Namibië-flitse

  • 0

Ek ry Namibië in met sonopkoms, die dassies het saam met my die eerste geel sonstrale gevoel. Die pad was net baie reguit en ver voor my uit. Vreemde kliprantjies, koppies, wintergeel grasse, geharde groen doringbome, kamakazi-voëltjies op die pad. Die tannie op Grunau maak vir ons twee koppies koffie, Ricoffy in polistireen en ek moet onthou van vier, sê sy, want sy is besig met bakpoeier inmeng vir karringmelkbeskuit. Ek weet daardie beskuit gaan netnou rustig rys, want haar blougrys oë het nie haas nie. Die Kapenaars sê hulle oornag op Keetmans, Grunau, Maltahöhe en tog is ons baie kilometers alleen op die pad. Wanneer ons stop by ’n garage vir petrol en ’n onverwagse vars badkamer, kry ek tog ’n bekende. En foto's wat die 2006 vloed wys toe dakke en groen boomtoppe eilandjies geword het.

Dis sportdag op Stampriet en daar is boere, Afrikaanse lag en gesels en kerrie en rys. Die winterwarmson is in ons oë as die bal deur die lug trek en daar is nog ’n spontane sportmangees as die opponent ’n welverdiende drie druk dat die stof so staan. Die gastehuis het welkome groen gras vir ons stofvoete. Die jongmense brul op ’n motorfiets af in die pad wat deur en verby die dorp lei, maar my negejarige seun raak nog opgewonde oor die flukse donkiekar wat klop-klop verbydraf op dieselfde pad. Die Franse bestuurderes van die gastehuis is al vyf jaar in Namibië, werk hier, werk daar. Haar gesig wys baie gisters, sy sê sy wil in Namibië bly. Gaan sy hier kry wat sy soek?

Namibië het ’n stukkie in my hart kom drooglê so met die baie sien en voel. Die droë veldlandskap wat ongesiens woestyn word, oraloor Afrikastalletjies, Duin 7 se sand tussen my tone en sandblou lug bo my, eertydse rustyd nog tussen een en twee uur, growwe kristalsteentjies wat ek koop by die eenkant doofstom hererokind-vrou, haar eie kind grootoog-honger op haar heup, die dag se tevrede vangs kabeljoue op die kole met die see nog tussen die grate. Die wind waai asof 'on cue' warm wanneer die kamele kreunend opstaan en Caravans begin in my kop sing toe hulle in gelid oor die sand wieg, ons kopdoekmonderings wapper liggies saam. Ons ry duine met die four-wheelers, my Viljee-kind se 'ek is nou groot' verjaardagpersent, hy stuur self duin op en duiselig vinnig af. Walvisbaai se mis bekruip ons vinnig deur die duine, ek beleef hoe verdwyn son voor mis. My ander seun, Derick se oë lewe van die rugbytoer-ervaring wanneer hy vertel van die duine se ongekende beweeggeluide, die nagtelike woestynslaap en kampvuurstories van grommende dierebesoeke.

Ons ry op die Luderitzpad met die vele borde wat waarsku teen perde, bokke en dalk jakkalse ook. Maar die wind waai koud, die son breek plek-plek yl deur tussen die wolke wat stewig saampak. Waar lê die jakkals knus, snuif hy in die reënwind in, draai hy sy ore spits wanneer ons oor sy land spoed? Staan die wilde perde nou mak voor die natuurelemente wat opbou? Iewers vanuit die kliprante weet ek springbokke weet van ons, ook hulle ore skerp, hul neuse oopgesper om die reënwind, die jakkalswind te snuif.

Luderitz was mooi, het op sy dag gelewe met ’n energieke lewenswil. Nou het die dorp net ’n om-te-lewe-asem met oases in die vaal strate: Diaz Koffiewinkel met ’n gul Nescafe Classis cappucino en skaamtelose porsie appeltert en room, Kratzplatz met sy eenvoudige warm kamers en Barrels met ’n vuur, kreef en eie pizzas waarvoor die seningrige locals geduldig wag by die kroeg. Die toeriskat het ’n kamakazi-voël vroeër van ons motor se neus afgehaal en vanaand kom lê hy op die stoel by ons tafel, strek hom selfversekerd uit toe die kreef kom. Ons loop kamer toe deur die kombuis, waar die groot Herero-man die vuurgebakte brood uitkeer vir more se ontbyt.

Die oorblyfsels van Kolmanskop staan jammerlik in die sand, die trots en swier van sy eertydse Duitse inwoners vasgevang in die mure wat vergeefs veg teen die natuur. In die Recreation Hall is gedans, konserte opgevoer deur die skoolkinders en selfs artieste van Europa, die vaal, swaar gordyne nog op die verhoog, teen die mure verbleikte plakpapier van laggende maskers. As jy sou stilstaan op die houtvloer, luister eers na die sandwind buite, ruik dan die ou hout en tusssendeur hoor jy die stoele wat begin regskuif, die formele fluisterstemme van die gehoor. Voel jy die vibrasie van die lewe toe die klippies nog volop geblink het in die sand? Die laaste familie het getrek in die 1950’s. Was hulle moeg, verbitterd, het hulle nog ’n toekoms gesien iewers? Sou hulle die aande in die Recreation Club later onthou? Buite was die sand eentonig gekleur, maar hul huise wys binnemure met oorblyfsels van kleure, papier en patrone. Ek kan my kinders op die nog stewige houttrap voorstel, met die wit son wat van agter oor hulle val. My ingenieursman laat my let op die staalkonstruksies in die plafonne. Die voordeure is gedraai op die seewind, maar oor die houtvloere moes die besems tog tot frustrasiewordens gevee het, voel die huisvrou in my. Saam met die swier was die eenvoud ook getuig ander eenvoudige huisgeraamtes. ’n Enkele geroeste sinkplaat ratel op ’n dak, die vier vertrekke in die huis se mure het meegegee, vloere iewers diep verdwyn onder die alewige sand.

Ons slaap op die grens by Felix Unite op die Oranjerivier wat onverbiddelik sterk vloei en koud blink   deur die reën vanaf die beskutte kuierstoep. Die volgende oggend drink ons gou nog oulaas koffie in die bed met die rivier aansienlik hoër voor ons in die grys reën.   Ons skuif ons horlosies ’n uur aan, beweeg stempelstamp deur die grensposte en ons hoor op die nuus van die reën wat nog dae lank gaan uitsak en ek begin beplan aan warm kosse, kinders besig hou tussen bondels wasgoed deur, ’n baksel beskuit vir die winterkoffie in die oggende.

Onthou my van vier, sê Namibië, onthou my ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top