
Ek het met groot hartseer verneem van die heengaan van André P Brink. Die laaste keer dat ek saam met André Brink kon skouers skuur, was twee maande gelede by die opening van die Soms Delta Museum in Franschhoek. Brink se roman Philida, wat handel oor die slawe en veral die slavin Philida, asook my en Marlene se boek, is van die artefakte wat in die museum te sien is. Brink was toe reeds baie swak en kon nie deur die seremonie staan nie.
Jakes Gerwel het destyds Brink se Kennis van die aand, Die ambassadeur en Oomblik in die wind op UWK met ons behandel. Nog onlangs het ek Donkermaan en Philida met my Matiestudente behandel.
Op persoonlike vlak het ek die laaste drie jaar saam met André gewerk as beoordelaar van die Rapport-prys vir die beste debuutroman totdat sy kragte te swak geword het. Maar ek het so baie by hom geleer. Wat 'n letterkundereus!
Dit gaan jou goed, André. Hamba kahle.

