Op soek na die Franse Nelle

  • 1

Ons familiewapen het langs Die Breë en die Smalle Weg in die stoepkamer van my ouma se huis gehang, tussen die dowwe sepia-fotos van geslagte se troues, dope en gradeplegtighede. As kinders het ons graag op die vloer gesit en die kiekies bekyk in die lomerige middae waar die grootmense in die donker kamers gedut het. Die beelde van ons ouers in die sewentigs wat sit en kuier om die fondue-potte met hulle stovepipe jeans en Springbok-radio. Ons was die babas wat op die avokadopeermatte rondgekruip het. Dit was vir ons deel van vakansie hou, soos die pluk van appelkose uit die tuin en die gisreuk van gebak. Namate ons ouer geword het, het ons van die vloer tot aan die tafel geskuif en nagte omgepraat oor wie ons was toe ons nog klein was, waarheen ons wou gaan. Ons almal het dieselfde knollerige neus en bakkerige ore gehad, die harde gelag. Mens ken en hérken jouself mos as jy so om die tafel sit, het ek gedink. Ons weet slegs in pare dít wat ons van onsself weet, het Eluard gedig.

Met die laaste kuier kon ek agterkom my pa was moeg na die karrit. Ons het lank saam in die stoepkamer gesit en na die kiekies gekyk. “Is Pa oukei?” het ek gepor. "Ja, wat," het hy gesê, “mens voel mos altyd beter in jou eie huis.”

Dis snaaks dat `n mens oud kan word en nog steeds aan jou ma se huis dink as jou eie. Die kasarm het meestal leeg gestaan. Ons kon dit nie verkoop nie, want dit was al geslagte in die familie. Miskien het die kiekies in die bokse op die solder eens op `n tyd teen dié mure gepronk. “Ek wonder hoekom het hulle hiernatoe gekom,” het ek hardop gewonder.

“Wie?”

“Ons voorsate. Dink net, as hulle Katoliek gebly het, het ons nog iewers in Frankryk gesit. Dalk sit daar vanaand nog `n neef Nel wat nie worry oor die Staatsrede of Julius Malema nie. Ons kon Franse gewees het.”

My pa dink. “Hoe lyk `n Franse Nel nou in elk geval?”

Ek wou ook weet.

Ek het hom lank gesoek in die registres paroissiaux in die Franse platteland, die Hugenote-museum in Franschoek. Die laaste Franse Nel, Guilliame Neèl. Ek het op Internet-forums gekrap. Uiteindelik vir die Bibliothèque de la SHPF geskryf. Hulle laat weet van Guillaume Neèl wat in Rouen gebore is, in 1663. Elke datum, elke register praat. My groot oupagrootjie was twaalf toe hulle Amsterdam toe gevlug het. Hulle het in die Bethaniensteeg gewoon. Vandag is die Bethaniensteeg die Rooilig-distrik. Hy het ook die Dokumente de Caep geteken, saam met die dosyne Delporte, Durands, Nourtiers, du Toits en de Villierse wie se nasate nog steeds in Suid-Afrika woon. Met tagtig rijksdaalers van die VOC koop hy die plaas Blaauwklippen. Hy het tien kinders gehad. Daarna volg `n stroom kleinkinders: drie Willems vernoem na hulle oupa, Adriaan, Harmannus, Gerrit, Adriana, Reijner. Maar ek wou meer weet. Vandag is dit slegs `n kort vlug vanuit Amsterdam na Rouen…hoe lank sou dit destyds gevat het? Was hy bang? Het hy Frankryk gemis?

In Rouen is die dorp is so slaperig soos die Karoo oor `n naweek – skaars `n siel op straat. Dis mooi. Veral die enorme, gotiese reus Cathédrale Notre-Dame de Rouen. In Monet se skilderye lyk dit stekelrig soos koraal. Sy se Notre-Dame was kleurvol; in lewende lywe is dit grys met donker strepe waar die reën oor die jare die klipwerk vuil getrap het. Jeanne D’Arc is hier op die brandstapel verbrand. Daar is kerke, strate, markte en hotelle na haar vernoem, asof die hele dorp nog wil askuus vra.

Ek loop deur die systraatjies, probeer die rye McDonalds miskyk, en bekyk die spyskaarte wat buite teen die restaurante se mure hang. Dit lees soos `n inkopielys – hoendereier, murgbeen, varkpote, vrugte. Ek kies maar die Restaurant les Maraichers omdat dit vir my die “Fransste” lyk, kompleet met `n wynvat. Hulle bring vir my `n kraffie rooiwyn, kaas en kouevleis en ek moet glimlag – daar is nog steeds vandag `n volwaardige charcutier op Blaauwklippen. Oorkant die straat is daar `n Le Fruiter du Vieux Marche met mandjies vol pynappels en knoffel, stapels pampoene. Die vrugte is onkoopbaar duur.

Daar is ook net `n jongerige priester en `n opsigter by die kerk in Quevilly. Ek probeer verduidelik dat ek in die doopregister wil soek na Neèl. Hy lyk verward, skud hy sy kop.

Hier is nie `n rekord van so iemand nie.

Nee, keer die opsigter. Hier is darem nog `n monsieur Neèl op die dorp. Gaan soek hom by die maison de retraite.

So gesê, so gedaan.

Na `n effense verdwaal (ek sukkel maar nog om à droite, regs, en droit tout, reguit, te onderskei) kry ek uiteindelik die oom waar hy met sy kombersie bo-oor sy knieë sit en dut. Hy sukkel om te hoor en die verpleegstertjie wat kom help moet haarself herhaal. Uiteindelik verhelder sy gesig. “Il fait toujours chaud en Afrique,” lag hy.

Hy lyk nie soos ons nie. Nie die knollerige neus of bakkerige ore nie. Maar hy lag uitbundig, soos my pa lag.

Ek wys vir hom foto's op my selfoon. Vertel hom van die Afrikaanse Nelle. Suid-Afrika. Hy lyk nie of hy belangstel nie. Hy vertel vir my oor sy hartprobleme, sy waterpille, sy verskillende skete en kwale. Oor hoe koud hy kry. Hy vra vir die verpleegster oor etenstyd. Ek neem hom nie kwalik nie. Hoe gaan die res van Eluard se gedig nou weer? Ons kinders sal lag oor die donker geskiedenis, of alleen daaroor huil.

“Jy eet nie vandag in die eetsaal nie, Monsieur,” verduidelik die verpleegster. “U seun kom u mos haal vir middagete, onthou jy?”

“Ah.” Die oom sukkel orent. Hy klap my hand in syne vas, plant `n nat bisou op elke wang. Jy weet mos hoe hulle sê, fluister hy geheimsinnig. “On est toujours mieux chez soi.”

Mens voel mos altyd beter in jou eie huis.

 

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek beskik oor heelwat inligting oor die Nels in Frankryk en sal graag met me Nagel kontak wil maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top