Michael Le Cordeur is ’n NNS-gegradeerde navorser en professor in Afrikaansonderwys en tans die vise-dekaan vir Onderrig en Leer in die Fakulteit Opvoedkunde van die Universiteit Stellenbosch waar hy voorheen ook voorsitter was van die Departement van Kurrikulumstudie. Voorheen was hy Afrikaansonderwyser, skoolhoof van Kylemore Hoërskool en kringbestuurder van Onderwys in Stellenbosch
Hy studeer aanvanklik aan die Universiteit van die Wes-Kaapland waar hy onder ikone soos Jakes Gerwel en Tony Links studeer vir die BA, HONS en HOD-kwalifikasies. Hy verwerf ook die B Ed-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika en ’n bestuurskwalifikasie aan die US se Sakeskool. Daarna verwerf hy die meestersgraad en ’n doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch met navorsing oor die rol van die media in die bevordering van leerlinge se leesvermoë. Sy navorsing, kennis en passie oor leesonderrig is volgens hom gepaste vaardighede om ’n bydrae te maak tot die SBA se “Zoë-leesprojek” wat landwyd meer as 53 000 leerlinge en 530 skole bereik het.
Le Cordeur is ’n direksielid van die Stigting vir die Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) en is in 2024 verkies tot die organisasie se nuwe voorsitter. Hy is ’n komiteelid van die Rapport-Onderwysfonds en was die vorige voorsitter van die US se Het Jan Marais Fonds en die Afrikaanse Taalraad. Hy het ook twee termyne gedien as voorsitter van die Wes-Kaapse Taalkomitee waar hy ’n mede-opsteller was van die Wes-Kaapse Taalbeleid. Sy navorsingsfokus is leesonderrig, taalbeleide en moedertaalonmderrig.
Michael le Cordeur het talle referate gelewer op internasionale en nasionale vlak en neem gereeld deel aan debatte oor taal en onderwyssake in die media. Hy is die skrywer/ redakteur / medeskrywer van talle handboeke en akademiese artikels oor Afrikaans. Die akademiese tydskrif The Conversation het sy artikel oor die faktore wat ’n impak het op Suid-Afrika se matriekuitslae in Januarie 2024 aangewys as dié tydskrif se top artikel toe dit wêreldwyd deur meer as 70 000 mense gelees is. Van sy bekendste boeke sluit in Die Wellingtonse Klopse (2014, met Marlene le Roux), Ons kom van ver (2016 met Wannie Carstens), Davy Samaai, Kampioen van die Struggle (2020) en Covid: Krisis en Geleenthede vir die Onderwys (2022). Sy jongste boek Reading for Comprehension verskyn einde 2024 en het ten doel om ’n hulpbron te wees vir lees-onderwysers.
Hy is ’n gereelde rubriekskrywer vir Die Burger, Netwerk24 en The Daily Maverick met meer as 400 meningsartikels op sy kerfstok. Dit het aan hom die toekenning van die US se Media Denkleier in 2018 en 2019 besorg. Hy ontvang in 2014 die Universiteit Stellenbosch se Kanselierstoekenning en in 2020 die Neville Alexander Toekenning vir lewenslange bydrae tot Afrikaans. Dié voormalige skolesport-administrateur en is ook ’n toegewyde kweker van krisante.