podium gaan afhaal, haar teenwoordigheid is onmiskenbaar. Sy is een van ons land se voorste filmmakers en het die eerste keer die plaaslike filmbedryf betree as wenner van die gewilde Silwerskermfees-kortfilmafdeling met die film Soldaat in die 24-min-kortfilmafdeling vir beste draaiboek en beste kortfilm.

By vanjaar se Silwerskermfees, wat weens die COVID-regulasies in ’n webinaarformaat aangebied is, sou sy haar nuutste film, Barakat, vrygestel het, maar dis nou uitgestel na 2021.

Met die besprekings by die webinaar het sy met die regisseur John Trengove oor sy film iBhokhwe (The Goat) gesels en hom oor sy Afrikaïese storievertelstyl gevra. Amy kyk van buite na haar eie nering. Sy eggo John se woorde dat dit moeilik is om te definieer wat ’n Afrika-storieverteller is of behoort te wees – dis so ’n breë begrip. Maar haar interpretasie is dat dit in beide die estetiese van ons land en die manier hoedat dit dramaturge ons stories vertel geleë is en dat dit beïnvloed word deur ons mondelinge geskiedenis en kollektiewe geheue. Sy erken dat dit steeds nie ’n baie akkurate beskrywing is nie!

Sy noem in die onderhoud dat sy altyd weghardloop van skryf, dat sy nie wil skryf nie, maar dat skryf haar só rondjaag dat sy uiteindelik uitasem moet ingee en elke dag tog maar iets neerpen.

Sy was die 2019-wenner van die Standard Bank Jong Kunstenaars van die Jaar. Sy het vanjaar by die US Woordfees All who pass op die planke gebring as deel van haar prys. Sy was ook een van die teksskrywers van Trackers en Sonskyn Beperk, wat haar veelsydigheid as skrywer en regisseur in verskillende milieus bevestig.

Amy is die mede-eienaar van PaperJet, ’n Kaapse produksiehuis wat sy in 2015 saam met Ephraim Gordon gestig het. Ephraim het ’n graad in teaterstudie aan die Universiteit van Kaapstad behaal en is as ’n jong akteur vir verskeie teater- en televisietoekennings regdeur Suid-Afrika genomineer. Hy werk ook as ’n storievoorsêer vir plaaslike televisie en help die ontwikkelings- en produksiespanne wat aan twee nuwe Suid-Afrikaanse reeksprojekte vir die M-Net-groep werk. Ephraim het tot op hede meer as 120 episodes van kykNET se sepie Suidooster geregisseer, waar hy ook as ’n televisieregisseur opgelei is. Sedertdien het hy die regie van Sara se geheim (seisoen 3), ’n plaaslike reeks in sy finale seisoen, behartig.

 In 2019 was hy die vervaardiger van twee rolprente wat spesiaal vir televisie vervaardig is (Rage en Somerkersfees) vir M-Net en Showmax. Hy staan tans aan die hoof van ontwikkeling by Nagvlug Films.

PaperJet se webwerf verklaar dat hul dienste die ontwikkeling, produksie en vervaardiging van bekroonde narratiewe inhoud vir die Suid-Afrikaanse film- en televisiemarkte insluit. Hul fokus is om die stories van die minderheid te vertel. Stories wat die narratiewe van die Kaapse Vlakte in Suid-Afrika verander en die fokus weg van die geweld waarmee hierdie gemeenskappe dikwels geassosieer word, verskuif.

Hulle is betrokke by van ons land se voorste reekse en films, waaronder Suidooster, Ellen: Die Ellen Pakkies Storie, Noem my Skollie, Nommer 37 en Sara se geheim.

Hul nuutste projek, Barakat, is Suid-Afrika se eerste Moslem-rolprent in Afrikaans. Amy het dit geregisseer en Ephraim het dit vervaardig. Dit word in Mei 2021 vrygestel.

Die weduwee Aisha Davids (gespeel deur Vinette Ebrahim) probeer om die vrede te bewaar tussen haar vier seuns wat sukkel om die dood van hulle pa twee jaar gelede te verwerk. Zunaid, Zaid, Yaseen en Nur keer na die familiewoning terug om Eid-ul-Fitr (of Labarang soos wat dit in Kaapstad genoem word) te vier – ’n viering wat die einde van die maand lange vas vir Ramadaan beteken. Die seuns het nog nie vrede met hulle pa se dood gemaak nie. Hulle onverwerkte pyn kom die duidelikste tot uiting in die familiekonflik, wat hulle ma baie hartseer maak, omdat sy probeer om met haar lewe voort te gaan.

Maryke Roberts het met Amy gesels.

Vanjaar se Silwerskermfees was in ’n ander formaat – nie net was dit digitaal nie, maar ook baie meer ingestel op wegbreeksessies met praktiese raad om jong filmmakers te help, eerder as die bekendstelling van films. Hoe het jy dit ervaar?

Dis ’n hele nuwe wêreld waar alles aanlyn toe gaan en ek dink ons gaan meer innovasie en tegnologie vir die teater sien in die toekoms. Die formaat van die fees was pragtig uitgedink en ’n wonderlike manier om die bedryf aan die gang te hou en nuwe dinge te laat leer. Ek het die sessies oor saam produseer en saamvoorlegging veral baie interessant gevind.

Wat het die fees die afgelope paar jaar vir jou loopbaan beteken en hoekom is ’n fees soos hierdie noodsaaklik vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf?

Die fees is wat my eerste kortfilm, Soldaat, moontlik gemaak het, en daarvoor sal ek altyd dankbaar wees. Die fees gee sulke wonderlike geleenthede vir jong filmmakers om in ’n beskermde omgewing sonder kreatiewe grense te kan werk. Daardie soort vryheid – veral vir jong stemme – is ongelooflik belangrik vir ons bedryf. Dit dra by tot beide waagmoed en vaardigheid.

Hoe sien jy jou eie styl van stories maak?

Ek vertel eerstens menslike stories. Ek wil graag glo dat ek in my karakters se menslikheid indelf en dat ek sensitief is vir die nuanses van die regte lewe. Andersins dink ek dis moeilik om my storievertelstyl of -stem te definieër. Dis dalk iets wat gehore of resensente moet doen.

Wat bring Ephraim na jul vennootskap wat jy dalk as leemte in jouself sien?

Ons vriendskap het op universiteit begin. Ons het mekaar op die eerste dag van teaterskool ontmoet, by die Hiddingh-kampus, en onmiddellik vriende geword. Ephraim het visie, dryfkrag en ’n groot passie vir wat hy doen. Hy is baie beter met mense – om verhoudinge te koester; om mense te laat voel dat hulle gehoor word; om hulle betrokke te kry. Ek verkies my stil ruimte om te droom en te dink. Ons komplementeer mekaar dus baie goed.

Op jou Twitter-rekening (@thegravegirl) beskryf jy jouself as ’n alkemis, dromer en storiewewer. Hoekom?

Al dié terme is vir my poëties, ondefinieërbaar en oneindig. Alkemie, drome en storievertel bestaan in dieselfde onbekende ruimtes. Ek dink dis my taak om in daardie ruimtes te leef en beweeg.

Wat is die grootste uitdaging wat jy as jong vrou in die filmbedryf moes oorkom?

Dis soms vir my ’n probleem om nee te sê, want ek is bang of bekommerd oor hoe ek dalk vir ander kan voorkom. Dis ’n persoonlike uitdaging, maar ek is seker dis ook verwant aan my geslag.

By PaperJet het julle die stories van die minderheid ten doel. Hoekom moet hierdie stories vertel word en hoe verskil die projek se hantering van ander stories?

Ons wil die stories vertel wat wegbeweeg van die gewone geweld- en verlatenheidnarratiewe. Die soort narritiewe wat ons gewoond is om oor “ons” mense te sien. Ek dink dis belangrik vir die bruin gemeenskap om hulself op genuanseerde maniere uitgebeeld te sien.

Watter storie wat jy al aangepak het, was die moeilikste om te vertel en hoekom?

Die Ellen Pakkies-film het my diep geraak en was baie persoonlik en moeilik. Dis ’n hartverskeurende storie wat ’n heel ander deel van die lewe aan my blootgelê het; een waarteen ek gelukkig beskerm is.

Hoe voel jy oor toekennings – jy was onder meer die 2019-wenner van die Standard Bank Jong Kunstenaar van die Jaar en die Eugène Marais-prys vir Drama in 2017?

Pryse is ’n wonderlike manier van erkenning en krediet, maar op geen manier die einddoel nie. Ek is altyd effe verleë oor hulle.

Watter leemtes sien jy in Suid-Afrikaanse films wat jy en Ephraim graag wil vul met jul projekte?

Ons doel is om stories te vertel wat die Suid-Afrikaanse ervaring op ’n meer genuanseerde, veelvlakkige manier te vertel. Dit sluit die storie oor ons gemeenskap in, want dit is wat ons die beste ken.

As Covid nie ons pad kom blokkeer het nie, waarmee sou julle vanjaar Silwerskermfees toe gegaan het?

Barakat sou sy première daar gehad het, maar ons gaan volgende jaar terug wees by die fees met ’n ander film! Ons kon gelukkig die film klaar skiet in Januarie.

Hoekom die besluit om ’n Moslem-film in Afrikaans aan te pak – is daar te veel onkunde oor die geloof en sy tradisies en gebruike?

Moslems word dikwels baie eendimensioneel uitgebeeld. Hulle is dikwels boewe of word met  ekstremisme geassosieer en dis ’n heeltemal onwaar uitbeelding van die geloof. Daar is ’n skoonheid aan die geloof en ook die kultuur wat ons op die grootskerm wou uitbeeld. Baie mense is nog nooit blootgestel aan die kultuurpraktyke van ’n Moslem-familie nie.

Barakat se oorsprong kan teruggevoer word na ’n gesprek oor hoe ons “ons” op die grootskerm kan uitbeeld – “ons”: swart, middelklas Suid-Afrikaners en ons families, ons geskiedenisse, ons taal en ons beleefde werklikhede. Dit het as ’n gesprek begin waar ons gepraat het oor die gevaar van eensydige narratiewe oor ons ervarings. Wat van die wonder van ons gemeenskappe en ons mense? Wat van ons ryke diversiteit van taal – die veerkrag en dinamiek van die taal wat ons Afrikaaps noem, ’n konkoksie van Engels, Nederlands, Arabies, Maleis en Afrikaans? Wat van ons woonbuurte op die Kaapse Vlakte, die landskappe van palmbome en breë strate, die besondere en spesifieke mengsel van Kaaps-Hollandse argitektuur en ‘80’s-kitsch? Wat van ons families – (meestal) funksioneel, gewoon, bekommerd oor normale dinge soos verhoudings, huwelike, loopbane en onbenullige konflik?

Kan ’n storie oor “ons” eenvoudig wees?

Watter storie loop al lank saam met jou wat jy nog nie aangepak het nie?

Niks waaraan ek nou kan dink nie. Ek hou daarvan om onmiddellik ’n storie aan te gryp as dit by my opkom. As ’n storie roep, sal ek dit skryf.

Waaraan werk julle volgende?

Ons skiet tans aan Skemerdans, wat afspeel in die wêreld van nagklubs, en dis ’n misdaadstorie – wêrelde verwyder van Barakat. Ek en Ephraim was medeskrywers en ek is regisseur. Dit sal November op Showmax beskikbaar wees. Ek werk ook aan ’n internasionale rillerreeks.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top