Ja, 90 stories het my oor die laaste maand of wat wyd laat reis. Ek wil aan elke skrywer (ja, dis wat julle is) baie dankie sê. Ek was terug verlede tyd toe, regdeur Afrika en kruis en dwars om die aardbol. Sommer ’n paar keer in Namibië. Dwarsdeur nostalgie, feitelike verkennings en diklag-humor.
Ek sit nou met die dilemma dat daar uit al hierdie heerlikheid net een wenner kan wees. Om die proses aan die gang te kry het ek deeglik gelees en weer gelees en uiteindelik die 90 stories uitgedun na ’n kortlys. Dit word dan die Top 10-lys, maar die stories is so lekker dat daar 13 stories in die Top 10-lys is.
Wys jou net.
Verder het ek twee medeskrywers gevra om my te help met die beoordeling van die uiteindelike wenner.
- Nanette van Rooyen is 'n bekroonde skrywer. Sy ontvang onder andere die RAU-Mardene Marais-debuutprys vir Letterkunde vir haar kortverhaalbundel Om te vlerk, en haar jeugroman Ek was hier is bekroon as wenner van LAPA-Uitgewers se jeugromanwedstryd.
- Carié Maas was die adjunkredakteur van die reistydskrif mooiloop. Sy het die debuutprys gewen in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012 vir haar roman Koljander.
Ons gaan nou oor die langnaweek lees, herlees en bedink, en die wenner sal dan vroeg volgende week aangekondig word.
Wel, voor ek nou nóg 1 001 woorde skryf, hier is die kortlys (alfabeties volgens skrywernaam):
| Christien le Roux | Van 5241 na 9904 |
| Estelle Nagel | Op soek na die Franse Nelle |
| Frank Biggs | Reisbrief uit Indië |
| Helené Bestbier | Huweliksbootjie |
| Jaomi Zeeman | Die sout |
| Julana van der Merwe | Afdraai na vrede |
| Lané Grobbelaar | 'n Kruiwa is gemaak om te stoot |
| Linda Truscott | Namibië-flitse |
| Marinus Uys | Sandra se laaste reis |
| Marita van der Vyver | Jammer, Sjeherazade |
| Noddy Schutte | Op die pad na Arniston |
| Wendy Anthonie | Oom Dawid se rooi lorrie |
| Will van der Walt | Septentrion |



Kommentaar
Baie geluk aan al die finaliste, dit is almal puik stories en mag die beste een wen. Bly ek hoef nie te kies nie 🙂