Die Afrikaanse Taalraad het met diepe hartseer en ontsteltenis kennis geneem van die skielike heengaan van prof Russel Botman, rektor en vise-kanselier van Stellenbosch Universiteit. Ons innige meegevoel gaan aan sy weduwee, Beryl en sy vier kinders.
Die ATR het sedert sy aanstelling as rektor ’n lang pad saam met prof Botman geloop en ons het meer as een keer vergader om oor taalaangeleenthede te praat. Hy het ons onvoorwaardelike steun geniet en ons het ook ons skriftelike steun aan hom toegesê met sy transformasieplanne.
As voorsitter van die Afrikaanse Taalraad was dit my voorreg om hom op 4 Maart vanjaar geluk te wens met die groot eer wat hom en ons kampus te beurt geval het met die eregraad wat hy op Dinsdag 4 Maart 2014 van Hope College in Michigan in die VSA ontvang het.
Ek het prof Botman leer ken toe ek ’n eerstejaar op die UWK was en hy, vyf jaar my senior, die voorsitter van ons studenteraad was. Baie jare later (2000) sou ek hom en wyle prof Neville Alexander vergesel op ’n studiereis na die Universiteit van Tutzing in Duitsland waar prof Alexander klasgegee het. Prof Botman was destyds die voorsitter van die SA Raad van Kerke en ek kon so die mens agter die naam van nader leer ken.
Ons paaie het weer gekruis in 2009 toe ek deur prof Botman aangestel is in die Fakulteit Opvoedkunde. Op ’n persoonlike vlak het ek die afgelope week met hom interaksie gehad toe hy ’n rektorstoekenning aan my oorhandig het.
Die ATR kan getuig – soos ook ek persoonlik – dat hy inderdaad instrumenteel was in die daarstel van ? vreedsame einde van apartheid in Suid-Afrika en sedertdien een van Afrika se toonaangewende universiteite gemobiliseer het om verskeie van die probleme wat ons land in die gesig staar, die hoof te bied.
Sy plek sal moeilik gevul word.
Met agting die uwe
Dr Michael le Cordeur
Voorsitter: Afrikaanse Taalraad

