Daniël Louw se artikel oor verwondering ondanks verwonding1 wat in 2022 in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling gepubliseer is, is vanjaar met ’n ATKV-SA Akademieprys vir geakkrediteerde akademiese artikels in Afrikaans bekroon.

Daniël Louw
LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling-redakteur, Pieter GR de Villiers, verduidelik in ’n omvattende, diepgaande onderhoud aan Jean Oosthuizen hoe hy sy rol as redakteur van die Godsdienswetenskappe-afdeling sien. Hy praat openhartig oor die uitdagings wat daarmee gepaard gaan om steeds akademiese artikels van hoogstaande standaard in Afrikaans te laat verskyn, en die rol van oop gesprek oor godsdiens.

Pieter GR de Villiers
Wat het jou geïnspireer om die rol van redakteur: Godsdienswetenskappe by LitNet Akademies te aanvaar?
Dit was ’n verrassing toe die redakteur van die geakkrediteerde, multidissiplinêre LitNet Akademies my genooi het om redakteur van die Godsdienswetenskappe-afdeling te word. Dit was dadelik vir my ’n aantreklike opsie, want ek is my lewe lank betrokke by redigering van vaktydskrifte, veral omdat dit ’n wonderlike geleentheid is om inligting met mense te deel en om kreatief besig te wees met skryfwerk.
Ek was dus later baie beïndruk met die ontstaan van LitNet (waarvan LitNet Akademies ’n node is), met die boeiende inhoud deur die voorste skrywers en kenners in Afrikaans en met al die nuwe ervarings wat daar ontsluit word. Dit is en bly nog steeds een van die rykste kultuurbronne vir my. Ek was dus entoesiasties om deel daarvan te word. Ek het toe inderdaad my liefde vir Afrikaans kon uitleef en my bewondering vir die insigte en skryfwerk van ons land se voorste skrywers van naderby beleef.
Dit is ’n voorreg om vanuit ’n akademiese hoek gevorderde skryfwerk in godsdiens in Afrikaans by LitNet (wat LitNet Akademies insluit) te bevorder, des te meer in ons tyd wanneer teologie en godsdiensstudies al hoe meer op die agtergrond van die universiteitswese uitgeskuif word, ten spyte van die feit dat godsdiens steeds ’n prominente rol in die sosiale diskoers speel. Dit is vir my pure vreugde om as redakteur artikels te ontvang van kollegas wat bedrewe is in Afrikaans of om saam te werk met LitNet se bekwame redigeerders vir hul knap versorging van Afrikaans – ook van die joernaal LitNet Akademies. En elke artikel wat gepubliseer word, is ’n stukke energie wat in ons samelewing losgelaat word.
Ek het dus groot bewondering vir die grootse projek wat Etienne van Heerden met LitNet (waarvan LitNet Akademies ’n node is, soos ek reeds genoem het) aan die gang hou. Ek dink dikwels hy kry nie naasteby genoeg erkenning vir die enorme projek wat hy nou al vir jare met soveel bekwaamheid en wysheid met LitNet aan die gang hou nie. As redakteur van LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling kry ek ’n binne-insig in die massiewe werk wat hy week na week met ’n paar knap medewerkers en personeel doen om boeiende en belangrike kennis in Afrikaans die wêreld in te stuur. Alleen daarvoor verdien hy ’n hele klomp eredoktorsgrade.
Hoe benader jy die taak om geakkrediteerde artikels te keur en die wetenskaplike integriteit van die publikasies te verseker?
LitNet Akademies is ’n geakkrediteerde aanlyn joernaal wat Afrikaanse navorsingsartikels publiseer. LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling is een van die bene van hierdie multidissiplinêre, ooptoegang- akademiese joernaal. Dit beteken dat ons deel is van ’n groot groep akademiese vaktydskrifte wat volgens sekere vaste riglyne bestuur moet word. Artikels in geakkrediteerde tydskrifte word deur universiteite erken om hul navorsers te subsidieer. Hulle ontvang dus navorsingsfondse vir elke artikel wat by ons verskyn.
Universiteite kontroleer daarom ook die vaktydskrifte vir hul wetenskaplike uitsette. Die akkreditasie word ook gereeld gemonitor deur die oorhoofse navorsingsinstansie wat alle universiteite se navorsing beoordeel. Dit beteken dat hulle waak oor ’n streng keuringsproses wat moet verseker dat artikels gevorderde, snykantnavorsing bevat en aan wetenskaplike standaarde moet voldoen.
Om die gevorderde wetenskaplikheid van LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling te verseker, volg ek dus ’n vaste prosedure: Ek kontroleer eers of ’n artikel wetenskaplik van aard is, en stuur dan die artikel aan twee senior vakspesialiste op die gebied van die artikel se inhoud. Hulle moet onafhanklik van mekaar, en sonder om die skrywer se identiteit te weet, vir my ’n keuringsverslag stuur. Hierdie twee verslae is deurslaggewend om ’n besluit te neem of die artikel in die joernaal gepubliseer kan word.
Watter uitdagings kom jy gereeld teë in hierdie rol, en hoe hanteer jy dit?
’n Besondere uitdaging is dat die poel van Afrikaanse navorsers in godsdienswetenskappe dramaties aan die krimp is. Universiteitsdepartemente in godsdiens en professionele vakverenigings is deesdae uitgedun nadat die oorgrote meerderheid van navorsers afgetree het en daar nie veel van ’n nachwuchs is nie. Teologie en godsdiens word uitgeskakel of sterk afgeskaal aan universiteite.
Nuwe aanstellings in akademiese poste word tans veral uit Engelssprekende geledere gedoen. En waar daar steeds Afrikaanse navorsers is, skryf hulle weens verskeie faktore hul navorsing meestal in Engels – veral om internasionaal deel te word van die navorsing in ander lande. Daar is voorts van die universiteite wat neersien op hul akademici wat Afrikaanse artikels lys, en selfs minder navorsingsfondse vir sulke artikels toeken. Dit is dus meer as gewoonlik belangrik dat die akademiese gehalte van LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling onbesproke sal wees.
’n Gereelde uitdaging is inderdaad om hierdie gevorderde wetenskaplike karakter van die joernaal te beskerm. Ons moet ongelukkig minder goeie artikels afwys en ook artikels terugstuur vir skrywers om te hersien. Ek kry ook so af en toe bydraes van skrywers wat verkeerdelik dink dat die joernaal ’n “populêre” tydskrif vir “gewone” lesers is. LitNet Akademies is egter in die eerste plek ’n vaktydskrif wat gevorderde navorsing oor verskeie vakgebiede aanbied.
’n Uitdaging is ook om steeds oop te wees vir ’n verskeidenheid van navorsingsinsigte. Die belangrikste maatstaf in die keuring is nie of ek en/of die keurders met die inhoud saamstem nie, maar of dit ’n wetenskaplik aanvaarbare strekking en aanbieding het. Dit is veral belangrik dat die artikels debat moet bevorder. Vandaar dat LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-been van die mees uiteenlopende onderwerpe en standpunte bevat.
Nie net skrywers van artikels nie, maar ook lesers van artikels in die vaktydskrif verstaan nie altyd die hoogs gespesialiseerde aard van die joernaal nie. Die artikels is anders as populêre oordenkings, godsdienstige praatjies of preke.
Hoe hou jy tred met die jongste navorsing en debatte in godsdiensstudies om relevante inhoud vir LitNet Akademies te bevorder?
Ek is nog steeds self ’n skrywer van gevorderde vakartikels in geakkrediteerde tydskrifte waar hulle ook aan blinde keuring onderwerp word en bly dus graag op hoogte van belangrike tendense in my vakgebied. Ek lees verder baie wyd oor godsdienstige navorsing. Ek hou kontak met kollegas plaaslik en in die buiteland deur plaaslike en internasionale konferensies, navorsingsgeleenthede en uiteraard ook persoonlike gesprekke en navrae.
Ek is voorts betrokke by redaksies van plaaslike en internasionale tydskrifte wat my blootstel aan navorsing en debatte in die breë godsdienstige en teologiese wêreld. Skrywers praat voorts self met my oor artikels wat hulle wil instuur. Waar ek kan, gee ek dan dikwels terugvoer. Soms nooi ek skrywers uit om oor spesifieke temas artikels te skryf. Ek was ook byvoorbeeld die afgelope jare die organiseerder van konferensies met navorsers uit België, Duitsland, Nederland en Suid-Afrika, met drie konferensies oor geweld, vrede en mag, al drie aangebied in die tale van die betrokke lande. Daaruit is drie akademiese publikasies oor geweld, vrede en mag onder my redakteurskap gepubliseer.
Ek het ook verskeie internasionale konferensies gereël met kollegas uit verskeie wêrelddele vir die internasionale Society for the Study of Spirituality, waarvan ek op ’n stadium die president was. Hierdie plaaslike en internasionale kontak is die lewensaar van my navorsing.
Wat maak die Godsdienswetenskappe-afdeling van LitNet Akademies uniek in die Suid-Afrikaanse akademiese landskap?
LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling is uniek eerstens omdat dit uitsluitlik in Afrikaans verskyn. Ons publiseer voorts artikels uit al die verskillende dissiplines in teologie en die godsdienswetenskap (insluitende Bybelwetenskappe, historiese wetenskappe, sistematiese studies, praktiese teologie, religiekunde, studies in die wêreldgodsdienste, en self op die gebied van die estetika). LitNet Akademies is tans ook die enigste joernaal wat skrywers ruim vergoed vir hul werk en wat keurders betaal om die artikels te help keur. Boonop laat ons nie skrywers bladgelde betaal nie. Dit is dus vir skrywers finansieel baie voordelig om by ons te publiseer.
Die joernaal is origens uniek omdat dit uitsluitlik aanlyn verskyn en oop toegang bied vir enigeen om dit aanlyn te kan lees. Ook is ons uniek in die sin dat elke artikel kommentaar van lesers byvoeg, wat skrywers onmiddellik met die verskyning van die artikel ’n idee gee oor hoe hul werk ontvang word. Nog ’n unieke aspek is dat ons by tye onderhoude publiseer oor die artikels wat reeds verskyn het, waarin ons veral die debat oor die artikel wil bevorder. Die navorsing word dus nie net eenmalig gepubliseer nie, maar kry opvolgaandag. Dit gebeur nie eintlik by ander vaktydskrifte nie.
Hoe verseker LitNet Akademies dat die publikasies toeganklik bly vir ’n breër gehoor, maar steeds akademies relevant is?
Hoewel ons trots is daarop dat ons artikels ook deur nieteoloë gelees word, is die joernaal in die eerste plek weens sy akkreditasie ’n vaktydskrif wat gespesialiseerde artikels aanbied. Dit is dus onvermydelik dat sommige artikels tegnies baie gevorderd is en dus nie maklike leesstof is nie.
Tog is ek bedag daarop dat selfs hoogs gespesialiseerde artikels so toeganklik as moontlik vir ’n breë gehoor geskryf word. Ek vra daarom dikwels vir skrywers om selfs die mees tegniese artikels so helder as moontlik te skryf. Ek dink dikwels aan ’n opmerking van Willie Jonker, self ’n kundige teoloog, dat ’n hoogs wetenskaplike werk ’n werk is wat juis verdien om so helder as moontlik geskryf te word.
Ek maak dus by tye, en waar nodig, voorstelle wat bevatlikheid bevorder, onder andere deur skrywers aan te moedig om die artikels kort en bondig te hou, sober taal te gebruik, maar veral duidelik deur aanwysings in die teks lesers te help om gevorderde inhoud te volg. Ek is dankbaar as die benadering sou help dat meer professionele persone met ’n belangstelling in godsdiens en sonder vakkundigheid in die teologie en godsdienswetenskappe tog ons artikels lees en gebruik. Dit is moontlik, veral omdat gesoute wetenskaplikes meestal die vermoë het om enige gevorderde navorsing buite hul eie vakgebied te begryp.
Watter temas of onderwerpe in godsdienswetenskappe beskou jy tans as die mees aktueel of dringendste vir navorsing?
Daar is vir my tans duidelike tendense: Temas oor ekologie, geestesgesondheid, Bybel-interpretasie, etiese vrae (bv bystanddood), geweld en vrede is sekerlik boaan die lys.
Vir my persoonlik is die verhouding van godsdiens tot die estetika wat tans al hoe sterker na vore kom, ’n aantreklike tendens wat dringend verdere aandag moet geniet. Die modernisme byvoorbeeld, met sy klem op die rasionele, het tot sy volle reg gekom en die wetenskap (gelukkig) van ’n verknegtende houvas op navorsing bevry, maar het wasdom bereik en is in vele opsigte verouderd of uitgeput.
Alternatiewe bronne van kennisverwerwing as die bloot serebrale is tans in die kalklig of aan die ontwikkel. Ons kan kennis op baie ander manier verwerf as net deur objektiewe feitevasstelling. Mense leer net so goed en effektief deur hul harte, emosies, kuns, films, musiek, skilderkuns, argitektuur, sport en ontspanningsaktiwiteit, op ’n verbysterende manier, aangehelp deur die enorme ontwikkelinge in tegnologie wat al hierdie aktiwiteit daagliks in besonderhede in ons huise indra. Trouens, in sommige opsigte word mens sterker deur hierdie alternatiewe bronne beïnvloed. Hoe en waarom dit gebeur, word al hoe meer ook in godsdienskunde bestudeer.
Hoe ondersteun LitNet Akademies Afrikaans as akademiese en vaktaal, spesifiek in die konteks van godsdiensstudies?
Ons publiseer uitsluitlik in Afrikaans, soos reeds gesê. Ons het uitgebreide voorskrifte wat byvoorbeeld vra dat skrywers Afrikaanse woorde moet gebruik veral vir terme wat al verengels het. Ons het byvoorbeeld ’n lys van goeie, alternatiewe vaktaal vir terme wat op ’n stereotiepe manier uit veral Engels oorgeneem is. Dit is opvallend hoe geesdriftig lesers van LitNet (insluitend LitNet Akademies) deelgeneem het om die lys op te stel van hierdie woorde en terme wat tog op ’n sekere manier spesiaal met mense kommunikeer. En dit is ook belowend om te sien hoe ons skrywers soms kreatief hieraan meewerk. Ek weet nie van een ander teologiese of godsdienstige vaktydskrif (of joernaalafdeling soos LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling) in Suid-Afrika wat so sterk ingestel is om Afrikaans as vaktaal te bevorder nie.
Daniël Louw se bekroonde artikel in die Godsdienswetenskappe-afdeling het groot lof ontvang. Hoe belangrik is sulke toekennings vir die aansien en geloofwaardigheid van LitNet Akademies?
Dit is inderdaad vir ons belangrik dat knap en bekende navorsers soos Daniël Louw hul werk vir ons stuur en dat hulle werk dan deur so ’n bekroning nog wyer bekendgestel word. Dit is te verwagte dat dit goed is vir die reputasie van LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling. Vir ons is dit ’n eer en veral ’n aansporing as onafhanklike, eksterne beoordelaars vind dat so ’n artikel die beste is wat in ’n bepaalde jaar gepubliseer is. Dit is ’n bevestiging van die joernaal se reputasie as ’n instelling waar lesers van die voorste moontlike wetenskaplike werk in godsdienskunde en teologie kan vind. Dit bevorder nie net die aansien van die vaktydskrif nie, maar wys ook watter besondere waarde godsdienstige artikels vir ’n breër leserskring kan inhou.
Godsdiens het nie altyd ’n goeie reputasie nie – dit was deur die eeue by tye bevooroordeeld, verdagmakend, onverdraagsaam en propagandisties. Nog steeds word oningeligte en selfs gevaarlike standpunte in die naam van geestelikheid verkondig wat vyandskap en selfs geweld tussen mense aanwakker. Dit is jammer dat hierdie beeld tog bydra tot ’n negatiewe beeld van godsdiens, wat veral ook tot die sekularisering van die maatskappy bydra. Dit is dus belangrik dat LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling artikels aanbied wat vertroue in die waarde van godsdiens by lesers skep en wat die positiewe kant van godsdiens beklemtoon.
Dit is seker goed om te onthou dat dit die tweede keer is dat ’n artikel in LitNet Akademies se Godsdienswetenskappe-afdeling as die beste teologiese artikel van ’n bepaalde jaar bekroon word. Vroeër is die belangrike artikel van die befaamde en hoogs gerespekteerde godsdienswetenskaplike Kobus Kruger ook bekroon (https://www.litnet.co.za/oneindigheid-as-religie-relativerende-en-insluitende-horison).
Die toekenning is dus ook ’n erkenning van ons etos, wat deur gevorderde kennis oor geestelike sake ’n bydrae lewer tot die opbouende potensiaal van godsdiens. Dit gaan om wetenskap met integriteit, wat waardes soos betroubaarheid, openheid en billikheid wil handhaaf. Mense mag dalk nie hou van standpunte van sommige skrywers wat hulle in die tydskrif lees nie, maar ten minste is dit artikels waarmee en waaroor hulle debat kan voer.
Hoe moedig jy navorsers aan om werk van hierdie kaliber in Afrikaans te skryf en voor te lê?
Elke artikel word, soos reeds genoem, opgeneem in ’n intensiewe keuringsproses wat elke keer weer noukeurige en uitgebreide besprekings met die skrywers inhou. Ek korrespondeer uitvoerig met elke skrywer wanneer ek ook die keurders se insigte met hulle deel. Ek moedig skrywers dan aan om die reaksie van die keurders versigtig te oorweeg en in hul hersienings in te werk. Selfs die beste artikels baat by insigte van onafhanklike kenners wat hulle beoordeling anoniem gedoen het en wat nie weet wie die skrywer van die werk is wat hulle beoordeel nie.
Ek maak dan verskeie voorstelle vir aanpassings. Daar word onder andere (baie belangrik) gelet op professionele voorkoms, gepaste lengte, en versigtig geformuleerde stelwyse en inhoud. Dit is tog ook ’n teken van wetenskaplikheid wanneer goeie inhoud so presies as moontlik aangebied word. LitNet Akademies se geakkrediteerde artikels is weens die samewerking van keurders en redakteure altyd van hoë professionele standaard. Dit is nie altyd maklik nie, want die formele versorging kan veeleisend wees en om baie geduld vra.
Wat dink jy kan ander navorsers leer uit die sukses van artikels soos dié van Daniël Louw?
Op ’n heel eenvoudige vlak kan navorsers leer hoe die mees gespesialiseerde en gevorderde werk nie net hoë erkenning selfs by buite-instansies kan kry nie, maar ver buite die betreklik klein kring van teologiese navorsers aandag trek. Enige wetenskaplike werk is ’n eensame onderneming. Veral wanneer dit ’n gespesialiseerde tema is, is die lesersgetalle klein. Die gewone vaktydskrifte het meestal klein intekenaarsgetalle, waar in sommige gevalle ’n minimale aantal kollegas ’n navorser se artikels sal lees. Dit kan soms skrywers ontmoedig wat reken dat hul werk maar min aandag trek.
In hierdie konteks is LitNet Akademies se verskeie afdelings (naamlik Godsdienswetenskappe, Opvoedkunde, Geesteswetenskappe, Regte, Natuurwetenskappe en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe), veral ook artikels in die Godsdienswetenskappe-afdeling, ’n aantreklike opsie. Die kanse is goed dat ’n aktuele artikel aandag sal trek en soms wyd versprei sal word. Die sukses van Daniël se artikel kan dus ander navorsers inspireer om óók artikels van gevorderde standaard te skryf – en veral dan in Afrikaans. Ek weet nie van enige internasionale tydskrif waar die kanse so goed is vir gevorderde navorsing om prominent bemark te word en so uitdruklik met die oog op verdere debat gepubliseer word nie.
Wat is jou visie vir die Godsdienswetenskappe-afdeling van LitNet Akademies in die volgende vyf tot tien jaar?
Ek sou graag wou sien dat artikels van hoë standaard steeds verskyn, maar dan ook oor meer aktuele temas – veral oor etiese sake. ’n Spesifieke tema wat ook aandag behoort te kry, is die besondere plek van godsdiens in die openbare diskoers, veral noudat interessante skrywers beweer dat daar ’n tendens te merk is van ’n terugkeer na godsdiens.
Hoe kan LitNet Akademies ’n groter impak op die internasionale akademiese gemeenskap maak?
Uiteraard sal die internasionale impak op ’n sekere manier beperk wees omdat die joernaal slegs Afrikaanse artikels publiseer. Maar deur gevorderde navorsing aan te wakker, word navorsers indirek bemagtig om navorsing te produseer wat uiteindelik internasionaal aandag sal trek. Voordelig is tans dat al die artikels met uitvoerige Engelse opsommings gepubliseer word – wat dan internasionaal geïndekseer word. In elk geval is die artikels toeganklik vir Nederlandse, Vlaamse en selfs Duitse lesers, wat daaraan ’n internasionale profiel gee. Maar ek vermoed binnekort sal ons deur kunsmatige intelligensie groter blootstelling aan ons publikasies kan kry.
Hoe kan akademiese publikasies in Afrikaans gehelp word om die uitdagings van digitalisering en globalisering te oorkom?
Globalisering is ’n komplekse kwessie, omdat so baie groepe, mense, oortuigings, benaderings betrokke is. Dit vra van navorsers ’n bepaalde kennis van en ’n oop houding teenoor navorsing wat buite hulle eie dampkring deur andersdenkendes gedoen word. In die verlede het godsdienstige navorsing ’n sterk polemiese karakter gehad waarin die eie mening en konteks van die navorser afgespeel is as superieur teenoor dié van ander gemeenskappe en groepe. Al hoe meer leer huidige navorsers om ernstig in gesprek te tree met andersdenkendes, om konvergensielyne van jou eie en ander tradisies te erken, en om dan op ’n eerbare houding die eie oortuigings deur geloofwaardige debatte te verantwoord. Gesprekvoering tussen standpunte en oortuigings, ook en veral op akademiese vlak, is die kenmerk van ons tyd. Dit is byvoorbeeld te sien in die sterk tendens na interdissiplinêre navorsing.
Die bedoeling is hier nie om ’n mens se eie sienings te verwater of prys te gee nie. Trouens, die groot uitdaging is om ’n mens se eie siening te verantwoord en sinvol te verwoord in die lig van baie ander aanbiedinge wat vandag om elke hoek en draai vir mense aangebied word. Die informasie-eeu beteken dat mense oorval en selfs gebombardeer word met inligting oor sake wat vroeër buite hul horison gefunksioneer het.
Krampagtigheid wat gebore word uit ’n verouderde fundamentalisme en wat ander sienings eenvoudig demoniseer, bevoordeel niemand nie, veral nie die fundamentalis self nie. Daar is altyd iets unieks aan ’n navorser se eie konteks waarop mense trots kan wees en wat vra om teenoor ander sieninge uitgelig te word. By LitNet (insluitend LitNet Akademies) behoort daar ook steeds debat gevoer te word oor hoe navorsing met ander sieninge in gesprek tree en daardeur steeds weer ’n waardering te behou vir ’n mens se eie konteks en oortuiginge.
LitNet Akademies is wat digitalisering betref op die snykant van tegnologiese ontwikkeling. Anders as met sommige bestaande vaktydskrifte, verskyn die tydskrif aanlyn in digitale formaat en kan dit onmiddellik in enige plek in die wêreld gelees word. In dié opsig is ons reeds ver gevorder en op die voorpunt van tegnologiese ontwikkelinge. Boonop maak die aanlyn publikasie dit moontlik om die artikels in multimediaformaat te publiseer – met foto’s, illustrasies, video’s en klankgrepe. Skrywers kan egter die uitdaging aanvat om hul werk veel meer esteties aan te bied as wat ons gewoond is om dit te doen. Dit is ’n benadering wat veral ingewikkelde skryfwerk aantreklik kan maak. Die uitdaging lê egter nie by die joernaal nie, maar geld vir skrywers wat in die vaktydskrif wil publiseer.
Op die oomblik staan ons egter voor die allergrootste uitdaging om navorsing aan te bied in die lig van die revolusionêre deurbraak van kunsmatige intelligensie. Die tyd van kunsmatige intelligensie het onherroeplik aan- en deurgebreek. Dit kan groot omwenteling meebring, byvoorbeeld dat universiteite en instellings van gevorderde kennis eenvoudig gaan verdwyn. Sommige navorsers is selfs bevrees dat kunsmatige intelligensie die potensiaal het om die einde van die menslike wesens te veroorsaak.
Watter raad het jy vir jong akademici wat hul werk in geakkrediteerde, ooptoegangjoernale soos LitNet Akademies wil publiseer?
Ek is gretig om navorsing van opkomende akademici te publiseer en maak van my kant af daar werk van om hulle sinvol te begelei, veral ten opsigte van insigte in hul werk wat deur gesprek beter aangebied kan word. Ek moedig jonger akademici aan om hul navorsing te bespreek met veral meer ervare navorsers wat baie gepubliseer het. Dit is waardevol om ’n mentor te vind wat nie net oor die inhoud van navorsing leiding kan gee nie, maar ook kan help met formele aspekte wat die waarde van artikels verhoog. Dit sluit in raad oor belangrike navorsingstemas, navorsingsbronne en die formele aanbieding van artikels. Jong navorsers is die toekoms.
Eindnota:
1 “Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van ’n ‘pneumatiese liggaam’ binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood”
Lees ook:
LitNet Akademies-artikels met 2024 ATKV-SA Akademiepryse bekroon

