
Cintaine Schutte as Annie en Judi Hattingh as Helen (foto: Clifford Roberts)
Die bekroonde akteur Willem Dafoe het op ’n keer gesê: “Goeie teater daag ons denkwyse uit en moedig ons aan om te fantaseer oor die wêreld waarvan ons droom.” Hierdie stelling is waar vir baie klassieke teaterstukke, maar beslis van toepassing op die pas bekroonde Annie+Helen, ’n drama oor Helen Keller wat vanjaar by die KKNK op Oudtshoorn gedebuteer het.
Dis vir 10 Kannas benoem. Dié produksie is ’n projek van Wordsmith’s Theatre Factory (Hennie van Greunen en Pedro Kruger se produksiemaatskappy) en Curro Create en is onder meer vir beste debuutwerk en beste toneelaanbieding benoem. Die 13-jarige Judi Hattingh is benoem as beide beste vroulike speler in ’n hoofrol én beste opkomende kunstenaar of nuweling, met verskeie spelers (Cintaine Schutte, Stian Bam en Bianca Flanders), die stelontwerp (Rocco Pool), uitnemende literêre bydrae vir die nuutgeskepte teks en regie (Van Greunen) wat benoemings ontvang het.

Bianca Flanders ontvang die Kanna vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol. Van links is Crispin Sonn (ere-direkteur van die KKNK), Bianca en Lisa Sonn. (Foto: © Natalie Gabriels)
Die sukses van Annie+Helen strek egter veel wyer as die twee Kanna-toekennings wat op 15 Mei aan Bianca Flanders vir beste vroulike speler in ’n ondersteunende rol en Judi Hattingh as beste opkomende kunstenaar of nuweling uitgedeel is. Die stuk raak mense baie diep en praat veral met opvoeders wat met gestremde kinders werk en ouers van gestremde kinders.
........
Die stuk raak mense baie diep en praat veral met opvoeders wat met gestremde kinders werk en ouers van gestremde kinders.
........
In 1887 ontmoet Annie Sullivan en Helen Keller mekaar – ’n ontmoeting wat hul lewens onherroeplik verander. Die 28-jarige Annie voel soos ’n gebroke legkaart, verkeerd aanmekaargesit, terwyl die 12-jarige Helen vasgevang is in ’n donker limbo – sonder die vermoë om te sien, te hoor of te praat. Wat volg, is ’n intense en roerende oorlog tussen twee gebroke mense. Dit is ’n stryd wat ontvou in veldslae rondom die eetkamertafel, kopskermutselings in gebaretaal, ’n oorlog om beide Annie en Helen se oorlewing.

Cintaine Schutte as Annie en Judi Hattingh as Helen (foto: Clifford Roberts)
In die rolverdeling is Cintaine Schutte as Annie, Judi Hattingh as Helen, Bianca Flanders as Kate Keller, Stian Bam as Arthur Keller en Eldon van der Merwe as James Keller. Dis gegrond op William Gibson se The miracle worker, Helen Keller se The story of my life en Kim Nielsen se Beyond the miracle worker.
Pedro vertel: “Ons kry ongelooflike terugvoer na die vertonings by die KKNK en Suidoosterfees. By die KKNK het ’n onderwyseres van dowe leerders ons ingewag om te vertel hoe roerend en akkuraat die toneelstuk is; nie net oor Annie en Helen se stories nie, maar ook oor die moeilike pad wat die onderwysers van hierdie leerders soms moet stap.
“Annie sê op ’n stadium vir Kate (Helen se ma) dat Helen se grootste struikelblok nie is dat sy doof en blind is nie, maar haar ma se liefde – en die breër gesin om haar –se simpatie. Die betrokke onderwyser het gehoop dat baie ouers van dowe of gesiggestremde kinders die toneelstuk kan sien, want die onderwysers veg daagliks die oorlog teen die oormaat simpatie wat van hierdie kinders toelaat om te doen wat hulle wil, wat die onderwysers se taak in terme van dissipline soveel moeiliker maak.

Bianca Flanders as Kate Keller en Judi Hattingh as Helen (foto: Clifford Roberts)
“En dissipline is die pad na akademiese sukses, en ook sukses in hulle beroepskeuses as volwassenes.”
Hennie het tydens die KKNK in ’n teatergesprek aan Kabous Meiring genoem dat hy self ’n gestremde suster het en dit het sy empatie met gesinne met ’n gestremde kind van jongs af gevorm. Hy sê: “My suster, Karen Smit, is as drie-jarige gediagnoseer met juvenile rheumatoid arthritis, wat ’n groot liggaamlike tol geëis het. Sy is deesdae in beheer van Vodacom se special needs-afdeling, en het ’n doktorsgraad en ’n gelukkige gesin.
“Dit het tot ’n mate my empatie geslyp teenoor ander vandat ek kind was – nie net gestremdes nie, maar mense om my wat deur moeilike tye gaan. Wat my wel bybly van my grootwordjare, is die normaliteit in die gesin van die gestremde persoon. Karen se gesin, familie en vriende het haar as net nog een van die kinders aanvaar en so is sy grootgemaak. Ja, ons moes haar by trappe op en af dra, en sy het uitdagings gehad, maar die normaliteit van haar plek in ons familie was vir ons iets alledaags.
“Ons moes soms herinner word dat sy wel ’n gebrek gehad het, maar wat daarmee saamkom – die dokters, die operasies, die medikasie, die hulpverlening – was net baie gou deel van ons status quo.
“Dit is ook so met Helen – haar gesin raak vinnig gemaklik met haar en vorm ’n aanvaarding om haar wat Annie wel moet teenwerk, maar wat presies was wat met ons familie gebeur het.”

Judi Hattingh ontvang die 2025-Kanna vir beste opkomende kunstenaar of nuweling van Anet Pienaar-Vosloo, een van die borge van die Kanna-pryse. Sy en Ton Vosloo (Ton is ’n beskermheer van die KKNK) het die Kanna vir beste opkomende kunstenaar of nuweling geborg. (Foto: © Natalie Gabriels)
Pedro en Hennie vertel hulle het Judi die eerste keer gesien as deel van hul Curro Arts Superhero-projek, waar sy uitgestaan het as ’n graad 4-akteur.
“Ons het haar toe genooi om deel te wees van ons Kaapse Kryptonite Concert, wat die uitblinkerleerders in al die kategorieë die kans gee om voor ’n vol huis te speel in ’n verhoogkonsert.”
Pedro vertel: “Ek het vir Nico Scheepers gevra om ’n kort toneelstuk te skryf vir drie spelers (monoloog-gedrewe, soos Amper, Vrystaat) en Judi het dit saam met twee mede-akteurs opgevoer. Haar talent, vermoë om notas te neem en natuurlike instink vir die verhoog was onmiddellik sigaar.” Kyk gerus die stuk hier:
Hulle vertel deur die volgende twee jaar het Judi keer na keer Kryptonite-sertifikate (tussen 95% en 100%) vir haar verhoogwerk gekry; sy het twee keer die Monoloogfees in haar kategorie gewen; sy het in die kykNET-film Desemberdiewe gespeel, ook in die Kunstekaap se The sound of music; en sy was deel van Curro Durbanville Laerskool se bekroonde dramagroep, onder leiding van Cecilia Wesson. Kyk die video van haar reis met Curro Create:
In haar graad 6-jaar is Judi genomineer vir AMP – Curro Create se Advanced Mentorship Programme – waar die room van die leerders in verskillende dissiplines (van fotografie, kuns, musiek, tot by kodering, filmmakers) met ’n professionele mentor gekombineer word vir ’n agt week intensiewe kursus.
Hennie vertel: “Ek het besluit om Judi self te mentor. Die vraag was: Wat doen ’n mens om hierdie briljante jong akteur se vaardighede uit te bou? As speler is sy verbaal indrukwekkend, baie slim, emosioneel ongelooflik uitdrukkingsvol. Die antwoord: Jy gee vir haar ’n rol waar geen van hierdie vaardighede eksplisiet gebruik word nie – Helen Keller, wat doof en blind grootgeword het en dus ook nie kan praat nie.
........
“Ek het besluit om Judi self te mentor. Die vraag was: Wat doen ’n mens om hierdie briljante jong akteur se vaardighede uit te bou? As speler is sy verbaal indrukwekkend, baie slim, emosioneel ongelooflik uitdrukkingsvol. Die antwoord: Jy gee vir haar ’n rol waar geen van hierdie vaardighede eksplisiet gebruik word nie – Helen Keller, wat doof en blind grootgeword het en dus ook nie kan praat nie.”
– Hennie van Greunen van Wordsmith’s Theatre Factory
........
“In gesprek met die adjunk- uitvoerende hoof van Curro, Marí Lategan, het die idee opgekom om ’n nuwe verwerking van Helen se verhaal te vertel, met Judi in die sleutelrol, en ’n rolverdeling van professionele akteurs wat almal al met ons saamgewerk het aan ons Curro Create-projekte. En dit was die oorsprong van Annie+Helen.”
Ook in die teatergesprek by die KKNK is vertel dat Judi met oorfone en geblinddoek gerepeteer het, sodat sy heeltemal van haar ander sintuie afhanklik was.
Hennie vertel: “Ons het vir Judi gevra om ’n kombersfort te bou (as akteur) en toe as ’n akteur wat Helen speel, en finaal het ons haar wêreld met die oorfone en blinddoek soveel beperk as moontlik.
“Alles wat sy kon doen voor die tyd, het 100% verander: sin van rigting, posisie van stoele, oorgooi van komberse. Alles was baie meer kompleks en dit het Judi gefrustreer, wat baie gehelp het met haar verstaan van Helen se emosies en binnewêreld.”
Jacus, Judi se pa, sê hy en sy vrou, Lina, het haar ook genoodsaak om alledaagse take te doen in hulle huis, wat sy só goed ken, maar dit was vir haar ontsettend moeilik. “Ons het haar onder meer gestuur om items in haar kamer te gaan haal; ander klere aan te trek; en haar bed op te maak. Ons het ’n dubbelvlakhuis, so net die trappe se uitklim was ook al ’n uitdaging.”
Hy sê dit wat by die huis gebeur het, was eintlik baie min. “Die harde werk en groei het tydens repetisies plaasgevind. Ons was self bietjie uitgeboul met die eindresultaat tydens die finale kleedrepetisie. Dit was baie emosioneel.”

Cintaine Schutte as Annie en Judi Hattingh as Helen (foto: Clifford Roberts)
Pedro voeg by natuurlik is daar ’n verskil tussen iemand wat op 12-jarige ouderdom hulle gehoor en sig “verloor”, en iemand wat reeds van 19 maande oud in daardie stil, donker wêreld leef.
Judi sê die rol was uitdagend en uitputtend. “Ons het lang ure gewerk tydens repetisies en dit was in ’n besige tyd vir my by die skool ook. Ek moes omtrent my tyd goed bestuur, met die hulp van my ouers, natuurlik. Ek het nooit moedeloos gevoel nie, omdat die span saam met my baie sterk en ondersteunend is en ek vir Hennie heeltemal vertrou.”
Judi sê sy het ongelooflik baie van haarself geleer tydens die voorbereiding van haar rol as Helen. “Ek het geleer om uit my gemaksone te klim. Meer van my lyf geleer, omdat beide my en Cintaine se rolle baie fisies is. Ek is definitief meer dankbaar vir my sintuie, wat ons maklik as vanselfsprekend aanvaar.”
.......
“My oë is die hele tyd oop, wat dit amper moeiliker maak, want ek kan nie my oë fokus en vir iets spesifiek kyk nie. Vir die gehoor moet dit die hele tyd lyk of ek blind is. Wat my ore betref, luister ek die hele tyd, maar mag nie reageer nie.” – Judi Hattingh
.......
Sy erken dis elke keer ’n uitdaging om weer in die karakter te klim, maar sy ervaar nooit vrees vir hoeveel dit fisies en emosioneel van haar gaan verg nie.
Sy vertel sy is ’n “babbelbek, so dis baie moeilik om vir 110 minute stil te bly! Ek gebruik maar die kanse agter die gordyn om iets te fluister vir ’n mede-akteur. Ek maak darem aaklige geluide deur die stuk. En dan het ek darem gesprekke in my kop ook.
“My oë is die hele tyd oop, wat dit amper moeiliker maak, want ek kan nie my oë fokus en vir iets spesifiek kyk nie. Vir die gehoor moet dit die hele tyd lyk of ek blind is. Wat my ore betref, luister ek die hele tyd, maar mag nie reageer nie.”
Sy wil beslis eendag ’n akteur word en vertel daar was veral by die KKNK heelwat mense wat na die tyd met haar wou gesels. “Die stuk het mense definitief emosioneel geraak. Hulle het groot waardering vir wat ons doen en komplimenteer ons met die manier waarop ons die mooi storie vertel.”

Judi Hattingh is ’n 13-jarige skooldogter wat nog die wêreldteaters aan die brand gaan speel. (Foto: verskaf)
Jacus sê hy en Lina is ontsaglik dankbaar vir elke geleentheid wat hul dogter kry. “Dis ’n groot passie van haar en lekker om te sien sy leef dit uit. Op ’n sekere vlak is dit onwerklik, omdat sy in groot geselskap is en haar baie goed van haar taak kwyt.”
Dis natuurlik nie aldag maklik om te sien hoe swaar akteurs kry en dan jou kind aan te moedig om ’n akteur te word nie. Hy erken dis ’n probleem. “’n Mens wil hê jou kind moet gelukkig wees. Ons wil glo dat magic sal gebeur waar haar passie en talente bymekaarkom. Verder glo ons ook dat ’n mens suksesvol kan wees indien jy veelsydig is en op kreatiewe maniere jouself kan herontdek / bevorder. Jy moet aan jouself dink as ’n besigheid.”
Jacus en Lina sê hul droom vir hulle dogter is om voluit te gaan en te geniet wat sy doen. “Sy doen goeie werk en raak mense aan. Vir opvoeders van gestremde kinders het ons groot respek – dis ’n roeping en nie ’n werk nie. Die stuk is ’n ode aan onderwysers en die ontsaglike impak wat hulle maak. Hopelik hoor hierdie mense dat hulle raakgesien word. Vir ouers en kinders, dat hulle nooit sal moed opgee nie, dat hulle beperkinge hulle nie hoef terug te hou nie en dat vordering of deurbrake, al is dit hoe klein, gevier moet word.”

Pedro Kruger en Hennie van Greunen van Wordsmith’s Theatre Factory afgeneem by die Fiëstas. (Foto: verskaf)
Pedro sê hy en Hennie is trots dat hulle die stuk in samewerking met Curro Create na die planke kan bring. “Curro Create is die enigste platform van sy soort in Afrika, sover ons weet, wêreldwyd. Dit is deel van Curro se aanbod en ons mandaat is om kreatiewe geleenthede te skep vir enige leerder en onderwyser wat hulself wil uitleef in watter dissipline ook al.
“So het ons al leerders gehad wat, buiten die gewone sing-, dans-, toneelspeelkategorieë, ook al uitgeblink het in EV-motor-ontwerp, lemmaak, rekenaarspeletjie-ontwerp, televisie-aanbieding, skryfwerk, filmmaak, en so meer. Curro het ons maatskappy, Wordsmith’s Theatre Factory, gevra om Curro Create van die grond af op te bou, en ons het nou ’n reeks van vier baie suksesvolle projekte wat jaarliks oor alle Curro-skole gebeur. Gaan loer gerus op ons Curro Create YouTube-kanaal.”
Dis die woorde van Arthur Miller wat by my opkom as ek aan die toneelstuk dink: “Die doel van teater is immers om mense te verander, om hul bewustheid van die menslike moontlikhede te verhoog.”
- Annie+Helen speel in Julie by die Vrystaat Kunstefees (17 Jul 20:30, 18 Jul 09:00, 18 Jul 20:30 en 19 Jul 09:30 in die ATKV Wynand Mouton-teater) en Oktober by die Toyota Woordfees in Stellenbosch. Pedro en Hennie gesels ook tans met die Atterbury Teater oor ’n speelvak in Pretoria. “Ons hoop om een of twee van die Woordfees-vertonings met ’n gebaretaaltolk te doen vir dowe gehoorlede.”
Lees ook:
Suidoosterfees 2024: Cintaine Schutte oor Onder ’n bloedrooi hemel op die planke
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Cintaine Schutte oor ’n Begin
Open Book Youth Festival 2024: an interview with Bianca Flanders

