Skrywers van LitNet Akademies-artikels ontvang gesogte toekennings

  • 0

Johann Beukes en Rinda Botha, twee navorsers wie se artikels in 2018 in LitNet Akademies gepubliseer is, het die ATKV en die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se gesogte ATKV-SA Akademiepryse vir geakkrediteerde akademiese artikels in Afrikaans ontvang.

Rinda Botha en Johann Beukes (Foto's verskaf)

Johann Beukes se artikel, “Die Arabiese trajek in die Karolingiese periode van Middeleeuse filosofie”, het in LitNet Akademies se Geesteswetenskappe-afdeling verskyn, en Rinda Botha se artikel, “Geloof in heksery – ’n grondige verweer in die strafhof, of ’n gegoël met die reg?”, is in die Regte-afdeling gepubliseer.

Beide navorsers is verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat. Beukes is dosent in die Departement Filosofie en Botha in die Departement Publiekreg.

Die ATKV stel jaarliks prysgeld van R60 000 beskikbaar vir die bekroning van ses gepubliseerde Afrikaanse artikels wat in 'n betrokke jaar in ’n geakkrediteerde tydskrif verskyn het, dus R10 000 per artikel. Vier van die pryse is bestem vir artikels in die geesteswetenskappe en twee vir artikels in die natuurwetenskappe. Die keuringsproses vir die pryse word deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns hanteer.

Ander navorsers wat ook vanjaar met ATKV-SA Akademiepryse vir geakkrediteerde akademiese artikels in Afrikaans bekroon is:

Geesteswetenskappe

  • Pieter J Fourie, Departement Kommunikasiewetenskap, Universiteit van Suid-Afrika, vir sy artikel “Die invloed van die digitale medialandskap op mediateorie: Van effekteorie tot mediatiseringsteorie” in Tydskrif vir Geesteswetenskappe.
  • Cornelius Niemandt, Departement Godsdiensstudies, Universiteit van Pretoria, Jan F Marais en Pieter van der Walt, Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, Willem J Schoeman, Departement Praktiese Teologie, Universiteit van die Vrystaat, en Nico Simpson, Bybel-media, Wellington vir hulle artikel “Corrigendum: ’n Navorsingstrategie vir missionale transformasie” in Verbum et Ecclesia.

Natuurwetenskappe

  • Christine Taljaard en Hester Vorster van die Fakulteit Gesondheidswetenskappe, Noordwes-Universiteit vir hulle artikel “Belasting op suikerversoete koeldranke in Suid-Afrika: Perspektiewe uit die voedingsveld” in SATNT.
  • Adriaan Reinecke en Sophia Reinecke, Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch vir hulle artikel “Bedreig antropogeniese omgewingsveranderinge grondbiodiversiteit?” in SATNT.

Al die artikels is in 2018 gepubliseer.

Besoek LitNet Akademies se invalsblad hier.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top