Lig wankelend: Aan almal wat die metafisiese smart ken

  • 0

Lig wankelend: die wese van die liefde en lewe van Utte Reuter
Gerard Scholtz
Uitgewer:
Queillerie
ISBN: 9780795800153
Prys: R136.00

In 1939 skryf NP Van Wyk Louw oor die gunstigste geestesgesteldheid om verhoogtoneel werklik te waardeer. Sy woorde kan ’n mens ook van toepassing maak op die lees van hierdie roman. Watter mense sal dit waardeer?

Almal wat smart ken, wat nog rusteloos is … wat in geslagtelike en ander sake onbevredig is … almal wat om iets onbereikbaars treur, almal wat die metafisiese smart, die eintlike skoonheidsverlange, ken …

Want dié lesers sal hulle kan identifiseer met die verteller in die boek, sy wat ook ’n lewe van onvervulde liefde gehad het, wat uitgereik het na ’n onbereikbare geliefde.

Ons verkeer in die geselskap van Utte Reuter. In die hede is sy verwyder van die natuur, van berg en plante, diere en voëls by ’n stranddorp, dit wat sy so intens beleef het, navorsing oor gedoen het. Sy is ingeperk agter die veiligheidshek van die Alzheimer-afdeling in ’n ouetehuis.

In die werklike lewe was Gerard Scholtz ’n buurman op Rooiels van dié merkwaardige vrou. Aan die hand van dokumentasie, gesprekke en herinneringe laat hy haar haar lewensverhaal vertel. Reeds op bladsy 6 is daar die ontroerende herkenningstoneel in die ouetehuis tussen hulle twee:

Sy soek en tas en probeer die verlede deur newels vasgryp. Probeer onthou. Sy steek haar hand uit. Vat aan my gesig.

Toe fluister sy my naam en gryp my vas. Laag en skor, die stem van iemand wat lankal nie meer praat nie.

Sy roep haar verlede op, achronologies, want dis herinneringe wat ’n eie koers kies. Daar is haar jeug in Duitsland. Haar ervarings tydens die Tweede Wêreldoorlog kom veral helder en ontstellend na vore. Een van die vele indrukwekkende tonele is op bl 35 waar sy saam met ander verpleegsters aan die Oosfront voor ’n verskriklike werklikheid gestel word: óf verkrag, geskend en doodgeskiet word deur die oprukkende Russe, óf die veldprediker skiet hulle – “die dood is God se genadeoffer”. En toe was daar Bad Kreuznach, die opelug-konsentrasiekamp van die Geallieerdes vir Duitsers waar sy die verpleegassistent geword het van ’n Franse snydokter, Felix Fauré, hy met die donkerbruin oë “soos ryp kastaiings”.

Christiaan Hofmeyr bied haar ’n uitkoms: trou met hom en sy kan makliker en gouer na Suid-Afrika kom. Maar haar lewe is vol ironieë, vol teenslae. Dis nié ’n uitkoms nie. In die land waar sy haar nie tuis voel nie, ontwikkel ’n vernietigende wanverhouding tussen hulle. Hy met sy sombertes, donker buie; ongedurigheid. Sy huweliksontrou neem toe. Haar twee seuns bring ook nie volledige vervulling nie. Haar soektog na haar geliefde dokter Felix was onsuksesvol. Geestelik gaan sy al hoe meer agteruit. Wanneer en hoe het sy finaal oor “die afgrond” gegaan?

In hierdie roman is daar op elke bladsy bewyse van kreatiewe skryfwerk. Scholtz sal in ’n sin met iets bekends, iets alledaags begin en dan met ’n spesifieke woordkeuse of sinswending dit in iets ongewoons, verrassends omskep. Sonder – en dis belangrik – dat dit opdringerig of verwarrend of pretensieus raak.

Hier word ook alledaagshede beskryf wat seker nog in geen ander Afrikaanse prosawerk voorkom nie. Lees maar die akkurate beskrywing van die huisbouwerk, die tuinmakery en veral die versorging van die teëls. Baie natuurtonele word saaklik en stemmingsvol opgeroep, waarvan die walvistoneel op bll 31–2 en die suidooster op bl 45 seker die indrukwekkendste is. Sulke tonele se lewensbeskoulike, simboliese toepaslikheid is dikwels ook duidelik.

Ongewoon is die inligtingsgedeeltes (oor geskiedenis, geografie, fauna en flora, ens) wat tipografies van die hoofteks onderskei word en naslaanmoeite vir die leser bespaar. Dis funksioneel as illustrasies van Utte se navorsing en sorgvuldige aantekeninge.

’n Laaste voortreflikheid: Scholtz wat sintakties en stilisties die spraakritmes en gedagtestrome realisties-boeiend weergee:

Daardie nag, die volmaan was hoog, wolke het met ’n ontstellende spoed oor die berg en die naglandskap gerol, toe klop my kop vol musiek.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top