Michael le Cordeur deel sy top leesgoed vir die afgelope jaar met LitNet Akademies.
Klawerjas deur Adam Small Vir ontspanning het ek oor die feesgety tyd gehad om Adam Small se nuwe digbundel, Klawerjas, rustig deur te lees. Wat ‘n poëtiese ervaring was dit nie! Small sê self in sy bundel: Ek was lank stil, maar nou, In die bundel kyk Small terug op die lewe. Vroeër was hy in opstand teen ’n stelsel, het hy stem gegee aan mense na wie niemand wou luister nie. Ek kom tot die slotsom dat ek saamstem met Breytenbach as hy skryf: “Daar gaan nog baie lank en met verwondering aan hierdie bundel gelees word. Die wyses waarop hy ikone en begrippe en geskiedenisse herbesoek en ... aangee, is meesterlik. Alles wat mens ooit kon wou weet, is in hierdie bundel en juis daarom wil mens dit met agting en met skroom benader ...” Die lees het uitgeloop op ‘n resensie oor die werk wat binnekort in Tydskrif vir Geesteswetenskappe verskyn, maar die verkorte weergawe daarvan kan op LitNet gelees word.
|
|
Karretjiemense deur Carol Campbell en Kirby van der Merwe ‘n Tyd gelede het Naomi Meyer my gevra om ‘n resensie te skryf van die boekie Karretjiemense. Die roman is oorspronklik in Engels geskryf deur Carol Campbell en deur Kirby van der Merwe in Afrikaans vertaal. Soos ek in die LitNet-resensie skryf: “Lanklaas het ’n roman my so aangegryp, maar terselfdertyd ook so ontstel, soos hierdie een. Karretjiemense is die aangrypende storie – om David Kramer se woorde te gebruik – van ‘die onsigbare mense van die Karoo’ (bl 27) wat Carol Campbell op die voorgrond bring. Dit gee ’n blik op die mees weerlose mense soos nog nooit tevore gedoen is nie. Karretjiemense is die verhaal van ’n brandarm Karoo-gesin wat ’n nomadiese bestaan voer. Hulle is voortdurend op reis met hul donkiekar. Karretjiemense bied opvoedkundige leesstof vir oud en jonk, wat die deursnee Suid-Afrikaner se oë sal oopmaak sodat hulle met nuwe oë sal kyk na daardie deel van ons samelewing wat so dikwels deur almal misgekyk word. Dis ‘n moet lees vir almal.”
|
|
Maar ‘n akademikus moet ook soms ‘n proefskrif lees, en dit is baie harde werk. Ek moes die afgelope ses maande behoorlik spook om ‘n tesis te lees van ‘n student wat navorsing gedoen het oor mondelingperiodes op skool. Ons ken almal daardie gevoel: leerders se vrees om in die mondelingeklas voor die klas te praat, en dit nogal vir ‘n eksamenpunt! Linda Newman, adjunkhoof van ‘n sekondêre skool in Springbok, Namakwaland, delf in hierdie tesis ‘n bietjie dieper en ondersoek die vrees wat kinders (eintlik maar ons almal?) het om voor ‘n gehoor te praat. Sy het ook goeie raad vir onderwysers wat met hierdie probleem worstel. Dalk skryf ek nog eendag ‘n artikel hieroor en kan almal dit dan op LitNet lees. |
|
Klimtol deur Etienne van Heerden Tans lees ek Etienne van Heerden se nuwe roman, Klimtol. Om die waarheid te sê ek lees dit saam met my honneursstudente, vir wie ek dit voorgeskryf het. Heelwat later meer hieroor, want eers moet ek lees ...
|
Klik hier en vind uit wat sê die res van ons akademici.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter