Is daar dan gay-kuns ook?

  • 0

Op Woensdag 13 Julie 2012 was daar tydens die Vryfees in Bloemfontein in die kategorie “Van Rensburg Patoloë Boekefees” ’n bespreking van die onderwerp: “’n Gay kunstenaar: is daar dan gay-kuns ook?”

Hennie van Coller was die gespreksleier met Renéy Warrington, Chris van Niekerk en André Stolz as deelnemers. Hennie Aucamp sou in ’n DVD-opname deur Izak de Vries opgetree het, maar vra Danie Botha toe as sy plaasvervanger. Izak het ’n langer en ’n korter opname gemaak waaruit snitte gemaak sou kon word. Uiteindelik is die opname weens tegniese probleme in Bloemfontein nie uitgesaai nie.

Hiermee dan Danie Botha se teks wat as basis vir die opnames gedien het – sonder enige oorleg met die twee Hennies. Die vrae is wel van Hennie van Coller. Die YouTube-video's is deur Izak de Vries verfilm.

 

Danie Botha: "Ek wil graag net ’n terreinafbakening as oriëntering gee. Ek glo ek moet my bepaal by my eie ervaring as ouer gay man (65), my ervaring ook van biseksuele mans, en dan as boekeredakteur (30 jaar lank ) en as skrywer (sedert 1990). Van die kunste sou ek my net oor letterkunde en die teater kon uitlaat."

Is daar iets soos Gay-kuns/Gay-literatuur? Indien wel, waarin lê die onderskeidende kenmerke – is dit die tema/onderwerp/aanslag/styl?

 

 

Ja, daar is gay-kuns, byvoorbeeld gay-literatuur. Maar ek haas my om te sê dat ek later by ’n definisie gaan probeer uitkom. Dit is kontensieuse vrae. Terwyl ek antwoord, is ek my so bewus van ambivalensies, van weerleggings en teëspraak.

Oor gay-kuns het daar onlangs ’n boek van Hennie Aucamp verskyn en is daar ’n tweede in wording. Ek is sedert die jare tagtig sy redakteur. Is tans besig vir Protea Boekhuis met sy versameling essays en artikels oor kabaret, getiteld Koffer in Berlyn. Daarin word heelwat gay kunstenaars genoem: sangers, komponiste, liriekskrywers, dansers, skilders, fotograwe en so meer. By Protea Boekhuis het reeds Lendetaal: homoërotiek in die kunste en die letterkunde verskyn. Toe ek die webruimte vir gay skrywers, Gay@LitNet, begin het in die jare neëntig, was ek bevoorreg om baie bydraes van Hennie te kry en dit is nou opgeneem in dié indrukwekkende werk; dit span die kroon op sy kultuurkritiek.

Ja, jy kan die kunstenaars wat Hennie noem, gay kunstenaars noem. Ek het teen 1999 met die Homeros-boeke die gay-letterkunde probeer bevorder. Ons redakteurs is gevra om voorstelle te maak vir nisbemarking. Ek het my voorgestel hoe die gay en biseksuele mans se ervarings uitgebeeld kan word in alle soorte letterkundige genres. Maar ek het gou verneem dat daar diegene is wat gekant is teen ’n etikettering met “gay-letterkunde” en “gay skrywers/kunstenaars”. Dit marginaliseer die gays, sluit straights uit, beperk die bemarkingsmoontlikhede. Sommige gays wil hulle juis intregreer met die straights, hulle wil aanvaar wees en basta. Nee, sê hulle, ’n boek is ’n boek, goeie letterkunde is goeie letterkunde. Maar ek het met Homeros bly glo so ’n etiket help met bemarking; dit identifiseer die inhoud vir die voornemende koper. Dit kan meer gereeld verskyn en nie so af en toe tussen “algemene” boeke deur nie.

Maar ek het teenspoed gehad met die bemarking. Die magte bo my het geglo dié soort boeke moet “onder die kombers” bemark word. Voorkeur moet gegee word aan die algemene, aan die boeke oor en vir heteroseksueles. ’n Groot boekwinkelgroep het die bemarkers ingelig hulle is ’n “gesinsboekwinkelgroep” en kan nie sulke gevaarlike werk op byvoorbeeld die jeug loslaat nie. Later het die topbestuur gesê: net een, hoogstens twee boeke per jaar en dan moet dit hoghe letterkunde wees. Ek was in opstand daarteen. Ek wou juis ’n verskeidenheid genres publiseer, iets vir die uiteenlopende smaak van die teikenmark – erotiese vermaak, ligte liefdesverstrooiing, humor, feiteboeke soos ’n Afrikaanse Spartacus wat gay-vriendelike gastehuise, klubs, optelareas, ens aandui (dit was nog effens in die tyd voor internetdienste), en ja, asseblief ook poësie, drama, kortverhale en literêre romans waarin die sielkundige insigte en emosionele verwikkeldhede duidelik en akkuraat weergegee word. Soos ’n Francois Loots dit doen in Lente in Beijing; soos nou weer in Peter Krummeck se Adam and Luke of Robert Young se Dubbelspel. (Nogal opmerklik dat die drie genoemdes dit het oor die dinamika tussen gay jonger mans en ouer, getroude biseksueles.)

Teenoor die rigting van integrering of gelykstelling, en daarmee die ontkenning van gay-letterkunde, wil ek juis gay-letterkunde probeer omskryf en die betiteling regverdig: Gay-letterkunde is ’n kunsskepping deur gay mans en gay vroue, biseksuele mans en vroue en heteroseksuele mans en vroue wat hulle as sodanig identifiseer, en dan die hele gay- en biseksuele bestaan, in al die groot verskeidenheid fasette, verken, uitbeeld sodat die gay en biseksuele mans en vroue hulle daarmee kan vereenselwig, dit volgens die aard van die verskillende genres kan waardeer. (Hierna sluit ek “biseksueel” in onder “gay” en gaan dit vir my veral om mans.) Die skrywer, afgesien van sy eie lewensingesteldheid, ondersoek die gay-bestaan, en die eindproduk behoort as gay-letterkunde beskryf te word. Met my eie gay-kortverhale het ek in my agterkop gehad dat daar onkunde en onbegrip oor die gay-bestaan is vanweë die onderduiking van sommige gays weens homofobie en die onaanvaarbaarheid van hul lewenstyl in die breër samelewing. Dat dit vir almal oopgeskryf moet word. Maar dit klink darem te programmaties.

Om gay of straight te wees is gewoon 'n seksuele oriëntering – dit kan tog nie jou hele lewe bepaal nie. Waarom dan die indruk dat om gay te wees eintlik veel meer omvat? Dit lyk asof dit veel meer raak as blote seksuele oriëntering; dit raak 'n lewensoriëntering.

 

 

Ja, dit gaan om seks wat op verskillende maniere beoefen word en dit beïnvloed weer die leefstyl van die praktiserendes of van dié wat hulle daarvan onthou.

Neem nou byvoorbeeld ’n enkellopende, “alleenstaande” man (Gerrit Olivier se formulering, waarmee ek my ná al die jare nog identifiseer). Hoe kry hy nou geleenthede vir seks? Hoe ontmoet hy ’n lewensmaat? ’n Paar dekades gelede was daar in sekere gay-kringe die kuier aan huis, die “at home”, waar die jongeres deur die oueres kultureel opgevoed is en ook ingewy is in die dinge van gay-wees. Daar was ook “rowwer” partytjies. In Party van ons: Die Homeros Leesboek 2001 vertel Kallie Burger van so ’n huispartytjie in 1966 in ’n rykmanswoonbuurte van Johannesburg waarop Marshallplein se Ontugafdeling toegeslaan het. So ’n byeenkoms van tot drie honderd gays was onwettig. Daardie nag het fopdossers ’n oorwinning behaal.

Maar aan die ander kant was daar ook die “gevaarlike” seksuele jagtogte op straat, in arkades, openbare toilette, gimnasiums, flieks, op strande, hier in die Kaap op Sandy Bay, Graaff’s Pool en die soveelste Steen naby Bloubergstrand. Jy kon ook kontak bewerkstellig met advertensies in die “hoekies vir eensames” in tydskrifte soos Keur. Daar was kodes in ’n skuilnaam, soos “Sewe duim en ’n stukkie” of in ’n sinsnede soos “man wat hou van die mooi dinge in die lewe”. Koerantadvertensies het jou “escorts” en M2M-masseurs laat ontbied; kan dit vandag nog doen. Later kon jy jou gaan uitleef in stoombaddens wat eers gemeng was, sommiges later openlik gay. Saunas én ook ander fasiliteite kon jy gebruik: die donkerkamers, die labirinte, die vasbindgeriewe, ens. Kroeë, klubs, sekswinkels het jou verwelkom. Daar’s vandag nog Adult World met die afskortings met loergate/”glory holes”/Judasoë (laasgenoemde Johann de Lange se skepping) waar gay, bi en nuuskierige straights mekaar ontmoet met nie ’n vrou in sig nie. Die internet met die kontakwerwe haal ons deesdae van die straat af en jy reël orgieë of een-op-een tuis. Pornografiese DVD’s sorg vir ontspanning op jou eie of saam met ander. Maar te midde van hierdie seksuele stimulasie is daar ook die behoefte aan stabiele verhoudings. Lewensmaats, saam woon, sosiale verkeer, huwelike aangaan, kinders aanneem, en hier raak jy jou bewus van die samelewing se aanvaarding al dan nie. Die enkellopendes kan aan emosionele armoede ly, maar is ook vry van die dramas en probleme van ’n vaste verhouding. Die enkellopende is dan gewoonlik langer in die kas, lewe langer met die geheim. Selfs as jy uitkom, wonder jy steeds hoe jy werklik ervaar en aanvaar word deur die gemeenskap, straights en medegays. Die biseksueles hou hulle gayheid dikwels baie geheim; daarom bied gays vir hulle uitkoms, ontspanning aan. Die gay wat gewoond is aan ’n onverbondenheid, weet hoe om dié “no strings attached”-diens te lewer (jy bel nie huis toe nie; jy meng byvoorbeeld nie in sy huwelik in nie; jy wag maar tot die lus hom oorval of ’n wegglipkans van sy meisie of vrou ontstaan). Ons is die soort gays wat die bi’s bewonder, hulle manlike auras geniet; ander sal ver van hulle af bly.

Daar is ook soorte seksbeoefeninge wat aanleiding gee tot minder gewone leefstyle. Dink aan die gebruiksvoorwerpe wat gekoop of gemaak moet word; die soorte lokale wat gevind of geskep moet word:

Sadomasochisme in die “kerkers”, kelders en motorhuise; milder vorms daarvan waar slaan met masserings gekombineer word. Vetties en hulle bewonderaars; die Bere met versorgde baarde en ruim mae; die verheerliking van jeug en liggaamsbou; jong man wat ouer man soek; pa/seun-rolspel, wat nie te verwar is met pedofilie nie en kan ook in mentorskap ontwikkel; pedofilie; pissery; skatologiese spel; baba-rolspel waar man doeke vir jou aansit en jou laat drink; dwelms; nudisme; draadtrekklubs; fopdossery vir vermaak; transvestiete; transseksueles; seuns wat seks het voor tienermeisies, waarna meisies hulleself verwond, ens. Ruim stof vir die kuns.

Raak die stryd om as gay totale aanvaarding te geniet binne 'n heteroseksueel-georiënteerde gemeenskap nie dikwels 'n issue by die gay (kunstenaar) wat tot bepaalde eksesse lei nie?

 

 

Eksesse? Watter soort? Wil sê: Hoekom nie? Dit kan opwindend wees vir gewer en ontvanger. Ja, tot die vele soorte ingesteldhede by gays is bitsigheid, aggressie; die neiging om “camp”, gevaarlik te lewe; kil, selfgesentreerd te wees; die wil te hê om te skok, uitdagend te leef asof jy niks te verloor het nie.Ja, daar’s manne wat neersien op straights – hulle is tog so gewóón, verras jou nie. (Maar dan is daar weer gays wat nét straight vriende het.) Daarom dat gays dikwels verdoem word as onvolwasse, onbetroubaar. Dis dikwels omdat hulle geestelik en liggaamlik onvervuld is, omdat hulle sonder ondersteuning en praktiese hulp so vreeslik op hullesélf aangewese is dat hulle selfgesentreerd raak. Daar’s inderdaad gays wat hou van eksesse, byvoorbeeld met kleredrag en grimering. Met eksesse in die letterkunde word seker onder meer pornografie en laster bedoel. Maar die skrywer sal deur sy ervaring van keurders, letterkundiges, redakteurs, boekebladredakteurs en lesers ook in kalmer rigtings gestuur word. Die skrywer sal moontlik die trefkrag van suggestie op die regte plek begin aanvaar sonder om realisme en waagsaamheid heeltemal in te boet. ’n Skrywer en sy redakteur sal ook waag.

Is daar in die afgelope jare in Suid-Afrika 'n groter aanvaarding/openheid ten opsigte van gay-kuns en die gay kunstenaar?

 

 

Ja, ek glo so. Maar aan die ander kant: Hoeveel gay-boeke verskyn daar nou om mee rekening te hou? Min boeke om aanvaar te word. Ek had ook minder aangename ervarings in die boekebedryf. Daar was byvoorbeeld Robert Young se Dubbelspel wat in een van die belangrikste koerante nie ’n resensie gekry het nie. Ek het twee maande gewag vir my resensie oor Peter Krummeck se Adam and Luke om te verskyn. In die Homeros-tyd tot so 2004 het die resensente dikwels nie die boek volgens die genre ingeskat nie. Hulle het alles as letterkunde beoordeel. Dan was daar weer party wat die boeke aan hulle soort bestaan getoets het. ’n Gay wat byvoorbeeld binne ’n teateromgewing werk, waar gays glo relatief maklik aanvaar word as gay – hy maak sterk beswaar wanneer ’n skrywer ’n wroegende uitbeeld, ’n gay wat stry teen verwerping en vernedering en wat smag na liefde. Nee, betoog hy, die skrywer moet die bevryde gay uitbeeld! Ons is los van daardie diskriminasie, die grondwet is aan ons kant en ... die kerk ondersoek dinge. Van ’n ander gay kry ek vanmiddag nog die volgende reaksie op ’n artikel waarin ek my “uitkom” ter sprake bring: “Dink jy mense gee meer om oor wat jou (of enigiemand anders se) voorkeure en afkeure is en of jy daarmee vrede het al dan nie?” Dan wil ek sê: Ja, die bevryde stem moet ook gehoor word. Wat van ’n gay-grapboek? ’n Suksesteaterstuk soos Rachelle Greeff se Naaimasjien wil wys hoe goed die verhouding tussen moeder en gay seun kan wees. Dit hou ’n positiewe beeld vir die straights en sommige gays voor. Vir party van ons kom dit egter in ’n sin weer neer op neerbuigendheid. Maar aan die ander kant: elke keer as die gay-polemiek weer opduik: lees, luister maar na die homofobiese uitlatings. Of ’n pakstoorklerk of onderwyser vertel vir jou hoe hulle nie durf “uitkom” nie. ’n Pa onterf sy seun, jaag hom die huis uit. Jy hoor met siddering aan hoe gays in ander Afrika-lande vervolg word. Nee, gay skrywers het magtige, uiters geskakeerde inhoude om aan te pak, veral in Afrikaans.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top