Hamba kahle Madiba

  • 0

Hamba kahle Madiba

Hamba kahle1 Madiba

Ek was nog maar net in standerd 9 (vandag graad 11) toe ek met die grootsheid van Nelson Mandela kennis gemaak het. Ek was een van die gelukkige Boy Scouts om gekies te word om Suid-Afrika by die Wêreld-jamboree in Noorweë te verteenwoordig. Ons het skaars in Oslo voet aan wal gesit (ons het tot in Londen gevlieg en van daar af met die boot verder gereis) toe ons Chief Scout Master, Brian Figagi (wat later rektor van die Skiereilandse Universiteit sou word), vir my, ’n blanke seun, ’n Indiërseun van Natal en ’n Zoeloe-seun van Gauteng eenkant toe roep met die versoek (opdrag) dat die media met ons vier wil praat. (Ek sou eers baie later, toe ek wasdom bereik het, die politieke korrektheid verstaan van waarom juis ons vier, elkeen van ’n ander ras, die media te woord moes staan.) Ek moes dus my eerste mediakonferensie op 16-jarige ouderdom hanteer. En toe kom die vraag vanuit die bloute: “Hoe gaan dit met mnr Nelson Mandela?” Ek was polities naïef, en het maar min geweet van die struggle-politiek. Ek het vaagweg onthou wat my pa my van Mandela en Verwoerd vertel het. Al wat ek wis, is dat mnr Mandela op daardie stadium tronkstraf op Robbeneiland uitgedien het. Al wat ek kon uitkry, was: “Nee, dit gaan goed met hom, dankie.”

Sedertdien het baie water in die see geloop. Na my terugkeer na Suid-Afrika het ek begin oplees oor Nelson Mandela. Stukkie vir stukkie het die legkaart inmekaar begin pas. Ek was gefassineerd om die storie van sy lewe en sy opofferings te lees. Dit sou my denke vir ewig hervorm. Hoe meer ek gelees het, des te meer het sy lewensverhaal al meer bekend gelyk. Ek het mos al so ’n verhaal gelees? het ek myself wysgemaak. En toe tref dit my: in die Sondagskool as ’n laerskoolkind.

Nou wil ek dit duidelik maak dat ek geensins beweer dat Nelson Mandela ’n soort Jesus was nie. Maar dat daar sterk ooreenkomste tussen die lewe van Madiba en dié van Christus is, kan niemand ontken nie. Albei was hul tyd ver vooruit; albei het onder uiters moeilike omstandighede grootgeword. Albei het ’n onwrikbare geloof in, en liefde vir, hul mense gehad. Dermate dat albei bereid was om hul lewe te gee vir dit waarin hulle geglo het: ware vryheid. In die proses het Mandela ’n groot deel van homself opgeoffer. Terwyl hy in die gevangenis was, het hy die lewe van sy kinders gemis. Van sy oudste kinders by Evelyn, sy eerste vrou, is oorlede terwyl hy in ’n sel op Robbeneiland was. Hy het nooit die voorreg gehad om sy twee dogters by Winnie (sy tweede vrou) te sien grootword nie; hy sou nooit die voorreg hê om hulle by die skool af te laai of weer te gaan haal nie, of ’n skoolkonsert van hulle te kon bywoon nie.

Nelson Mandela het alle reg gehad om kwaad te wees vir Suid-Afrika, en veral vir die vorige regering wat sy vryheidstryd tot misdaad verdoem en hom daarvoor vir 27 jaar tronk toe gestuur het. Min mense sou hom kwalik geneem het as hy wraak sou neem toe hy in die posisie was om dit te doen.

Maar hy het nie. Soos ’n Jesus van ouds het hy versoening en naasteliefde gepredik; soos ’n Jesus het hy sy vyande vergewe omdat hy wys genoeg was om te besef dat hulle slagoffers van hul tyd en omstandighede was en nie geweet het wat hulle doen nie. Mandela was bestem om sy volk te lei uit die woestyn van apartheid na die Beloofde Land van demokrasie. Die regte man op die regte tyd, as daar ooit een was.

My gunsteling-digter, Adam Small, het dit so verwoord in sy gedig “Exodus”:

Nou het ’n  Moses vir julle opgestaan
Wat al julle verleiers in die grond in slaan,
Hy wys vir julle die weg na Kanaanaan ... 

In die onlangse verlede het ek dikwels oorsee gereis om onder andere lesings te lewer oor taal en Afrikaans. Dan verwys ek gereeld na een van my gunsteling-aanhalings van Madiba: “As jy met ’n man praat in ’n taal wat hy verstaan, praat jy met sy verstand. Maar as jy met hom in sy eie taal praat, praat jy met sy hart.”

Die statuur van Nelson Mandela en die respek en agting wat mense regoor die wêreld vir hom het, word baie gou duidelik, want orals in die wêreld wou mense altyd weet: Hoe gaan dit met mnr Mandela? Maar anders as jare gelede daar in Noorweë moes ek dan met diepe hartseer erken: “Dit gaan nie goed met Madiba nie; bid asseblief vir hom.”

En nou het die Liewe Vader hom kom haal. Hy was moeg. Baie moeg. Hy het sy lewe vir ons gegee. Al wat ons kan doen is om te sê: “Dankie Madiba. Thank you, Mr President. Enkosi Tata.”

Ek sluit af met die woorde wat Jan FE Cilliers aan genl Christiaan de Wet toegedig het: “Stil broers, daar gaan ’n man verby.”

Vanaand sal Madiba in die Paradys wees, aan Jesus se sy. Hamba kahle Madiba, hamba kahle.

Michael le Cordeur is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch en die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad.

[1] Laat dit met jou goed gaan, Madiba.

 

Terug na die Nelson Mandela Gedenkmuur

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top