Verlate Kloof se mense

  • 0

Aan die onderpunt van Pentzstraat
Net duskant die treinspoor
het ons voetbal gespeel in Frikkie le Roux se kampie
lekker gebly langs auntie Koekie
Ma' as ek ons selfgemaakte bal in haar jaart skop
kon sy tog so verskriklik skel
op my, en Kiepie en Wimpie en Ampie
My vriende

Later het auntie Koekie se raas oorgeslaan na raad
Toe sy in daai kwaai winter van '76 haar stem begin verloor
Soms had ons nog tyd vir 'n skelm dampie
Agter die ou vyeboom as Mamma ons nie soekie
en toe oom Boetatjie sterf na jare se geheime dop
Kon sy die Bybelstories so mooi oorvertel
auntie Koekie en oom Boetatjie
Ons bure

Ek onthou nog vi' ta’ Mina en oom Linkie
Oorkant Patel se winkel op die hoek
Ek sien vir Mamma buk oor die sement-wasbalie
In die skaduwee onder die druiweprieel
Die asters blom geel in ons tuin
En weet: dis tyd vir Wellington se herfsskou
Dan woel my pa en oom Linkie en oom Bokkie
Die astermense

Snaaks nie een van hulle het gedrinkie
Oukersnag lees Dera uit die Boek
In die agterkamer van auntie Ralie
Waar sy haar grys hare kam voor ‘n stukkende spieël
As Joey en Tony se brass band die eerste noot basuin
begin Mamma koesiesters te bak (en brou)
die hele somernag deur, rêrig, ek sallie vir julle jokkie
Onse Kerskoormense

As die laaste sneeu in Augustus begin pryk
Op Groenberg en Sneeukop in Bainskloof
En Botterberg se madeliefies die lente aankondig
Dan begin die klopse na hul ghoemas en banjo's te vry
Tommy Kaalnek se Tulips, die Glamour Boys van Hannes Houtlorie
Onse klopsemense

In Wellington se onderdorp se buitewyk
Het ons liefgeraak vir ons Verlate Kloof
Opgegroei, uitgestyg en soms ook lekker gesondig!
Maar nêrens sou ek 'n beter opvoeding én pak slae kry
As by boeta Mike en auntie Sylvie
My pa, my ma,
my mense

Beste Michael

Eindelik! Ja, ek hou van “Verlate Kloof se mense”, waarmee jy my grootliks na my eie kleintyd in Wellington terugneem, Pentzstraat se kontrei toe en daardie hele omgewing (Pinestraat, Voorstraat, Markstraat, Terracestraat, Stasieweg, die stoomtreine waar hulle kom water inneem by die stasie vir die verdere reis ...).

Die vyebome is vir my 'n spesiale herinnering. Ek onthou hoe my Voorstraatse familie, my ma se mense, dikwels vroegaand op 'n ou perdewa-bank sit en gesels het, met duiwetroppe wat in die lug bo verbyvlieg. En die asters (soos van oom Bokkie), die marsjerende Kerskore (ek het later gepraat van Krismiskore), en klopse – dit is alles só bekend.

Ek het my pa ook aangespreek as “Dera” (Dêrri, soos ek dit gespel het), en my ma was natuurlik “Mamma” of “Mammie”. En wie kan nou die koesiesters vergeet!

En, natuurlik, bokant alles het Bainskloof gestaan – voordat Du Toitskloof daar was.

Ek waardeer veral die emosie wat in die gedig tot uiting kom. Daar's vir my hoofsaaklik twee aspekte aan die digkuns, 'n tegniese kant en 'n emosionele - dog nie sentimentele - kant. Sommige digters is sterker tegnies, maar dan ook "kouer"; ander is sterker wat die uitdrukking van verheffende emosie betref. "Verlatekloof se mense" val, myns insiens, goed uit wat emosievolle skrywe betref, maar is ook tegnies goed versorg.

Almal ons mense, ja, en hulle wêreld.

Dis 'n pragtige herinneringsvers.

Mooiste wense

Adam Small

Hierdie gedig het oorspronklik op Versindaba verskyn. Adam Small reageer onderaan die gedig eksklusief op LitNet.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top