Barakat: ’n filmresensie deur Leon van Nierop

  • 0

Barakat
Met Vinette Ebrahim en Mortimer Williams
Regisseur: Amy Jephta
Slegs in rolprentteaters

Katvoet loop met hierdie jubelende resensie oor ’n spontane, beheerste en bedrewe film. ’n Mens kan in Afrikaaps verval en die resensie net aan die heerlike lostaligheid en onselfbewustheid van hierdie taalbeweging wy en dit probeer naboots, of jy kan ’n geskiedenisles gee oor waar Afrikaaps sy oorsprong het. Ook om in die resensie te besin oor waar ons verdwaalde siele en taal eintlik vandaan kom: ’n mengsel van slawe, die Koi, Krotoa, swart mense, die Marrons, Korannas, Griekwas, Witbooi’s, Indonesiërs en dies meer. Dis hier taal wat die film vier.

Daarom grinnik Barakat soos ’n stout skoolseuntjie/-dogtertjie: Ons deel almal in ’n barakat, troetel-oorskietkossies wat versamel word van maaltye waar families bymekaarkom en hulle trommeldik eet. Hulle prop die kuier en die disse in hulle monde terwyl hulle lag oor die absurditeit van die lewe. Daarna deel hulle hul seëninge deur die oorblywende kossies na gaste se huise te stuur waar hulle weer ’n Tupperware-paartie kan hou en nabetragting hou. Die film is ’n soort nabetragting.

Die gevaar met orgiastiese resensies is dat dit selde kan voldoen aan die kyker se verwagtinge. Kyk maar na die uiteenlopende reaksies op Nomadland. Ek het al ’n kykersweerstand teen Barakat teëgekom en jou kop moet wawyd oop wees, my bra.

Verskeie fliekgangers (soos ekself) het aanvanklik nukkerige weerstand gebied en gedink dis weer ’n “gangsta-moewie vannie verkeerde kant van die treinspoor vol vloekwoorde, tjomma”. Of oor kômmin mense wat soos versiersuiker dik oor die fliek gesmeer is.

Dis nie waar nie. Mammie (die onvergelyklike Vinette Ebrahim) nooi jou in haar erbarmlike huis in en neem jou aan as deel van haar vaaljapie-gesin. Sy verduidelik onderlangs haar dilemma en vra jou om “in te wees” op wat gebeur.

Soos ’n barakat met kos (dit beteken ook seëninge) is die gesin ’n mengsel van menswees. Maar soos in elke familie, word daar oor kleinighede geredekawel. Dis daardie menslike duwweltjies wat in die voetsole steek wat die storie omlyn. Amy Jephta trek hulle met ’n fyn knyptangetjie uit.

Mammie weet dat sy eers deur al hierdie (duwweltjie-)vooroordele, beneuktheid en jaloesie sal moet dwaal voordat sy haar voorgenome huwelik, twee jaar na haar man se dood, met die fandamily kan bespreek. Want sy moet elkeen se nukke eers hanteer.

Humor, sal hulle ontdek, het ook ’n ander sy en klank, en hierdie rolprent ontgin die alternatief met smaak en respek, maar gun ook bestaansreg aan ander smake, kulture en oppervlakkige grappe.

Ons kom tog van so ’n warboel van volke dat hierdie film jou gou tuismaak in ’n vrydenkende, ongeforseerde humor wat so Kaaps is soos ’n bergwind.

Dis nie ’n bloosplesiertjie waar jy na poepe en veilige swetswoorde luister en jouself nadese moet saniteer nie. Dis ’n suiwer rolprent wat jou, met sy terloopse, onselfbewuste humor, saamsnoer en bekendstel aan iets anders. Die naaste wat ’n mens ’n eweknie kan noem, is Frank Capra se meesterlike stuk menslikheid, It’s a wonderful life (1946) wat bewys: Daar is nie ’n ding soos ’n doodgewone, vermorste of vergete lewe of menswees om voor skaam te wees nie. Dis hoe jy jou medemens behandel (“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”) wat die hart van die rolprent vorm.

Die engele loop tussen ons, sê die fliek. Hê respek!

Die huis waarin geleef word, is een van die pragtigste, mees funksionele wonings ooit in ’n Afrikaanse rolprent. Hiér word geleef, maar netjies en beleefd. Hier word in stukkies woorde vol kappies en min konsonante gesels en elke klank tel. (Die tonge vlieg soos seemeeue oor die konsonante.) Hier word die Pharos soms as ’n deurstuiter gebruik. Nie dat daar op hom neergesien word nie; hy het natuurlik sy gerespekteerde plek. Maar hiérdie flikker-fliek se woordeboek val sommer op die koekstruif vol rosyntjies oop.

Taalpuriste sal ’n kopskuif moet maak, want dit mag ’n kwartier neem om aan die taal gewoond te raak. (Mens moet maar die onderskrifte lees.) Dit vroetel in die kieliebakke van die taal, keer hom op sy rug, maak kierieklankies soos hy giggel oor die puriteinse weerstand, en kan nét uit die monde van hierdie meelewende mense kom.

Dit gaan oor liefde, aanvaarding, trots wees, medelye, blydskap, skaamte, uitbundigheid, respekte en volharding, alles wat die lewe die moeite werd maak en jou verby hierdie bloedbevlekte gemors laat kyk waarin ons land verval het. Vir ’n verandering voel jy soos een volk. Word jy vir die eerste keer deel van die reënboognasie in ’n reënboogfilm met ’n pot goud aan die voete van elke karakter met sy of haar unieke manier van ’n ding sê. Dis nie Afri-Engels nie. Dis Afrikaaps.

Die film is maklik om te verstaan. Soos die skrywer Bernie Fabing breëbek verkondig: “Dit maakie Kaap makliker vi Engels- of selfs Afrikaanssprekendes om te verstaan.” Dis tog die doel van ’n uitstekende rolprent: om jou na plekke te neem waarheen jy aanvanklik nie wou gaan nie (soos die uwe), jou horisonne te verbreed en jou te laat inspit in ’n ander kultuur en deur ander ore te laat luister.

Maar genoeg gepopel. Barakat gaan oor ’n dokter wat met ’n tannie wil trou en hoe hulle die koppige, wederstrewige familie gaan oortuig om hulle verbintenis te aanvaar. Die situasie word dus omgekeer. Die nie Pa of Ma wat moet aanvaar nie, dis die kjênners vir ’n verandering! Maar, besef hulle, liefde en aanvaarding moet verdien word, dit kommie somma nie.

Die fliek hou jollifikasie met jou hart. Dis soos die kruie wat die bra uit sy bakke op die mark skep. Elke poeier het ’n ander bytsmaak en proe wonderlik anders en Afrikaaps.

Bernie Fabing som dit raak op in sy boek, Is alles oraait byrie hys?, en ook in ’n onderhoud deur te sê: “Om jou eie storie te vetel moet djy maa self ie mic hou. Ons is moeg vannie gewone bendes- en dwelmstories. So ja-nee, mic check mic check ... hie kô ôs!”

“Afrikaanse” film het nou ’n nuwe gesin en taal ryker geword.

Lees ook:

Barakat, die film: ’n onderhoud met Amy Jephta

’n Behind-the-scenes dialoog met die produksiespan van Barakat – family is a mouthful

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top