Danie Botha

Danie Botha was van 1972 tot 2002 fiksie-redakteur by Tafelberg-Uitgewers en ook die stigter van die druknaam Homeros. Ná sy uittrede is hy steeds werksaam in die uitgewersbedryf as vryskutboekeredakteur. Tot Augustus 2006 was hy redakteur van Gay@Litnet. Hy is die skrywer Die Soft Rock Klub (kortverhale;1995), en verskeie verhale (ook vir kinders) is gebloemlees deur Hennie Aucamp, Abraham H de Vries, Linda Rode en Johann de Lange.

Hy is die samesteller van twee publikasies oor die geskiedenis van Tafelberg-Uitgewers, Hulde aan JD [Pretorius] (1987) en In ons goeie boekies: skrywers en redakteurs oor Tafelberg-Uitgewers (1991). Van 1986 tot 2007 was hy toneelresensent van Die Burger; daarna tot 2015  vir die teaterwebruimte van die Masque-teater in Muizenberg. Tans skryf hy vir LitNet: Leefstyl: Teater. Sy jarelange navorsing oor die geskiedenis van die pioniers van die Afrikaanse beroepstoneel, onder andere by NALN, het beslag gekry in Voetligte en applous! wat in 2006 by Protea Boekhuis verskyn het.

Hy stel keurbundels saam uit werk wat hy as boekeredakteur dikwels versorg het: Die beste spookstories van CJ Langenhoven (1992), PH Nortje seWellington se suiker (1993) en Op ’n hoë noot (2008), en Fanus Rautenbach se Tien uit tien (2010). In 2015 verskyn Om  Hennie Aucamp te onthou. Hy het dit saamgestel uit huldigingstekste by die dood van Aucamp.

Tot 2013 was hy veertien jaar lank mede-aanbieder van ’n kultuurprogram, "Kaapse Dagboek", by Fine Music Radio in Kaapstad. Sedert 1973 het hy voordragprogramme saamgestel en kortverhale van Langenhoven en Dalene Matthee verwerk vir RSG, en bydraes gelewer tot letterkundige programme. Met ’n lisensiaat in voordrag en drama van die Akademie vir Dramakuns in Kaapstad tree hy op in radiohoorspele; was hy huilende skurke in die Springbokradio-vervolgverhale. Was medestigter van die Akademiespelers, ’n toneelvereniging vir die studente van die genoemde dramaskool; in hulle teater Die Kamer het hy dikwels toneelgespeel. In 2011 ontvang hy ’n oorkonde van die ATKV vir sy bydrae tot die uitgewerswese, letterkunde en die radio. In Julie 2014 verskyn Die helder dae waarin hy kortverhale oor sy jeug op Worcester, artikels oor teaterlui, skrywers en uitgewers in Kaapstad, en godsdienstige rubrieke uit Kerkbode versamel. Dit vorm ’n outobiografie in die kleine. Die boek gee aanleiding daartoe dat eers Ampie Muller en nou Amanda Botha hom boeke laat bespreek in Fine Music Radio se maandelikse “Boekkeuse”. Van sy boekbesprekings word ná uitsending op LitNet geplaas asook dié wat hy net vir LitNet lewer.

Skrywersvideo: Hennie Aucamp in gesprek met Danie Botha

Hennie Aucamp, Danie Botha 2012-11-14 Hennie Aucamp is op 20 Maart 2014 op die ouderdom van 80 jaar oorlede. Kyk na die omvattende skrywersvideo waarin Danie Botha hom uitvra oor sy loopbaan.

Is daar dan gay-kuns ook?

Hennie van Coller, Danie Botha, Izak de Vries Academic research 2012-08-20

"Op Woensdag 13 Julie 2012 was daar tydens die Vryfees in Bloemfontein in die kategorie 'Van Rensburg Patoloë Boekefees' ’n bespreking van die onderwerp: '’n Gay kunstenaar: is daar dan gay-kuns ook?' Hiermee dan Danie Botha se teks wat as basis vir die opnames gedien het."

Velerlei ontmoetings met PH Nortje

Danie Botha 2012-07-18 "Ek het in PH Nortje se werk en in ons ontmoetings iemand leer ken wat met humor kon skep, maar nooit laf was nie; wat dikwels bekommerd gefrons het, wat sekerlik baie mensekennis had, wat milddadig met sy wysheid was."

Lig wankelend: Aan almal wat die metafisiese smart ken

Danie Botha Resensies 2011-05-03

In 1939 skryf NP Van Wyk Louw oor die gunstigste geestesgesteldheid om verhoogtoneel werklik te waardeer. Sy woorde kan ’n mens ook van toepassing maak op die lees van hierdie roman. Watter mense sal dit waardeer?

Droomskip en ander radiodramas

Danie Botha 2009-08-27 Uitgesoek vir skole deur Herman van der Westhuizen.

Danie Botha in gesprek met Hennie Aucamp oor toneel, 2008

Hennie Aucamp, Hennie Aucamp, Danie Botha Academic research 2008-11-12

Maar ek voel dat al die huidige feeste, al die pryse, ook sterk teenproduktief kan wees: Kry dramaturge die kans om rustig binne hul vak te groei? En ook toneelspelers? Te veel gejaag; te min tyd vir besinning.

Top