Waarom die Kaapse klopse vandag nog relevant is

  • 1

Michael le Cordeur is 'n kenner op die gebied van die Kaapse klopse. Saam met Marlene le Roux skryf hy die boek Die Wellingtonse Klopse. Vanjaar, op 2 Januarie 2014, plaas Die Burger sy artikel "Daar kom die Alibama". Naomi Meyer het hom oor hierdie vrolik-tragiese tradisie uitgevra.

Ek lees jou bydrae oor die Kaapse klopse met groot belangstelling. Tradisioneel het die slawe op Tweede Nuwejaar bont aangetrek en waarlik feesgevier op die een dag van die jaar wat dit hul beskore was om te doen wat hulle wou. Som ek dit reg op?

Ja, dis reg so. Onthou ook dat slavinne tradisioneel die kleremaaksters was en die mense wat klere gebrei het. So byvoorbeeld was Philida in die roman van André Brink die breimeisie van die Brink-familie. Hulle moes dan nuwe klere maak vir hul meesters en meesteresse vir Nuwejaar. Maar die vindingrykheid van die slawe blyk daaruit dat hulle al die stukkies afvalmateriaal aanmekaar gewerk het soos ’n kwilt, en daaruit het hulle in die geheim vir hulself uitrustings gemaak uit die afvallappies. Vandaar dat die klopse se uitrustings so bont vertoon. Mettertyd het dit egter ’n kuns geword om die regte kleure en ontwerpe by mekaar te laat pas. Daarom is die dames wat die uitrustings maak, sulke belangrike figure binne hierdie kultuur en ritueel. Sien asseblief my en Marlene se boek om die stories van die kleremaaksters te lees. Hulle het dan in hul bont en veelkleurige uitrustings in die strate geparadeer. Vandag nog is die afdeling bekend as "best dressed troop" die eerste item wat beoordeel word. Op Eerste Nuwejaar het hulle die meesters bedien, maar op Tweede Nuwejaar kon die slawe dus ontspan en fees vier vir een dag. Vandaar die uitbundigheid, sing en dans.

“Nuwejaar was dus vir die slawe ’n tyd om te reflekteer oor die jaar wat verby is, maar ook ’n tyd om moed en hoop bymekaar te skraap vir die jaar wat voorlê.” Dit was toe en vandag is nou. Of wat is die belang van die Kaapse klopse vir vandag se mense?

Die klopse was toe ’n viering van die slawe se vryheid. Vandag is dit nog dieselfde. Die klopse as synde die afstammelinge van die slawe wil op hierdie dag nadink en terugdink oor die jaar wat verby is, om na te dink oor die mooi dae, maar ook die slegte en hartseer dae, om weer hul suksesse te vier, maar ook weer mekaar se lief en leed te dra. So put hulle krag uit mekaar se samesyn. Dis vandag nog net so belangrik as toe, want tot ’n groot mate is baie bruin mense, en baie ander mense ook, steeds nie volkome vry nie. Die regering het dalk verander en die base se kleur het verander, maar in wese is die situasie dieselfde. Die meeste mense van die klopse voel steeds dat hul vasgevang is in armoede en geweld. Aan hul omstandighede het dus niks werklik verander nie.

Ek het sowaar nie besef dat die lied “Januarie, Februarie, Maart”handel oor die maande waartydens die slawe in die Kaap ingevoer is nie. Ander baie bekende liedere waarna jy verwys is “Daar kom die Alibama” en “Ghoema, ghoema, ghoema”. Is hierdie liedere in ’n bundel saamgevoeg, of word dit eerder oorgesing van geslag na geslag?

Die liedjies word mondelings van geslag tot geslag oorgedra. Die klopse is een groot familie, en die lede is so jonk soos nege maande en tot 80 jaar oud – dis dikwels meer as drie geslagte wat aan die groep behoort. Nie net die liedjies nie, maar ook die vermoë om musiek te maak word van geslag tot geslag oorgedra; dikwels kan die musikante nie eens musiek lees nie, maar hulle speel op natuurlike talent en op gehoor. Dit het in die onlangse verlede begin verander, veral met my en Marlene se stigting van ons eie jeugorkes wat musiekopleiding kry by die Kunstekaap. Hierdie orkes, almal jongmense wat uit die klopse kom, het met die boekbekendstelling by die Woordfees saam met Karen Zoid en Arno Carstens opgetree. Hulle tree weer op by die Suidoosterfees op 1 Februarie. Ek en Marlene het van hierdie liedjies opgeneem in ons boek, maar dit is nie genoeg nie; baie meer sulke pogings is nodig.

Onlangs het ’n bydrae oor die erfenis van die slawe op LitNet verskyn. Waarom is die slawegeskiedenis nou in die nuus? Of waarom behoort dit in die nuus te wees?

Die slawe is in 1834 vrygestel; 2014 is dus die 180ste viering van die slawe se vryheid, daarom gaan daar vanjaar baie aandag hieraan geskenk word. En dit hoort ook so. Daar is so baie van ons land se mense wat nie hul eie geskiedenis ken nie, nie weet waarvandaan hulle kom nie. Hulle ken die Groot Trek en die Boereoorlog en selfs die Tweede Wêreldoorlog, maar hulle ken nie die slawe se geskiedenis nie. Daarom is programme soos hierdie, en artikels oor die slawe op LitNet, so belangrik. Ons het baie werk om nog te doen.

Foto's deur Philip de Villiers, wat 2014 se Kaapse klopsevieringe in Kaapstad bygewoon het.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.


 

  • 1

Kommentaar

  • Ja dis maar 'n hartseer storie as mens terugdink en dinge het nou wel verander vir die jonger geslag ,maar steeds is daar mense wat ander soos slawe hanteer.

    Hou my op hoogte asb ,ek is 'n gebore en getoë Kapenaar nog met al my voortande in.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top