Cor Dirks se Uile is terug in ’n nuwe eeu

  • 6
Die Uile van Kranskop
Cor Dirks
Publisher: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194345
Price: R100.95
Die Uile en die rampokkers
Cor Dirks
Publisher: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194420
Price: R110.95
Breuk onder die Uile
Cor Dirks
Publisher: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194505
Price: R100.95

Onder ons wat nou aan die begin is van ons seniorburger-jare sal daar diegene wees wat sal terugdink aan Cor Dirks se Uile-reeks, hoe dit hulle aan die lees gesit het en van die jare vyftig tot vroeg sestig van die vorige eeu gróót genot verskaf het.

In my geval was dit egter aanvanklik Topsy Smith se Trompie-reeks in 1957-58. Met die kunssinnige seunskinders in Sita se Bennie-boet en Jeannette Nel-Wathall se Teen ’n rotswand uitgekap had ek ‘n geesgenootskap toe ek dit teen dieselfde tyd in die klaskamerbiblioteek op Worcester ontdek het. Nog later kon ek identifiseer met die plaaslewe in Alba Bouwer se Rivierplaas-stories en met PH Nortje se Pennie se vuur en Die groen ghoen toe ek al op hoërskool was in 1960. Terselfdertyd het juffrou Van Deventer in die kinderafdeling van die dorpsbiblioteek my probeer oorhaal tot Theunis Krogh se Keurboslaan-reeks, maar tevergeefs.

Die jeugboeke van Cor Dirks (1911-2000) het heeltemal aan my verbygegaan. Sy Uile-reeks het begin met Die Uile van Kranskop in 1950, maar ek het dit blykbaar nie in die skoolbiblioteekkas teëgekom nie. Ek onthou wel dat ons by die Afrikaanse boekekeuringsafdeling van die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens teen 1966 gereeld aanvrae vir die reeks gekry het.

Aan die begin van 2011 begin Protea Boekhuis om die reeks weer uit te gee. Dié nuus herinner mevrou Rika Garlick van die Fontaine Bleau Aftreeoord in Welgelegen, Parow aan korrespondensie tussen haar en Cor Dirks. Dit het só gebeur:

Cor was onderwyser aan die Volkskool in Potchefstroom in die jare toe Rika se legendaries pa, Cecil Steyn, die hoof was. Daarna was Cor hoof van die Hoërskool Linden in Johannesburg. In 1992 vra Rika (bynaam: Titter) hom om sy herinneringe aan haar pa op te teken.

 

Posbus 44506
Linden 2104
13 September 1992

Liewe Titter

Dit wás ’n aangename en groot verrassing om ’n brief van jou te ontvang. Baie dankie daarvoor. Dit het weer tere herinneringe opgeroep van ’n man wat ons baie respek en liefde voor gehad het, vandaar die benaming “Pa Steyn”.

Ná sy vertrek het ons ’n bra ongenaakbare hoof gehad. Eendag sê ’n man vir my: “Julle moet nou hard werk, nè?”

“Nee,” was my antwoord, “die verskil is net nou móét ek werk; vir Meneer Steyn wóú ek hard werk.”

Ek het my mangels laat uithaal en in daardie dae was die nagevolge ook nie so aangenaam nie en dit het maar moeilik in Werda-koshuis gegaan. Jou pa het dit raakgesien en “Pa en Ma” het my ‘n week en langer aan huis geneem. Vergeet ‘n mens nou sulke liefde?

Pa Steyn was ’n man wat sy krieket geken het en hy het van my ’n bouler gemaak wat paaltjies gevat het. Ek het ’n redelike vinnige bal afgestuur wat effens links weggebreek het. Hy het toe vir my drie glippe opgestel en toe was ek suksesvol.

Van kolf het ek niks geweet nie en daarom is ek altyd laat ingestuur (sonder protes). Eendag het hulle regtig ’n swak bouler die bal gegee en tot my verbasing en genot slaan ek 25 lopies.

Trots en breë bors loop ek van die veld af. “Jy dink seker nou jý is ’n kolwer,” het Pa my ballonnetjie geprik. Ek was geen kolwer nie.

Pa kon op ’n aand by ons aan huis kom en hom in ’n lekker stoel tuismaak. Ek en Ella het ons bes gedoen om ’n gesprek aan die gang te kry maar alles verniet. Eindelik bly ons ook maar stil, gee net tee. Op sý tyd staan hy op. “Dankie,” sê hy, “ek het lekker gekuier.”

Soos jy weet was hy baie lief vir blomme. Hy kon blomme wat hy plant sien blom voor hy hulle in die grond sit en dan op die regte plek. “Blomme wat op die verkeerde plek staan, is bossies,” kon hy sê.

Ons twee is eenkeer saam Molopo toe en ons kon ons toe in ’n buitekamer van die “Swaeltjiehuis” tuismaak. (‘n Vakansiehuis waar telkens kamers aangebou is. Rika onthou die sink en die min geriewe. DB)

Dou voor dag word ek wakker gemaak om te gaan vis vang. Die “wakker maak” bestaan uit jou pa wat my oor die kop tik met die visstok sodat Ella nie moes wakker word nie.

My kennis van visvang staan op nul. Ek het nog nooit eens probeer nie. Neem ’n mens dan nie ’n boek saam om jou so tussenin besig te hou nie? wou ek weet.

’n Skuins kyk en: “As jy ’n boek saamvat, slaan ek jou oor die kop met hierdie stok.”

Ek het toe maar nie ’n boek gevat nie.

My herinneringe het nie veel bygedra tot wat jy eintlik wou gehad het nie, maar vir my het dit groot betekenis dat ek hulle weer ’n keer kon opdiep.

Dra tog ons respek en liefdevolle groete aan Angelique oor wanneer jy haar weer sien. Ons het waardering en bewondering vir haar opgebou deur ons briefwisseling. (Angelique se twee broers het groot kultuurbydraes gelewer: Piet Cillié in die koerantwese en Gawie in die musiek. Sy was Rika se niggie aan moederskant. Sy het wewenaar Steyn se tweede vrou geword. DB. )

En vir jou baie geluk toegewens en groete.

Ella en Cor Dirks

Naskrif: Verskoon die gekrabbel. Ek sit in die heerlike lenteweer en skryf op die stoep.

Pa toe hy sy tande laat trek het: “Weet julle nie van iemand wat ’n goeie stel tweedehandse tande wil koop nie?”

C

Ek het gewonder of Cor Dirks met sy geskiedenis van middelmatigheid in sport soos krieket en hengel daaroor sou skryf in sulke avontuurboeke wat hoofsaaklik vir seuns bedoel is.

Annie Klopper hanteer die heruitgawes vir Protea Boekhuis. Sy vertel:

“In Breuk onder die Uile (boek 3) is daar bladsye en bladsye vol krieket- en rugbywedstryde, wat tot in die fynste besonderhede beskryf word. (Ek moes die rugbytellings in die boek aanpas tot die nuwe puntestelsel.) Die twee karakters Philip en Berrie is groot rugby- en krieketspelers! Ook in hierdie boek begin dit duidelik word dat die kleinste Uil, Jorsie, ’n groot voorliefde vir visvang het, en in die daaropvolgende boeke vang hy ook dikwels vis.

“Waar die skoolgrond aanvanklik ’n groot tema in die eerste boeke is, begin die seuns al hoe meer die boendoes invaar, soos die reeks ontwikkel. Hulle besoek die bosveld, wildtuin, Kalahari, Limpopo, Mosambiek ens. Jag is dus ook ’n groot tema, maar natuurlik is daar deurlopend gevaar, aksie en sluwe skelms.”

‘n Aantekening oor die inhoud van Breuk onder die Uile gee ’n aanduiding van die reeks se temas:

“Die Uile is nie meer vyf nie maar vier …

“Toe Berrie du Toit vriende maak met Ernest Fouché, gebeur die onverwagse: Berrie breek weg van die eens hegte groep Kranskopse vriende wat hulleself die Uile noem. Hoekom is Berrie nou vriende met Ernest wat die skoolreëls oortree en so ’n bullebak is teenoor Jorsie Neethling, die kleinste Uil? Kan daar tog iets goed in Ernest steek?

“Met krieket kan Berrie en Philip Senekal, die leier van die Uile, nog saam speel sonder dat hulle regtig saam hoef te werk. Maar toe breek die rugbyseisoen aan en in die doodsnikke van die naelbytwedstryd teen Excelsior is dit moontlik nog net spanwerk tussen Berrie en Philip wat die telling in Kranskop se guns kan beklink …

“Intussen maak die Uile ’n geheimsinnige ontdekking en Jorsie is vasbeslote om dié raaisel op te los.”

Tans is die volgende in die reeks beskikbaar(oorspronklike verskyningsdatums tussen hakies):

  1. Die Uile van Kranskop (1950)
  2. Die Uile en die rampokkers (1950)
  3. Breuk onder die Uile (1953)
  4. Die Uile in die wildtuin (1954)
  5. Die Uile in die Kalahari (1956)

Teen die einde van volgende jaar behoort die reeks volledig te wees vir die lesers van die 21ste eeu:Die Uile en die verlore stad (1957)

  1. Die Uile langs die Limpopo (1958)
  2. Die Uile by die see (1959)
  3. Die Uile in die wapad (1961)
  4. Die Uile in die stad (1962)

 

  • Staan ’n kans om ’n kopie van Die Uile van Kranskop en Die Uile in die Kalahari te wen! Stuur ’n e-pos aan wen@litnet.co.za met jou naam en "Die Uile" om in te skryf.

 

  • 6

Kommentaar

  • Yolandi Bester

    "Die Uile"
    Ek was 'n ongelooflike groot aanhanger van Cor Dirks se boeke toe ek nog op skool was. Nou wil ek dit graag vir my seun aankoop maar weet nie waar om te kry nie. Hy is 11 jaar en baie lief vir lees. Sal dit graag met hom wou deel.

  • Pieter Blignaut

    Die Uile-boeke is te koop by Jasmyn, by Meerhof op die R511 naby Hartebeespoortdam. Daar is 'n rykdom Afrikaanse boeke by hulle beskikbaar!

  • Susan Mostert

    Ek is op soek na al Die Uile boeke vir my kleinkinders. Ek't dit so geniet. Al was ek nie 'n seun nie. Enige Afrikaanse boeke asb. Ek bly in Witbank, Groete, Susan Mostert.

  • Sou graag wou weet van Uile -boeke beskikbaar vir ons kleinseun.
    Pieter Blignaut skryf
    2019-04-20 at 16:32
    Die Uile-boeke is te koop by Jasmyn, by Meerhof op die R511 naby Hartebeespoortdam. Daar is 'n rykdom Afrikaanse boeke by hulle beskikbaar!

    Kan 'n mens dit bestel per pos?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top