Een van die strategiese doelwitte van die Afrikaanse Taalraad (ATR) is om Afrikaanse gemeenskappe wat uitmekaar gedryf het, of nog nooit met mekaar in aanraking gekom het nie, met mekaar te versoen. So byvoorbeeld het ek nog altyd ’n brandende begeerte gehad om in Soweto uit te kom en Afrikaans te bevorder, daar waar Afrikaans op 16 Junie 1976 sy grootste neerlaag sou ly. En hoe fantasties was dit nie om op 27 Maart saam met die Universiteit van Johannesburg betrokke te wees by die meertaligheidsaksie nie. Hoe opwindend om te dink dat Afrikaans, eens uit Soweto verjaag omdat die vorige regering Afrikaans aan swart leerders opgedring het, voortaan op die Soweto-kampus van die UJ aangebied gaan word. Die wiel het gedraai.
Op George het die ATR ’n slag geslaan vir Afrikaans deur die eerste Taaldagvieringe te hou waar die hele spektrum van die Afrikaanse gemeenskap teenwoordig was. Dis byna ondenkbaar dat ons 20 jaar na demokrasie nog nie tyd saam spandeer om mekaar beter te leer ken nie. Dit plaas groot vraagtekens agter Suid-Afrika as 'n werklik bevryde volk. Vrae soos watter rol instellings soos die kerk, die onderwys (skole) en sport speel om ons Suid-Afrikaanse samelewing werklik te transformeer. Moet ek aflei dat ons slegs vir 80 minute op 'n rugbyveld saamspeel, maar ook net omdat ons moet? Dat ons vir 80 minute saam vir die Springbokke skree, maar agterna elkeen in sy hoekie feesvier? En as ons die volgende dag kerk toe gaan, doen ons dit elkeen steeds apart van mekaar?
So het die ATR sy uitreik-aksies voortgesit: Atlantis, Genadendal, Pacaltsdorp, Campbell in die Noord-Kaap, Eersterust in Gauteng, Kuyga en Port Elizabeth in die Oos-Kaap, Dundee in KwaZulu-Natal en onlangs Kimberley. Elke keer dieselfde boodskap: Afrikaans is lewend en wil al sy sprekers onder een vaandel verenig. Selfs al praat ons soms verskillende variëteite, praat ons steeds dieselfde taal, letterlik gesproke. Om, figuurlik gesproke, van een bladsy af te kan sing, moet ons nog baie tyd in mekaar se geselskap deurbring.
En so kom Orania aan die beurt. Toe die ATR die uitnodiging ontvang om Orania te besoek, wou mense dadelik weet: “Waarom?” En my reaksie: “Waarom nie?”
Nadat ons reeds die vorige dag in Kimberley aangekom het (waar ons andermaal Afrikaanse gemeenskappe ontmoet het), durf ons vroeg die volgende oggend die bietjie meer as 150 km na Orania aan. Niemand weet wat om te verwag nie, maar die ATR het al by talle onbekende bestemmings opgedaag, met sukses.
Die gemeenskap van Orania het geen moeite ontsien om die ATR-afvaardiging se besoek aangenaam te maak nie. Die gasvryheid is oorweldigend, vang ons eintlik onkant. In sy verwelkomingswoord noem Jaco Kleinhans, uitvoerende hoof van die Orania Beweging, dat 23 000 mense net verlede jaar die dorp besoek het. Ons word per DVD aan Orania se ontstaansgeskiedenis en gemeenskapsmodel bekend gestel in hul baie moderne medialokaal. Hierna het 'n interessante besigtigingstoer gevolg wat plekke van historiese belang, soos die begraafplaas, en verskeie landboubedrywighede ingesluit het. Ander aspekte van die dorpsontwikkeling en die twee skole word ook besoek. Daar is 'n gewone skool, soos ons dit ken, van graad 1 tot 12. Nodeloos om te sê, is die klasse baie klein, wat onderrig en individuele aandag vergemaklik. Daar is ook 'n skool waar slegs rekenaargesteunde onderrig plaasvind. Leerders moet kontrakteer vir 'n aantal take in al die vakke vir die week en dit teen Vrydag laai. As hulle al die uitkomste bereik het, kan hulle die volgende week aansoek doen vir 'n dag verlof. Voldoen hulle nie aan die uitkomstes nie, moet hulle die volgende week ekstra ure inwerk. Volgens Carel Boshoff, Orania-president en verbonde aan die skool, vaar hul studente baie goed op SA universiteite.
’n Ete in die pragtige Oewer Restaurant wat spog met beeshaas, biefstuk, brandewynpoeding en die beste wit en rooi wyne op hul spyskaart is gevolg deur 'n rustige vlotvaart op die sprokiesagtige Oranjerivier, slagaar van landbou in die gebied.
Na 'n ontmoeting met lede van die Oraniabestuur, waartydens ek 'n visuele aanbieding doen, is die dag afgesluit met 'n geselligheid aan huis van Carel. Tydens die gesellige samesyn is gedigte voorgedra, Afrikaans liedere gesing en heerlik saamgekuier.
Wanneer ons die volgende dag die lang pad na Kimberley se lughawe per Orania-bussie aanpak, is ons stil, elkeen besig met sy eie gedagtes. Dit gee my kans om te besin. Ek besef dat baie mense nie met die Orania-model sal saamstem nie. As opvoedkundige weet ek nie of ek dit kan regverdig dat kinders so in afsondering, weg van ander rasse, grootword nie. Die Oraniërs sou natuurlik nie met my saamstem nie. Hopelik sal 'n navorser eendag 'n studie doen oor die haalbaarheid al dan nie van die Orania-model. Dalk bied dit meer antwoorde as wat ek hier gee.
Maar dat daar lesse vir ons te leer is, is gewis. Die dorpsraad besleg self as daar konflik in die gemeenskap ontstaan (en dit ontstaan wel). Die gebied wat 20 jaar gelede vir R1,6 miljoen van die Suid-Afrikaanse regering aangekoop is, het gegroei tot 'n landbou-ekonomie van R500 miljoen. Die grond is verdeel in klein plasies van 10 hektaar elk, genoeg vir 'n jong gesin om daarop te boer en 'n respektabele lewe te lei (onthou, hulle moet alles op die plaas self doen), maar te klein om ryk te word. Orals is behuisingsprojekte en landbouprojekte aan die gang. Binnekort gaan erwe vir vakansiehuise op die oewer van die skilderagtige Oranjegivier gesny en op die oop mark verkoop word. Dis naby die pragtige Oewer Hotel (met sy vyfstergeriewe, soos DStv en lugreëling) waar ons tuisgegaan het.
Vra jy 'n Oraniër waarom hulle in die model glo, antwoord hulle met passie: jongmense kan vir so min as R800 per maand 'n netjiese woonstel betrek met dien verstande dat hulle kom werk. Enige werk. 'n Jong meisie kan begin as skoonmaakster by die Oewer Hotel en vorder tot die eienaar van haar eie besigheid. 'n Jong man kan begin as 'n messelaar en eendag sy eie plaas besit.
Pekanneute is die grootste bedryf – daar’s letterlik duisende pekanneutbome. Dit word aangevul deur mielies, lusern en groente. ’n Gesofistikeerde besproeiingstelsel uit die Oranjerivier, wat deur een van Orania se eie ingenieurs ontwerp is, sorg dat die vrugbare landbougrond sy volle potensiaal bereik. Water uit die Oranje word ook na die huise herlei. Elke huis in Orania het twee wateraansluitings: een vir water wat van die Suid-Afrikaanse regering aangekoop word en slegs vir huishoudelike verbruik bedoel is, en een vir die rivierwater wat vir tuine en toilette gebruik word. Alle gryswater word vir besproeiing na die plase herlei. Die mielies word met 'n duur stroper geoes. Pekanneute word met baie gesofistikeerde masjinerie verwerk wat stuk-stuk uit Duitsland ingevoer en in Orania aanmekaar gesit is.
Orania het nie taxi’s of busse nie, want dis nie nodig nie. Oraniërs ry fiets. As hulle inkopies doen, kan hulle met Suid-Afrikaanse geld of hul eie geld (die ora) koop. Daar’s net een bank, hul eie bank. Orania het nie 'n polisiediens of straatligte nie, want daar is geen misdaad nie. Hulle het wel hul eie veiligheidsdiens. Op die stoepe van winkels is daar niemand met “Ek is werkloos”- plakkate nie. Ek het 'n rugbyveld en agt kerke gesien. Die sowat 1 000 inwoners het hul eie gemeenskapsentrum, eie radiostasie en eie vliegveld.
“So wat is julle grootste probleem?” vra ek.
“Ons het nie genoeg werkers vir al die werk nie,” sê Jaco. Daarom moet al die inwoners inspring as dit oestyd is.
Ons wat daar was, kan getuig dat die mense gelukkig is; hulle is versorg en geskoold. Daar is nie miljoenêrs nie. Ook nie brandarm gesinne nie. Niemand se huise word met bulldozers, byle en pikke afgebreek nie. Niemand slaap in hierdie koue winters buite onder 'n koerantpapier nie. En Oraniërs hoef nie een keer per maand om vyfuur op te staan en in lang toue te wag vir hulle maandelikse aalmoes van die regering nie.
Want Orania se mense is selfversorgend en selfwerksaam.
Kommentaar
Dankie Michael!
Dankie Michael. Goeie positiewe artikel.
Wat is julle bank se naam en besonderhede asb?