Droomskip en ander radiodramas

  • 0

 

Ingelei deur Eben Cruywagen met ’n voorwoord deur Margot Luyt
Uitgewer: Nasou Via Afrika, 2009
ISBN: 9781415402894
Aantal bladsye: 208

 

Klik hier en koop Droomskip en ander radiodramas nou by kalahari.net

 

Onderwys- en toneelman Herman van der Westhuizen het hier radiodramas deur Chris Barnard, Charles J Fourie, SD Fourie, Helena Hugo, Engela van Rooyen en Fanie Viljoen versamel. Vier van die ses is bekroon.

Chris Barnard ontvang die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir radiodrama vir Blindemol, ’n stemmingsvolle werk oor ’n blinde klavierstemmer, Dolf, wat vanuit die hiernamaals besin oor sy verhoudings met die kleindorpenaars, veral met die vroue wat hom liefgehad het. Soos Van der Westhuizen in sy uiters professionele besprekingsvrae aandui, kan die tema opgesom word in Dolf se woorde: “Só baie om oor bly te wees – so bitter min blydskap. Hoe kry ’n mens hulle oë oop vir alles om hulle?”

In dié spel het ons ’n pragvoorbeeld van byklanke wat spesiaal opgeneem sal moet word: die stem van ’n vals klavier. Elders wonder ek by die lees of sommige byklanke nie te skielik op die luisteraar gaan afkom nie, dat hulle nie sal weet wat om met hul geestesoog te sien nie. Die leser weet byvoorbeeld dat die wêreldvreemde Feiatjie rondhardloop met “skulpies en die klokkies en goetertjies op (haar) rok”, maar wanneer ons die eerste keer die geluide hoor, beskryf niemand haar rok nie. Eers heelwat spreekbeurte later kry ons duidelikheid by Feiatjie self. Is dit die bedoeling dat spanning geskep word met dié ongewoonheid?

Dit is jammer dat in die inleiding nie verbande gelê word met ander dramatiese werk nie. Sulke verwantskappe dui JP Smuts byvoorbeeld aan in sý opvoedkundig-gerigte Triptiek (Tafelberg, 1986), waar hy radiodramas saam met verhoog- en televisiewerk bespreek. Dis ’n verskraling van kennis as die leerders die teks in isolasie bestudeer. Dit geld ook die ander dramas in die bundel. ’n Mens hoop dat studiegidse hiermee gaan help. Ek het hier gedink aan Barnard se Paljas, Dylan Thomas se Under Milk Wood en die verwerkings van Mikro se Gonnakolk- en Soetwaternovelles.

Charles J Fourie is veral bekend as skrywer vir die verhoog. Sy Beseringstyd is nie bekroon nie, maar is wel in 2002 uitgesaai. Hier is ons in die leefwêreld van sielkundiges en rugbyspelers. Louise en Abel is onderskeidelik by dr Henriëtte Botes en dr Dirk Malan in terapie. Die twee sielkundiges probeer om die twee se liefdesverhouding weer op koers kry. In die proses vorder hulle s’n ook. Vir hulle almal geld die woorde: “(M)eeste van ons stap uit ’n verhouding, treur ’n paar maande ... miskien jare daaroor, en dan gaan dit verby. Jy gaan aan met jou lewe. Ons pasiënte is egter meer vasgevang in die verhouding noudat dit verby is.”

In sy woordverklarings hou Van der Westhuizen darem nie rekening met die sielkundige verwysingsraamwerk van die drama nie. “(P)rojekteer” word as “voorspel” beskou. Dit behoort tog in verband gebring te word met die sielkunde-begrippe in uitsprake soos: “Jou pasiënt verwar dalk sy gevoelens met onderdrukte projeksies op sy ma?” en “Daar’s niks wat dui op enige obsessies nie.” Waarom word "Freudiaans” verklaar, maar nie die veel onbekender “Schopenhauer” (bl 58) nie? (Ek kan deurgaans gevalle aanstip wat verduideliking verdien eerder as, of saam met, ander.)

Droomskip van SD Fourie het die eerste prys vir gevestigde skrywers in die RSG/Sanlam-radiodramaskryfkompetisie ontvang. Fourie verwerk seevaartlegendes uit die Overberg, stel die stranding van ’n spookskip voor nadat ons ook ’n verskeidenheid karakters se “eilandkoors” (“eensaamheid van te lank afgesonder wees op ’n eiland”) belewe het. Ek het gewonder of daar nie net te veel streektaal gebruik word nie, asof hier ’n optekeningprojek aan die gang is. Dit eis dikwels die aandag vir sigself op, sodat die dialoog nie spontaan klink nie. In die woordverklarings neem die opsteller ’n fout op bl 86 (“onderdak”) oor, verklaar dit as “slaapplek”, en gebruik nie die korrekte “(o)ns moet die spul nat voëls onder dak kry” van bl 87 nie. Beteken dit nie meer as “slaapplek” nie? By “blaas Adamastor weer skoorsteen skoon” kon hy gerus iets oor die Adamastor-legende geskryf het en dan die letterlike betekenis gegee het: “die noordweste wind (sic) waai sterk”. Op bl 48 gee hy byvoorbeeld wel die letterlike én konteksbetekenis van “Engel Gabriël”.

In dieselfde kompetisie wen Helena Hugo die eerste prys vir gevestigde skrywers met Nagwaak in 2000. Sy kom direk uit die radiogeledere as vervolgverhaalskrywer en regisseur. Die werk is op historiese feite gebaseer en handel oor drie Boerekrygers se gevangeneming, fusilering en herbegrafnis in 1902 soos veral beleef deur die agtergeblewenes.

In hierdie drama, soos by Barnard, kry ons gedeeltes waarin vertellings en beskrywings die luisteraar baie help met die visualiseringsproses. Vergelyk byvoorbeeld vanaf spraakbeurt 16 op bl 119 oor die vonnisoplegging op ’n markplein: “Die Februarie-hitte het so dik en stowwerig op ons afgesak.” Of die verwysing na die fyngetrapte peperboombessies. Vertellings kán maklik as indirek dramaties aangevoel word, maar hier is dit duidelik ’n gesprek tussen twee vroue wat saam onthou; daar is kontak tussen hulle. Iets gebeur tussen hulle. Daar is buitendien deur die hele drama heen ’n sterk balans tussen relaas, handeling in die hede en dramatisering van die verlede in terugflitse.

Sekere tonele is heel in ’n Tsjechof-sfeer en kan heerlik oor die radio met soveel intimiteit en ingehoue emosies vertolk word. Dink hier maar aan die subteks wat die spelers in gedagte moet hou op bl 129 vanaf spraakbeurt 14.

Die bekende romansier Engela van Rooyen se Omdat die wind alleen is is in 2002 met die tweede prys vir gevestigde skrywers in die reeds genoemde wedstryd bekroon. Die spanning word goed volgehou wanneer ’n geheimsinnige vrou die lewens van ’n “suster” en “broer” in ’n windnag binnedring en ontwrig. Dit skep wonderlike speelkans wanneer dié afperser se ware aard al hoe meer na vore kom en die een onthulling na die ander ontstaan. Dit herinner my aan die rillerelemente van Robert Thomas se Trap For A Lonely Man.

In hierdie spel is daar nie ’n opgekaptheid in verskeie kort tonele wat die luisteraars kan verwar nie. (Dit is so bevredigend as Van der Westhuizen in die inleidings die voorkoming van verwarring beklemtoon.) Dit toon ’n sterk eenheid van tyd en ruimte sodat die intrige duidelik opgebou word. Dit behoort ook met gemak vir die verhoog aangepak te kan word.

Komedie word vir laaste gehou. Dit kry ons ruimskoots in romansier Fanie Viljoen se Die losprys (in 2001 uitgesaai). Twee dommies ontvoer ’n ryk man se vrou, maar een ou vergeet so ’n bietjie om haar in die motor te laai. Hulle vervang haar sommer met ’n ander. Maar die ryk man se vrou is blank, en hulle ontdek dat Thandi, die plaasvervanger, ’n formidabele swart dame is. ’n Loslittige warboel ontstaan. Die samesteller se gunstelinge is die ontvoerders Coert en Freek, terwyl Thandi myne is. Dink net hoe kan die volgende nie gespéél word nie: “Honey, moenie worry nie. Ek is orraait. Give the man the money, honey. Moenie weghol nie. Hei, hei.”

In vergelyking met soortgelyke bundels in die verlede, soos Smuts se Triptiek en LB Odendaal se Hoorspelkeur (Tafelberg, 1983), neem hierdie bundel die leerder veel nader aan die kuns van radiodramas. ’n Ervare radioregisseur soos Eben Cruywagen beskryf hoe ’n radiodrama opgevoer word. Dit word met foto’s geïllustreer. Weliswaar is dit ou dowwe foto’s. Die grootste vernuwing is dat ’n MP3-CD met opvoerings van die stukke ingesluit word. Die leerders sal kan sien hoe die teks ingekort word en hoe ’n klankman die voorgestelde byklanke realiseer (of nie).

Maar nou moet ek begin alarm maak.

Gaandeweg het ek onbevredigende sake in die woordverklarings aangedui. Daar is nog meer. Ook oor Eben Cruywagen se inleiding het ek vrae. Drie skrywersname word verkeerd gespel: MER se "Rothman" moet nog ’n "n" kry; Henriette Grové gebruik nie deeltekens vir haar naam nie; en Johan van Jaarsveld spel nie sy naam op s’n Duits nie.

Dan verbaas dit my dat hy so min oor moontlik die belangrikste deelnemers aan ’n radioproduksie skryf: die akteurs. In die fotobyskrifte volstaan hy met algemene opmerkings, maar kon hy nie vertel het van die speltegniek van ’n radiospeler nie? Waarop konsentreer jy in die ateljee? Wat maak van jou ’n goeie speler of nie? Hoe word jy ’n radiospeler? Met ander woorde, die kanse is groter dat hy meer toekomstige spelers as regisseurs en tegnici sou bereik het.

Ek wonder ook waarom die opvoedkundiges radiohoorspele verwelkom. Kon Cruywagen of Luyt nie ’n bietjie uitgewei het oor waar hoorspele op die publiek en spesifiek jeugdiges se gewildheidsleer staan nie? Kon hulle ons nie met statistiek gerusgestel het dat hoorspele goed met televisie meeding nie? Sal dit die leerders in die toekoms help as hulle alles van radiodramas weet, maar nie hoe om vir die verhoog, televisie en filmmedium te skryf nie? Moet ’n mens inlees dat die voorskrywers nie meer nuwe eenbedrywe kry nie, of, veral met die opkoms van fisieke teater, nie letterkundig ontleedbare vollengte dramas nie? Of is dit in elk geval nie wenslik om leerders aan ’n enkelstuk van een dramaturg alleen voor te stel nie?

En nou skreeu hierdie alarm:

Met alle respekte gesê: die bundel is baie swak geredigeer tot op bl 107. Van daar af tot aan die einde op bl 207 is dit hoofsaaklik die woordverklarings wat pla.

Uit ondervinding weet ek hoe dit ’n boekeredakteur ontstem as jy in ’n teks van 350 bladsye honderde verbeterings aangebring het en die resensent betig jou oor vyf foute, maar hier is daar foute en debatteerbaarhede op feitlik elkeen van die kort bladsye, en dan ook nie net een of twee nie (veral in die eerste helfte). Hier is foute met leestekens soos ontbrekende punte aan die einde van sinne; kommas wat by aangesprokenes of tussenwerpsels ontbreek (talle gevalle by Droomskip), enkelaanhalingstekens waar dit dubbeles moet wees; aandagstreep wat vas is aan ’n volgende woord; woorde wat verkeerd afgebreek word; onfunksionele woordherhalings in een paragraaf of op een bladsy; taalfoute waarvan die korrekte weergawe op dieselfde bladsy of later in die boek wel voorkom (byvoorbeeld “in die agtergrond” teenoor “op die agtergrond”; “alweer” teenoor “al weer”; “die heeltyd” teenoor “die hele tyd” of “heeltyd”; en “laasnag” teenoor “laas nag”. Hier is gewone spelfoute: “spieel”, “soja” (teenoor “so ja”), “ma” as aanspreekvorm (teenoor elders “Ma”), “sink emmer”, “noordweste wind”, en die “mooi” een op bl 180: “karkater” ("karakter").

Die dramas verdien dat die uitgewers ’n heruitgawe dringend publiseer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top