
Johann Rossouw en Daniël Louw
Johann Rossouw en Daniël Louw, navorsers wie se artikels in 2022 in LitNet Akademies gepubliseer is, het twee van die ATKV en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se ATKV-SA Akademiepryse vir geakkrediteerde akademiese artikels in Afrikaans ontvang.
..........
Die ATKV stel jaarliks prysgeld van R60 000 beskikbaar vir die bekroning van ses gepubliseerde Afrikaanse artikels wat in ’n betrokke jaar in ’n geakkrediteerde tydskrif verskyn het, dus R10 000 per artikel.
Vier van die pryse is bestem vir artikels in die geesteswetenskappe en twee vir artikels in die natuurwetenskappe.
Die keuringsproses vir die pryse word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hanteer.
..........
Johann Rossouw se artikel, “Die industrialisering van mimese: In gesprek met die denke van René Girard en Bernard Stiegler oor outomatisering”, het in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn, en Daniël Louw se artikel, “Verwondering ondanks verwonding. Tussen aftakeling (verganklikheid) en ontkieming (onverganklikheid) ‒ oor die spirituele estetika van ’n ‘pneumatiese liggaam’ binne die knyptang van veroudering, sterwe, graf en dood”, is in die Godsdienswetenskappe-afdeling gepubliseer.
Johann Rossouw is verbonde aan Universiteit van die Vrystaat se Departement Filosofie en Klassieke Studies, en Daniël Louw aan die Teologiese Fakulteit van die Universiteit Stellenbosch.
In 2020 is Johann Beukes en Rinda Botha, twee navorsers wie se artikels in 2018 in LitNet Akademies gepubliseer is, ook met ATKV-SA Akademiepryse bekroon.
In 2021 het Daan Wissing, Elvis Saal en Donovan Lawrence, drie navorsers wie se artikels in 2019 in LitNet Akademies gepubliseer is, ook ATKV-SA Akademiepryse ontvang.
Johann Beukes se LitNet Akademies (Geesteswetenskappe)-artikel “Liggaamsfragmentering in sentraal-Middeleeuse vroulike mistiek” is een van ses beste artikels wat in 2021 verskyn het (ATKV-SA Akademieprys vir 2023).
Ander navorsers wat ook vanjaar met ATKV-SA Akademiepryse vir geakkrediteerde akademiese artikels in Afrikaans bekroon is, is:
Geesteswetenskappe
- Johann Beukes, CHPS, Faculteit Filosofie, Theologie en Religiewetenschappen, Radboud Universiteit, Nijmegen, Nederland vir sy artikel: “Die diskoers oor armoede in die sentrale en latere Middeleeue” wat in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 62(2):255–75 (2022) verskyn het.
- Jean Sonnekus, professor in Privaatreg, Universiteit van Johannesburg, vir sy artikel: “Regterlike herverdelingsdiskresie vir batedeling by egskeiding beleef ’n heropstanding ondanks grondwetlike bedeling téén arbitrêre ontneming sonder vergoeding” wat in Tydskrif vir Suid-Afrikaanse Reg, 4:603–39 (2022) verskyn het.
Natuurwetenskappe
- Lynette Boardman en Theuns de Klerk, Navorsingseenheid vir Omgewingswetenskappe en Bestuur, Noordwes-Universiteit Potchefstroomkampus, vir hulle artikel: “’n Multinavorsingsmodel toegerus met sagteware-instrumente vir die afstandanalisering van rotskunsdata: Bosworth-plaas gevallestudie” wat in Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 41(1):75–91 (2022) verskyn het.
- M Vermeulen, P Williams en Marena Manley, Departement Voedselwetenskap, Universiteit Stellenbosch, Michael Allsopp, Plantbeskermingsnavorsingsinstituut, Landbounavorsingsraad, Suid-Afrika, en F Marini, Departement Chemie, Universiteit van Rome, Italië, vir hulle artikel: “Geografiese klassifikasie van Suid-Afrikaanse heuning met naby-infrarooi spektroskopie” wat in Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie, 41(1):47–57 (2022) verskyn het.
Al die artikels is in 2022 gepubliseer.
- Besoek LitNet Akademies se invalsblad hier.


Kommentaar
Harde werk, ure dae maande en uithou aanhou en moedhou met 'n eindresultaat van sukses. Trots op jou, neef Johann.